geluk tog verwoes deur die onvermoë van sy vrou om haar te vereenselwig met sy Afrikaanse ideale. Hy vind egter kompensasie in die liefde van sy dogter, wat hy opvoed volgens die Afrikaanse tradisies. Onbenydbaar word sy posisie as hy weens finansiële moeilikhede gedwing word om die plaas te verlaat en wolkoper vir sy swaer te word. In die Engelse omgewing van Wes-Auckland word die verhouding tussen vader en dogter nog inniger, terwyl die moeder haar meer en meer terugtrek in stugge afsondering. Met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog sluit die vader by die Boere aan en sneuwel.
Die skryfster het besonder goed daarin geslaag om ons 'n blik te gee op die verhouding tussen vader, moeder en dogter. Ofskoon dit aan liefde in die gesin nie ontbreek nie, veroorsaak die fundamentele verskil van volksideaal gedurig onaangename wrywinge wat almal ongelukkig maak. Anna staan trou aan haar vader se kant, maar win ons agting deur die simpatieke manier waarop sy probeer om ook haar moeder se gevoelens te verstaan.
‘Ek het haar toe in 'n nuwe lig gesien; ek het vir die eerste maal besef dat haar liefde vir my vader haar heeltemal onbesonne in 'n nuwe omgewing oorgeplaas het, een waarvoor haar opvoeding en smaak totaal ongeskik was. En as ek dink aan wat sy alles op die eensame plaas, en nou weer op hierdie agterlike ou dorpie moes deurgemaak het, dan het ek haar inniglik jammer gekry. Geen wonder dat sy nie juis 'n groot bewondering gehad het vir die Afrikaanse volk nie; in haar gemoed was hul onafskeidelik verbind met al die ontberings waar sy al mee te kampe gehad het’ (p. 177).
Uit so 'n enkele aanhaling al blyk duidelik dat Anna veel kon vergewe, omdat sy langsamerhand 'n heldere begrip gekry het van haar moeder se tragiese stryd. Die ellende van so 'n ongelyksoortige huwelik is inderdaad 'n interessante motief wat in ons letterkunde meer aandag verdien. As ons dink aan die tallose huwelike tussen Afrikaanse studente en uitlandse nooiens, dan kan ons met reg verwag dat die aanpassingsproses van die Nederlandse, Amerikaanse of Skotse vrou by ons Afrikaanse toestande nog dikwels in ons romans sal beskrywe word. Selfs ons eie land bied 'r uitgestrekte terrein vir die skrywer wat hom wil inlewe in die ellende veroorsaak in baie families deur uiteenlopende volksideale. Helen Blackmore het ons in elke geval weer op besonder taktvolle wyse getoon dat niemand sy volksaard ongestraf kan verloën nie en dat duursame lewensgeluk haas onbereikbaar word wanneer man en vrou tweërlei volksideale aanhang. Vroeër of later ontstaan daar 'n botsing en in die onsalige nasleep daarvan word ook die kinders se geluk verwoes. Luister maar:
‘Daardie rustige atmosfeer wat altyd in ons huisie geheers het, was nou nie meer daar nie, en vir die eerste keer in my lewe het ek ontsteld en terneergedruk gevoel as ek daar inkom. Ek was pynlik bewus van die feit dat my ouers nou in teenoorgestelde rigtings beur, en hul het so