| |
§ 28. Abraham H. Jonker.
Jonker is in 1905 op Boshof gebore. Op Stellenbosch het hy in die regte en in die teologie gestudeer. Vanaf 1930-32 was hy reisende organiseerder van die Nasionale Party in Kaapland. Later word hy lid van die redaksie van Die Burger en Die Huisgenoot. Hy was ook een van die redakteure van die kritiese tydskrif Ons Eie Boek. Sedert 1936 is hy assistent-hoofredakteur van Die Suiderstem. Van hom het verskyn: Gebeurtenisse (1931); Die Kanker van die Jare (1932); Die Plaasverdeling (1932); Bande (1933); Die Trekboer (1934) (vervolg op Die Plaasverdeling); Najaar (1935); Maskers (1938).
Jonker se eerste verhale het in 1931 onder die titel Gebeurtenisse in die serie Almal se Boeke verskyn. Dit voer ons terug na die woelige tydperk tussen die Eerste en Tweede Vryheidsoorloë toe oom Koot Eloff 'n plaas met winkel gehad het op die transportpad tussen Kimberley en Johannesburg. Oom Koot en sy wakkere seuns kom telkens in botsing met gewapende rowers, maar Swart Hans en sy bende moet eindelik die onderspit delf. Die twee verhale in hierdie bundel is uitstekende ontspanningslektuur.
Ook Die Kanker van die Jare (1932) moet ons as ontspanningslektuur
| |
| |
beskou, ofskoon die lugubere onderwerp daarin behandel party lesers sal afskrik. Hein vermoor sy half-idiote vrou, nadat hy haar jarelank geestelik en liggaamlik mishandel het.
Die hoofmotief is egter die opsporing van die moordenaar waaraan 'n speurder feitlik sy hele lewe wy. Oom Leendert en tant Trynie is die enigste figure wat ons meer as oppervlakkig interesseer, maar dit bewys dat Jonker, as hy sy taak ernstig opvat, goeie werk kan lewer.
| |
Die Plaasverdeling (1932).
Daar is skrywers wat deur een enkele sinnetjie meer sê as ander in 'n lang hoofstuk. Jonker het agtien hoofstukke en byna vierhonderd bladsye nodig om 'n plaas te verdeel tussen twee broers. Nou is dit wel waar dat die gehalte van 'n roman nie bepaal word deur die spannende gebeurtenisse daarin vervat of deur die belangrikheid van die behandelde onderwerp nie, want Jochem van Bruggen het ons geleer dat die lewe van 'n nietige sukkelaar soos Ampie genoeg tragiek en humor bevat vir 'n breedopgesette roman wat ons diep ontroer. Jonker besit egter nie die gawe om sy mense deur 'n suggestiewe plastiek so uit te beeld dat hulle meteens helder voor ons geteken staan nie. Hy kan 'n indruk alleen skep deur 'n geduldige uitrafeling van motiewe of deur 'n omslagtige beskrywing. Hy is so sekuur-presies en pynlik noukeurig dat selfs die nietigste handeling, wat vir die gang van die verhaal van geen betekenis is nie, opgeteken moet word. Daarom het hy dan ook vierhonderd bladsye nodig. Ek voel oortuig dat hierdie roman veel leesbaarder sou gewees het as die skrywer dit gekonsentreer het tot op ongeveer die helfte van sy teenswoordige omvang. As hy hom meer toegelê het op die karakteropenbarende handeling en ook rekening gehou het met die fantasie van die leser, sou 'n groot gedeelte van die breedsprakige beskrywings en omskrywings goedskiks kon gemis word.
Op die Karoplaas Langverwag woon die Reys-familie, bestaande uit 'n bejaarde, sieklike vader, die oudste seun Jacob, wat verantwoordelik is vir die saaiery, en Antonie, die skaapboer. Tydens die leeftyd van die vader word Jacob se inhaligheid in geringe mate beperk, maar hy slaag tog daarin om betreklik weelderig te lewe, terwyl Antonie 'n bywonersbestaan voer in 'n hartbeeshuisie. Hierdie toestand van sake word vergemaklik deur die feit dat Antonie onder 'n minderwaardigheidskompleks gebuk gaan en slegs selde sy regte laat geld. Sy moeder, reeds lank dood, het hom altoos beskerm; sy broer Hannes moes ná 'n heftige rusie met Jacob sy aandeel in die plaas opgee in ruil vir die geld aan sy opvoeding bestee. Met hierdie twee bondgenote uit die pad word Antonie 'n maklike prooi van die intrigerende Jacob. Ons weet egter te weinig van die voorgeskiedenis van die familie om hierdie toestand sommer voetstoots te aanvaar. Die vader leer ons ken as 'n waardige, regskape persoon, wat
| |
| |
veral daarop uit is om die vrede onder sy kinders te bewaar. Onverstaanbaar is dit dat hy blind vir die listige skraapsug van Jacob en voor sy dood geen stappe gedoen het om deur 'n billike verdeling van die plaas 'n botsing te voorkom nie. Nog onverstaanbaarder is dit dat Hannes, wat deur Jacob se toedoen onterf is, sy broer afskeep met 'n vae raadgewing sonder om hom daadwerklik by te staan by die verdeling. Hy tog, as ontwikkelde man, moes ten volle begryp het hoe maklik Jacob sy onervare broer sou kon bedrieg.
Jonker besef nie voldoende nie dat die uiterlike lewensfeite van weinig belang is. Wat ons veral interesseer, is die geheimsinnige groeiproses van 'n persoonlikheid, want die dade wat vir die buitewêreld waarneembaar is, is gewoonlik maar 'n swak weerklank van spannende dramas wat in die inwendige werklikheid reeds klaar afgespeel is. Ons sou die botsing tussen die broers en die tragiese ondergang van Antonie veel beter begryp het as die skrywer ons 'n kyk gegee het op hul ontwikkeling. In die verhaal vind ons geen aanneemlike verklaring vir die opvallende standsverskil tussen Jacob en Antonie nie. Jacob is 'n intelligente boer, vol ondernemingsgees en op sy besigheidsgebied besonder begaafd. Antonie, wat saam met hom onder een dak opgroei, het die tipiese bywonermentaliteit. Van skape mag hy veel af weet, maar wat besigheid betref, is hy veel dommer as Ampie. Sy hele lewenswys is dan ook die van 'n agterlike armblanke.
So 'n toestand van sake is natuurlik denkbaar, maar sonder deeglike motivering laat die geval ons koud. Het die skrywer sy gegewens so ingespan om die aftakelingsproses by Antonie makliker te maak, of het hy hom te veel laat beïnvloed deur figure soos Ampie of Malherbe se meulenaar? Ek meen dat laasgenoemde gissing die juiste is.
As ons egter die gebrek aan motivering oor die hoof sien, dan is daar veel in die Antonie-figuur wat met treffende waarheid geteken is. Die eerste gedeelte van die roman bevat weinig wat ons ontroer. Daar is meer breedte as diepte in die tekening en geen aanduiding dat die verhaal uit artistieke noodsaak ontstaan het nie. Sonder merkbare geesdrif word die gebeurtenisse opgesom en geduldig vervolg die skrywer sy ongestileerde struikelgang.... bladsy na bladsy. Nie dat Jonker swak en sorgloos skrywe nie, want met enkele uitsonderinge is alles taalkundig korrek. Maar sy stem is deurgaans klankloos en mat, en in plaas van uitbeelding kry ons maar alte dikwels slegs haarfyne verslaggewing. In die tweede gedeelte egter, word die skrywer se gemoed met deernis bewoë vir die sielige Antonie, wat by elke draai deur sy broer uitoorlê word, totdat hy met sy uitgehongerde skapies die erfdeel van sy vadere moet verlaat om die trekpad op te gaan. Hierdie gedeelte is werklik deurleef en bewys dat Jonker die aanleg het om veel beter werk te lewer. Hulpeloos staan Antonie teenoor die buitewêreld. Daar in die veld tussen sy skape weet
| |
| |
hy presies wat om te doen, maar in geselskap raak hy dadelik oorbluf. In sy eie huis egter is hy 'n tiran wat meedoënloos sy vaderlike gesag handhaaf en vergoeding vind vir die stampe en stote van die buitewêreld in die matelose verering van sy versufte Bekka. In die begin waag hy enkele halfhartige pogings om hom te versit teen Jacob se baasspelery, en in 'n parmantige bui begin hy selfs 'n eie, aparte rekening by die dorpswinkelier. As sy optimistiese verwagtings oor die boerdery verydel word, dring hy op 'n definitiewe verdeling van die plaas aan. By hierdie transaksies word hy natuurlik totaal uitoorlê deur die geslepe Jacob, wat die sake egter so plooi dat Antonie hoogs tevrede is met sy minderwaardige gedeelte.
Mooi word die opflikkering van Antonie se selfstandigheidsgevoel en sy trots as plaasbesitter uitgebeeld deur die draadspan-episode. Hierdie draadheining is die simbool van sy onafhanklikheid, en met kinderlike opgewondenheid droom hy oor 'n gelukkige toekoms. Antonie se diepste wesensgrond word meteens vir ons verklaar - nie deur 'n langgerekte beskrywing nie - maar deur 'n paar rolle draad en pale, die tasbare teken van 'n verborge sielelewe. Die siel tog is onsigbaar, soos die Nederlandse kriticus Donker opmerk, maar 'n voorwerp op die regte tyd en in die juiste verhouding gesien kan alles verklaar. Die dinge het deel aan ons handelinge, in die handeling word hulle vir 'n oomblik deel van onsself, ‘een tastbaar verlengstuk der ongrijpbare ziel.’ (Vgl. in hierdie verband ook Hans-die-Skipper se nuwe skuit.)
Maar Antonie se onafhanklikheidsdroom is van korte duur. 'n Sware droogte laat sy vee by honderde vrek en as die rekeninge en aanskrywings instroom, vlug hy weer met patetiese hulpeloosheid na.... Jacob! Die wêreld word vir hom te nou en hy weet van geen ander uitweg nie as.... trek! En Bekka, wat selfs in hierdie uiterste nood nog nie twyfel aan die goeie oorleg van haar verstandige eggenoot nie, tref die voorbereidsels vir die uittog met 'n stoïsynse kalmte.
By die afskeid kom die listige Jacob, tans besitter van die hele Langverwag, sy broer 'n vyfpondnoot in die hand stop....
En die eerlik-onnosele Antonie aanvaar die aalmoes met erkentlikheid. Die draad moet Jacob maar vat in afbetaling van sy rekeninkie....
Met innige gevoel het die skrywer die slotepisodes van die verhaal uitgewerk. Hy het wel geen verrassende meesterwerk gelewer nie, maar 'n leesbare roman met onmiskenbare kwaliteite. In 'n volgende werk verwag ons meer konsentrasie op die dramatiese brandpunte, 'n hergroepering van gegewens wat alle omslagtigheid oorbodig sal maak. Ons waardeer die getroue skildering van die plaaslewe in hierdie roman, maar mis die grootse visie wat die lewe van hierdie boere omhoog hef uit die eenvoudige weergawe van hul daaglikse doening en hul lotgevalle omskep tot 'n beeld van diepe menslikheid.
| |
| |
| |
Die Trekboer (1934).
In Die Trekboer is daar 'n opmerklike styging waar te neem. Die skrywer se verhaaltegniek het soveel verbeter dat hy alle omslagtigheid kon vermy. Daar sit veel meer gang in hierdie verhaal, die karaktertekening is forser, die styl is inniger, die plastiek meer direk en suggestief.
Antonie Reys is op die trekpad met sy vermaerde skape, nadat hy sy plaas oorhandig het aan sy broer Jacob, wat die groot skuld by die winkelier vir hom moet vereffen. Sonder vaste plan volg hierdie arme sukkelaar die grootpad.
‘Maar watter planne is daar nou ook eintlik om te maak, ja? Jy moet maar net bly sit totdat die vee op die een plek te veel doodgaan.... dan trek jy weer.... trek tot waar die aarde eendag weer groen word - as daar so 'n plek is.’
Aangrypend is die skildering van die doellose swerftog van die groententbokwaentjie oor die onherbergsame kaal vlaktes van die Groot Karo, waar die genadelose son mens en dier folter met sy skroei-hitte. Met soebat en smeek kry Antonie darem hier en daar 'n staanplekkie, of as dit nie wil help nie, probeer hy imponeer deur 'n naïewe ‘kapok-astrantheid’, 'n houding waarin hy gesterk word deur oom Jool se aansporing om die Karo-boere ‘op te dons’. Ons hart word met deernis vervul vir hierdie patetiese mannetjie wat so te vergeefs spartel om hom te handhaaf teenoor sluwe medemense, en wat so hulpeloos staan teenoor die genadelose natuur.
In die uiterste ellende, as dit lyk of hierdie eertydse grondbesitter onherroeplik tot bedelary moet verval, ontstaan daar 'n roering in daardie lewenlose menseklomp, Bekka. Deur die ontberings van die trekpad en die steeds aangroeiende stapel skaapvelle word hierdie trae siel eindelik wakkergeskud uit die dromerige verering van haar held, Antonie. Die late bewuswording van die botte Bekka, die langsame groei van haar selfstandigheidsgevoel, wat haar daartoe dwing om haar papbroek-man opsy te skuiwe, word met oortuigende egtheid uitgebeeld. Die eerste ligstraaltjie kom as sy begin twyfel aan Antonie se besigheidsvernuf by die verkoop van die osse. Sy verduidelik die saak aan Herklaas, haar vyftienjarige seun, en vind in hom 'n verstandige en gewillige bondgenoot. As die moedelose Antonie op sekere aand van Verkluis af kom, platsak en raad-op, dan neem Bekka, ondersteun deur Herklaas, die leiding oor.
‘Skielik staan Bekka op. In die halfdonker van die vuurlig lyk haar gestalte tweemaal so groot as anders. Klein Antonie by die agterwiel verkrimp daarteen in nietigheid....
Ons kan nie hier bly sit en vrek nie. Ons moet maak soos Herklaas sê! Ek sê ook so!’
Met hierdie ultimatum verloor Antonie die laaste steunseltjie in sy
| |
| |
lewe. Hy ‘krummel inmekaar.’ Dis 'n toneel vol dramatiese spanning, waarin ons die skrywer op sy beste sien.
Nou gaan die trek na Grootrivier se delwerye waar Bekka die treurige oorskietsel van die skape, tans egter in goeie kondisie, op voordelige wyse aan die delwers verkoop. Antonie word waterryer, maar Bekka dra die beurs. Nog eenmaal beleef hy 'n triomf en kan hy hom, soos vroeër op Langverwag verlustig in 'n skyn van vernaamheid. In 'n oomblik van swakheid gee Bekka hom die geld om 'n kleim te koop. Maar sodra hy 'n diamant vind, herwin sy haar gesag. Met 'n paar kragwoorde verwilder sy Antonie se dronk maats en sluit die geld in die koffer op. Eindelik is sy vir goed die baas. In die ruwe delwersgemeenskap het sy geleer om haar man te staan en 'n weinig later het die eertyds so skamerige en mensskuwe Bekka die moed om 'n lastige skoolraadsekretaris met 'n besem te verwilder.
Vinnig word die degenerasieproses by Antonie voltooi. Hy is liggaamlik en geestelik 'n wrak, uitgewerp deur die maatskappy waarin hy hom nie kon handhaaf nie en liefdeloos geduld deur sy eie vrou en seun, vir wie hy slegs 'n belemmering is in hul stryd teen dreigende verarming. As hy daarin slaag om hulle deur 'n oulike plan uit te oorlê en tabak- en drinkgeldjies te bemagtig, verkneukel hy hom oor sy kastige slimmigheid!
Op 'n dorpie langs die Vaalrivier word die laaste trekgoedjies verkoop en vind die gesin van die uitgeboerde Karoboer 'n tydelike rusplekkie. Antonie versleg al hoe meer en gedurig is daar rusie met Bekka. In wanhopige verbittering stryk hy eendag die huis uit en verongeluk na 'n drinkparty. Herklaas kry 'n betrekking in 'n winkel, en bygestaan deur die werksame Bekka sal hy wel daarin slaag om die Reysgesin uit die ergste armoede te red.
Droogte, winkelskuld, verbande, verarming op die trekpad, vlug na die delwerye en eindelik 'n bouvallige huisie in 'n agterstraat - die ganse tragedie van ons armblankedom het Jonker uitgebeeld in hierdie familiegeskiedenis. Dis 'n droewige relaas van langsame verwording, van dreigende verkaffering, wat nogeens, soos 'n tiental jare gelede by die verskyning van Ampie, ons verpolitiekte volk tot eendragtige aksie behoort aan te spoor.
Terwyl ons met chauvinistiese selfgenoegsaamheid ‘die stoere Voortrekkers’ verheerlik op ons volksfeeste, laat ons hul nakomelinge doodwurg in gestadige verarming. In baie van hulle, soos in Herklaas en sy moeder, leef daar nog half verstikte kiempies van outydse deeglikheid, wat deur liefdevolle sorg weer tot volle wasdom kan ontwikkel. Maar deur dreigemente van die wet sal ons hierdie verbitterde mense slegs tot onverstandige verset prikkel.
| |
Bande (1933).
As daar geen buitengewone belemmeringe bestaan nie, dan bereik elke mens in die maatskaplike lewe, nie wat hy wens nie, maar daardie
| |
| |
trap van ontwikkeling waartoe hy bekwaam is. Mislukking en sukses hang van ons geestelike aanleg af; ons word wat ons in aanleg is. Soos die plant 'n ontvouing is van die plantaardige beginsel wat in die kiem opgesluit is, so beweeg die lewensproses voort deur selfverwerkliking. Vryheid, leer die psigoloë ons, is nie soewereine willekeur nie, maar gebondenheid, gebondenheid van die mens aan homself. (Bierens de Haan). Wie sy drifte beheers is vry, maar in sover ons die heerskappy van die omstandighede ondergaan, oordeel en strewe volgens plaaslike, tydelike of standsvooroordele is ons onvry. 'n Mens, wat meer vak as mens is, meer joernalis of skoolmeester as mens, is onvry, omdat hy gebonde is aan ander groothede as aan homself.
Die sewe hooffigure met wie ons in hierdie bundel kennismaak is almal aan bande gelê deur die lewe. Giel, die enigste kind van oom Egbert en tant Wynie, is van kleinsaf gewend om in alles sy sin te kry. By sy tuiskoms van die universiteit hang hy die groot meneer uit en beskou die eenvoudige lewe op 'n ‘gevrekte’ plaas met weersin. Hy waardeer nie die opofferinge wat sy ouers reeds gemaak het om sy studie te bekostig nie, maar eksploiteer hul liefde tot op die uiterste. ‘'n Mens kan tog nie anders nie. Jy is gebonde aan wat jy as jou toekoms beskou....’ Met hierdie selfsugtige redenasie dwing die ontaarde seun sy fyngevoelige vader om geld te gaan leen by 'n hoogmoedige buurman, en beroof hy sy ouers van die laaste pondjies wat hul vir hul eie behoeftes op sy gesit het. Maar selfs nadat tant Wynie toevallig uitgevind het hoe ondankbaar haar verwende kind is, offer die ouers blymoedig alles op om Giel gelukkig te sien. Ook hulle kan nie anders nie, want hul het die enigste kind só lief. ‘Alles wat ons voor gewerk het, is tog maar syne....’ Diep ontroerend is die offervreugde van hierdie eenvoudige egpaar. Gedeeltelik is die las wat hulle dra die gevolg van die verkeerde opvoeding wat hul Giel gegee het, maar hul handel volgens hul eie innerlike geaardheid en sondig deur te veel liefde.
In Op die Stoep is Donna, 'n onderwysersvrou, die hooffiguur. 'n Ongelukkige huwelik met 'n man, wat slegs aandag het vir sy werk en glad geen kyk op haar innerlike behoeftes nie, laat by haar 'n vae hunkering na 'n nuwe geesverwantskap ontstaan. Deur haar lektuur en die briewe van 'n vriendin uit Johannesburg kry haar gedagtes vaster vorm, totdat sy in 'n droom 'n avontuurtjie met 'n ander man beleef. Al die boeie van haar eentonige bestaan as ‘voorbeeldige onderwysersvrou’ val van haar af; sy herwin haar persoonlikheid en eis die reg van die moderne geëmansipeerde vrou om haar uit te leef. Maar selfs in haar droom word sy verskrik deur die kritiek wat haar gedrag uitlok van die inwoners van die plattelandse dorpie ‘met sy beperkende invloede en skinderpraatjies’. En as haar man huis-toe kom skink sy ewe gedwee sy koffie! Hierdie verhaal gee ons 'n mooi blik op die onbestemde verlangens wat
| |
| |
daar in Donna se onderbewussyn lewe. Sy mis die vermoë om haar te verhef bokant die kleingeestigheid van 'n skinderlustige gemeenskappie, en haar lyding bestaan in 'n onmag om haar innerlike ewewig te handhaaf. So het elke lewe sy tragedie, wat nie juis aan die buitekant sigbaar hoef te wees nie, en wat deur die meeste mense met 'n meer beskeie naam aangedui word, omdat dit in klein afmetings afgespeel word.
Ook by Klaas, kleinboer uit die Onder-Karo, is daar 'n knaende hunkering om weg te kom uit die vervelende eensaamheid van sy ou plasie. Maar hierdie dromerige sukkelaar staan hulpeloos teenoor die praktiese sin van sy vrou, wat al sy plannetjies om 'n beskeie deel lewensgeluk te bemagtig, meedoënloos laat verongeluk.
Simon, 'n werklose, styg vir 'n paar uur bokant die begrensdheid van sy persoonlikheid as hy onder die inspirasie van 'n paar biertjies die bewondering van 'n klompie baliekluiwers geniet. Dit gee hom die moed om hom te ontworstel aan die tirannie van 'n half-idiote vrou, aan wie hy deur 'n liggaamlike gebrek tog onderdanigheid moet betoon. Maar sy triomf is kort van duur, want sy oorweldig hom met die besemstok, en daarby mis hy ook die geestelike krag om sy posisie te handhaaf.
Nicolay Theunis, die persman, het deur 'n oordrewe werkywer slegs 'n verlengstuk van die setmasjien geword. Sy voelhorings vir die ongewone in die lewe is so afgestomp dat selfs 'n wêreldramp vir hom alleen as nuusberig enige betekenis het. So is daar baie mense wat gebore word en sterwe in die beweging van die lewensradere sonder dat hul ooit bespeur het wat die beweging in gang hou. Hulle verrig hul arbeid, ondergaan leed en vreugde en sit hul bestaan voort. Van die sin van die Lewe begryp hul niks, bokant die laagvlakte van hul daaglikse gewoontebestaan kan hul nie opgehef word nie.
Karel van Arlen voer 'n wanhopige stryd teen die droogte. ‘Die natuur is harder as enige mensehart. Dit spot met sy kinderagtige pogings om lewe in hierdie doodsbeendere te bewaar.’ As die nood op sy hoogste is kry hy 'n geleentheid om kontant geld in die hande te kry deur veld te verhuur aan 'n trekboer. Maar met edele opregtheid weier hy. Die droogte, wat hom met totale verarming bedreig, het nog nie sy siel aangetas, kan nie sy menslikheid oorweldig nie. Die reën sal kom, as daar maar Elia's is wat op Karmel kan bid. Tog besef hy diep sy onmag teenoor die onbarmhartige natuur. ‘Ons het hier opgeskiet soos plante in die veld. Ons groei is hier en ons sterwe hier as daar nie uitkoms is nie. Ons het van kleinsaf geleer om alles in die grond te waag, want ons lewe is uit die grond; en as die grond ons nie meer wil voed nie, dan sterf ons soos die veldgewasse.’ Diep laat Jonker ons besef die tragiese gebondenheid van die boer. Daar is, helaas! slegs weinig boere wat met soveel hoogheid van karakter hul lyding ondergaan, of deur innerlike wapening die krag vind om geduldig die tydstip af te wag ‘wanneer uit
| |
| |
Gods erbarming in die bloue hemel 'n wit wolk verrys.’ Die slot van die verhaal mag enigsins geforseerd lyk, maar dit doen weinig af aan die ontroerende skoonheid van die geheel. Jonker het ons in hierdie bundel 'n oortuigende bewys van sy kunstenaarskap gegee. Hier het ons eindelik weer 'n skrywer wat met innerlike bewoënheid die geheimsinnige trillings van die Lewe opgevang het - 'n skrywer wat afsteek na die diepte en nie tevrede is met 'n beskouing van die rimpelinge aan die oppervlakte nie. Die noodwendige begrensing van sy stof deur die vereistes van die kortverhaal het sy kuns ten goede gekom en hom bewaar van die wydlopigheid wat ons soms gehinder het in sy eerste roman. Bande is sonder enige twyfel 'n belangrike bydrae tot ons langsaam ontwikkelende prosakuns.
| |
Najaar (1935).
Najaar bevat werk wat op dieselfde hoë peil as Bande staan, maar ook enige verhale wat blykbaar uit 'n vroeëre tydperk dagteken.
In die eerste afdeling is dit veral Oumatjie Gaan Winkel-toe, Vader-Moeder, Die Steenmaker en Hoe Die Dood Vertraag Is wat tref deur innigheid van toon en gaafheid van uitbeelding. Oumatjie gaan ewe moedig alleen per trem na die groot basaarwinkel in die stad, maar deins terug as sy met die glytrap na die eerste verdieping moet opstyg. Sy sal liewer op die hysbak wag, maar doen intussen 'n heerlike dutjie. Toe die vriendelike bestuurder haar wek, skaam sy haar só dat sy verbouereerd huis-toe keer.... sonder haar inkopies. Jonker se gemoedelike humor verleen aan hierdie tagtigjarige moedertjie se avontuur 'n besondere bekoring.
Skrynend is die dowwe wanhoop in Vader-Moeder waar 'n verlate eggenoot sy sieklike seuntjie verpleeg en versorg, en 'n antwoord probeer vind op die uitgesnikte vraag: ‘Maar Pappie, waar is Mammie dan?’ Daar is geen breedvoerige ontleding in hierdie verhaal nie, maar deur die gedrag en gebare van 'n vriend word die wanhoop van die gemartelde vader aan ons geopenbaar.
In Die Steenmaker gebruik Jonker 'n reeks herinneringsbeelde om die lewensloop te skilder van 'n moedige grysaard wat ná eindelose geswoeg beswyk onder 'n las wat vir hom te swaar was.
Kostelike humor vind ons in Hoe die Dood Vertraag Is. Oom Piet Janse kan maar nie sterf nie omdat hy sy vrou bedrieg het deur 'n verhouding met Mietjie, die wasvrou. As hy ná 'n daelange worsteling eindelik tot 'n bekentenis kom, dan vra ‘kwaai tant Marja’ saaklk:
‘En wie was die vrou?’....
‘Mietjie.’
As dit nou iemand andérs was, die dokter of die posmeester se vrou.... Maar die ou wasvrou....! En haar eenvoudige waardigheid het hom in sy belediging heftig verset.
‘Sies! Daardie ou ding!’
| |
| |
En tant Marja draai haar om, spuug in die hoek van die kamer in veragting en stap nukkerig, met kop hoog in die lug, die deur uit....
Maar in die eensaamheid kom kwaai tant Marja tot inkeer, en na die versoening vind oom Piet sterwensvrede.
Ook in Antula-Jan is daar mooi momente ofskoon die slot onoortuigend is. Verrassings en Die Amateur-Psigiater is van minder belang, terwyl die geheimsinnige figuur van oom Eduard beter by die eerste groep verhale pas. Op al hierdie mense val die sombere lig van 'n triestige najaarsdag. Die lewenson sak langsaam weg en met stille ontroering luister ons na die plegtige stem van die skrywer wat huiwer van innige bewoënheid oor soveel menslike leed. Maar hoe word die najaarsomberte van hierdie moeggeleefde wesens nie verhelder deur die sagte glimlag van die humoris nie, wat die oumensgedagtes met soveel begrypende simpatie kan vertolk!
Vroliker van toon is die tweede afdeling, Onder Boere, waar die lawaaierige Piet Renier soveel omslag maak oor 'n dagvaarding, en die bangerige oom Valie aan diamantsiekte ly. Ook in hierdie ligtere vertellings hou Jonker ons belangstelling vas deur goeie karakteristiek, grappige verwikkeling en 'n mooi afgeronde slot.
In die laaste afdeling, Lente, vertel hy met 'n studentikose vrolikheid van die kaskenades van 'n paar jongkêrels onder die nooiens. Daar is Frits wat so wysgerig oor blou oë kan redeneer en van die liefdespel 'n verfynde tydverdryf gemaak het. En die swaarwigtige Gerrit, wat hoë intellektuele eise aan sy nooi stel, maar uiteindelik tog ontdek dat ‘offervaardigheid in die hart van 'n mooi vrou meer is as grootheid van gees.’ So word die sombere najaarstemming afgewissel deur lentevreug.
| |
Maskers (1938).
In Bande was die sentrale gedagte die gebondenheid van die mens. In hierdie bundel is dit maskers waaragter die hooffigure hul innerlikste wese probeer verberg. Hulle word egter deur sekere omstandighede in 'n krisis gewikkel waardeur ons 'n verrassende blik kry op hul ware karakter.
Eben Diederik word algemeen beskou as 'n gevoellose mens, 'n nugtere materialis, wat van mening is dat geen barmhartigheid aan armes moet betoon word nie omdat die sterkstes, volgens 'n onverbiddelike natuurwet, altoos sal oorwin. Op straat red hy die lewe van 'n kind, maar die dankbetuigings van die erkentlike ouers laat hom wegkruip agter 'n skans van kille onverskilligheid. Wanneer Eben egter in doodsbenoudheid verkeer, ontdek sy vriend dat hy al die jare weggekruip het ‘in daardie tronk van sy aangekweekte lewensfilosofie’ - net om sy gevoeligheid te verberg. (Die Kordaatstuk.)
Sterker van spanning is die tweede verhaal (Die Geheim). Hierin die wanhopige stryd van 'n fabrieksvroutjie wat haar uitgeputte liggaam elke oggend werk-toe sleep nadat sy snags haar siek kindjie verpleeg
| |
| |
het. Deur 'n ongeluk kan sy een oggend nie opdaag nie en as haar bejaarde moeder die loon gaan haal word Lila se dubbele geheim verraai. ‘Op kantoor moet Lila die een ding verswyg.... (dat sy 'n gesin onderhou) tuis verswyg sy die ander (dat sy deur liggaamlike uitputting onbekwaam is vir haar werk). Vasgevang is hierdie vroutjie in die genadelose raderwerk van die ekonomiese masjien.
Wie hom nog die omslagtige verteltrant van Die Plaasverdeling herinner, sal aangenaam verras word deur die saaklike segging van hierdie bundel. In onderstaande tekening van die fabrieksbedrywigheid vertel die skrywer nouliks, maar die leser sien en hoor. Elke kort sinnetjie is 'n trek wat ons onmiddellik deur 'n paar presiese woordjies in die raserige fabrieksdrukte bring. Soos in 'n film flits die tonele verby, vinnig en abrupt sonder verklarende ontleding. Ons lees nie iets oor 'n fabriek nie, ons word sommer tussen die kletterende ystermonsters ingegooi waar die swoegende meisies gryp en pluk. Haastig is die lewe, en wie swak en moeg is soos Lila word meedoënloos uitgesmyt.
‘Die groot kamharke van die masjiene jaag ratelend op en neer. Rye, rye staan hulle in die lang fabrieksaal. Soos grypende kloue daal kamhark na kamhark. Haastige vingers gryp.... ruk weg.... gryp in die kluwe materiaal wat uitpeul.... teruggekam word, uitpeul. Sjag.... gesjaggesjag! Rye en rye van swoegende meisies in blou gekleed. Vingers en ysterkloue.... Swart- en blond-gelokte koppe wat vorentoe en agtertoe wieg. 'n Geroesemoes van stemme. Heupe wat heen en weer wieg onder die gejaagde inspanning.... breë heupe.... rietskrales. Alles wentel in een groot kluwe van masjinale bedrywigheid.’
Uit so 'n sitaat blyk dat Jonker nou deur die ‘nuwe saaklikheid’ bewus geword het van wat genoem is die elektrisiteit van die taal. Tog het hy, soos so baie ander skrywers van hierdie rigting, nie ontkom aan die gevaar om te veel nadruk te lê op die sigbare werklikheid nie. Die titel Maskers, en die bondige toepassing daarvan op elkeen van die sewe verhale, bring ons onder die indruk dat die skrywer dwarsdeur die buitekantse kors van huigelary en aanstellery gaan dring om ons 'n blik te gee op die innerlikste roersels van die mens. Maar dit is juis in hierdie opsig dat Jonker ons teleurstel. In Die Geheim en Die Troos kan ons die skrywer van Bande herken. Verbysterd en verslae steek die jong predikant sy hand stadig uit na die verlate eggenoot wat hom daarvan beskuldig dat hy ongeregtigheid en oorspel wil bedek: ‘Ons ken almal mekaar so sleg.’ Daardeur voel ons meteens die tragiese humor van die situasie. Die trooster, wat so mooi gepraat het van ‘die salwende liefde van God’, moet nou ervaar dat sy kennis van die mensehart erg oppervlakkig was. Maar sulke indringende plastiek is skaars in die orige verhale. Daarin bewonder ons wel die joernalistieke vaardigheid, die boeiende bondigheid van ekspressie, die ratse milieutekening, maar mis tog die gloed en die
| |
| |
hartstog van die kunstenaar wat deur sy skeppende vermoë die raaisel van die mensehart ontsluier.
Wat verhaaltegniek betref toon Jonker ook hier sy meesterskap, veral in die uitwerking van satiriese motiewe. Kostelik is die manier waarop die kale bluf van Jan Wieremse aan die kaak gestel word. Hierdie uitgeboerde boer, wat, soos baie van sy soort, 'n lui-lekker lewetjie voer in die stad waar sy vrou swoeg om 'n losieshuis aan die gang te hou, probeer om homself 'n air van vernaamheid te gee deur duistere sinspelings op vroeëre geldtransaksies. 'n Paar gewikste stadskelms besorg hom 'n benoude nagtelike avontuur, maar kom self bedroë uit, want sy masker het twee kante gehad! (Biljart-Maats.)
Satiries is ook die tekening van die deftige mev. Sannie Niemaer wat in haar oormatige ywer om sosiale werk te doen so beledig word. (Liefdadigheid.) En die strenge skoolvos, wat sy seun so wetenskaplik straf, maar dan ontdek dat hy tog maar weinig weet van die kindernatuur. (Strafwerk.) Hoe moet ons hier nie glimlag oor die onverwagte neerlaag van die kastige pedagoog nie! In Die Fout is daar vermaaklike toneeltjies en interessante verwikkelinge as gevolg van die beledigde prestige van 'n hoofklerk en die jaloesie van sy vrou. Besonder goed geteken is die rol wat die seuntjie, Kido, speel.
Hierdie bundel beteken, artistiek beskou, geen styging in Jonker se kuns nie. Hy is besig om in 'n nuwe rigting te eksperimenteer. |
|