Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging
(1939)–P.C. Schoonees– Auteursrecht onbekendMarietjie (1932).Dit is 'n breedopgesette verhaal - oor die vierhonderd bladsye fyndruk. Die eerste gedeelte is meer reisbeskrywing as verhaal, terwyl in die tweede gedeelte die bespreking van maatskaplike vraagstukke die meeste ruimte beslaan. Marietjie se geskiedenis is alleen van belang omdat dit die skryfster 'n geleentheid bied om haar reisindrukke op te teken, haar beskouings oor kuns, letterkunde, musiek, armblankes, vrouestemreg, kinderopvoeding, dorpse kleinsieligheid en wat dies meer sy aan die man te bring. Daardeur word die werk as roman ongenietbaar, want die opsetlike uitstalling van kennis is beslis hinderlik. Die skryfster gee oorvloedige blyke van 'n fyn ontwikkelde kunssin, en haar beskouings oor sosiale vraagstukke getuig van 'n gesonde oordeel. Sy ontwikkel haar opvattings op aangename wyse en verdedig haar oortuigings met soveel vuur dat dit die leser tot ernstige oorpeinsing aanspoor. Vir die meeste | |
[pagina 355]
| |
Afrikaanse lesers sal die fyn ontwikkelde Marietjie dus 'n interessante persoonlikheid wees, wat hulle sal wegvoer uit die oppervlakkigheid van die daaglikse sleur. Maar die skryfster het nie begryp dat 'n roman iets anders is as 'n reeks verhandelinge wat met veel geleerdheidsvertoon uitgewerk word nie. Marietjie word op onkonvensionele wyse opgevoed deur mnr. Graham, 'n ontwikkelde Skotsman, met wie sy na die afsterwe van haar ouers trou. Hy beswyk egter op die huweliksreis na Skotland, maar sy jong weduwee word hartlik opgeneem in die Graham-familiekring. Gedurende haar langdurige verblyf in Skotland ontmoet sy 'n Afrikaanse teoloog wat in Nederland studeer. Die liefdesverhouding tussen Marietjie en Ben Hugo word met 'n weeërige sentimentaliteit geteken: ‘'n Magtige opwelling van langverkropte hartstog bruis deur sy hele liggaam, en met wilde minnedrif druk hy haar vas aan sy bors, terwyl sy lippe 'n vurige minnaarskus op hare pers.’ Ten spyte van 'n ‘minnekoors’ wat sy liggaam en siel verteer, en 'n ‘sengende jaloesie’, wat hom sy geestesewewig laat kwyt raak, word Ben Hugo die respektabele predikant van Wilgersdorp, 'n Vrystaatse dorpie. Reeds in die eerste paar maande gaan hy so op in sy werk dat hy sy lieftallige vroutjie skoon verwaarloos. Nog erger dinge gebeur, want Marietjie se ruim opvattings bring haar in botsing met die ouderwetse begrippe van die gemeente se steunpilare, en ds. Hugo stel haar steeds in die ongelyk. Die gevolg is rusie en verwydering, maar die motivering van Ben se onverskilligheid teenoor sy vrou is onoortuigend. Sake kom tot 'n krisis as Ben se neef blyke gee van sy liefde vir Marietjie, wat deur maandelange getob ernstig siek word. Daardeur kom Ben eindelik tot inkeer. Met 'n tweede reis na Skotland sluit die verhaal. In die tweede gedeelte gee die skryfster 'n interessante skildering van die menigvuldige probleme waarvoor 'n plattelandse dominee en sy vrou te staan kom. Daar is kleingeestige en skinderlustige gemeentelede, wat hul in hul werk belemmer, maar ook troue helpers wat hul nuwe inspirasie gee. Ofskoon Marietjie as roman teleurstellend is, behoort dit deur sy opvoedkundige elemente nuttige dienste te bewys. Dit sal baie lesers tot 'n besef van hul geestelike armoede bring. | |
Niko, die Dromer (1935).In Niko, die Dromer is daar ook 'n sterk didaktiese element, maar die skryfster het veel beter daarin geslaag om dit in die verhaal self te verwerk en kon daardeur opsetlike uitweidings vermy. Sy wil jeugdige lesers 'n beeld gee van die daaglikse lewe van die Voortrekkers. Niko, die hoofpersoon, is ‘'n nuttelose krukspringertjie’ ten gevolge van kinderverlamming. Hy is digterlik aangelê, leef naby die natuur, en het 'n uitgebreide kennis van plante en diere. Eensaam groei hy op en dis alleen | |
[pagina 356]
| |
sy moeder wat simpatiek luister ‘na sy fantasieë, sy romantiese stories, sy verbeeldingryke vertellings van lugkastele en ander wêrelde....’ Ná haar dood vind hy 'n geesverwant in Marianna, met wie hy 'n hegte vriendskap sluit. Dis haar geselskap wat hom opbeur op die lang trekpad, want sy gebreklikheid maak hom oorgevoelig vir die bejammering van die seuns, wat hom weens sy hulpeloosheid onder die meisiekinders reken. Dit word sy groot ideaal ‘om tog maar net eendag iets vir 'n ander (te) kan doen - iets om 'n ander mens te help of gelukkig te maak.’ Deur sy deeglike veldkennis bewys hy die trekkers belangrike dienste, terwyl sy boekekennis hom 'n bekwame onderwyser vir die jeug maak. Die skryfster het hom met soveel edele karaktereienskappe toegerus dat hy wel alte brawe-Hendrikagtig word. Teen die end van die verhaal red hy ook nog die lewe van sy sustertjie deur haar met sy eie liggaam teen die asgaaisteke van die Zoeloes te beskerm. In die loop van die verhaal word ons onder andere meegedeel hoe die Voortrekkers koeëls en kerse gemaak het, hoe 'n huwelik in die laer bevestig is, en in watter speletjies die jongspan vermaak gevind het. Ons kry 'n goeie insig in die moeilikhede met sendelinge en kaffers wat die grensboere uiteindelik gedwing het om weg te trek. Piet Retief en ander historiese figure tree ook in die verhaal op en so word Niko se lewensloop ingevleg in die groot geskiedkundige gebeurtenisse. Die skryfster se poging om so 'n belangrike periode uit ons wordingsgeskiedenis as nasie aanskoulik voor te stel vir jeugdige lesers, het grotendeels geslaag. |
|