die konsert, waar Sarie Marais se sang 'n nuwe Frans laat gebore word. Dit is jammer dat die skrywer hierdie belangrike fase in Frans se ontwikkeling nie aangedurf het nie. want in die skildering van die eensame plaasseun se hunkering na die groot Onbekende het hy dikwels 'n innigheid van weergawe bereik.
Na Frans se terugkeer van die uitstappie na Johannesburg, word die plaaslewe ondraaglik. Daar is gedurige wrywing met 'n onsimpatieke vader, wat sy vreemde aspirasies nie kan begryp nie. Buitendien tree sy suster in die huwelik, die enigste by wie hy tog darem nog troos gevind het. Ook kry hy boonop nog rusie met sy vriend Billy.
In die tweede hoofstuk word vertel hoe Frans wegloop na die Goudstad. Van sy eerste stadsindrukke verneem ons maar weinig, en nog minder van sy omswerwings om werk te soek. Die naglewe van die stad word in 'n enkele sinnetjie aldus opgesom:
‘Een in hulle verveligheid was al die aande met hulle eentonige geblêr van tjankmusiek uit berookte sale....’ (p. 53).
So 'n opmerking bewys duidelik dat die skrywer nie in Frans se bewussyn ingekruip het nie, maar eenvoudig sy eie waarnemings aan die seun opdring. Gelukkig bevat die bladsye wat hierop volg, weer bewyse dat die skrywer tog wel Frans van binne-uit kan teken. Ek dink b.v. aan die heimwee wat hom op sy verjaardag bekruip en sy eensaamheid te midde van die drukke stadsverkeer.
Frans is nou 'n trembeampte en ook kunsstudent. In die kunssaal kom hy in aanraking met sekere Popman, 'n Vrystaatse boerseun wat oor onuitputlike geldmiddele beskik. Popman ‘dra uitheemse klere, aap die rolprentlewe na, neem kamma skilderlesse en noem homself'n Bohemer’ (p.62). Popman besorg Frans'n winsgewende betrekking as ‘kleurarties’ en sleep homin die maalstroom van nagtelike swelgpartye en twyfelagtige vermaaklikhede.
Hierdie kastige Bohémien bly vir die leser 'n raaiselagtige karikatuur, en die beskrywing van die bacchanaliese fratse van sy ‘blanketselde wyfies’ is onoortuigend en soms onverstaanbaar. Popman is blykbaar die versoeker wat Frans wil bedwelm deur die uitspattinge van 'n plesierlewe en hom wil berowe van sy hoë kunsideale deur hom 'n maklike baantjie te besorg. ‘Soos 'n doepadrank het die aardige man se persoonlikheid (Frans) aangetas’ (p. 62). Teen hierdie verpestende invloed kom Frans se gesonde natuur egter weldra in opstand. Die ‘sieldodende basterkuns’ van die portrettefabrieke veroorsaak 'n walging. Hy smyt die verfbord teen die skildery van 'n naakte danseres waaraan hy besig was en begin ywerig aan 'n plaastoneeltjie. Maar die skeppingsvermoë ontbreek en wanhopig gaan hy troos soek in die natuur.
Toevallig hoor hy die inspirerende liedjie van Sarie Marais op 'n grammofoon speel en dit gee hom die moed om te breek met ‘Popman en sy dekadente geselskap’.