Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging
(1939)–P.C. Schoonees– Auteursrecht onbekend
[pagina 350]
| |
Op Eie Wieke (1931).Die opdraande stryd van 'n weduwee met drie dogters, wat na die Engelse Oorlog terugkeer op 'n verwoeste plaas, word in hierdie verhaal geskets. Een van die dogters word moeg van die doellose plaaslewe en besluit om ‘op eie wieke’ te gaan drywe. Sy neem 'n betrekking aan as hulp in 'n ryk boerefamilie, waar sy veel onaangenaams belewe en van 'n moord beskuldig word. Daar ontmoet sy egter ook weer 'n vriend van haar jeug, wat haar beskerm en uiteindelik haar liefde win. Sonder enige literêre pretensies het die skryfster die lotgevalle van haar romanfigure opgeteken. Sy bly aan die buitekant, en slaag daar nouliks in om die leser te ontroer. Die uiterlike gebeurtenisse kan sy op bekwame wyse uitbeeld, maar sy doen haas geen poging om die innerlike sielslewe te openbaar nie. Waar sy dit wel aandurf, soos aan die einde van die verhaal by Jan Booysen, bly dit by 'n oppervlakkige opsomming, sonder enige dramatiese spanning. Tog besit hierdie beskeie skryfster enkele opmerklike kwaliteite. In die eerste paar hoofstukke het sy die lewe van twee plaaskinders met onmiskenbare talent geteken. Met die innige opmerksaamheid van 'n moeder slaan sy hulle ontwikkeling gade en selfs die geringste insidentjies blyk van groot belang te wees. Ook verras sy ons telkens deur die skerpsinnigheid waarmee sy die verhouding tussen gesinslede en kinders betrag. Haar krag lê nie in die skildering van heftige emosies nie, maar in die uitbeelding van huislike toneeltjies. Voortreflik het sy die ongemaklike posisie van Marieta in die Booysen-gesin begryp. Hier voel ons die fynvroulike intuïsie wat met klein, veelseggende trekke die huislike roetinewerkies skilder, op so'n wyse dat ons met al die huisgenote kan saamleef. Die gesonde lewenshouding van die skryfster en die gesellige manier waarop sy sonder enige poging tot mooiskrywery haar verhaal meedeel sal ongetwyfeld baie lesers aantrek. | |
'n Wiel binne-in 'n wiel (1935).In Op eie Wieke het hierdie skryfster baie verdienstelike kwaliteite geopenbaar. Haar jongste werk kan gekarakteriseer word as geskiedenis in aantreklike vorm. Deur middel van die lotgevalle van 'n paar families herleef ons die gebeurtenisse vanaf 1896 tot na die Vrede van Vereniging. Beskou ons die verhaal as historiese roman, dan kan dit nie geslaagd heet nie, want die mensbeelding is swak en die tegniek verouderd. Die skryfster se hoofdoel is om die geskiedenis van die woelige tydperk oor | |
[pagina 351]
| |
te vertel. Sy doen dit soms deur direkte meedeling, maar meestal deur die gesprekke of ervarings van haar hooffigure. Die Jameson-inval word beskrywe, die verwoesting van boereplase, die lyding van vroue en kinders in die konsentrasiekampe, die ondervindinge van hul mans as krygsgevangenes in Indië, die onderhandelinge op Vereniging, ens. Paul Kruger, Louis Botha en ander voormanne uit die groot stryd tree op in die verhaal, en deur die volksgeskiedenis word ook die liefdesverwikkelinge van twee paartjies gevleg. Die bou van die verhaal gelyk op die van D'Arbez en De Waal, ofskoon die skryfster geen jag maak op avonture nie, en met meer gevoel en innigheid skilder. Klaarblyklik is hierdie werk vir die jeug bedoel. Die herinneringe aan ons groot stryd begin al hoe meer vervaag, en hierdie simpatieke en lewendige uitbeelding van ons volksverlede is van groot opvoedkundige waarde. Die skryfster het 'n deeglike kennis van die periode, en die strekking van haar verhaal is kerngesond. Ofskoon haar hooffigure vaag bly, het sy ons 'n helder blik gegee op die hartstogte wat die volk beroer het. In die kamptoneeltjies word ons getref deur liefdevolle indringing in die leed van vrouens en kinders. |
|