skerp waarnemingsvermoë stel haar in staat om 'n volkstipe soms heel verdienstelik te teken. Hierdie snelverskietende vonkies kan 'n gesellige tydverdryf wees as die hele familie saans naderskuif rondom die wintervuurtjie.
Op 'n hoër plan staan Uit Juffrou se Dagboek (1931). Die simpatieke Juffrou, hoof van 'n plattelandse eenmanskooltjie in 'n agterlike uithoek van die land, begin plasties te lewe, en die persone uit haar omgewing word mense van vlees en bloed, wat ons in die werklike lewe nog al eens ontmoet. Ons kry 'n duidelike beeld van Juffrou se gesukkel met agterlike, ondervoede kinders en dom-astrante ouers. Dis alleen haar liefde vir haar werk, haar warme simpatie vir die ontluikende kindersieltjies wat haar in staat stel om voort te gaan met haar pionierswerk. Spoedig moet sy ervaar dat die wyse professor Snooky se onderwysteorieë maar baie ontoereikend is in hierdie omgewing:
‘Om die kinders die a-b-jap te leer, is geen kuns aan nie - dis by die sielkundige sy van die saak waar die knoop lê.’
Hoe kostelik word die mentaliteit van beide ouers en kinders nie geteken nie deur die praatjies dat Juffrou in haar onderrok skool-toe kom, en deur die gestoei tussen die twee seuns wat naaste aan haar wil staan.... omdat haar hare so lekker ruik! Gaandeweg begin die hele omgewing met al sy mense en probleme vir ons te lewe. Daar is verskeie figure wat ons meteen aan Van Bruggen se armblankes herinner, o.a. die half-simpele mevrou Pypers, wat so dikwels in die ‘dubbeljoe’ raak en haar parmantige man, 'n tweede Goor-Dawid, met sy rykdom van ‘vrou en nege kjenners’.
As afwisseling by al hierdie narigheid vertel Juffrou ons haar eie liefdesgeskiedenis, wat na 'n bietjie konvensionele misverstand heeltemal in orde kom. Eintlik jammer, dat sy so gou 'n ryk boerseun vind, want met hierdie eenvoudige notisies van haar daaglikse ervarings as skooljuffrou het sy 'n skone hulde gebring aan baie van haar kollegas, wat met veel persoonlike ongerief en liefdevolle opoffering hul edele werk van nasiebou voortsit in die onherbergsame gramadoelas van ons wye vaderland.
Hierdie boek sal baie lesers vind omdat Juffrou so sonder literêre pretensies altyd eenvoudig, opreg en ongekunsteld vertel.
In die vervolg, Juffrou op Reis (1937) beskryf sy haar wittebroodsreis na Engeland en Skotland.
Janette (1937) is die geskiedenis van ‘'n dogter wat geen dame wou word nie’. Hierdie ‘kaalvoetwildernis’ gaan na 'n tante in Johannesburg om 'n verfyningsproses deur te maak. In die deftige stadswoning haal sy tallose fratse uit wat op baie luimige wyse geskets word. Jeugdige lesers sal geniet van die grappige teenstelling tussen die eenvoudige plaasgewoontes en die ingewikkelde stadsmaniere, deur haar onkunde waarvan Janette soveel vermaaklike flaters begaan.