redenering: ‘Min het (Jakob) kon dink dat dit haar aan sedelike moed ontbreek om hom in sy nederlaag ter sy te staan.’
Hoe onmagtig die skryfster is om 'n groot krisis uit te beeld blyk onder andere uit die toneel tussen Jakob en sy moeder net na die bruilof van Martiens. Jakob het stilletjies die huis ingesluip nadat die bruilofsgaste weg is en eindelik sy moeder laat erken dat sy skuld het aan die loop van sake. Dan heet dit: ‘Hierdie beskeie skuldbelydenis versag Jakob se hart, want hy was aansienlik teen sy broer verbitter en hy voel nog opstandig oor die verraad wat hy gepleeg het in verband met sy liefdesgeskiedenis’. (Ek kursiveer.) ‘Aansienlik verbitter’ inderdaad! En dit nadat Martiens sy nooi afgevry het, sy ‘koningsboom’ deur lis ingepalm het en hom ook nog beroof het van sy regmatige aandeel in die wins! By so 'n boswerker, wat al jare gefolter word deur die knaende besef van veronregting, sou 'n mens eindelik dan tog 'n uitbarsting van woede verwag. Maar nee, die ‘aansienlik verbitterde’ sit ewe gedwee en smul aan Martiens se bruilofskoek! Hy kon gerus ook maar strooijonker gewees het!
Ek het alle waardering vir die gesonde Christelike gees en rype lewenservaring waarvan hierdie novelle getuig. Maar van die mentaliteit van die boswerkers en van hul lewenswyse vertel dit ons heel weinig. Enkele saaklike opmerkings omtrent die boomkappery en die bewerking van hout is tog seker nie voldoende om die bosatmosfeer te suggereer nie. Hierdie broers werk wel toevallig in die Knysnabosse, maar ons merk heel weinig van die essensiële verband tussen die arbeidende mense en die onveranderlike aarde. En dié geheimsinnige verband moet so hartstogtelik ondergaan word dat karakterontplooiing en agtergrond onafskeidelik saamsmelt, sodat ons nie aan die verhaal kan dink sonder die omlysting nie. 'n Geslaagde proewe in hierdie rigting was Van den Heever se Somer waar die plaaslewe gesien word ‘in al die grootsheid van natuurperspektief’. Maar die gees van die boswêreld leef nie in die styl van Broers nie, daarin is geen aanvoeling van die oerkragte van die natuur nie.