Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging
(1939)–P.C. Schoonees– Auteursrecht onbekendSterker as die Noodlot (1930).In hierdie breedopgesette roman word die lewensgeskiedenis van Dora Meyer in drie dele behandel. In die eerste periode, 1882, ontmoet ons haar as kind in die huis van haar grootouers, oom Jan en tant Alie. Haar | |
[pagina 343]
| |
moeder is oorlede, en ofskoon ons verneem dat haar vader haar liefhet, speel hy glad geen rol in haar lewe nie - wat erg onwaarskynlik is. Haar grootouers voed haar op volgens die tradisionele Boerebeginsels, wat baie onoordeelkundig toegepas word. Breedvoerig word Dora se skoollewe geskets, eers by die deftige Meester van Staden met sy Trap-der-Jeugdmetodes en ouderwetse tugmiddels, later by die verengelste Miss de Wit, wat probeer om die hele omgewing te angliseer en haar plaasleerlinge verbyster met die nuutste Kaapse metodiek. Hierdie stukkie beskawingsgeskiedenis trek in lewendige toneeltjies voor ons geestesoog verby, terwyl ons ook kennis maak met die gewoontes, sedes, kleredrag en opvattings van die plattelanders. Ofskoon ons Dora in allerlei situasies ontmoet, groei sy egter nouliks tot 'n aparte persoonlikheid. Sy is meer tipe as mens. Met die verhuising van oom Jan na die dorp weens siekte begin die tweede periode (1890). Dora kom veel in aanraking met Justus Hoffman, die dokter se seun, wat in die Kaap gaan studeer. Na oom Jan se dood volg 'n verlowing. Die verhouding tussen die twee jongmense word baie breedvoerig beskrywe en 'n lang hoofstuk word gewy aan die verlowingsfees. Die skugtere plaasnooi begin haar goed aanpas by die dorpse lewe en help dr. Hoffman met verplegingswerk. Sy onderneem 'n reis na Kaapstad om haar verloofde te groet voor sy vertrek na Duitsland waar hy in die medisyne gaan studeer. Daarna besoek sy haar vriendin, Helena, op Stellenbosch. Al hierdie gebeurtenisse gee die skryfster 'n geleentheid tot breë sedeskildering. Ons maak onder andere kennis met 'n deftige Kaapse familie, besoek al die besienswaardighede in Kaapstad, woon 'n toneelopvoering by, en leer ook heelwat omtrent die studentelewe op Stellenbosch. Dit lyk haas of sedeskildering vir die skryfster hoofsaak word, want die liefdesverhouding het die gewone konvensionele verloop en kan nouliks ons aandag gespanne hou. As Dora uitvind dat haar minnaar ontrou geword het, kom sy na 'n periode van insinking tot die besluit om ‘sterker as die noodlot te wees.’ Sy sal die minderwaardigheidskompleks, wat sy onder oupa se strenge regering ontwikkel het, kwytraak, 'n loopbaan kies en haar geestelike selfstandigheid herwin. Hierdie program word uitgewerk in die derde deel, wat in 1927 begin. Dora is dan 'n vrou van middelbare leeftyd en staan aan die hoof van 'n groot inrigting waar verpleegsters opgelei word. Haar rype lewenservaring en simpatieke geaardheid laat haar die raadgeefster van die jongmense word. Haar moeilikste probleem is die opleiding van Hedwig, die dogter van haar eertydse minnaar, wat deur 'n stiefmoeder gedwing word om die ouderlike woning te verlaat. Met Hedwig besoek sy haar niggie, Helena, tans predikantsvrou en moeder van 'n reeds volwasse kroos. Ds. Roux se kinders is ten spyte van die remmende pastorie-invloed almal ultra-modern in hul opvattings wat sterk kontrasteer met die eenvoudige, konserwatiewe begrippe van | |
[pagina 344]
| |
die vorige geslag soos in die eerste deel geteken. Al die kinders het 'n lewensprobleem, wat hul aan die simpatieke tant Dora voorlê. Pierre Roux wil professionele voetbalspeler in Engeland word, Doreen wil met 'n bloedverwant trou, François wil die universiteit verlaat om by die lugmag aan te sluit, Letitia het weer 'n huweliksprobleem, terwyl die geleerde Alida die manlike geslag met groot veragting behandel. Al hierdie ingewikkelde probleme word egter opgelos deur Dora se towerformule: sterker as die noodlot. Sy gee verstandige raad en laat die hulpsoekende besef dat elke mens sy eie lewenspatroon moet weef. Die derde gedeelte van die roman is vol spanning, en deur lewendige gesprekke kry ons 'n goeie kyk op die mentaliteit van die jongmense. Alte opsetlik word egter telkens die noodlot-idee op die voorgrond geskuiwe, en die sielkundige ontrafeling vermoei deur langdradigheid. Die skryfster het ongetwyfeld talent, maar sy het in haar eersteling 'n taak aanvaar wat nog ver bo haar vermoë was, naamlik die uitbeelding van die lewensideale van drie geslagte. | |
Die Wit Kraai (1938).Ofskoon die Tweede Beweging met 'n historiese roman begin het, vertoon hierdie genre by ons nog 'n baie onontwikkelde vorm. Die enigste skrywer wat tot dusver daarin geslaag het om 'n aanneemlike oplossing te vind vir die groot moeilikheid: hoe om die historiese weergawe onverbreeklik saam te vleg met die eise van die skeppende verbeelding, was D.F. Malherbe in sy drie Bybelse romans. By Malherbe kry ons nooit die gevoel dat sy verhaal in twee helftes uitmekaar val nie, dat dit halfpad geskiedenisboek en halfpad roman is. Hy besef dat dit onmoontlik is om die wêreld te sien met die oë van Saul of Jeremia, omdat ons alleen ons eie oë kan gebruik. Daarom doen hy wat so baie ander kunstenaars reeds gedoen het en gee 'n verbeelding van die verlede soos 'n twintigsteeeuer dit sien. So het die skilders van die middeleeue met hul Bybelse taferele eintlik slegs Italianers en Vlaminge uit die veertiende en vyftiende eeu geskilder; so is die Grieke en Romeine uit Shakespeare se dramas niks anders as Engelse van die Elizabetaanse tydperk nie. Anna de Villiers se werk vertoon die tweeslagtige karakter wat 'n kenmerk is van so baie historiese romans. Haar tegniek is natuurlik heelwat meer verfynd as dié van ouer skrywers soos D' Arbez wat eenvoudig los stukke geskiedenis in sy verhaal ingelas het. Maar die historiese element oorweeg in so 'n mate dat 'n mens jou telkens moet afvra of dit nou wel nog 'n roman kan genoem word. Sy het haar ten doel gestel om sover moontlik 'n getroue rekonstruksie te gee van die Voortrekkerperiode. Omdat Hans de Lange die hoofkarakter is, moes die skryfster rekening hou met sekere vasstaande feite wat nie verwaarloos kon word sonder om die verbinding tussen haar figure en dié van die geskiedenis in gevaar | |
[pagina 345]
| |
te bring nie. Daardeur doen sy meteens afstand van 'n nogal belangrike element in elke roman, naamlik spanning. Die leser verkeer nooit in onsekerheid omtrent die hoofgebeure nie, want elke skoolkind ken immers die hoogtepunte van die Voortrekkergeskiedenis wat hier breedvoerig verhaal word. Die bietjie spanning wat daar tog ontstaan vind ons in die reaksie van die ondergeskikte karakters op die historiese gebeurtenisse waarmee hul persoonlike lotgevalle saamgeweef is. Die historicus laat altoos die meeste lig val op die onpersoonlike, massale, op die oorsake en gevolge van volksbewegings. Maar wat 'n roman interessant maak is juis die persoonlik subjektiewe uit die lewe van romanfigure as enkelinge beskou. As die skryfster ons minder joernalistieke beskrywings gegee het van bekende historiese gebeurtenisse, en meer aandag gewy het aan die alledaagse lewe, en veral die innerlik van haar karakters, sou die heroïese van hul prestasies baie sterker op die voorgrond getree het. Dis juis in hierdie opsig dat sy 'n tekort aan beeldende vermoë openbaar. Ek noem as voorbeeld die ontluiking van Elsie de Lange se liefde vir Izak. Hierdie Voortrekkerdogter eis in haar aanstaande die onverskrokke heldemoed wat sy in haar vader so bewonder. Maar wat 'n banale vryery gee dit af! Izak kry hartkloppings, die bloed golf deur sy are, sy hele wese smag na haar (p. 87), die liefde styg ‘tot oorstelpens toe’ in hom op, ‘'n warm stroom van geluk deurhuiwer sy wese’, en ‘hy voel asof sy voete hul aanraking met die aarde verloor het’. (p. 105.) Met sulke niksseggende sinnetjies is ons weer terug in die Johannes van Wyk-periode van ons prosa. Soortgelyke retoriese aardigheidjies debiteer die skryfster wanneer sy by die historiese hoogtepunt van haar verhaal kom. Pretorius en sy manskappe staan rondom Retief se graf: ‘Menige geharde Voortrekker wat daardie geraamtes in die oop graf aanskou, voel.... 'n gloeiende traan oor sy wang vloei, maar laat dit onbeskaamd sy gang gaan.’ (p. 138.) By die Moord van Blauwkrans: ‘Ligte veertjies, losgeskud uit kussings en bulsakke dryf met donsige swier deur die lug en daal langsaam na benede om die bloedbevlekte toneel voor die aangesig van die opkomende son te bedek.’ (p. 79.) Op kritieke momente hoor ons steeds die ‘skelle, onheilspellende gekrys’ van 'n groot swart kraai - uiterlike simboliek. En verder lees ons veel van die ‘ongerepte natuur’ en die ‘maagdelike aarde’. Met bostaande opmerkings wou ek alleen beklemtoon dat Die Wit Kraai die lewenswarmte mis van 'n spannende, hartstogtelike roman. Beskou ons dit as smaaklik toebereide historiestof, dan bevat dit baie besonderhede, uit vergeelde dokumente geput, wat ons voorstellingsvermoë van die Voortrekkertydperk kan verskerp. Die skryfster het haar baie moeite getroos om in die uiterlike vorme van die Voortrekkers se bestaan deur te dring. Sy het die terrein van die vernaamste gebeurtenisse besoek en skryf met kennis van sake oor die geaardheid van die landstreke waardeur | |
[pagina 346]
| |
die baanbrekers trek. In die dagboek van Erasmus Smit en die herinneringe van ander pioniers, soos opgeteken in Preller se Voortrekkermense, het sy 'n hele reeks gegewens gevind wat sy uitgebrei het tot lewendige toneeltjies. Daardeur kry ons 'n blik op die bedrywige lewe van die Trekkers, hul onderhandelinge met Kafferkapteins, hul krygsverrigtings en kerklike moeilikhede. Ons maak ook kennis met die jongmense wat af en toe askoek slaan en die ou hanekraai dans. Verder begryp ons iets van die ongerief wat die vroue op die gedurige omswerwings moet verduur en die kwellende onrus wat hul martel wanneer hul mans 'n gevaarlike tog moet onderneem. Besonder goed geteken is die verhouding tussen Catrina en die woelige Hans Dons wat maar altoos op die voorposte te vinde is. Selfs Panda se lastige geskenk van 'n mooi Zoeloemeid kan die harmonie tussen die eggenote nie verstoor nie. In haar ernstige siekte word Catrina tederlik versorg deur haar man, en wanneer die skaduwee van die galg oor hul lewensaand val, doen sy wanhopige pogings om Hans Dons se lewe te red. In hierdie slothoofstukke tintel daar iets warms in die skryfster se stem, hier bereik sy veel meer as aanskoulike uitbreiding van vader Smit se dagboekaantekeninge. Die historiese stof het hier nie slegs stof gebly nie, dis nie slegs 'n kunstige poging om die verlede nader aan ons te bring nie. Haar diepe meegevoel met die bejaarde Trekkerheld, wat na soveel jare van troue nasiediens, onskuldig aan die galg moet hang, het die skryfster in staat gestel om die tragiese heroïek van Hans Dons se laaste dae gevoelvol uit te beeld. Die historieskryfster word hier op die agtergrond gedring, die figure begin te lewe en daardeur kan ons ook sonder veel inspanning die hele agtergrond van hierdie klein Slachtersnek duidelik voor ons gees oproep. Hierdie verhaal kan uitstekende dienste bewys aan almal wat in ons Eeufeesjaar 'n poging wil doen om hul in te lewe in die werklikheid van ons volksverlede. |
|