§ 21. S. Bruwer.
Bodemvas (1929).
Hierdie verhaal het heelwat beroering veroorsaak, omdat dit tydens 'n verkiesingstryd verskyn het en die berugte ‘rassehaat’ as hoofmotief het. Die publiek, wat Ampie in alle stilte ontvang het, het dadelik groot belangstelling getoon vir die probleem van die verhouding tussen die twee blanke rasse, en warm debatte is gevoer oor die stellings wat in Bodemvas neergelê word. As gevolg van hierdie omstandighede is die betekenis van die boek aanvanklik ver oorskat:
Die sentrale tema is die botsing tussen die lewensopvatting van die bodemvaste Afrikaner, wat Suid-Afrika as sy tuiste beskou, en die Home- vaste Engelsman wat gedurende 'n tydelike ballingskap niks as veragting oor het vir die inwoners van 'n agterlike kolonie. Tussen hierdie botsende magte word die lewensgeluk van twee vroue, Hessie en haar dogter Lena, verbrysel.
Die skryfster het haar taak heelwat vergemaklik deur as verteenwoordigers van die rasse twee uiterste tipes te kies. Oom Gerrie is 'n boer van die ou stempel, wat so verbitter is deur sy oorlogslyding, dat sy haat teen die Engelse onversoenlik is. Teenoor hom staan dr. Harold Carey, 'n tipe van die rooiste Jingo, wat as gevolg van 'n oorgeërfde meerderheidsgevoel tot die grofste belediginge in staat is. Sy mentaliteit blyk voldoende uit die volgende: ‘Die Dutch is vir hulle bestaan volkome afhanklik van Engeland se goeie guns, Lena, en hulle behoort dankbaar te wees dat die gemors wat hulle taal noem, nog hier toegelaat word.’
Tant Hessie doen 'n bangerige poging om die botsende lewensbeskouings te versoen: ‘Die tye verander. Ons moet saam met die Engelse leef. Wat kan ons doen? 'n Engelse vrou het my van die dood gered daar in die kamp.’ Dit laat oom Gerrie losbars in 'n hartstogtelike uitval, wat ons 'n diepe blik gee in sy gefolterde siel. As hy in stomme wanhoop uitroep: ‘Is dit dan nog net ek wat die Boeretradisies wil hooghou, daarop wil bou?’ dan staan hy daar vlak voor ons as die onversoenlike Bittereinder wat van die berugte ‘vergewe en vergeet’ niks wil weet nie. ‘Sy eie dogter het agter 'n rou Engelsman aangeloop’ - dit is die ergste ramp wat hom kon getref het - ‘the most unkindest cut of all’.