By alle waardering vir die skrywer se fyn waarnemingsvermoë, sy tere gevoeligheid vir die wisselende kleurespel in die natuur, het die vraag tog by my ontstaan of Pienaar, as verteller, nie veel dieper indruk sou maak nie as hy al die hinderlike, aangelaste stylfranjes en al die fynuitgerafelde stemminge kon vervang deur 'n meer direkte verteltoon. Die singende fiskaal, ‘koorklaende dennenaalde’, ‘die eensame den wat droewig saamsnik’, ens. moet alles dien as inleidende situasie-voorbereiding by die beskrywing van Broertjie se afsterwe. Maar word hierdie matelose opstapeling van suggesties nie slegs van buite opgeplakte versiersels nie? As Broertjie sterf dan heet dit:
‘Buite sug die denneboom met swaar golwing, en 'n vlaag ruk soos 'n snikskud deur die dak van die sterfhuis.’
As die moeder op die kerkhof staan:
‘Meteens breek 'n tak, afgeleef en kermend, uit die bloekom by haar los....
‘Meteens, asof iets van haar wegskeur, word sy gewaar, met vrees, ontsteltenis, jaloesie, afkeer, die nuwe lewe in haar!’ (p. 210.) Uit sulke voorbeelde blyk duidelik dat die spontane impulsie afwesig is. Die natuur word literêr beskou, dit moet dien as kunsmatige stemmingswekker. En deur sy angsvallige sorg om prosa met 'n groot P te skrywe laat die skrywer dikwels sy verhaal verstik.
In hierdie selfde verhaal egter slaag Pienaar daarin om die smart van die moeder uiters suggestief te verbeeld deur een enkele plastiese détail - die voetspoortjies van Broertjie onder die appelkoosboom:
‘Vyf ronde kringetjies bly langer staan, een groter, en vier wat kleiner is, asof die vyf lewendige toontjies nog daarin druk’.
Is dit nie veel suiwerder gesien as die sugtende denneboom en die ‘snikskud’ van die windvlaag nie?
Ek gee u nog 'n voorbeeld van Pienaar se krag van evokasie. In die verhaal Die Dooie Gans word die onmenslike ondankbaarheid van die oudste seun in al sy afstootlikheid gesimboliseer deur 'n ‘geskenk’ aan sy sterwende vader.
‘In die verlate kombuis lê die dooie gans halfgepluk, die nek styf, met glaserige oë in die kop oor die rant van die blikskottel en die pote styf na boontoe....’
Mooi word in die begin die beklemmende atmosfeer aangedui as die vader se toorn losbreek oor die jongste seun. Hier is die natuursimboliek verhelderend, want die geweldige onweer daarbuite vorm 'n dramatiese agtergrond vir die storm in die gemoed van die hoofkarakters. Die natuur neem selfs deel aan die handeling, want die pragtige paleis van die oudste seun word deur die bliksem aan brand geslaan.
Daar is nog ander verhale in die bundel wat getuig van Pienaar se beeldende talent. Ruth is kompositories minder bevredigend, omdat die