Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging
(1939)–P.C. Schoonees– Auteursrecht onbekend§ 18. Dr. C.M. van den Heever.Van den Heever is in 1902 in die konsentrasiekamp by Norvalspont gebore. Hy het sy eerste onderrig in die Vrystaat ontvang en was 'n tydlank onderwyser, staatsamptenaar en joernalis. In 1927 vertrek hy na Utrecht, Holland, waar hy in die Nederlandse Lettere studeer. In 1932 promoveer hy aan die Universiteit van S.A. op 'n proefskrif Die Digter Totius, Sy Betekenis vir die Afrikaanse Letterkunde (vgl. Hoofstuk XI). In 1933 is hy aangestel as professor in Hollands aan die Witwatersrandse Universiteit. Van den Heever is een van ons vooraanstaande digters en het reeds vier bundels gedigte gepubliseer. Sy prosawerk is as volg: Op die Plaas (1927); Langs die Grootpad (1928); Droogte (1930); Simson (1932); Groei (1933); Vuurvlieg en Sterre (1934); Somer (1935); Die Afrikaanse Gedagte (1935) (vgl. Hoofstuk XI); Kromburg (1937). | |
Op die Plaas (1927).Sy eerste prosawerk is 'n novelle van die soort waarin daar heel weinig ‘gebeur’. Die hoofpersoon, Freek, is 'n skaapboertjie op kleine skaal, wat in 'n ou pondokkie woon. Freek ly aan 'n abnormale ontwikkeling van die inferioriteits-kompleks, wat hom die mikpunt van sy maters se spot maak en al sy lewenskragte sodanig verlam, dat hy knaend besig is om weg te kruip in 'n nietigheidskulpie. By 'n buurman kom daar 'n dorpse nooi kuier, wat uit pure tydverdryf en om 'n bietjie afwisseling in haar eentonige vakansie op 'n eensame plasie te bring, solank flikkers maak om die onnosele Freek, tot hy haar eindelik die aand voor haar vertrek soen. As Miem al haar sykouse ingepak het, verdwyn sy vir goed. Die skamerige Freek teer nog 'n rukkie op sy gelukkige herinneringe en geraak dan na 'n heftige stryd tot nuwe lewensinsigte. Freek laat ons meteens aan Ampie en Faans, Malherbe se meulenaar dink, en die skrywer het ongetwyfeld veel uit hierdie romans geleer, ofskoon hy nie bewus nagevolg het nie. Van den Heever laat al die lig val op Freek se skugterheid en het hom met treffende innigheid ingeleef in die verontrustende mymeringe van hierdie verliefde sukkelaar, wat met 'n patetiese weifelsug tot op die laaste oomblik wik en weeg. Sy hele siel hunker na die liefde wat sy vreugdelose bestaan draaglik sal maak, maar hy mis die moed om sy aangebore skroom te oorwin. Hy is een van die eensame siele, wat onbegrepe voortpieker, omdat hulle alle daadkrag mis. Bevreemdend is dit daarom dat Freek na die vernieti- | |
[pagina 293]
| |
ging van sy vlugtige liefdesgeluk hom onverwags ontpop as 'n diepsinnige filosoof. ‘Soos 'n nuutgebore mens het hy uit die idealistiese dop.... gekruip. Hy het hom nie meer bekommer oor die dood nie; al die nare gedagtes van vroeër het in die dryfsand van nuwe dinge weggesak. Hy het die mense leer ken soos hulle is.... elkeen met sy bondeltjie smarte en ellende, en net so vol swakhede as hy. Uit die hoogtes waar sy siel in drome gelewe het, het hy neergedaal onder mense....’ ‘Hy het geleer om die lewe se waardes in die regte verhouding te skuiwe, om die verbygaande verskynsels van die lewe, wat op 'n ewigdiep ritme altyd kom en gaan, helder en mooi te sien deur die vensterruit van 'n gelouterde siel’. Hierdie lewenswysheid sou Freek geput het uit sy mislukte liefde. Maar volgens die uitbeelding in die eerste gedeelte van die verhaal besit hy net 'n geringe mate van geestelike ontwikkeling. Ek sou hom een sportjie bo Ampie plaas, en ‘die hoogtes waar sy siel in drome gelewe het’ is ook maar die lugkastele van 'n naïewe optimisme, wat hom steeds 'n gelukkige saamleef met Miem voorspieël. Om 'n oplossing te bereik laat die skrywer Freek dus 'n ontwikkeling deurmaak, wat glad nie strook met sy innerlike aanleg nie. Freek is 'n swakkeling, wat selfs onder die gunstigste omstandighede nooit tot so 'n volledige menslikheid kan geraak nie. Buitendien is sy karakter so eenvoudig van samestelling, dat hy kwalik die hooffiguur kan wees van 'n verhaal, waarin daar feitlik geen ander persone optree nie. Van den Heever het wel met 'n paar vlugtige trekke twee of drie byfigure aangedui, maar die skildery is te oppervlakkig om die aandag vas te hou. Waar hy met Freek besig is, is daar meer diepte en innigheid in die uitbeelding. Die verhaal sou egter aan dramatiese spanning gewin het, as dit in plaas van die lang psigologiese uitrafeling meer plastiese toneeltjies bevat het, waarin ons die hooffiguur in aksie kon sien. Ten spyte van hierdie bedenkings is daar egter veel verdiensteliks in Van den Heever se eersteling. Hy het die plaaslewe met die gevoelige oog van die digter beskou; die geure en kleure van die veld by die wisselende jaargetye soms met treffende beelde geteken. Ons sien die boer besig met sy daaglikse taak, en ook die swart skepsel wat hom help word met humoristiese siening getipeer. Van den Heever het 'n fyn ontwikkelde taalgevoel en luister noukeurig na die klank en ritme van sy sinne. Veral deur veelvuldige vergelykings strewe hy na individuele segging, wat hy dan ook deurgaans bereik, ofskoon daar nog retoriese aankleefsels in sy styl is. So word daar byvoorbeeld wonderlik omgespring met arme Freek se hart: partymaal lê daar 'n kooltjie in (p. 36), dan steek daar weer 'n doring in (p. 74), of trek daar bliksemstrale deur (p. 79), ens. Wat die vergelykings betref - op byna elke bladsy staan daar gelukkige vondse, wat van die skrywer | |
[pagina 294]
| |
se weelderige fantasie en opmerkingsgawe getuig. Ek noem as voorbeelde: ‘Sy pap hoedjie los soos 'n pampoenblaar oor sy kop, (p. 6); die bakoond wat aan die huis vasgemessel staan lyk soos 'n varkie wat aan sy ma drink (p. 18); die blare aan die bome het gedaan gelyk soos die gesig van 'n afgeleefde mens (p. 75). Partymaal gaan dit egter moeilik om die fantastiese vergelykings van die skrywer te bewonder en maak dit die indruk van opgeplakte blinkpapiertjies. Toe ek die eerste maal lees dat die son soos 'n rooi granaat opgaan, het dit my wel getref. Later egter, word die son 'n deurskynende appel, 'n blaasvlam (?) ens., terwyl die maan beurtelings die gedaante van 'n groot blink halfkroon, 'n geel pampoenskil, 'n groot geel bal, ens. aanneem! Die skrywer is nie tevrede met 'n spontaan opwellende gevoelsindruk nie, maar maak positief jag op vergelykings. En as 'n mens die voorbeelde so een vir een inryg, dan wek dit die onaangename indruk van massa-produksie volgens uitgeknipte patroon. So sou ek die skrywer ook wil waarsku teen al die kwetterende voëls en veral die rooivoël, wat reëlmatig met klappende vlerke die lug instyg, of soms ook wel ‘die blou dom (?) van die hemel....’Ga naar voetnoot1) | |
Langs die Grootpad (1928).Die vernaamste indruk wat hierdie roman by my nalaat is die erns van die skrywer. Hier is iemand aan die woord wat nie sommer lughartig voortdrentel op die grootpad van die lewe nie; hy daal af na die donker moerasse, kruip teen die knaende opdraande uit en sien vandaar die bergtoppe van die beloofde land, wat vaag opdoem uit die deinserigheid. Hierdie jong skrywer het geworstel met die lewe. ‘Daar is 'n weemoedige, pessimistiese klaagtoon in sy verse,’ het ek geskrywe by die verskyning van sy eerste bundel Stemmingsure. ‘Hy tob oor die raaisel van die dood, en is diep onder die indruk van die verganklike van al die ondermaanse. In die donker nag is dit net die onsekere straaltjies van die aandster, wat 'n flou skynseltjie gee. Langs die eindelose trekpad van die lewe soek hy tevergeefs na 'n uitspanplek, waar die siel sy smart kan vergeet. Die een geslag volg die ander op en steeds is daar nuwe soekers, wat een vir een met 'n ewige waarom die duisternis ingly....’ Dit alles is in hoofsaak ook van toepassing op hierdie roman. Hansie, die hooffiguur, is 'n plaasseun, met 'n sterk neiging tot introspeksie, wat aanleiding gee tot pessimistiese mymeringe. Op die snare van sy viool verklank hy al sy vae, onbestemde verlangens. ‘Sy siel het van verlange geskryn na 'n verwesenliking van die onbewuste dinge, van die skemergestaltes wat telkens vervlug as hy hul nader.’ In die musiek vind sy artistieke aanleg 'n uitweg uit die teleurstellings van 'n onsimpatieke omgewing. Dit is alleen sy moeder wat enigsins 'n begrip het van Hansie se hunkering na newelagtige ideale. Hy moet boer | |
[pagina 295]
| |
word, maar sy dromerige geaardheid maak hom ongeskik vir die plaasarbeid en lei tot wrywing met sy vader. Nog meer raak sy gemoed versomber as die tere spruitseltjies van 'n eerste liefde verskrompel deur die plotselinge vertrek van Maria, die dogter van die bywoner, Rooi Stefaans. Maar nog groter beproewing wag Hansie. In die griepjaar verloor hy sy moeder, 'n gebeurtenis wat hom digby die ewige dinge bring en aanleiding gee tot ernstige selfinkeer. In sy wanhopige droefheid kla hy: ‘Here! Here! wat is die lewe, waarom moet ons ly? En sy woorde klink in die stil skemeruur soos 'n rou noodkreet van 'n jong siel wat verbyster is deur sy eie bestaan en pynlik, wanhopig kla by God.’ Innig is die weergawe van Hansie se worsteling met die groot lewensraaisels, en 'n mens voel onwillekeurig dat die skrywer hier 'n groot stuk van sy eie gemoedslewe verwerk het. Hansie is dieselfde seun wat ons in Die Nuwe Boord ontmoet: As seun het ek vir ure al gesit en met omhoog-gerigte hoof, gestut
beweegloos op my hand, iets groots van bo
verwag met heimwee, vas daaraan geglo...
Hy is die soeker wat hunker na die oplossing. By die sterfbed van sy moeder het die oneindige dinge hom aangegryp en in sy drome het hy flou skynseltjies van die ewige lig ontwaar. Maar vaal en eindeloos ver lê die wit streep van die grootpad voor hom. Deur middel van studie verower hy 'n nuwe gedagtewêreld, wat hom egter juis verder van sy eie kring laat vervreem en sy neiging tot eensame oorpeinsings versterk. Hy staan as vreemdeling teenoor sy maats, en weet self nie waarom die snaakse gevoel van andersheid hom so beetpak nie. 'n Diepe heimwee, 'n gestadige hunkering na 'n paradys in die verre verskiet dryf hom steeds terug na sy eensame buitekamertjie. Diep moet so 'n gevoelige siel ly onder die vernedering wat sy vader ondergaan as gevolg van geldelike moeilikhede. Oom Gert probeer sy posisie red deur 'n tweede huwelik, wat egter sy hele huisgesin in die diepste ellende stort. Tant Annie stam uit 'n agterlike bywonersfamilie en haar baasspelerige natuur en skynheilige agterbaksheid veroorsaak al gou 'n krisis wat die huisgesin uitmekaar laat spat. Goed word die huislike onenigheid geteken, die gedurige wrywing tussen die kinders en hul stiefma, nog vererger deur skinderpraatjies van buite. As tant Annie se seun, Johnnie, 'n gedegenereerde swakkeling, plaas-toe kom en deur sy ma in alles voorgetrek word, dan volg daar 'n uitbarsting. Hansie kan die geterg nie langer verdra nie en slaan vir Johnnie plat teen die kraalmuur. As gevolg van die huislike storm wat nou losbars, besluit Hansie om sy goedjies bymekaar te skraap en die grootpad op te gaan. Die dromer wat so lank getob het oor die geheimenisse van die toekoms moet nou | |
[pagina 296]
| |
met 'n vyfpondnoot en 'n klompie skapies die stryd met die onbarmhartige lewe begin. Roerend is die vaarwel aan die geliefde ou plaas en treffend deur sy eenvoud die skildering van die afskeid tussen Hansie en sy gebroke vader. Die ironie van die lot voer hom na Rooi Stefaans, die eertydse bywoner, wat sy pa weggeja het, maar wat deur 'n gelukkige vonds op die delwerye nou 'n welgestelde boer is. Dubbel swaar is dit om hier 'n gunsie te vra, maar die nood dwing en Hansie kry 'n sitplekkie op die plaas. Ook hier egter kan hy nie aard nie. Sy nederige posisie is 'n gedurige kwelling en hy bly nog maar die onbevredigde soeker, wat deur sy dromery ongeskik is vir die gewone plaaswerk. Slegte nuus van sy susters bring hom byna tot vertwyfeling. ‘En in die oomblik van diepste wanhoop voel hy die geweldige, ewige, donker lewensgeheim oor hom; 'n nag waarin die mens vergeefs na die sterre opkyk en doelloos verder slinger.’ Hansie se moed vir die lewenstryd is gebreek. Hy, wat as kind al die merkteken op die voorhoof gedra het, wat hom van ander onderskei, moet dubbel en dwars betaal ‘die belasting van oorgevoeligheid vir die gawe van diepgevoeligheid.’ Sy kunstenaars-temperament maak hom tot een van die babetjies van wie Langenhoven sê: ‘Hulle pas nie op die aarde nie, daarom roei hulle hulle self uit, waar hulle maters hulle nie uitroei nie. Eensaam, onbegrepe, leg hulle hulle weg af.... Arme geteisterde en selfgeteisterde, verdwaalde hemelinge op 'n vreemde meedogenlose aarde - hulle kom hier om te dien en om te ly.’ Hansie moet ondergaan in die stryd teen die genadelose werklikheid. Die lewe sal hom uitstoot as 'n nuttelose vyfde wiel, omdat sy vader hom in 'n verkeerde beroep gedwing het. Maar nou keer Maria terug uit die stad waar sy gestudeer het en as dit blyk dat haar liefde vir haar ou speelmaat nog lewe, dan volg die volkome regenerasie van Hans. Onder haar besielende invloed verdwyn sy minderwaardigheidsgevoel en besluit hy om sy goedjies te verkoop en musiek te gaan studeer in die stad. Daar kom hy in aanraking met die volle lewe, en in plaas van voort te pieker oor eie moeilikheidjies, raak hy deur voortgesette studie en noukeurige waarneming vertroud met die groot maatskaplike probleme. ‘Verder as die enge landsgrense tot ruimer wêreldgedagtes wil sy verbeelding uitsirkel; hy wil 'n sintese in die eeuewoelinge ontdek, hy wil verstaan hoe die mensgeslagte deur die eeue in golfbewegings gaan, sonder dat die mens se klein wil iets aan die grootse plan kon verander....’ Hierdie fase in Hansie se ontwikkeling word wel mooi beredeneer en sielkundig uitgepluis, maar ek mis daarin die dramatiese element. Die groot worsteling van die jongman wat soek na 'n houvas in die lewe, die stryd om 'n eie lewensbeskouing, die langsame groei tot 'n vollediger menslikheid - dit alles word alleen fragmentaries beskrywe en nie | |
[pagina 297]
| |
uitgebeeld nie. Teen hierdie gebrek, wat my ook in ander dele van die roman hinder, sal die skrywer moet waak. Dat hy egter wel deeglik 'n dramatiese toneeltjie kan inmekaarsit, daarvan getuig o.a. die geslaagde tipering van outa Jan, wat sy lewenswysheid so parmantig uitkraai (p. 102-3). ‘Die vernis van die konvensie, die slaafse aandraf in paadjies wat aangedui word, hinder (Hansie se) gevoel, wat deurdring, ontleed en waardes bepaal,’ verklaar die skrywer. Die leser sal dit graag aanneem, maar veel indruk sal dit seker nie op hom maak nie. Ons wil liewer deur middel van 'n plastiese toneeltjie sien, hoe Hansie se gemoed rebelleer teen die konvensie, hoe hy deurdring tot die kern van gebeurtenisse rondom hom. Plek-plek lyk dit of Van den Heever vergeet dat hy besig is met 'n verhaal, want belangrike feite in Hansie se ontwikkeling word sommer dor-saaklik gekonstateer, of anders raak hy verward in sy eie sielkundige spitsvondighede. Duister is vir my altans sinne soos die volgende: ‘En so sterk as wat hy die ellende en teleurstelling deurvoel het, so grondig het sy siel ook met geweldige gevleu(e)ling die wêreldbegrip genader.’ Of soos hierdie: ‘En tog was daardie lyding werklik, eenvoudig omdat sy innerlike verbreek was deur lewensvertwyfeling, omdat die sielsverewigende begrip nie sy siel deurstraal het met wysheid nie.’ 'n Noodwendige gevolg van hierdie beskrywende sielkunde is dat die figure vaag bly en nie helder in ons herinneringe voortleef nie as mense wat ons intiem leer ken het. Daarby belemmer dit die gang van die verhaal wat in die laaste hoofstukke traag voortsukkel. Van den Heever soek na 'n eie geluid in sy styl en hy het ongetwyfeld daarin geslaag om die plaaslewe op oorspronklike wyse te skilder. Ek haal 'n paar voorbeelde aan om die beskrywingskuns te tipeer: ‘Plek-plek gly die sonlig in kolle oor haar heen, en so ver as sy stap, vlie die spreeus met luidrugtige geskreeu uit die bome en val soos swart lappe in die rivier anderkant die landmuur.’ ‘In lang sluieragtige toue wals die dwarrelwinde oor die vlaktes en veryl ver teen die rooierige hemel.’ Dis al genoeg om aan te toon dat ons hier te doen het met 'n skrywer wat 'n eie siening het. Met Gezelle kan hy sê:
Mij spreekt de blomme een tale,
mij is het kruid beleefd,
mij groet het al te male,
dat God geschapen heeft.
Af en toe voel ek wel 'n bewuste strewe na mooi-doenery, soos in hierdie allitererende sin: ‘Reekse rantjies kruip soos reuseruspes oor die rooi vlaktes....’ en soms slaag die skrywer nie daarin om sy ontroering te vertolk nie: | |
[pagina 298]
| |
‘die ruisende geluid van die melkstrale teen die emmers stuur 'n stemming in die lug.’ Sommige beelde is naklanke van ander skrywers - die bome ‘met hul verwronge, knoestige arms’ laat ons b.v. direk aan Sangiro dink - maar met hierdie uitsonderinge is daar baie beskrywings wat my deur hul innige gevoel verbly het. Van den Heever soek nog na sy eie pad, maar hy sal dit kry, want net soos Hansie het ook hy ondervind: ‘Die lewe is erns, brandende erns.... Hy moet deur dié drome die lig van die volle waarheid sien. Hy moet soek, soek.... hy voel die drang na lig.’ | |
Droogte (1930).In hierdie verhaal ontmoet ons vyf Vrystaatse skaapboere. Hulle is broers, wat digby mekaar woon op die ouerlike plaas. As gevolg van die verdeling van die grond kan geeneen 'n behoorlike bestaan maak nie, en wanneer die langdurige droogte kom, raak almal uitgeboer, behalwe Sagrys, wat gedurende die Engelse Oorlog verraad gepleeg en al sy besittings behou het. Sagrys se ideaal is om weer in besit te kom van die hele plaas. Hy merk met genoeë hoe sy broers langsaam doodgewurg word deur die droogte. en beraam onderduimse planne met 'n Joodse winkelier om hul ondergang te verhaas. In die oomblik van oorwinning egter word hy vermoor deur sy doofstom broer Datie, uit wraak vir 'n jarelange mishandeling. Datie word opgesluit in 'n kranksinnigegestig en die ander broers word dagloners op die spoorweg. Met uitsondering van Soois is hierdie broers almal mense van geringe geestelike ontwikkeling, wat gedurig onder mekaar rusie maak en feitlik oor niks anders kan gesels as oor die droogte nie. Stoffel, die oujonkman, is 'n suiplap, wat probeer om sy niggie te verlei en later ook sy broer Luikes tot dronkaard maak; Datie is 'n half-onnosele idioot, wat alleen deur hie-hie-geluidjies uiting aan sy gevoelens kan gee; by Sagrys het alle menslike eienskappe opgedroog. Die broers se vroue, van wie ons die name skaars kan onthou, werskaf rond in hul bedompige vaal huisies waar lastige vlieë rondkriewel. Af en toe vlie hulle hul mans in om tog iets gedaan te kry, maar meestal swoeg hulle geduldig voort, met as enigste tydkorting skinderpraatjies. Van die talryke kinders gewaar ons so goed as niks. Hierdie armsalige spul mense woon op die kaal Vrystaatse vlakte, waar 'n meedoënlose son alle plantegroei verskrompel. Die veld is bestrooi met verbleikende geraamtes en die stank van verrottende skape en beeste dwarrel rondom die huisies. Die hoofgedagte van die roman is duidelik: dit is 'n droogte, wat nie alleen die aardkors laat oopbars van dorheid nie, maar ook die siele van | |
[pagina 299]
| |
die mense laat opkrimp. Onder die knellende sorge van so'n sukkelbestaan moet die beste eienskappe langsamerhand verstik, en kry die laer instinkte al gou die oorhand. Hierdie Vrystaatse boere het ondergegaan in 'n stryd met die onbarmhartige Natuur, en die ekonomiese val lei ook tot sedelike verval. Op Moedverloor se vlakte raak hulle al hul ideale kwyt, en dis alleen by Soois dat daar enigsins die vooruitsig van 'n regenerasie is. Die roman is dus 'n verbeelding van een van ons kernprobleme: die ontaarding en verarming van die plattelandse bevolking as gevolg van langdurige droogtes. Van den Heever het hierdie probleem oorpeins en toe oorgegaan tot die skepping van enige romanfigure wie se lewe deur sekere ekonomiese verhoudinge bepaal word. Die vraag ontstaan, of hy deur die tekening van hierdie Vrystaatse groepie ons 'n versinnebeelding gegee het van die grootse worstelstryd tussen Mens en Natuur, of ons deur die besondere tragiek van sy boere tot 'n besef kom van die algemene tragiek van die boer se hopelose stryd. Ek glo nie dat Van den Heever dit bereik het nie. Ek kry die indruk dat sy figure opsetlik uitgedink is om te pas by die droogte-motief. Omdat hy besondere nadruk wou lê ook op die geestelike droogte, het hy mense gekies van geringe weerstandsvermoë en gebrekkige ontwikkeling, mense wat in bedompige huisies ‘'n kleurlose natuurbestaan’ slyt soos ‘uitgedorde alwynbome op die eentonige, morsdood-geskroeide vlakteoneindigheid.’ Hierdie soort mense mis die energie om teen die natuur te worstel; hulle is daarvoor te futloos, te papbroekerig. Ons kan hoogstens sê dat hulle die droogte ondergaan. Maar by die begin al is hulle met moedeloosheid geslaan en dis alleen weer by Soois wat ons enige sielestryd gewaar. Wat doen hierdie boere eintlik die hele dag? Ons sien hulle rondloop op die veld, waar hulle 'n bietjie gesels oor die droogte en die weer beskou, of af en toe 'n skaap uitvang om te kyk of dit brandsiekte het. Maar met een of twee uitsonderinge sien ons hulle nooit werk en woel nie. Hoe moet ons nou uit die praatjies en rusies en jeremiades van so'n klompie minderwaardiges 'n besef kry van die tragiese stryd teen die onbarmhartige Natuur? Die moedelose lydsaamheid van hierdie boere uit Papbroekland is seker pateties, maar heftig ontroer dit ons nie. Die hoofgedagte van die roman kan in sulke figure nie tot geldigheid kom nie, omdat hier nouliks van 'n stryd kan sprake wees. Die vraag het al by my opgekom, of ons skrywers onder invloed van Ampie nie 'n oormatige belangstelling vir die geestelik minderwaardiges ontwikkel nie. Ná Ampie het ons Malherbe se Meulenaar gekry en nou weer ou Datie. Van den Heever het hierdie figuur seker met begrypende liefde geteken. Diep kom ons onder die indruk van die lyding van die doofstomme, wat sy dankbaarheid vir 'n bietjie liefde so aandoenlik uit deur die geskenk van 'n paar velskoene aan Soois; saam met hom beleef ons die verskrikkinge van die onweers- | |
[pagina 300]
| |
nag ná die moord. Maar die ander broers is baie vaag geteken en 'n sielkundige uitrafeling is geen vergoeding vir die gemis aan dramatiese uitbeelding nie. Dit geld ook vir die onderwyser en sy vrou. Hendriks sit nie vasgegroei in hierdie omgewing nie, en sy geskiedenis is maar met 'n dun draadjie vasgeknoop aan dié van Rooiwater se boere. Hy tree alleen op om die droogte-motief weer van 'n ander kant te belig. Hendriks is ‘een van die rampsalige siele wat al sy hare in sy geesdodende studie verloor sonder dat hy iets uitvoer....’ (p. 129) - 'n tipe dus van die intellektueel wat deur oordrewe introspeksie - ‘vreugde-dodende selfontleding wat van alles 'n operasie-voorwerp maak’ - tot geestelike bankrotskap en sieledorheid verval. Van den Heever se beeldingskrag word myns insiens verswak deur 'n uiterste noukeurigheid van visie, wat hom telkens oortollige plastiese besonderhede laat invleg. Sy waarnemingsvermoë is so skerp dat niks sy aandag ontglip nie. Maar die inspanning wat hy bestee aan sy beeldende skilderinge werk remmend op die gang van sy verhaal, en die oortollig-sintuiglike verdring vaak die dramaties-geestelike. 'n Vloeiende verteller is hy nie, hoofsaaklik omdat hy elke onderdeeltjie van sy visie minusieus wil beskrywe en daardeur die leser se totaalindruk vertroebel. As voorbeelde hiervan haal ek aan die beskrywing van die speurder (p. 165), die regter en die advokaat (p. 196-7). Afsonderlik beskou bevat hierdie kiekies seker verdienstelike trekke, maar ek kan my tog nie voorstel dat die leser so danig sal belangstel in die ‘aardbedekte rooi wange’, ‘klipharde borselsnortjie’ (waarom tog nie snorretjie?) en ‘droë, plooierige gesig’, ens. van hierdie persone nie. Dit is in elk geval besonderhede wat eenvoudig opgesom word, sonder dat dit onafskeidelik met die dramatiek van die situasie verbonde is. Ook in die verdienstelike beskrywinge van die droogte stuit ek op wendinge wat die indruk van gedwonge fraaiighede maak, of anders hinderlike uitweidings bevat. Die aanhef van hoofstuk VIII lui as volg: ‘Die uitgedorde, swart windmaker-bossies breek onder oom Soois se rooi winkel-velskoene, wat plek-plek skrape het en nerf afgaan.’ Wie verder lees, ontdek dat die haarfyn beskrywing van hierdie velskoene net 'n hinderlike inlassing is. Ek noem nog 'n voorbeeld: ‘Links van die bees af sit 'n ramhoring met dik wortels aan die grond vasgegroei. Oom Soois skop hom los; soos deurmekaar-geraakte doringdraad ruk die wortels los of diere- en plantewêreld in die vreemde verbinding deur die mens gesteur word’ (p. 75). Klink dit nie na nodelose en selfs onverstaanbare mooiheidsoekery nie? Ek sou nie soveel aandag aan bogenoemde gebreke bestee het, as ek nie oortuig was dat ons in Van den Heever te doen het met 'n ras-egte skrywer nie. Ons het baie mense wat met sukses 'n leesbare verhaaltjie | |
[pagina 301]
| |
kan vervaardig; maar daar is net enkele skrywers wat daarna strewe om in hul romans die verbeelding van 'n lewensprobleem te gee. Met Droogte het Van den Heever 'n verdienstelike poging in hierdie rigting gedoen. Hy het afgesteek na die diepte, en al word die psigologie nog soms verdring deur die plastiek, al staan die sinnelike waarneming nog dikwels naas die geestelike ervaring, tog bevat hierdie roman veel wat ons ontroer. Die skroei-hitte van 'n onbarmhartige son teister mens, dier en plant. Al wat skoon en edel is in die mens verskrompel, en op die dorre akkers van die moedeloosheid kan alleen die onkruid nog tier. Terwyl die uitgehongerde diere van uitputting neerslaan by die laaste modderwatertjies, is die vyf broers besig om hul ellendige sukkelbestaan nog ondraagliker te maak deur skraapsug, rusie, ontug en doodslag. Buitekant in die natuur en binnekant in die harte van die mense word alle lewe doodgeskroei, totdat aan die end by Soois weer 'n nuwe loot deur die harde kors te voorskyn kom. Hierdie uitdorringsproses het Van den Heever aanskoulik gemaak. Met liefdevolle blik het hy die geduldige lyding van die stomme vee geteken. - ‘In 'n ander kuil, in die klei, wat al hier en daar oorkruis begin barste gee, lê 'n maer ou koei. Die arme dier moet oom Soois nou vir die laaste maand al optel. Hy pak haar nou weer aan die stert, lig haar so effens, en met 'n gekrap van die pote, slinger sy regop. Hier en daar is haar hare al af, en daar sit wit roofkolle; die ribbebene bult soos hoepels van 'n vat uit en in die boude se vleis lê diep holtes; naas hul steek die bene knopperig uit. Die koei waggel-stap so 'n endjie, die bene baie na aan mekaar, en toe gaan sy staan, en die vleis-oë, hol in die beenderige droë kop, kyk na oom Soois, en dit voel publiek vir hom dat die dier vir hom verwytend aanstaar, en of sy sonde verantwoordelik is vir die droogte.... Mismoedig draai hy hom na die skape, wat met besmeerde bene uit die morsige kleiwater klim en met vuil modderbekke weer vrugteloos aan die kortgetopte suurgras langs die kuil begin peusel’ (p. 76). In sulke skilderinge is die skrywer op sy beste, en die droogte met al sy verskrikkinge leef in hierdie roman. Al het Van den Heever nog nie die hoogste bereik nie, tog het hy ons iets laat voel van die boer se tragiese stryd teen die natuurkragte; hy het ons liefde en bewondering verower deur die uitbeelding van enkele dramatiese momente in die lewe van 'n doofstomme en sy broer Soois, en hy het ons telkens verras deur sy digterlike waarneming van die gewone, alledaagse dinge. | |
Simson (1932).In hierdie dertiental verhale en sketse word 'n groot aantal motiewe behandel. Uit die groot verskeidenheid egter, wat getuig van die skrywer se ryke fantasie, duik daar herhaaldelik een motief op, wat die innerlike stryd by die hooffiguur tot 'n breekspanning voer, naamlik Die Mag | |
[pagina 302]
| |
van die Verlede. In sterk oomblikke mag die mens hom verbeel dat wat verby is geen invloed op die toekoms kan hê nie, dat hy telkens, onbelemmerd deur gister en eergister, 'n nuwe hoofstuk van sy lewensboek kan begin. Maar wie voor 'n groot krisis kom te staan, moet elke keer ervaar dat sy gedrag onverbiddelik bepaal of gewysig word deur herinneringe jarelank begrawe. 'n Sterk liefde groei in die siel van 'n vereensaamde wewenaar, wat op 'n eensame plasie sy hele lewe gewy het aan die geluk van sy dogtertjie. Maar sodra hy nogeens sy deeltjie lewensvreugde wil gryp, het hy ‘in 'n droom sy oorlede vrou op haar sterfbed gesien.’ (Die Groot keuse.) Na 'n gelukkige egverbintenis keer Nita as weduwee terug na die ouerlike tehuis met haar dogtertjie. Met weemoedige berusting wil sy ter wille van haar kind, probeer om haar weer in te pas in die ou omgewing maar.... ‘die verlede (hou) haar siel gevange in sy geheimsinnige weefsels’ en ‘willoos volg haar smartdeurhuiwerde siel die beelde wat so ligtend voor haar oprys in die grenslose land van haar verbeelding....’ (Verdriet.) Oom Lewies sit ‘radeloos inmekaargesak’ by die oop Bybel, want sy seun is op die verkeerde pad. ‘Hy versink in 'n weemoedige mymerstemming en gestaltes uit heengegane dae kom terug in sy herinnering....’ En uit die verlede kom die beskuldiging van versuimde ouerplig. (Vadersmart.) 'n Gepensioeneerde matroos vestig hom in 'n gerieflike huisie by die see, nadat hy vyf-en-veertig jaar op die oseaan rondgeswalk het. Maar die onrus van die see is in sy bloed en ‘om sy hart is die heimwee na ou dinge wat fris oopbloei in die verbeelding....’ (Terug na die See.) Ook in Broedertwis, die mooiste verhaal in die bundel, word Herman se wrok aangewakker deur herinneringe van onreg wat hy in sy jeug gely het. Die jarelange jaloesie tussen die twee broers lei tot 'n worsteling op lewe en dood gedurende die eerste vaart na hul vader se begrafnis. Maar terwyl die twee broers veg oor die besit van die boot, word hul albei, met boot en al, die diepte ingesleur deur 'n rasende orkaan, die dramatiese agtergrond van die storm in hul gemoed. In hulle doodsangs eers besef hul die nietigheid van hul eersug, en dan bewerk herinneringe van 'n gelukkige jeug die versoening: ‘Hulle klou aan mekaar vas soos toe hulle twee seuntjies was en 'n nare droom gehad het....’ En ook in die herinnering van die moeder leef hul voort, nie as twee twistende skippers nie, ‘maar as twee klein seuntjies wat met hul wit gesiggies lê en slaap, terwyl sy liefderik by hul waak....’ Nog sterker voel ons die onverbiddelike mag van die verlede in Verbittering. Hier lei die ontrou van 'n vrou tot 'n lewenslange verbittering tussen twee vriende, tot 'n wrok wat selfs die lewensgeluk van hul kinders wil verwoes. Die versoening word eers op die sterfbed bewerk deur 'n | |
[pagina 303]
| |
visioen uit 'n gelukkige jeug: ‘Voor sy oë glans 'n groen tuin en daaruit kom sy jong, lieflike vrou soos 'n fee te voorskyn....’ Van den Heever bemymer by voorkeur die lotgevalle van persone aan wie die lewe harde slae toegedien het. Uit die skemerlig van verbygegane dae rys gestaltes op, omglans deur die sagte gloed van tere herinneringe. So laat hy binne die omvang van 'n kort-verhaal die tragiek van 'n menselewe voor ons oog verbytrek, en peil hy die verborge moontlikhede daarvan. Simson, die verhaal waaraan die bundel sy naam ontleen, is nie een van die beste nie. Hierdie reus word, soos sy Bybelse prototipe, die slagoffer van vrouelis. Maar ofskoon die tekening van sy geweldige wraak fors van lyn is, bly dié van die ontroue meisie en haar minnaar onoortuigend. Minder geslaag is ook Modern waarin 'n konserwatiewe boer onder invloed van 'n Johannesburgse musiekonderwyseres 'n moderniseringsproses deurmaak. Die skrywer slaag egter nie daarin om die radikale omkeer by Oom Sorsie lewenswaar voor te stel nie. Dat Van den Heever ook aanleg het in komiese rigting blyk uit die mooi geskiedenis van die twee verliefde wewenaars. (Die Huweliksaansoek.) | |
Groei (1933).Groei is 'n breedopgesette roman, waarin ons met 'n groot aantal persone kennismaak. In die begin word die stadsmilieu uitvoerig geteken na aanleiding van die ervarings van die hoofpersoon, Gustav Cloete. Cloete is 'n talentvolle plaasseun, wat 'n universitêre opleiding geniet het, en hom in die stad vestig as joernalis. Ofskoon hy deur sy werk vasgesuig word in die rondtollende maalstroom van die stad, leef daar diep in sy hart die hunkering na die eenvoudige plaaslewe. Telkens as hy oorrompel word deur moeilikhede, of verontrus deur lewensraaisels, dan gaan sy herinneringe terug na Blesbokfontein, waar oom Bêrend, ten spyte van die ekonomiese druk, die ou tradisies van die Afrikaanse Boer handhaaf en deur 'n kinderlike Godsvertroue rotsvas staan teenoor al die twyfel wat Gustav se siel so pynig. Van den Heever wil ons in hierdie roman 'n beeld gee van die groeiende volkslewe, en die faktore waardeur hierdie groei beïnvloed word. Die ou Boerebeskawing of ‘velskoenkultuur’, soos Japie dit geringskattend noem, is vinnig aan verdwyne. Baie afstammelinge van die patriargale boer, wat soos 'n koning op sy uitgestrekte plaas gelewe het, het sedert die laaste kwarteeu stads- of dorpsbewoners geword, wat hul moes aanpas aan al die ingewikkelde verhoudinge van die ‘moderne’ maatskappy. Hierdie aanpassingsproses word veraanskoulik deur die optrede van 'n reeks figure, wat almal in verskillende stadia van modernisering verkeer. Die Vermaak's verteenwoordig die klas wat deur die Engelse spottenderwyse ‘would-be's’ genoem word. Deur navolging | |
[pagina 304]
| |
van uiterlikhede probeer hul hul indring in die stedelike kringe, maar val telkens deur die mat as gevolg van geringe geestelike ontwikkeling. Ons ken hierdie tipe reeds deur die satiriese tekening van Miesies Ja-mes Wénderbaail in Doppers en Filistyne. Dr. Beer is 'n ambisieuse amptenaar van armblanke-afkoms, wat in sy strewe na sosiale erkenning belemmer word deur 'n skinderlustige, onopgevoede vrou. Die tekening van hierdie familie is skerp satiries en ontaard soms in karikatuur. Dr. Beer verwag 'n belangrike aanstelling in die staatsdiens, en sy vrou maak groot voorbereidsels om die heuglike gebeurtenis met 'n luisterryke fees te vier. Net voor die gaste kom, ontvang sy die teleurstellende nuus dat haar droom van toekomstige grootheid verydel is, en in die donker woning sit sy met verkreukelde feesgewaad die tuiskoms van haar man en afwag. Wrang humoristies is die kinderlike trooswoord van haar seuntjie: ‘Moenie so huil nie, Mammie, Pappie sal 'n groot lang motorkar koop....’ Teen twaalfuur waggel die doorlugtige dr. Beer binne en voltooi die verwoesting van haar lewensideaal deur 'n dronkemans-bekentenis van intimiteit met 'n ander vrou. ‘Sy stamp hom weg dat hy teen die bank val. Langs die buffet staan die champagne-bottels genoeglik en glim.... Dit lyk opeens of mevr. Beer kranksinnig geword het. Sy bevlie die tafel en een na die ander glasbak kletter springend op die vloer neer dat die inhoud soppig wegspat. 'n Champagne-bottel bars naby haar man se kop. Die kleintjie spring senuweeagtig huilend op en vlug na sy dronk pa toe. Toe sak mevr. Beer neer of haar lewe in haar eie hande vergaan het.... 'n Stroompie champagne gaan digby haar gesig staan en 'n groot borrel rys langsaam daaruit op en breek....’ (p. 227). Die skildering van hierdie mislukte fees, met die simboliese slot van gebarste champagne-bottel, behoort tot die beste gedeeltes van die roman. Dr. Beer het hom deur sy geleerdheid opgehef uit 'n nederige stand, maar deur gebrek aan innerlike kultuur is sy lewe tot mislukking gedoem. Hy is 'n verdorde boom, waarvan ‘die droë takke erbarmlikdonker bokant die aarde’ uitsteek. (p. 103.) En so is daar wel meer Afrikaners met hoë akademiese titels, wat vir die volkslewe niks beteken nie, omdat hul verblind word deur die glorie van 'n hoë baantjie. By Japie Greyling en mev. Verstraaten is die moderniseringsproses voltooi. Hulle het àl die ou Afrikaanse tradisies oorboord gegooi. Volgens mev. Verstraaten is die mense tweehonderd jaar agter die tyd. ‘In hierdie ou stadjie is daar net plek vir skinderbekke en vir vrouens uit die Ou Testament’ (p. 26). As sy soiets as 'n lewensbeskouing. daarop nahou, dan is dit dié van die goedkoop Engelse bioskoopromans: ‘Laat een man jou onderhou en dan vermaak jy die ander....’ (p. 64). Sy probeer dit dan ook prakties toepas deur haar verhouding met Japie. Alte oortuigend is hierdie ‘driehoeksgeskiedenis’ nie uitgebeeld nie, want mev. | |
[pagina 305]
| |
Verstraaten moet blykbaar alleen dien as tipe van die degenererende Afrikaanse vrou, wat 'n bietjie versigtig en op 'n goeie afstand buitelandse modelle probeer na-aap. Tog is daar in die uitwerking van die besonderhede van haar ydele bestaan as ‘society woman’ baie verdienstelike trekkies. Haar gesprekke met die diensmeisie, Sarie, (p. 25 en 118) werp 'n felle lig op die huweliksopvattings van die hoogste en laagste stand. Vir die kinderlose mevrou is 'n huwelik die grootste dwaasheid, maar Sarie gee 'n goeie betrekking op om te trou met 'n werklose. Met die naïewe optimisme van die armblanke glo sy vas dat alles tog sal reg kom. ‘My pa het nog nooit werk gekry van ons van die plaas af ingetrek het nie en ons was toe tien kinders. My ma het wasgoed ingeneem en ons het darem bly lewe. En ek dink so: Jan en ek is net twee.’ Met ‘los werkies’ en die hulp van die kerk en liefdadigheidsvereniginge sal Jan en Sarie wel hul gesin op 'n manier aan die lewe hou. So gee Van den Heever ons 'n vlugtige blik op die ontaarding van die uitgeboerde boer wat dorp-toe getrek het. Ook Japie Greyling het hom heeltemal losgemaak van die tradisionele opvattings. Die godsdiens van die voorgeslag is ‘'n konvensionele dop van huigelary’. ‘Ek meen dat as die kluite oor jou geval het, dan is dit die end. Die res is maar sommer troos wat deur die eeue uitgedink is.’ (p. 95.) Japie vind troos by die mooi mevrou Verstraaten, en ken al die fyn draaitjies van die stadslewe, waarin hy hom met die grootste gemak beweeg. Hy is 'n tipiese verteenwoordiger van die ontwikkelde stads-Afrikaner, wat hom losgemaak het van die ou boere-kultuur, maar nog geen koers kan kry tussen al die nuwe nie: ‘Mens kan geen kop of stert uitmaak van hierdie ding wat julle lewe noem nie’ (p. 43). Ook by Gustav sien ons die botsing tussen die oue en nuwe opvattings, wat hy met die kritiese blik van die intellektueel beskou. ‘Is die Afrikaner heeltemal ontwortel, of is hy net besig met 'n moeisame aanpassing? Aanpassing aan wat? Aan die “moderne” lewe? Ontwikkel hy uit sy eie verlede of trek hy maar net 'n nuwe pak klere aan en meen dat hy 'n ander man geword het?’ (p. 90.) Gustav besef dat die volksboom alleen gesond kan groei as dit in eie aarde wortel. ‘Mens kan modern wees sonder om 'n aap van ander te wees’ (p. 123) help hy Japie tereg, as dié spottend verwys na die ou boere-kultuur. Juis omdat Gustav so 'n helder insig het in die verwordingsproses van die stedelike Afrikaners sou 'n mens verwag dat hy 'n verteenwoordiger moet word van die ontwikkelde stads-Afrikaner wat die beste tradisies van sy volk hooghou en handhaaf in 'n onsimpatieke omgewing. Dit sou die roman 'n groot aktuele waarde gegee het, want 'n aansienlike persentasie Afrikaners in die stede en op die groot plattelandse dorpe worstel met dieselfde ‘moeisame aanpassing’ wat Gustav soveel hoofbrekings gee. Die skrywer gebruik egter die neerdrukkende invloed van | |
[pagina 306]
| |
die stadslewe, waarin alles wat suiwer Afrikaans is verbaster of te grondegaan, as motief om Gustav se vlug na die plaas te verklaar, en sy regenerasie onder die invloed van sy vader moontlik te maak. Juis hierdeur gee hy ons 'n verwronge en karikatuuragtige beeld van die stadslewe. Al die nadruk val op die onopregtheid, skinderlustigheid en oppervlakkigheid van die stadsbewoners. Maar Gustav weet goed genoeg: ‘Mens kan modern wees sonder om 'n aap van ander te wees.’ Die ‘klomp nulle’ - soos hy self sy stadsvriende noem - het geen die minste invloed op sy geestelike ontwikkeling nie. Al wat ons kan sê is dat hul oppervlakkigheid jeugherinneringe van die eenvoudige plaaslewe opwek en die heimwee na 'n verlore geluk inniger maak. As ons die ontaarding van die stads-Afrikaner alleen in verband met die hooffiguur se ontwikkeling beskou, dan ly dit geen twyfel nie dat die eenheid van die roman daardeur geskaad word. Ek meen egter, dat dit die skrywer se bedoeling was om ons 'n beeld te gee van die groeiende volkslewe in al die lae van die samelewing. Wie die tekening van die stadsmilieu in hierdie breëre verband sien, sal daarin veel voortrefliks vind, maar dit tog betreur dat slegs die ‘nulle’ van die samelewing satiriese rapse kry. Teenoor stedelike verwording word outydse plaasdeeglikheid gestel in die pragfiguur van Oom Bêrend. Hy is 'n boer omdat hy die aarde liefhet. ‘Dit is of hy die natuur in al sy buie ken: wanneer hy jou vriendelik seën of dreig om jou af te skud.... As hy op die eensaamheid daarvan dag-vir-dag werk, dan voel hy nader aan sy God wat alles geskape het.’ ‘Hou vas aan die kluit’ sê hy aan sy seun wat in die depressietyd en met die groot droogte moedeloos word. ‘Dit is God se wil dat ons hier arbei’. In die felle stryd teen die genadelose natuur sal oom Bêrend nooit moedeloos word nie, want sy onwrikbare geloof in die bestiering van 'n alwyse God hou hom staande. As 'n onverwagte winterreën sy vermaerde skape bedreig, dan spoor dit hom aan tot 'n titaniese worsteling met die elemente. Pragtig word dié uiterste kragsinspanning van die grysaard beskrywe in hoofstuk XXVIII. Hoe diep moet hierdie waardige nasaat van die Voortrekkers nie gely het onder die papbroekerigheid van sy seun nie, wat na die vergeefse gesukkel om die skape skuiling te gee uitroep: ‘Môre trap ek stad-toe. Vir my part kan die hele boerdery na sy verstand loop’. Maar selfs as die enigste steun van sy ouderdom hom ontval wankel die moedige grysaard nie. ‘“Trap, papbroek, trap. Trap soos ou Martiens getrap het.... God sal my help soos my vader regop te staan tot die laaste toe! Trap!.... God, waarom?” worstel-praat die ou man, en dan sagter: “Maar U wil geskied, Here”, en hy buig sy bemodderde grys hoof. Daarbuite speel die wind nog met die koue, neerruisende reën en sterwe die diere, genadeloos aan hulle lot oorgegee.’ | |
[pagina 307]
| |
In hierdie hoofstuk het Van den Heever se epiese uitbeeldingsvermoë 'n hoogtepunt bereik. Wie sal ooit kan vergeet hierdie grysaard wat sy laaste kragte inspan om sy boerdery te red, en die ontaarde seun wat papbroekerig tou opgooi en stad-toe vlug? Dis nie alleen die stadsbewoners wat ontaard het nie, maar ook die boere. Pieter het in die voorspoedige tyd duur grond gekoop, en as die depressie en droogte kom, wurg die hoë rente hom dood. Dan is daar die patetiese figuur van die tamgewerkte oom Lewies, wat met sy span donkies aansukkel dorp-toe, om 'n verdienstetjie te soek. En as teëhanger die lui sukkelaar, oom Martiens, wat behaaglik sit en koffie slurp by die vuurtjie, terwyl sy boerdery al hoe meer agteruitgaan. As hierdie verteenwoordigers van die platteland weet maar van een uitweg: vlug na die stad.... waar duisende werklose reeds mekaar verdring! Hoor hoe sus oom Martiens sy gewete: ‘Al die ryk-ryk boere soek joppies op die dorpe. Wat spook jy nog met lammerskape? Ek laat die spul vaar! Ek maak my nie meer moeg nie.’ Oom Bêrend egter, soek dieper na die oorsake van die verval van die boerestand. Die boere het stoepsitters geword, papbroeke wat op aalmoese van die Regering teer. Alles word aan die kaffers oorgelaat, terwyl die baas rondjaag met 'n blink motor, waarvoor hy selfs die brandstof op krediet koop! Oom Bêrend vind 'n oplossing vir al die moeilike volksprobleme in die eenvoudige lewensbeskouing van die Voortrekkers. ‘Hulle krag was God. Julle het vandag nie meer ankerplek nie met al julle slimmigheid en al.... Werk, man, werk, dit help 'n mens. Mens moet soos 'n boom groei. God het sy doel met ons, hoe swaar daardie doel vir ons ook al is om te begryp.’ Dit is dan die boodskap van hierdie roman. Die volk moet terug na die ou paaie, na die onwankelbare geloof van die Voortrekkers, wat deur taaie werkywer hulself gehandhaaf het in die stryd met 'n onbarmhartige natuur. Die teleurgestelde en verbitterde Gustav herwin onder sy vader se besielende invloed al sy vertroue in die lewe. In die stad het hy as gevolg van die depressie sy ontslag gekry by die koerant en al die bitterheid van die armoede ervaar. Daar het verwydering tussen hom en sy vrou gekom en sy dogtertjie het in 'n armoedige losieshuis gesterwe. Onder al hierdie teëspoed word hy oorgevoelig en sy felle haat teen die lewe tril in die woeste veroordeling van die kerk en die predikante (Hfst. XXXI). Sy ganse lewensgebou het ineengestort. In die slothoofstukke sien ons egter hoe hy uit sy vertwyfeling herrys tot nuwe lewensvreugde, hoe hy ontdek dat die lewe 'n proses is waarin die gees sy vernedering moet deurleef om tot sy hoogte te styg. Die beskrywing van hierdie kentering is nie alte oortuigend nie, omdat dit hoofsaaklik uitloop op 'n beredeneerde weergawe van Gustav se mymeringe. Maar veral indrukwekkend is die | |
[pagina 308]
| |
slot waar ons die twee broers vroeg in die more sien ploeg: ‘Teen die deurskynende rooi van die komende dag gaan twee figure met 'n span osse, donker geteken teen die groeiende lig, en hulle arbei en droom van loon vir hulle arbeid, hulle siele gevul met 'n huiwerende eerbied vir die Onsigbare....’ Sterk leef daar in Van den Heever die hunkering na die eenvoudige plaaslewe, en weemoedig treur hy oor die ontaarding van die beste nasieeienskappe as gevolg van die ekonomiese druk. As Gustav saans deur die arm buurt na die losieshuis stap dan besef hy die tragedie van ons volksverarming: ‘Noudat hy saam met hulle gewerk het, besef hy iets van hulle lewensgang, van hulle denkwyse en geworstel. Die tweng-tweng van die Hawaiian-guitar tril al weer iewers op, die gelag van jong meisies en kêrels huppel oor die straat; verder weg laat 'n harmonium 'n psalm weemoedig-berustend opruis, soos 'n stem van heengegane trekkerslewe, van vreedsame Sondae op die plaas, van verre, vergane volksgodsdiens...’ Is dit nie die stem van Totius nie, wat treur by die ‘Goue Grawe’ van sy volk? Geen wonder dat Van den Heever ons so 'n simpatieke vertolking gegee het van die digter van Trekkerswee en Rachel nie, want ook sy hart treur oor die ou volksboom wat wegkwyn onder die verstikkende woekerkruid van die moderne maatskappy. En as ons let op al die verteenwoordigende tipes van ons volkskultuur, beide in die stad en op die platteland, wat die skrywer die revue laat passeer in hierdie roman, dan het ons voldoende rede om besorgd te wees. Tegnies beskou val daar 'n groot vooruitgang in Van den Heever se vertelkuns te konstateer. Waar hy ons vroeër vaak vermoei het met sielkundige uitpluisery van motiewe, bevat hierdie roman 'n rykdom van knap-opgesette toneeltjies, vol beweging en aksie met 'n minimum van beskrywende toeligting. Langdradige onthullings het grotendeels verdwyn, en in die plek daarvan het gekom suggestiewe aanduidings wat ons meteens alles laat vermoed. Met Groei kom ons romankuns weer op die regte pad. Wie dit aandagtig lees, sal veel vind waaroor hy nog lank kan napeins. | |
Vuurvlieg en Sterre (1934).In hierdie kortverhale, wat tot Van den Heever se beste werk behoort, sien ons die hoofkarakters in een of ander krisis gewikkel, waardeur hul volle menslikheid in 'n paar spannende lewensmomente aan ons geopenbaar word. In die titelverhaal word Antoon, 'n eenvoudige groenteverkoper, deur sy liefde vir 'n vriendelike strandbesoeker opgehef uit die verbeestelikte armoedemilieu. Daardeur kan sy beste eienskappe tot ontplooiing kom. Die Genadelose: 'n Onontwikkelde stiefmoeder word deur jaloesie tot raserny gedrywe. Voordat sy egter haar gemene plan kan uitvoer word | |
[pagina 309]
| |
sy ‘wat altyd so onvriendelik, so genadeloos’ was deur die genadelose dood neergevel. Leuens: Na lange jare ontmoet twee skoolvriendinne mekaar in Johannesburg. Olga woon in die deftigste deel van die stad, maar Naomi in die agterbuurte. Naomi probeer om die ou vriendskap te herstel, maar loop haar te pletter teen die onverbiddelike standsverskil. Skrynend is die vernederinge wat hierdie vroutjie moet ondergaan op haar vergeefse besoek as gevolg van die leuens waarmee sy haar armoede wil bedek. Die Skeiding: Standsverskil skei ook dr. Du Rand van sy verloofde, wat tot 'n deftige Johannesburgse gesin behoort. Sewe jaar lank het Herman alle jeugherinneringe versmoor en alle kontak met sy armoedige bloedverwante vermy. Toevallig herinner 'n pasiënt hom aan die opofferende liefde van sy moeder, wat haar afgesloof het om hom sy geleerdheid te gee. As hy die stadsnooientjie na die armoedige plaaswoning van sy ouers neem word sy te lig bevind vir die toets. Ook Herman besef dat 'n huwelik onmoontlik is en laat haar met die volgende trein alleen vertrek. ‘In sy volk word die tragiek nou voltrek. Vroeër was daar geen stand nie. Dié akeligheid was nog net in Europa. Maar die langsame skiftingsproses het in ons land begin. Ryk en arm! Families en families!.... Stande word gevorm, en hy as dokter sal aan die hoëre stand behoort en sy familie sal vir hom 'n diensmeid verskaf! Kan jy dieper tragiek besef?’ Op die plaas herleef Herman se jeugdrome, begin hy weer die stem van die veld te verstaan, en besluit hy om sy plig teenoor sy eie mense te doen. Marie hoort tuis in die deftige stad ‘waar die skelle elektriese lig is en sosiale haatlikheid’. Innige deernis is die grondtoon van Onwelkom en Najaar. 'n Onaantreklike, vervelige oujonknooi doen patetiese pogings om 'n vrolike naweek deur te bring; 'n eens gevierde skrywer, wat sy roem oorleef het, ondergaan die smart van 'n afgewese manuskrip. Die aanklag van 'n beskuldigende gewete vorm die motief van Die Geheim en Stem van die Gewete. In die stilte van die nag ‘staan hulle op - die gedagtes, die dungesluierde herinneringe, en soos sluipmoordenaars wat met langsame, doelbewuste tred nader, kom hulle met skerppuntige messe’.... ‘Is dit die gewete wat moordenaars oor die aarde ronddryf, totdat hulle met vernietigde senuweegestel stotterend kom beken? Is dit die donker mag wat van die sterkste man 'n lafaard maak? Ja, dit tik, tik aan die deur van jou gedagtes en as jy oopmaak, is dit altyd weer dieselfde boodskapper wat nooit moeg word om dieselfde oor en oor te sê nie....’ Hierdie twee verhale is 'n treffende illustrasie van die dwingende mag van die gewete en van die folterende kwelling van gewetenspyn. Een van die beste verhale is Die Dam. Oom Gabriël is 'n inhalige boer wat deur sy sug na rykdom alle fynere emosies onderdruk. Net voor die | |
[pagina 310]
| |
groot landsreën slaag hy daarin om met inspanning van alle kragte 'n reusagtige dam op sy plaas te voltooi. Maar hy het rusie gekry met sy seun, Kootjie, wat verlief is op 'n arm buurman se dogter. Kootjie verlaat die ouerlike woning en oom Gabriël se ingebore stugheid en trots verhinder hom om aan 'n versoening te dink, al merk hy ook dat sy vrou van droefheid wegkwyn. Hy wil die rykste man in die distrik wees en al sy menslikheid lê begrawe onder die trotse damwal. Maar die groot reëns breek sy damwal èn sy trots, want as vader en seun byna wèggevoer word deur die vloedwaters kom daar 'n groot vertedering in sy onbuigbare hart.... ‘Help, Kootjie, help! As die dam bly staan, kan jy en Sampie maar trou! Toe Kootjie!’ Hy het sy dam verloor, maar sy kind weer gevind. Hierdie verharde boer herinner ons aan Björnson se Vader. Ligter van aanslag en deurtintel van 'n gemoedelike humor is Bekommernis en Berou, waarin die lewenshouding van die uitgeboerde boer so goed geteken word. In al hierdie verhale word ons verras deur die skrywer se tegniese meesterskap, wat hom in staat stel om binne die omvang van 'n kortverhaal figure uit te beeld, wat bly lewe in ons herinnering. | |
Somer (1935).Die Afrikaanse boer in sy verhouding tot die allesbeheersende natuurkragte is 'n motief wat ons telkens aantref in Van den Heever se verhale. Met liefdevolle aandag teken hy die boer wat die aarde liefhet, wat soos 'n boom daarin groei en daaraan vaskleef met al sy wortels en vesels. Van smôrens vroeg tot saans laat moet hy swoeg, want ofskoon die aarde 'n onuitputlike groeikrag besit, bestaan daar tog altoos die donkere dreiging van die natuurkragte wat in 'n paar oomblikke die werk van 'n hele jaar kan vernietig. Die tragiek van hierdie gedurige stryd teen die genadelose natuur het Van den Heever sterk uitgebeeld in die figuur van oom Frans, wat elke hoekie van die ou familieplaas so innig liefhet, maar sy hoop om dit te behou, sien vergaan deur 'n verwoestende haelstorm wat sy ryp koring verpletter. Naas die moedelose oom Frans, wat kreun onder 'n drukkende skuldelas, staan oom Tom, die onvermoeide werker, wat al die luime van die natuur so goed ken. ‘Vandag wil die ou aarde jou skoon afskud, dit lyk of hy jou nie kan verdra nie, en jou met jou familie en al wil verdelg, en môre is alles weer mooi, en net wat jy plant, groei.... Die ou aarde is vir my skoon soos 'n mens: hy het sy nukke en buie - en mens kan daar niks aan doen nie.’ 'n Mens moet oom Tom aan koringsny sien, gaar gebak deur die vlammende son se skroeiende strale, om 'n besef te kry van sy heftige arbeidsdrang en taai uithouvermoë. Hier geen luie stoepsitter wat uit die koelte | |
[pagina 311]
| |
sy bevele lawaaierig uitskree nie, maar 'n arbeider wat op die voorste punt saam sny: ‘Oom Tom lyk of hy krom gebore is. Taai soos sening is die droë lyf, en die lang bobbejaan-arms skiet so afgemete-juis uit, werk so stelselmatig dat dit die ander snyers moedeloos maak; net die vat van die gebreide man, sy rustig-sekere gang, maak onervare snyers, wat onegalig bontval, onbewus boosaardig oor hul eie onhandigheid.’ Sy egalige werkywer dwing ook die bewondering van die volk af: ‘Soe, maar die droë baas met sy orang-oetang-arms stap somar baie saf oor 'n akker - jy sien net die groot hand en die sekel, die groot hand en die sekel - dis al wat jy sien.’ Met 'n fel realisme het Van den Heever hierdie stoere werkers geteken. Dis of hul in 'n dolle wedstryd met die natuurkragte gewikkel is, want die ryp are begin uit te slaan en die dreigende onweerswolke pak saam. Hulle moet maar voortsny, al styg die hitte-duiseling na hul hoof. Maar na hierdie geweldige kragsinspanning kom die ontstellende berig dat die koringprys vinnig aan daal is. Geen wonder dat hulle in bitterheid uitroep: ‘Is ons dan volk wat ons moet doodwerk vir die saftehandjies wat net heeldag tjeks tyken?’ So sien ons die boer oorgelewer aan die ‘grillige noodlotsmag van die aarde’ en die onsekere skommelinge van die wêreldmark. En tog leef daar in sy hart die onuitroeibare oortuiging dat ‘die aarde nie diegene sal afskop wat hom vertrou nie.’ Daarom kan die blymoedige oom Tom sy broer opbeur met hierdie woorde: ‘Ons moet die grond behou. Hierdie jaar spook ons soos molle in die aarde. Ons gooi die skuld af.’ Hierdie swoegers, wat so digby die aarde leef, ontleen hul wysgerige opvattings aan hul daaglikse bedryf. ‘Ons is maar soos die koring wat groei en afgesny word.’ Elke jaar aanskou hulle die kringloop in die natuur en ‘in hul oë dra hulle die weemoed van lewe wat kom en sterf, want hulle weet dat dit ook met hulle so gaan en dat ook hulle netnou na die donker aarde toe sal buig en hul kinders weer sal saai en oes....’ Van den Heever se boerfigure staan nie so direk springlewendig voor ons as dié van Van Bruggen nie. Dit moet ons egter toeskryf aan die geaardheid van die novelle, waarin die ewig-wisselende natuur met die wenteling van die jaargetye, en veral die volgroeide somerrypheid, die hoofrol speel. Te midde van die grootse natuurgebeure is die mensies van ondergeskikte belang - ‘nietig en klein in die groot Gang, wat net vir 'n oomblik in hulle lewe....’ Ons sien hul sekels roer in die uitgestrekte koringvelde, luister na hul vrolikheid nadat die oes ingesamel is. Maar teen die geweldige natuuragtergrond verdwerg hulle tot nietige wesentjies wat verlore raak in die skroeiende somerbrand. Van den Heever het onlangs in 'n studie oor Steyn Streuvels, van wie hy veel geleer het, gevra ‘wanneer die Afrikaanse plaaslewe ook só | |
[pagina 312]
| |
geteken sal word, nie alleen in fyn trekke nie, maar in al die grootsheid van natuurperspektief.’ (Die Afrikaanse Gedagte.) In Somer gee hy ons self die antwoord op hierdie vraag. Sy ontleding van Streuvels se kuns in die aangehaalde artikel werp so 'n verrassende lig op sy eie strewe dat ons dit kan gebruik om die kernbetekenis van Somer te verduidelik. In verband met Oogst van Streuvels sê hy: ‘Die natuur is die geweldige, die genadelose heerser. Soos 'n tiran dreig dit oor die klein, arbeidende mens, wat weerloos is soos 'n kind teenoor 'n wrede moeder, wat hom tog ook weer liefdevol kan beskerm en seën. Die hele gees van die landskap, van die versengende somerson, van die rypende koring en swoegende snyers lewe in die styl terug.’ Sonder dat daar sprake kan wees van direkte navolging is dit ook van toepassing op Somer. Van den Heever ken die kommer-bestaan van ons boere, maar net soos Streuvels is hy ook die digterlike natuurgenieter, die verheerliker van die son, ‘volheerlijke, altijd nieuwe bronne van levenskracht’. Soos Gezelle het hy met verrukking geluister na die fynste lispeling deur die koringare: Hel en duister, lijze en luide,
mingelmangelt, in de lucht,
't ruischen van de groengekruide,
grauwgetopte koorenvrucht.
Die tekening van die atmosfeer in hierdie novelle is van 'n ontroerende suiwerheid. En dit kan nie bereik word alleen deur skerp waarnemingsvermoë of stilistiese bedrewenheid nie. Nog minder deur 'n blote konstatering van die essensiële verband tussen die onveranderlike aarde en die arbeidende mens. Hierdie geheimsinnige verband moet so hartstogtelik ondergaan word dat karakterontplooiing en agtergrond onafskeidelik saamsmelt, sodat ons nie aan die verhaal kan dink sonder die omlysting nie. Wie hierdie koringboere uit hul omgewing wil losruk, sou hul hele menslikheid vernietig. Hulle sit vas in die aarde. ‘Deur hul liggame, hul siele werk die natuur, werk dit in jaargetye, voel hul die sagte ontwaking as die lente kom, die rypwording van die lewe op die lande, die huiwering van najaar deur die lug, en die skerp koms van die winter wat alles verstol en die lewe laat slaap in rustige onwetendheid....’ Van den Heever se boere is eenvoudiges van hart, met 'n ongekompliseerde psige. Diep is hulle bewus van hul nietigheid teenoor die ewige natuurkragte en hul onmag om die ekonomiese masjien te beheer. Maar net een goeie oes en nuwe hoop jubel weer in die harte. Tussen hierdie koringboere arbei die ‘rondloper’, Wynand, wat van plaas tot plaas ronddool omdat hy deur 'n genadelose maatskappy as melaats beskou word weens 'n misdaad in sy jeug begaan. Innig-teer word die ontwaking van die liefde in ‘Oom Tom se blou-oog-dogter’ | |
[pagina 313]
| |
vir hierdie swerweling geteken. Maar ‘uit die volgroeide somerlewe.... kom die boodskap na haar gewonde hart: afskeid. Dit is die ware betekenis van die lewe: dat in alles wat vir jou skoonheid was, waar jou hart aan hang of jy dit nooit kan verloor nie, die afskeid reeds te lees is.’ Ook die skugtere boerseun, Hannes, wat sy liefde vir Linda nie kan verklaar nie, moet die bitterheid van hierdie afskeid belewe. Alles gaan verby. ‘Wat is die tyd?’ vra oom Tom. ‘Ja, ons is maar soos die koring, wat groei en afgesny word. Hy voel die weldadige straling van die middagson, en hy dink aan die winter....’ So kry ons die alles Vergängliche in die lewe van die mense en in die wenteling van die jaargetye. Besonder mooi het Van den Heever die spotlus en spoggerige werkywer van die swart skepsels uitgebeeld. April en Stefaans haal hul beste uit op die koringland om indruk te maak op Katryn, en spog dan saans om die vuurtjie: ‘Praat van werk! Basie, jy moes vanmiddag gesien het toe ons van die land kom, die ding se bene swik-swik soos hoepels. Maar waar stap die Bolandse jong nie toe nie - sy kniekoppe kielie somar hier so onder sy bors.’ Sulke toneeltjies wek herinneringe aan Velbaadjie en sy maats in Malherbe se roman Die Meulenaar, maar bewys tog ook dat Van den Heever die kleurlingtaal met sy gekruide geestigheid fyn beluister het. Hierdie verhaallose verhaal, as ek dit so mag noem, sal wel nie 'n suksesboek word nie. Elke aandagtige leser egter, wat nie slegs na oppervlakkige verstrooiing soek nie, sal meteens besef dat dit die skoonste uitbeelding van die boerelewe is wat die Afrikaanse letterkunde nog opgelewer het. Van den Heever kon die geheimsinnige verwantskap tussen mens en aarde uitbeeld omdat daar by hom was, soos hy dit self formuleer, ‘die onbewuste, deurgrondende aanvoeling van die oerkrag van die natuur,’ wat Jan van Nylen so uitdruk: ‘Ik voel der aarde forsche hartklop beven
Tot in mijn bloed, ik voel den zachten druk
Van 't vruchtbaar sap dat, in een nieuwer leven
Alles wat leeft doet rillen van geluk!’
Daarom is hierdie boek so vol van ‘somer en son en saffier’. Daarom leef daar in die ritme van sy periodes die breed wegdeinende golwing van ritselende koringhalms en gloei daar in sy styl die warmte van die koninklike Somerson. | |
Kromburg (1937).In ons romanliteratuur is daar nog steeds 'n gebrek gewees aan groot vrouekarakters. Natuurlik het ons van Johannes van Wyk af 'n lang reeks engelagtige nooientjies gehad wat gesorg het vir afwisseling as die | |
[pagina 314]
| |
manlike bedrywighede nou darem te ernstig geword het. Bekend is ook die vrouetipe uit die pionierstydperk, wat as willige helpster van haar man so 'n groot aandeel gehad het in ons nasiebou. Maar wie kan selfs die name onthou van hierdie oppervlakkig getekende vroue? Enigsins beter word dit omstreeks 1925, wanneer drie skryfsters in Onder Bevoorregte Mense, Oogklappe en Eensaamheid met fyn-vroulike intuïsie die gewaarwordings van hul hoofkarakters deurgrond. Maar hoe verbleek ook hierdie figure as ons hul stel naas Jan Celliers se Martjie en Totius se Rachel! In die periode wat hierop volg, word veel meer aandag bestee aan die ontleding van die vroulike psige, en in baie kortverhale, veral van Van den Heever, Jonker en P. de V. Pienaar, tree vrouekarakters op wat uitstyg bo die konvensionele. D.F. Malherbe se Bybelse vroue, Sophie Roux se Tilde, Karin se Eugenie en Hettie Smit se Marie - dis almal bewyse dat ons skrywers besig is om af te steek na die diepte, dat hulle lewende karakters kan skep. Die belangstelling het hom verplaas van die uiterlike persoonlikheid met sy toevallige of buitengewone lewensomstandighede na die innerlike met sy individuele sielstruktuur en konflikte. In Kromburg word uitgebeeld die tragiese ondergang van 'n fyngevoelige vrou, wat, nadat sy tot malwordens toe gemartel is deur die kleingeestigheid van haar omgewing en deur die konflikte in haar eie siel, 'n wanhopige poging doen om haar lewensgeluk te gryp. Wenda is 'n ontwikkelde plaasmeisie, wat deur haar verlowing met Braam, 'n mediese student, allerhande illusies koester omtrent 'n verblyf in Europa. In haar siel is daar 'n hunkering na die onbekende: ‘Sy verag die tamme, doodse lewe wat 'n mens sekuur soos 'n stuk kledingstuk kan afmeet.’ In haar jeugdige fantasieë is sy 'n Voortrekkersvrou wat op 'n vurige wit perd langs Braam oor die Drakensberge ry. Wreed word al haar illusies egter verydel deur Braam se plotselinge dood in 'n ongeluk. Sodra sy oor die ergste skok heen is, trou sy met Flip, bestuurder van 'n boerewinkel in die dorpie Kromburg. Dit was 'n impulsiewe daad, want in haar hart leef voort die herinnering aan die verlore geliefde, en by elke krisis in haar lewe is dit sy nagedagtenis wat haar rigting gee. Flip dien haar met 'n hondagtige trou, en ofskoon sy liefkosings haar van die begin af met walging vervul, gryp sy hierdie kans waarskynlik aan om haar vae maar wilde begeerte na 'n volle, heftige lewe te verwesenlik. In die ontreddering wat volg op die verwoesting van haar lewensgeluk is Flip se trouhartige goedheid vir haar 'n steun. Onder die kleingeestige inwoners van Kromburg kan die fynbesnaarde Wenda nie aard nie. Die toonaangewende dames voer 'n plantebestaan, verlustig hul in venynige skinderpraatjies en ken geen hoër genot as kaartspeel nie. Met haar kritiese skoonmoeder kan sy glad nie stryk nie, terwyl haar huwelikslewe al spoedig in ‘'n ritmelose gesukkel’ ontaard. | |
[pagina 315]
| |
Sy en Flip leef langs mekaar in aparte wêrelde. Hy is te goedaardig om rusie te maak, maar as tipiese Kromburger besit hy eenvoudig nie die sintuig om die romantiese verlangens van haar siel te peil nie. ‘Hy is tevrede met 'n bord lekker kos, met baie slaap, met 'n paar klandisie meer, met 'n paar flou grappe en vlot praatjies waarin hy dieselfde dinge oor en oor sê.’ Die gewone middelslag vrou sou haar onder dergelike omstandighede langsamerhand aangepas het by haar omgewing en mettertyd opgegaan het in die massale onbenulligheid. Die normaal ontwikkelde vrou sou deur weldeurdagte planne die beskawingspeil van haar omgewing verhoog het, 'n paar geesverwante met nuwe ideale besiel en uiteindelik selfs die vasgeroeste Kromburgers uit hul rustige rus laat opskrik het. Maar Wenda was nóg middelslag nóg normaal. Sy het die onewewigtige temperament van die kunstenaar gehad en daarby 'n totale gemis aan praktiese sin. Sy doen wel 'n floue poging om deel te neem aan die maatskaplike bedrywighede van die dorpie, maar vind dit alles so sielsleeg dat sy haar spoedig terugtrek. Haar huislike pligte interesseer haar slegs matig en die ‘kalfagtige glans’ in Flip se oë vervul haar met walging. Sy kan haas kranksinnig word van verveling, pak allerlei dinge aan, maar laat dit weer net so lê en sit meestal en droom oor die magtige, hewige lewe waarvan sy uit geïllustreerde tydskrifte 'n vae beeld opgebou het. ‘Die lewe wat haar sou voer na bloue hawens.... na operas en teaters, waar die fyn geklede vroue glimlag agter kostelike waaiers, die mans hoflik en ridderlik is en die lewe weldadig soos 'n slaaf aan jou voete buig....’ Teen die troostelose eentonigheid van so 'n bestaan is Wenda se senugestel nie bestand nie. Angsvisioene en hallusinasies verskrik haar en grynsende spookgestaltes jaag haar snags na die witgerypte tuin. (Vergelyk hoofstuk III, waar hierdie siektetoestand so meesterlik geteken word dat 'n angstige beklemming die leser aangryp.) Na 'n vakansie te Durban, waar Wenda se romantiese verlangens enigsins bevredig word, oormeester 'n nuwe lewensgevoel haar en ontdek sy dat ‘die lewe meer as 'n handjies-oor-mekaar-wag op die dood is....’ Sy wil haar nou verset teen Kromburg se wurgatmosfeer en ‘sal heers waar sy vroeër gebuig het en trots wees waar sy eselagtig verdra het.’ Met behulp van Basson voer sy 'n toneelstuk op en saam met die simpatieke ds. Verwey probeer sy om by die Kromburgers leeslus op te wek. Sy neem deel aan die plesierlewe, soebat haar pa en Flip om vir haar 'n motor te koop en tart die skinderbekke deur met Basson na Bloemfontein te ry. Maar onder al hierdie oppervlakkige genotsug treur haar hart oor verlore liefde: ‘Oor jare heen gryp die hart, onverwags, weerligsnel na wat verlore is in die toegroeiende weg agter, en op die pad wat betree word, lê soos slange wat elke oomblik hul kop kan ophef, herinneringe | |
[pagina 316]
| |
wat in die vorm van nuwe dinge hul ou gestaltes en wese vertoon.’ Flip se papbroekerigheid, sy onvermoë om haar hunkering na 'n groot lewensgeluk te verstaan, wek selfmoordgedagtes, en die martelende verveling laat haar 'n eensame rit in die nag onderneem na die plek waar Braam verongeluk het. Doelloos word sy rondgeslinger tussen die banaliteite van die werklikheid en die onbereikbare skoonheid wat haar digterlike fantasie uit die gewoonste alledaagse dinge skep: 'n sonstraal, die gelui van die kerkklok, wenende vioolmusiek.... (p. 157). Haar huweliksellende laat haar oor egskeiding peins, maar sy deins terug as sy aan die skinderpraatjies dink. Tevergeefs probeer sy weer allerlei middeltjies om verlos te raak van die verveling: lesse in kunsleerwerk, taalstudie, lees van romans. Sy mis die deursettingsvermoë en verspil al haar lewenskrag in melankoliese dromerye. Uiteindelik kla sy haar nood by ds. Verwey, wat haar daarop wys dat oorgawe en geloof nodig is om God te vind en daarby nog afstand van sinnelike begeertes. Sy doen nou 'n besliste poging om haar hele lewe te herorganiseer en word 'n getroue kerkganger. ‘God moet haar help! Haar hart is so opstandig, so hoogmoedig, so onbuigbaar. God moet haar fyn maal in die gestadige lewensgang en tot 'n nuwe, beter mens omskep. Op haar lippe en in haar oë is die deemoedige oorgawe aan die geloof, maar op dieselfde oomblik is haar liggaam, haar drifte daar wat soos die ruwe berge gryp na die wit wolke bo hulle. God, staan my by.’ Maar, ofskoon Wenda in haar sielenood troos soek in die godsdiens, het sy tog lankal die geloof van haar voorvaders losgelaat. Haar oupa was 'n Voortrekker, haar vader het deelgeneem aan die Tweede Vryheidsoorlog, en sy is gebore in die konsentrasiekamp. Haar ouers het haar volgens die ou tradisies opgevoed, maar omdat sy geleef het in die oorgang van die ou idee na die nuwe tyd het 'n verlammende dualisme hom in haar karakter geopenbaar. ‘Sy weet self nie wat sterker is nie: haar drang na die ongebondene, die vrye uitlewing van haar hele wese of haar slaafse verankerdheid aan begrippe, beelde, gevoelens wat op die eerste skof van haar lewensweg ontwaak het.’ (p. 256.) Haar siel word 'n strydperk waarin die tradisionele opvattings slaags raak met die moderne uitleefdrang. Sy het die bodem waarop sy gestaan het losgelaat en op haar soektog na 'n nuwe steunpunt in die donker verdwaal. Hierdie verskynsel van ons tyd het Van den Heever beeldend en filosofies probeer deurgrond in die lydensgeskiedenis van Wenda. Wanneer Flip in sy eksamen sak, dan lyk dit of Wenda se laaste kans om iets van die groot lewe te sien, verdwyn het. Maar net na hierdie teleurstelling laat 'n paar vleiende opmerkings van 'n rondreisende toneelspeler haar meteens besluit dat sy 'n kunstenares is wat haar lewensbestemming ver anderkant Kromburg se rantjies sal vind. Sy oorrompel haar man en vader, kry hul finansiële steun en vertrek met Etienne | |
[pagina 317]
| |
Lombard. In die begin het sy weinig sukses op die planke, maar uiteindelik besorg haar kunstenaarsaanleg haar 'n triomf. Sy geniet volop van die vrye lewe en by 'n nagtelike fuif hef sy 'n glas sjampanje hoog in die lug met die uitroep: ‘Kromburg! Mog jy verdelg word!’ Maar selfs op die woelige strate van Johannesburg kan sy haar nie ontworstel aan haar verlede nie, duik herinneringe aan Rietkuil se waterkuile en Kromburg se eenvoudige genoeëns op. Sy begin te besef dat die ware geluk moet kom, nie uit die omstandighede nie, maar uit die siel self. 'n Rusie met Lombard, waarby hy haar 'n klap toedien, laat haar dadelik met 'n goederetrein huis-toe vlug. Gedurende die lang nagrit peins sy oor al haar ervarings, trek haar ganse lewe soos 'n rolprent voor haar geestesoog verby. Sy weet nou dat ook buitekant Kromburg dieselfde kleingeestigheid en bedrog aangetref word, dat ook in die groot wêreld die skyn maar alte dikwels bedrieg. Die treinwiele sing vir haar vernederde siel 'n vreugdelied, want hulle voer haar na die troue Flip. Die geluk wat sy so ver gaan soek het, was tog maar altoos tuis. ‘Sy voel diep skuldbewus oor alles wat sy teen hom gedaan het, en tog is daar onder in haar siel die wete dat die lewe se magte groter as bejammering en verstandelike oorweging is, dat dit wreed sy weg gaan soos 'n roofdier wat verslind om te kan lewe.’ Eenvoudiger uitgedruk beteken dit dat Wenda al die jare slegs 'n speelbal was van 'n grillige noodlot, dat die ‘donker magte’ haar genadeloos aangedrywe het totdat sy soos Couperus se Eline Vere alleen verlos kan word van al haar sielsbenoudheid in ‘de koele meren des doods’. Daar is nog meer aanduidings in die roman dat Wenda alle verantwoordelikheid wil afskuif op die onmag van die mens om iets aan sy lewensloop te verander. As sy tot die besluit gekom het om haar man te verlaat, ‘voel sy dat haar lewe geen ander koers kan neem as hierdie een nie. Sy wonder soms of daar nie 'n dieper draad in 'n mens se bestaan loop waardeur een gebeurtenis verband hou met 'n ander nie, tot die doel van jou lewe, binne die raamwerk van die maatskappy waarin jy geplaas is, geleidelik ontplooi en jy uiteindelik leer verstaan dat dinge se verloop in hul diepste grond gehoorsaam was aan oorsaak en gevolg, in 'n simboliese, goddelike ewewig gehou.’ As Wenda haarself in die trein afvra wat sy vir die lewe beteken het, dan heet dit: ‘Wie beteken ten slotte iets in dié verwarrende wenteling wat soos 'n blinde mag opbou en verbreek?’ Om die aaneenskakeling van oorsake en gevolge, waaraan Wenda haar nie kan onttrek nie nog duideliker te maak, moet ons let op die geskiedenis van haar ouers. Haar vader het, net soos sy, byna van sy verstand af geraak toe die meisie op wie hy verlief was selfmoord gepleeg het ‘deur haar ouers se dwarskoppigheid’. Haar moeder was 'n oorgevoelige, neurotiese vrou, wat gedurig wrywing veroorsaak het, verbitter is deur oorlogslyding en ‘'n geslote lewe weggeslyt het, waarvan geen mens ooit die kern begryp het nie.’ As Wenda | |
[pagina 318]
| |
na haar moeder se sterfbed ry, dan besluit sy plegtig om nie soos haar ma te versuf op die ou dorpie nie; sy wil ‘die skone van die lewe omhels.... voordat sy ook sal sit soos haar moeder, ongeneeslik geslaan deur die noodlot....’ (Ek kursiveer). Vir Wenda is die lewe ‘verbygaande, vlugtig, wreed’ en ‘die berusting in 'n lewe ná die dood kan sy nie voel nie.’ Haar hele loopbaan word nou niks anders as 'n kleurvolle illustrasie van die onverbiddelike almag van die noodlot, want al haar verset teen die ingekankerde kleingeestigheid van haar omgewing, al haar pogings om haar te verhef bo die gryse alledaagsheid ly skipbreuk, terwyl haar kunstenaarsideale verydel word deur kleinlike afguns en geldrusie. Sy het skitterende talente gehad, maar sy kon so weinig presteer omdat sy die produk was van omstandighede wat sy nie kon verander nie. Die leegheid van haar bestaan, die onbeduidende van haar omgewing, die gedurige slingering tussen oorgelewerde begrippe, vasgeanker in haar wese, aan die een kant en die drang na ongebonde selfontplooiing aan die ander kant het haar met lamheid geslaan. So word haar lewe 'n lydensweg van onbegrepe smart met 'n tragiese ondergang as onafwendbare slot. Daar sal baie lesers wees wat die skerpsinnige en indringende psigologiese analise van hierdie vrouekarakter sal waardeer sonder om die noodlotsteorie te aanvaar. Die determinisme met sy wanhopige pessimisme, wat die mens as 'n magtelose wese sien, ‘ewig alleen en onbeskermd teen die pyle van die lewe’ (p. 212), is in stryd met die opvattings van ons volk. Onder die lees moes ek dink aan dr. Tazelaar se uitspraak: ‘De psychologische roman der moderne literatuur analyseert den mensch zonder God, den mensch, wiens ziel niet werd bestraald door het licht der genade en die nu omdoolt in de duisternis der zonde.’ Wie die noodlot as oorsaak van Wenda se ondergang verwerp, sal trouens in die roman self voldoende redes vir dié ondergang vind. Ek noem slegs 'n enkele: ‘Byna roekeloos en sonder om vir haar volle verantwoording te gee van wat sy doen, het sy soos 'n slaapwandelaar hierdie huwelikslewe ingeskuiwe, en nou.... is dit of sy 'n groot sonde begaan het deur teen die ewige, onverbiddelike wette van die liefde en huwelik te sondig, want is daar in die laaste tyd nie veel ontrouheid in haar gedagtes en verlange na 'n onstuimige, romantiese lewe nie?’ (p. 102.) Hierdie roman werp 'n verrassende lig op verskillende faktore van die moderne lewe wat besig is om die hele geestelike struktuur van ons volk te wysig. Dit laat ons sien hoe 'n jong vrou deur haar sug na vryheid, deur haar begeerte om los te wees van alle konvensionele bande gryp na 'n nuwe lewenstadium waarvan sy weinig kennis dra. Soos die moderne, denkende mens wil sy haar eie lewensweg kies, maar van alle kante word sy bestorm deur benouende probleme, en op haar soektog na geluk en sielevrede raak sy so hopeloos verdwaal dat sy berouvol terugkeer na die versmade eggenoot. | |
[pagina 319]
| |
Die agtergrond van hierdie tragedie is die plattelandse dorpie Kromburg, waar die lug verpes is deur kwaadwillige skinderpraatjies. Almal wat nie netjies in die roetine-paadjie loop nie, almal wat enige blyke van inisiatief aan die dag lê, word so beskinder dat die lewe ondraaglik word. By die sogenaamde élite vind die skinderlus 'n uitweg in bedekte sinspelings en ondergrondse teenkanting, by die minder gegoedes in growwe beledigings. Die geselserige oomWynie, wat oorborrel van vriendelikheid, maar uit elke brokstukkie inligting die grofste onwaarhede fantaseer, is die tipiese Kromburger, volleerd in al die kunsies van huigelary. Van den Heever ken die bekrompe geestesgesteldheid van hierdie mense en probeer die wese daarvan analiseer. Hulle het niks om oor te gesels nie omdat hulle nooit lees nie: ‘Dat ons mense so 'n belang stel in minderwaardige politieke skinderpraatjies en luister na allerhande kaf is juis daaraan toe te skrywe dat hulle geestelik verwaarloos is, dat hulle hunker na aktiwiteit vir die gees.’ Ook die ekonomiese agteruitgang van ons volk word nagespeur. Die Boerewinkel kwyn deur gebrekkige ondersteuning, maar Moronski, die vreemde indringer, word 'n magtige kapitalis, wat die een plaas na die ander inpalm en uiteindelik die hele streek finansieel beheer. Sy leuse is: ‘Werk en wag, en terwyl die mense mekaar op politieke vergaderinge met stoelpote slaan, moet jy maar net geduldig agter die toonbank bly wag tot hulle, al redenerende, van die vergadering kom om van jou te koop wat hulle nodig het, en desnoods op te skrywe en dié goedjies wat opgeskrywe is, in hul groot motor te pak en na die huis te gaan, vanwaar hul al gister weg is om die vergadering by te woon.’ So gee die skrywer ons, naas die hoofmotief, heelwat om ernstig oor na te dink. Onder andere skets hy die smakelose toneelmaniere wat so menige plattelandse opvoering ontsier. Ek glo nie dat daar nog 'n roman in ons letterkunde is waarin die vrouesiel so diep gepeil is nie. Wenda se reaksies op die kleindorpse haatlikhede, haar smagtende hunkering na ‘die onstuimige lewe, wat jou soos 'n groot minnaar omhels’, haar worsteling met die lewensprobleme - dit alles word in aangrypende momente uitgebeeld. Dis 'n soektog na lig in sieledonkerheid, 'n stormagtige begere van die onbereikbare. En vir ons, wat glo dat die lewe nie beheers word deur 'n grillige noodlot nie, is die sombere slot dubbel tragies, omdat alles so anders kon geloop het. |