kêrels geskets. Nadat hulle mekaar deur allerhande planne probeer vermaak het, speel een sy hoogste troefkaart deur 'n huwelik aan te gaan. Die ander volg uit afguns sy voorbeeld, met die resultaat dat albei diep ongelukkig word. Albei gee, presies op dieselfde manier lug aan hul ergernis, naamlik deur ‘onskuldige miershope’ uitmekaar te skop, en dan volg die kwasie-komiese ontknoping:
‘En so het dit gebeur dat hierdie twee bure op dieselfde dag aan stap geraak het - die een Oos en die ander Wes - en somar heeltemal uit die wêreld uit geloop het.’
Tot sulke dwaasheid verval 'n skrywer wat sy karakters volgens 'n vooropgestelde skema netjies hul rolle laat speel.
In Kort Verhale word die draak gesteek met party skrywers, wat by gemis aan ware besieling, jag maak op lokale kleur. Dit wil my voorkom dat Serfontein by gebrek aan humoristiese siening, jag maak op 'n soort snaakserigheid wat ontstaan deur ironiese oordrywing, of selfbespotting, en ook wel deur die manier om onbelangrike sake met 'n groot omhaal van gewigtige woordepraal mee te deel. Langs hierdie weg bereik hy wel komiese effekte, maar die voortdurende gebruik van die een ou stokperdjie in byna al die verhale word 'n oordrywing wat baie na 'n aangeleerde maniertjie lyk.
Daar is egter verhale wat aantoon dat die skrywer geensins sonder talent is nie. Op sy beste is hy wanneer hy die verhouding tussen twee sleggehumeurde ooms teken, soos in Twee Wapenbroers en Twee van een Soort. In die meeste verhale sou 'n mens ook kan wys op voortreflike besonderhede soos b.v. die grotendeels geslaagde skildering van die ketellapper, Sors Pieterse, wat hoe onwillig ook, tog sy tuinwerkie moet voltooi.
Die lesers wat minder ag slaan op lewensegte uitbeelding sal geniet van die erns en luim van Serfontein se verhale. Ek ag dit ook glad nie onmoontlik dat hy nog kan ontwikkel tot 'n interessante verteller nie. Maar dan sal hy moet afsteek na die diepte en nie tevrede wees met oppervlakkige anekdotes wat ons alleen in die verbygaan amuseer nie.
In Sluipende Honde is daar wel enige styging te bespeur, maar bokant die peil van onderhoudende lektuur bring die skrywer dit nie. Serfontein lê hom veral toe op 'n vernuftige intrige, wat ontstaan deur 'n reeks buitengewone gebeurtenisse, dikwels van bo-natuurlike aard soos in God bewandel nog die Aarde, 'n Dagboek, Die Asbakkie en Seegras. Laasgenoemde is die bes geslaagde verhaal. Treffend word daarin geteken die hallusinasies van Kasper Henning, wat sy blinde suster laat verongeluk, omdat hy moeg geword het om haar gedurig op te pas. Serfontein verstaan die kuns om 'n grillerige atmosfeer te skep en het 'n studie gemaak van die abnormale verskynsels waardeur 'n misdadige gewete