opgevoede meisie, verhuur haar aan 'n Kaapstadse dame as bediende teen £2-10 per maand. Op boeiende wyse word al haar huislike ervarings vertel en haar verhouding tot die huisgenote geskets. Toevallig kom sy, net soos Bettie Ertel ‘onder bevoorregte mense’ tereg, maar omdat sy soveel fyngevoeliger is, skaaf die juk van diensbaarheid haar des te seerder. Die simpatieke behandeling wat sy van mev. Groenewald ondervind, behoort 'n aanskoulike les te wees vir meer as een veeleisende Afrikaanse huisvrou, wat steeds daarop uit is om die blanke diensmeisie ‘op haar plek’ te hou, sonder om haar in die minste te bekreun oor die tog so menslike behoeftes van die armblanke. Die skryfster pleit met talent vir die regte van die blanke bediende en laat duidelik uitkom hoeveel delikate takt die huisvrou nodig het, as sy nie net 'n ongevoelige meesteres wil wees nie, maar werklik 'n hart het vir die minderbevoorregtes van haar eie volk.
'n Deel van Louie se proefneming is egter ook haar strewe om haar beter in te leef in die mentaliteit van die gewone diensmeisie deur 'n verkeer op gelyke voet. Sy knoop vriendskaplike betrekkings aan met 'n paar uit die buurte, en organiseer lees- en werkaande vir hulle in haar vrye tyd. Sy vergesel hulle ook na hul nederige wonings in die agterbuurtes en bestudeer van naby die hopelose stryd van die armblanke teen die verslegtende invloede van sy verpeste omgewing. Die gevolgtrekking waartoe sy kom is:
‘Vind uit hoe die mense lewe, en probeer om hulle ontevrede te maak met die agterbuurtes en slegte behuising’ (p. 97).
Dit help nie om allerhande redmiddels te versin, as ons geen praktiese kennis het van die werklike toestande nie. Deur die hele boek word ons getref deur die waaragtige erns waarmee die skryfster 'n netelige vraagstuk aanpak, en haar bevindings verdien die aandag van almal wat belangstel in maatskaplike werk.
Die tweede gedeelte van die verhaal, waarin die liefdesavonture van die gewaande diensmeisie beskryf word, vind ek minder geslaag. Daar is wel knap toneeltjies wat 'n belofte inhou vir die toekoms, maar die tekening is te oppervlakkig. Dit maak meer die indruk van 'n pikante sousie, wat die hoofgereg smaaklik moet maak. Die skryfster waag haar aan die moeilike briefvorm, maar slaag nie daarin om ons belangstelling vas te hou vir die Kimberleyse plan nie, omdat sy te veel redeneer in plaas van plasties uit te beeld. Rosie bly 'n vae figuur, wat ons gou vergeet; die lewendige Sonnie egter, is met talent geteken.
As al die werkers in die agterbuurtes van ons stede met soveel warme liefde en geesdrif vir hul opofferende taak besiel is as Essie Malan, dan sal baie veragterde Afrikaners, wat in moedelose vertwyfeling die prooi van degenerasie geword het, hul verlore ideale herwin om nuttige lede van die samelewing te word.