Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging
(1939)–P.C. Schoonees– Auteursrecht onbekend§ 15. Dr. F. Postma.Dr. F. Postma (gebore 1879) is 'n seun van die bekende Gereformeerde predikant, ds. M. Postma. Hy het o.a. op Middelburg, Kaapprovinsie, skool gegaan en die tekening van die skoollewe in sy roman bevat seker outobiografiese motiewe. Hy het deelgeneem aan die Natalse veldtog in die Tweede Vryheidsoorlog en in 1900 saam met Totius gestudeer aan die Vrye Universiteit. Na sy terugkeer uit Holland was hy professor aan die Teologiese Skool op Burgersdorp en Potchefstroom. In 1914 het hy gepromoveer op 'n dissertasie getitel De Numine divino quid senserit Vergilius. Op die oomblik is hy rektor van die Potchefstroomse Universiteitskollege. Saam met prof. T.J. Haarhoff en L.J. du Plessis is hy redakteur van die serie Erfstukke uit die klassieke oudheid, waarin vertalings uit die oorspronklike Grieks en Latyn verskyn. Dr. Postma het vir hierdie reeks 'n verdienstelike bewerking gelewer van die lewensbeskrywing van Ploetargos (1925). In 1927 het van hom verskyn Hy het sy merk gemaak, en in 1929 Kleopatra. | |
[pagina 285]
| |
Hy het sy merk gemaak (1927).In die eerste drie hoofstukke maak ons kennis met die gesinne van Koos en Hans Uys, twee skaapboere wat in die distrik Middelburg, Kaapprovinsie, woon. Die skrywer is hier nie op sy beste nie en die langdradige gesprekke van die ouers oor hul kroos word beslis vervelend, omdat te veel uitgewei word oor onbelangrike sake. Ons ontmoet Dirk, 'n knap kêreltjie, wat hom dodelik verveel tussen die Karobossies en skape. Hy speel 'n bietjie geniepsig met sy tingerige neef, Karel, wat ernstig beseer word. Dirk se ridderlike gedrag na die ongeluk laat dr. Henning, die dorpsdokter, sê: ‘Jy is 'n ou sport, ou seunie, en jy sal nog jou merk in die lewe maak’. Die twee seuns sluit 'n verbond om mekaar later in die lewe behulpsaam te wees. Die belangstelling in die verhaal bly egter slap, want die breedvoerige beskrywing van Lettie Uys se siekte bevat weinig treffends. ‘Wat daar in Koos (haar man) se hart omgegaan het, sal nie kan beskryf word nie’ sê Postma, en juis daarom interesseer sy mense ons maar matig. Die skrywer slaag egter daarin om die deeglike, Christelike atmosfeer van die twee huisgesinne aan te dui, en ons kom onder die indruk van die liefdevolle besorgdheid waarmee die harte van die ouers oor die toekoms van hul kinders vervul is. Die klugtige avontuur van Dirk met 'n kwaai volstruismannetjie wat hom in 'n ystervarkgat vaskeer is goed vertel en van hier af kom die skrywer eers goed op dreef. Dirk gaan na die Middelbare Skool en sy eerste ervarings op die koshuis, en die kaskenades met sy ontgroening word op lewendige en boeiende wyse meegedeel. Deur 'n kordaatstuk verdien hy die algemene bewondering van die seuns, en die eerste gedeelte van die dokter se profesie word al bevestig deur hul loftuiting: ‘Jy is 'n eersteklas sport, Dirk!’ Ook op die voetbalveld het Dirk louere behaal. Maar die rondreis met ligsinnige makkers na verskillende wedstryde gee hom 'n ander kyk op die lewe, en ofskoon hy uit gewoonte nog vashou aan die uiterlike godsdienstige vorme, begin die puriteinse opvattings van sy ouers tog vir hom lastig te word. Dirk begin stadig af te glip langs die afdraand. Sy keuse van 'n beroep gee weer aanleiding tot langwylige gesprekke tussen sy ouers, wat hom egter voorbeeldige leiding gee. Sy vader wil hom genees van die neiging om die Matriek-afgod te aanbid en bedui hom op indrukwekkende wyse wat dit eintlik beteken om lidmaat van die kerk te word. Die ‘boere-matriek’ is nie sommerso 'n eksamentjie nie! Tydens 'n ernstige siekte arbei ds. Weyers in dieselfde rigting voort en die wyse voorligting wat hy later op die katkisasieklasse gee, maak 'n diepe indruk op Dirk, wat nou ook sy belydenis aflê. Dirk vertrek na Dublin om in die medisyne te studeer. Sy ‘vaderlandse gedagtes’ by die besigtiging van Kaapstad is van opvoedkundige | |
[pagina 286]
| |
waarde, maar die manier waarop die skrywer dit weergee bewys dat hy hom onvoldoende ingeleef het in die mentaliteit van die jong seun. Op die skip ontmoet Dirk vir Patrick O'Brien, 'n Londense handelsklerk, wat groot invloed op hom uitoefen. Pat en Dirk organiseer die sports aan boord en na 'n innerlike stryd verskyn Dirk ook op die danspartye. Hy wil nie meer alles op gesag aanneem nie, maar besluit om vir homself te dink. Die twee vriende bekyk Londen saam en Dirk raak nog meer van sy ‘ouderwetse’ begrippe kwyt. Luimig is die vertelling van Dirk se grieselige ondervindings gedurende die ontgroeningstyd. Hy kry die opdrag om die lyk van 'n volwasse manspersoon uit die mortuarium van die universiteit weg te neem en na sy eie kamer toe te bring. Van sekere organe moet hy 'n ontleding maak en daarna 'n verslag optrek vir die studenteraad. Dirk raak bevriend met 'n Afrikaner-student, Erasmus, wat hom gou touwys maak in sy nuwe omgewing. Hy verwaarloos sy studie nie, maar begin tog volop te geniet van die vrolike studentelewe. Pat kom oor uit Londen en redeneer saam met die mediese studente oor godsdienstige kwessies en die evolusieleer. Erasmus het na 'n tydperk van twyfel die geloof van sy ouers laat vaar en Dirk begin nou ook met die twyfel te worstel. 'n Gelowige student neem deel aan die debat en verdedig die ortodokse standpunt van die skrywer op bekwame wyse. Die bespreking van hierdie kwessies sal vir ons jongmense aktuele waarde hê. Pat nooi sy Afrikaanse vriende na die O'Brien's, en Dirk verkeer al gou op intieme voet met Ethel, wat hy vroeër reeds deur 'n studentegrappie ontmoet het. Dirk probeer nog om sy houding teenoor wêreldse vermake halfhartig te verdedig, maar teenoor die plaery van sy sosaaietie- vriende is hy nie meer bestand nie. Hy dryf nou met die stroom mee. Vir 'n tydlank maak die verstandige raadgewings van sy ouers Dirk huiwerig om die verhouding tot Ethel voort te sit, maar sy hond, Pompie, wat 'n goedgetekende rol in die verhaal speel, bewerk 'n onverwagte ontmoeting. Die ontwikkeling van Dirk se liefde vir Ethel word net op vae manier aangedui en ek mis hier veral die persoonlike element. Na 'n paar danspartye en ‘'n soort elektriese skok’ wat by die plotselinge ontmoeting deur Dirk se lyf gaan, word hy die onderdanige dienaar van die Ierse skone. Die skrywer is meer begaan oor die waarskuwings wat Dirk kry om nie met 'n uitlandse nooi te trou nie en die aantal pale waarop die Amsterdamse paleis rus, as die verhouding tussen sy twee hooffigure. Op omslagtige wyse vertel hy hoe Pat eers die pad na Ethel se ouers moet oopskoffel, maar van wat tussen die twee verliefdes plaasvind, hoor ons net een uitroep: ‘O, you naughty boy! was al wat sy sê.’ Hierdie twee minnaars ‘kry’ mekaar sommer op die ouderwetse romanmanier. Ons weet te weinig van hul gemoedslewe om die latere afwikkeling van die huwelik te verstaan. | |
[pagina 287]
| |
Tussen Dirk se verlowing en sy huwelik verloop daar min of meer 'n jaar. Die skrywer lig ons in omtrent Dirk se finansiële skikkings, maar nog altoos swyg hy oor sy liefde! Dirk maak die indruk van 'n verstandige kêrel en daarom juis is dit so vreemd, dat hy geen die geringste aanstaltes maak nie, om sy aanstaande bruid in te lig omtrent die toestande en gewoontes in Suid-Afrika. Eers as Tafelberg in gesig kom, begin hy sy vrou iets te vertel omtrent haar nuwe woonplek! Die gevolg is dat Ethel reeds by die eerste ontmoeting met sy mense flaters begaan en nog altoos onder die indruk verkeer, dat die Karo-plaas, Beskuitfontein, 'n Europese buiteverblyf is met al die geriewe van die moderne beskawing. Van die begin af dryf sy haar onredelikheid tot die uiterste grense en Dirk moet maar steeds toegee om 'n botsing te voorkom. Sy weier om haar aan te pas aan die nuwe omstandighede en laat geen geleentheid verbygaan om Dirk se familie te beledig nie. Hulle mag nie oor haar drumpel kom nie en as Dirk teen haar sin besluit om Karel te help volgens sy belofte, dan verlaat sy die huis. By dit alles maak die skrywer haar nog die moordenares van haar skoonmoeder, wat aan 'n hartaanval beswyk, nadat sy Ethel se venynige brief gelees het. Ek wil nie beweer dat Ethel se geval onmoontlik is nie, maar deur die manier waarop die skrywer haar voorstel, word sy ongetwyfeld tot 'n karikatuur, op wie hy al sy haat uitgestort het, om te bewys dat 'n huwelik met 'n uitlandse vrou op 'n mislukking moet uitloop. Postma het met Ethel 'n uiterste geval gekies. Na haar aankoms in Suid-Afrika verloor sy alle menslike eienskappe en verstyf eenvoudig tot 'n bewysfiguur vir die skrywer se stelling, wat hy alte nadruklik aan ons aandag wil opdring. Gelukkiger is die skrywer gewees in sy skildering van Dirk se terugkeer tot die ou paaie. Breedvoerig word die invloede beskryf, wat langsamerhand 'n end maak aan sy godsdienstige twyfel en hom terugvoer tot die kinderlike geloof van sy jeug. Met tere innigheid is veral geteken sy verhouding tot sy diepbedroefde moeder, wat volhard in die gebed vir haar afgedwaalde seun. Na 'n dubbele ramp, die dood van sy moeder en die verdrinking van sy vrou, vind Dirk eindelik rus vir sy gemoed. Aan 'n beskrywing van die eintlike sielkundige krisis, wat hy deur middel van treffende insidenteGa naar voetnoot1) onvermydelik gemaak het, waag die outeur hom egter nie. Hannie, wat vir Dirk tydens sy ernstige siekte oppas, deel wel 'n paar vlugtige indrukke mee van Dirk se sielestryd, maar dan heet dit: ‘Wat die broer en suster met mekaar gepraat het, weet niemand nie.’ (p. 315.) As ons weer hoor, dan laat Dirk sy seuntjie doop. Maar hoe hy van sy ongeloof bevry is - dit bly vir ons duister, waarskynlik omdat dit | |
[pagina 288]
| |
volgens die skrywer se opvatting nie kan of mag meegedeel word nie. Dirk se bekering word teen die end wel psigologies verklaar deur die skrywer, maar nie hartstogtelik beleef nie. Oor die algemeen is hierdie roman hoofsaaklik van belang uit 'n etiese en sosiale standpunt, ofskoon dit seker nie sonder letterkundige verdienste is nie. Die skrywer het op besliste wyse stelling gekies teen die ongeloof wat uit die buiteland oorwaai en hier in botsing kom met die tradisies van die Voortrekker-beskawing. Oom Koos verdedig laasgenoemde op waardige wyse o.a. waar hy tot sy seun sê: ‘Jy mag meen dat jy as dokter met al jou geleerdheid nou bokant die Bybel staan. Ek weet van jou vak niks af nie.... maar ek laat my van niemand wysmaak dat julle meer weet as wat in die Bybel staan nie. Julle werk net bolangs, maar die Bybel vat 'n mens in die diepste van sy siel, waar geen dokter kan bykom nie.’ (p. 240.) Postma het in hierdie roman 'n talentvolle uiteensetting gegee van die Calyinistiese lewensbeskouing. Hy het 'n ernstige boodskap vir die jeug van Suid-Afrika, wat hy met die gloed van 'n heilige oortuiging verkondig. | |
Kleopatra (1929).In hierdie historiese roman wil die skrywer ons ‘'n getroue beeld van die lewe en worsteling van die besondere tydstip in die groot Romeinse wêreld gee.’ Van besondere belang vir die kennis van sy werkwyse is die volgende meedeling: ‘Om die werklike toestande realisties uit te teken - wie kan dit doen, tensy hy tot in die laagste dieptes van die sondige menslike lewe induik? Die sluier word in hierdie werk net maar effentjies gelig....’ (Inleiding). As gevolg van hierdie werkwyse slaag die skrywer nie daarin om die verlede te laat herlewe nie. Nooit kry ons onder die lees ‘de illusie dat we tijdgenooten zijn van een voorbijgegaan leven, van een vergeten beschaving’. Kleopatra en die historiese persone, wat sy in die netwerk van haar intriges probeer toespin, bly vae, skaduweeagtige figure wat in 'n onwesenlike wêreld leef en beweeg. Ons ontmoet Pompeius, Caesar, Antonius en Octavianus, en ofskoon hul lewensloop noukeurig beskrywe word, ken ons hulle alleen van die buitekant. Beter geslaag is die tekening van die dwerg Haki. |