Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging
(1939)–P.C. Schoonees– Auteursrecht onbekendJannie (1926).Volledigheidshalwe kan hier ook nog vermeld word die novelle Jannie. Dit is die storie van ‘'n doodgewone seun, wat partymaal so 'n bietjie gedroom het’. Hy groei op in 'n klein dorpie en 'n poging word gedoen om sy verhouding tot sy ouers en susters te skets. In sy matriekjaar raak hy verlief op Sannie, maar hierdie kalwerliefde wat ‘vir ewig’ sou geduur het kwyn dood as hy na Stellenbosch gaan. Die koshuislewe op Quarta en die taalstryd word vlugtig geteken en aan die end van die universiteitsjaar kom die seun se eerste groot smart as hy sy moeder verloor. Uit 'n Karodorpie gaan hy op Smithville in Natal skoolhou. Jannie gaan daar op in die plesierlewe van die ‘hoë kring’ en raak verlief op 'n Engelse nooi. Met die uitbreek van die Volkerekryg kom daar verwydering, omdat die ontwakende nasionale bewussyn van die Karoseun in botsing kom met Beryl se lojaliteit aan die Britse tradisie. Hierdie krisis laat Jannie diep nadink oor die waaroms van die lewe, en na 'n stryd geraak hy tot 'n soort lewensbeskouing. In hierdie stryd is dit veral die invloed van sy moeder, wat selfs jare na haar dood, nog rigting gee aan sy sielkundige ontwikkeling. |
|