donkie is die Boesmanlander se trekdier, die donkie wat hier altoos met sy kop ter aarde geboë loop ‘asof hy maar 'n donker toekoms tegemoet sien’. Die brak watertjies wat hy partymaal kry is mos nie water nie, en hy moet maar kou aan ‘'n paar uitgedroogde stokkies op 'n nog uitgedroogder stompie’ van die skaarse vyebossie.
Langs die trekpad word mense gebore en langs die trekpad word hulle begrawe, in 'n doodkis haastig inmekaar getimmer uit 'n negosiekas, wat met asyn-swartsel bestryk word. Met 'n simpele eenvoud gee De Roubaix weer die realiteit van hierdie dowwe, kleurlose swerwersbestaan. Hy ken die mense deur-en-deur en in ongekunstelde taal vertel hy die ervarings van eenvoudige siele. Dis 'n primitiewe beskawing wat hy in onopgesmukte toneeltjies met roerende simpatie beskrywe. Sonder die vernis van die stadsbeskawing is die Boesmanlandse trekker, maar nie sonder innerlike siele-adel nie. Sy gedagte- en gevoelslewe is beperk, maar op sy afgesonderde, eentonige vlaktes het hy geleer die stille berusting uit eenvoudige godsvrug gebore.
Sodra die reent val, word die woestynlandskap 'n Kanaän vloeiende van melk en heuning. Op Omdraaivlei ontstaan daar gou 'n lappiesdorp. Dan sien ons die gespierde Boesmanlandse vrou by die seeppotte en by die slagtery, waar sy klaarmaak vir die maer maande wat alte gou weer volg. Dis ook die tyd vir die kerkbasaar en die vrolikheid van die jongmense.
Dit is 'n sobere, maar liefdevolle tekening wat De Roubaix gee van die mense in Boesmanland. Hy verseker ons telkens dat alles op waarheid berus, en die sketse maak dan ook werklik die indruk van 'n kopie van die werklikheid te wees. Die skrywer slaag egter nie daarin om die ruwe grondstowwe tot kuns te verwerk nie. Die hoogste waarheid is nog iets anders as die waarheid van die noukeurig waargenome feit. Dit is die waarheid wat die kunstenaar uitspreek in die taal van sy verbeelding. Dis 'n simboliese, verbeelde waarheid, wat hy nie op 'n logiese manier kan bewys nie, omdat dit die spontane uiting van sy intuïsie is. Ons kan dié simboliese waarheid met ons verstand betwyfel, maar daar tog vurig aan glo met ons hart. Al bereik De Roubaix nou nie dié hoogste waarheid in hierdie sketse nie, omdat dit hom aan uitbeeldings- en komposisievermoë ontbreek, tog bevat dit veel verdiensteliks. Hy voer ons na 'n weinig bekende streek van ons land, en ofskoon sy portrettering meer uiterlik as innerlik is, tog kry ons 'n goeie blik op die menslikheid van hierdie swoeënde swerwers, wat hy so innig liefhet. Dit is te hope dat meer skrywers sy voorbeeld sal volg en die volkslewe van ander streke met al sy eienskappe en eienaardighede sal teken. Hier lê nog 'n ruime arbeidsveld, want ons sou graag, om maar 'n voorbeeld te noem, die mentaliteit van die Malmesburyse graanboer, die Natalse mielieboer, die Knysnase houtkapper, ens. deur liefdevolle sieners van die werklik-