maar die adel van sy karakter het hom begiftig met 'n fyn onderskeidingsvermoë op etiese gebied. So sal hy o.a. nooit vir 'n meester lieg nie alleen om sy ‘eie vel te red: net om maters uit 'n moeilikheid te help’. Maar selfs by hierdie algemene geloofsartikel onder skoolseuns maak Patrys nog 'n voorbehoud: ‘As ek weet dat 'n maat onskuldig is, en die meester weet dit nie, dan sal ek sonder skaamte 'n leuen vertel om hom los te kry as ek sien dat die waarheid nie geglo word nie - maar anders nie!’
So 'n seun word meteens die natuurlike vyand van die gemene swetser, Jan Flap. Elkeen het sy aanhang op die speelgrond en die botsing bly nie uit nie. Met 'n treffende uitbeeldingsvermoë het die skrywer al die besonderhede van hierdie skooldrama uitgewerk. Jannie Baadjies het so skamerig in die verborge 'n goeie daad verrig deur sy beste tol aan 'n tingerige outjie present te gee. Soseer is die seun se hart verteder deur sy gevoel van medelye, dat hy sonder wrokkende verset een van sy duiwe opoffer vir sy siek suster. Maar op die volgende skooldag was dit, volgens die geheimsinnige wet wat die afwisseling van speletjies reël, nie meer toltyd nie, maar albasterseisoen! Om die bespotting van hul swak maatjie af te weer gooi Patrys die tol tussen die albasterspelers dat die ‘ertjies’ so saai! Nou sis die vloekwoorde uit Jan Flap se mond, want hy is 'n virtuoos op hierdie gebied. Maar Patrys staan sy man teen die bekbakleier en laasgenoemde besluit ‘om Patrys se uitroeiing uit te stel tot die namiddag’ by die seekoegat! Met fyn besigheidsinstink begin 'n Joodjie meteens 'n lotery oor die uitslag van die bakleiery, wat een van Patrys se trawante 'n stryd besorg tussen sy lojaliteit aan die rooikopheld en sy sug om vyftig albasters te win. By die seekoegat word die ‘vuilbek-lafaard’, wat so lank op sy vader se reputasie geteer het, ontmasker. Die hele beskrywing van hierdie dramatiese episode is vol gelukkige trekkies, en dit gee ons 'n pragtige kyk op die mentaliteit van 'n skoolseun. Ook die omkeer by Jan Flap nadat Patrys hom van die dood gered het is met fyn mensekennis uitgebeeld. Jan Flap se skamerige toenadering en die manier waarop hy sy dankbaarheid jeens sy ou vyand betuig word op gelukkige wyse geteken.
Grosskopf sal wel in sy eie klas die metode van meester Stals toepas, wat op vriendskaplike voet met sy leerlinge verkeer en hom op simpatieke wyse inleef in die siel van die kind. Hy het wel geen maklike taak nie, soos blyk uit die volgende beskrywing van twee van sy leerlinge: ‘Hans het 'n opstandige bos donkerbruin hare wat baie lyk na 'n rolvarkie se penne, 'n paar donkerbruin oë waarin vyfduisend duiweltjies rondspring... Patrys is 'n taai, skraal, ratse stuk doringdraad, altyd oorgehaal, baie soos 'n gestelde slagyster, met dié verskil dat 'n slagyster net een hap kan gee, terwyl Patrys op 'n vyand neerkom soos die bose geeste op die Gadareense swyne’. Meester Stals se hart het egter jonk gebly en dit ontbreek hom ook nie aan ‘the milk of human kindness’.