Chrissie en Joey (1925).
Sonder enige literêre pretensie vertel sy hierin die ervarings van twee niggies op 'n Bolandse kosskool. Na die dood van haar moeder het Chrissie alleen op die plaas met haar pa agtergebly en soos 'n regte rabbedoe opgegroei. Sy is 'n kind van die vrye vlaktes, wat haar nie met fyn maniertjies en mooi klere ophou nie. Maar sy het 'n hart van goud en tussen haar en haar vader bestaan daar 'n baie tere verhouding, wat die skryfster met groot innigheid in welgeslaagde toneeltjies aandui. Vierkant anderster is haar fynopgevoede stadsniggie, Joey, wat haar neus optrek vir alles wat boers is en net aan mooi klere, plesier en natuurlik.... kêrels dink! As gevolg van hierdie verskil in temperament is die twee niggies almelewe haaks en hulle herinner ons aan Maggie en Lucy in The Mill on the Floss. By 'n besoek op die plaas skrik Joey haar lindelam vir 'n duisendpoot en tuimel met mooi klere en al in 'n spruit.
Op roerende wyse word die afskeid tussen Chrissie en haar vader beskrywe. Sy moet saam met Joey na die kosskool om haar wilde maniere af te leer en om haar te bekwaam vir haar taak as boervrou met behulp van algebra en 'n Latynse grammatika! As afskeidspresent kry sy van die bywoner, Piet, 'n pakkie pepermint met die bekende sentimentele opskrifte! Die arme kêrel is te bedeesd om sy liefde anders te verklaar! Op die reis en by die besigtiging van die koshuis kry ons 'n goeie blik op tant Sarah, wat haar spoggerig-vernaam aanstel, en haar eie dogter steeds as voorbeeld vir Chrissie voorhou.
Heel goed word die koshuisatmosfeer weergegee. Die verveling van die vaal studie-ure, die eentonige werkprogram wat sekuur deur 'n onverbiddelike klok afgemeet word, die kos wat altoos eners smaak - van dit en nog veel meer kry ons 'n aanskoulike beeld. Maar ook die plesierige kant word geteken - die fratse van die meisies en hul slim plannetjies om die reëls te breek, hul kritiek op die onderwyseresse, ens. Veral geslaag is die tekening van die nonchalante Jacoba van Dam, daardie wilde springbok, wat Chrissie se bondgenote word in haar stroebelings met die voorbeeldige Joey. Dié soek deur-'n-tyd wit-voetjie by die onderwyseresse en word die onpopulêre verklikster. Komies is Joey se pogings om ook in die koshuisomgewing as fynopgevoede en skatryk dametjie te poseer, terwyl haar vader intussen bankrot speel. Van haar latere stiefmoeder leer Chrissie die les van verdraagsaamheid en sy offer selfs haar vakansie op om die vernederde Joey te verpleeg.
Deur 'n lewendige skildering van die koshuislewe en 'n gesonde moraal, wat ons egter nooit opgedring word nie, het hierdie verhaal 'n aantreklike meisiesboek geword. Veel diepte is daar nie in die tekening van die twee niggies nie, maar die kaskenades van die jongspan word met talent en 'n speelse simpatie geteken in geestige toneeltjies.