dat haar jonkman ‘fyn aangevat moet word’. Met 'n verslag van die dubbele bruilof van Rina en Bernard eindig die hoofstuk. Lottie gaan op Stellenbosch studeer en die moeder bly eensaam agter.
In die vyfde hoofstuk sien ons Frans en Rina op 'n afgeleë plaas in Duits-Wes gevestig. Mooi word die verlatenheid van die landstreek geskilder en die beklemmende effek daarvan op die lewenslustige Rina. In die begin het sy haar man wakker bygestaan in die boerdery, maar later verlam die gevoelloosheid van haar man en die heimwee na haar Pretoriaanse vriende haar werkkrag. Net voor die trek na Duits-Wes het 'n onderduimse streek van Bernard weer Frans se sinisme opgewek. Hy wil ontslae raak van ‘die hele sous’, sy eie familie en Rina s'n. ‘Onredelik, hoewel menslik was dit van hom om Rina ook in sy algemene veragting vir al die swak, vals wesens in te begryp.’ Maar die sielkundige verandering word nie plasties uitgebeeld nie, net bloot vertel. Ons wil so graag weet hoe Frans dan so onnatuurlik word dat hy sy vrou en kinders van hom afstoot. Die lotgevalle van die byfigure, o.a. Dolf, wat in sy voortvarendheid 'n Amerikaanse trou, interesseer ons ook maar matig. Ons sien hulle nooit. Aandoenlik is egter die moeder wat nooit met haar kinders saamgeleef het nie. ‘Vir haar was dit al 'n groot ding dat sy elkeen se smaak in kos, klere en ander liggaamlike behoeftes onthou het.’ Sy is die eensame, selfs al is sy omring van al haar kinders.
Lottie en haar vriendin Martha Muller kom by Rina kuier en deur middel van hul geselsery en ervarings word die Duits-Wes-atmosfeer van die verhaal mooi geteken. Op die eensame plaas Katjipara klink vrolike gelag en musiek, net Frans hou hom stug en nors. ‘Hy praat g'n woord nie, soos almelewe.’ In sy ongeduld smyt hy sy seuntjie se geweertjie op die grond - en dit in volle geselskap. Ook sy vrou word nors afgejak. Hy sluit hom op en raak verdiep in filosofiese bespieëlinge. Hy het net tyd vir sy vee bedags, en die werke van Kant saans. So 'n karakter is natuurlik moontlik, maar die skryfster slaag nie daarin om dit lewenswaar te maak nie. Frans is eenvoudig 'n karikatuur.
Die vroulike karakters leef vir ons. Daar is Lottie, wat dadelik die gemoedstoestand van Rina begryp, en Rina wat deur 'n skynopgewektheid probeer om haar suster te mislei. Ook Martha Muller, wat kla en miskien tereg, oor die eensaamheid van Johannesburg, begin vir ons te lewe.
Die verhale van tant Maria, volgens die skryfster op waarheid gegrond, volg nou, maar dit verbreek seker die eenheid van die werk, omdat dit so los ingeskuiwe word. Al wat daarvoor gesê kan word, is dat dit enigsins help om die Duits-Wes-atmosfeer sterker aan te dui.
Na die vertrek van die gaste gaan dit met Rina afdraand. Mooi word haar moedeloosheid geteken. Die dood van haar enigste bekende in Duits-Wes, wat alleen in die verlatenheid sterwe, vervul haar met 'n