§ 9. Meg Ross.
Oogklappe (1925).
Die hoofpersoon van hierdie roman is Frieda Schmidt. Sy was 'n weeskind wat in haar oom se huis groot geword het onder die sorg van ‘'n droë arbeidsame oujongnooi’, tant Maria. Die verhaal speel tydens die laaste Groot Oorlog; en as Kern, Frieda se oom, geïnterneer word, bly Frieda by mevr. Steyn agter. As gevolg van die onsimpatieke omgewing waarin sy opgegroei het en veral deur die gemis van 'n moeder, het Frieda 'n teruggetrokke, skamerige geaardheid. Ons kry 'n mooi kykie op tant Maria se huishoudelike begrippe uit die geval van die ‘afskuwelik geblomde’ rok met die rooi val wat Frieda 'n hele jaar moes dra. Die simpatieke mev. Steyn doen haar bes om Frieda van haar skamerige houding te genees. Sy kry mooi rokke en goeie raad vir ‘daardie los toue’, haar hare, wat nou nie meer vasgeplak sit op haar kop nie. Mev. Steyn en haar seun, Fred, probeer om Frieda in die geselskapskringe van die stad te bring, maar die kleingeestige Duitserhaat verbitter haar en versterk die stugge terughoudendheid van haar geaardheid. Haar enigste troostertjie is die eenoog-hondjie Vlekkie, wat sy egter ook moet agterlaat as sy ná die dood van haar oom besluit om verpleegster te word.
Op aanskoulike wyse word die ervarings van Frieda in die hospitaal geteken. Die venynige speldeprikkies van 'n jingoïstiese matrone verbitter haar, maar die vriendskap van haar kamermaat, Anna Brits, en 'n ou skoolvriendin, Bettie Marais, maak die lewe tog ten minste draaglik.
In die vierde hoofstuk sien ons die onervare Frieda in die kloue van 'n gewetelose skurk, De Wet, wat haar tussen die rotse op Seepunt hipnotiseer. Fred daag net betyds op om haar te red. Die hele geval gee my 'n nasmakie van goedkoop ‘romantiekerigheid’, al is die gegewens ongetwyfeld eg. Die tekening van Frieda se innerlike gevoelslewe word sonder enige warmte, baie koel-saaklik gegee. De Wet neem haar b.v. na 'n skouburg:
‘Met ademlose spanning sit Frieda daar; haar oë is wyd oopgerek, haar mond is halfgeopen, en sy is blind en doof vir alles wat rondom haar aangaan. Toe die twee hoofspelers eindelik geluksalig mekaar omhels, gee sy 'n diep sug en kyk om na De Wet, wat daar sit met sy oë op haar gevestig’ (p. 89).
So 'n banale beskrywing, wat ons aan die ‘wydgespalkte, verwilderde kykers’ van De Waal herinner, mag nie in 'n roman van letterkundige pretensie voorkom nie, en as weergawe van die gevoelens van 'n onervare meisie by haar eerste teaterbesoek bevat dit niks treffends nie. Die skryfster het die geval nodig gehad om die stygende verbittering van Frieda teenoor die lewe te verklaar, en wou miskien ook 'n waarskuwende lessie vir ons jongedogters invleg. Dit maak op my die indruk