| |
§ 8. Marie Linde.
Onder hierdie skuilnaam skryf mej. Elise Bosman, wat jarelank onderwyseres was, maar haar later heeltemal toegelê het op joernalistiek. Haar beste werk bly nog altyd Onder Bevoorregte Mense (1925), waaraan die eerste prys toegeken is in 'n prysvraag van die firma Van Schaik. Die beoordelingskommissie het bestaan uit G. Besselaar, M.S.B. Kritzinger en P.C. Schoonees. By sy verskyning het hierdie roman groot verwagtings gewek, omdat die aantal leesbare verhale toe nog so beperk was. Marie Linde se latere ontwikkeling het egter hierdie verwagtings
| |
| |
teleurgestel. Bettie Maritz (1930) is die vervolg op haar eerste roman. Verder het van haar verskyn die volgende bundels kortverhale: Die Goue Roos (1929), Die Verlore Paradys (1932), Kaparrings (1935) en Knap Kêrels en Mooi Nooiens (1936); en die roman Dina en Lalie (1927).
| |
Onder Bevoorregte Mense (1925).
Die eerste hoofstuk gee ons al dadelik 'n treffende tekening van die verbouereerde weesmeisie, Bettie Ertel, stomverwonderd oor die drukte op die Kaapse stasie. Verlate staan sy daar met haar blik koffertjie, die Ventersvillese weeskind, totdat 'n elegante dame, Adeline Rademeyer, soos 'n feëprinses uit 'n outydse sprokie met haar wegtuf deur 'n betowerde landskap. Adeline, dogter van die predikant van Vierfontein het 'n kunstenaarstemperament en alleen die groot Europese oorlog het 'n end gemaak aan haar droom om operasangeres te word. Hendrik Rademeyer, 'n knap regsgeleerde, slaag daarin om haar tydelik ten minste te troos, hoewel sy nugter genoeg is om as huweliksvoorwaarde te bepaal, dat haar kuns altyd nommer een moet bly en haar man toelaat om as vergoeding sy politieke liefhebbery voort te sit. Bettie se koms as kindermeisie is 'n bewys dat die kunstenares-moeder besig is om haar deel van die troukontrak uit te voer. 'n Sangeres is mos 'n groter seldsaamheid as 'n vrou en moeder, redeneer sy!
Die eerste indrukke wat die beteuterde plattelandse weeskind van die woelige stadslewe kry word op gevoelvolle wyse geskets. Bettie staan deur haar opleiding in die weeshuis wel 'n hele entjie hoër op die maatskaplike leer as Ampie, maar ofskoon die aanpassingsproses veel gouer gaan, baar dit die eenvoudige kind tog veel bekommernis. Sy bevind haar dan ook nie by gewone boermense nie, want Adeline se huis is volgens die allermodernste begrippe ingerig, en in hierdie artistieke salonomgewing staan Bettie by elke draai glad verbyster. Al dadelik stamp sy haar kop teen die haatlike standsbegrip, wat soveel armblankes verhinder om 'n eerlike broodwinning te soek. Blanche, die Kaapse meid, reken dat Bettie haar witmens-status prysgegee het en klamp haar met Hottentotvrypostigheid aan:
‘Haai jy, wat loop jy so met jou toe mond? Sê vir my, is hierdie jou eerste jop of het jy al by ander ladies gewerk?’
Kostelik is die sarkastiese ‘So long Mies!’ waarmee die gekrenkte meid vir Bettie in die steek laat. Lang trane huil die arme weeskind in haar onhandige verleentheid gedurende die eerste tyd van haar verkeer ‘onder bevoorregte mense’. Die skugtere figuurtjie wat wegkrimp in haar nietigheid-skulpie het Marie Linde met treffende simpatie vir ons geteken.
As die eerste bedeesdheid egter afgeslyt is en Bettie aan haar nuwe omgewing gewoond raak, word die weeshuis-periode vir haar 'n benoude
| |
| |
droom. Sy begin die beskeie krummeltjies van die weeldelewe wat haar ten deel val te geniet, en al gou ontwaak in haar die begeerte om net so 'n elegante dame soos haar meesteres te word. Van haar eerste maandgeld koop sy.... sykouse, en Adeline, wat graag wil spog met 'n netjiese kindermeisie, help haar fluks om haar uiterlik te verbeter, terwyl sy haar puriteinse lewensbeskouing onderstebo keer deur prikkellektuur. So word die pad reggemaak vir Bettie se eerste romantiese avontuurtjie. Haar wanordelike toutjies het plaas gemaak vir 'n netjiese kapsel en as sy park-toe gaan met die kinders bly die voorskoot tuis. Geen wonder dat sy genade vind in die oë van Gawie Joubert, een van Adeline se leerlinge. Maar die gemaksugtige moeder bewaak haar handige kindermeisie met 'n jaloerse ywer en Bettie moet alweer besef dat standsverskil 'n ondeurdringbare kraalmuur rondom haar trek. Enige vergoeding vind sy egter in die vriendskap van die Joodse dansassistente, Rachel Bernstein, wat haar help om nuwe lugkastele te bou. Maar Adeline laat dié lugkastele meedoënloos omtuimel deur Bettie telkens te herinner aan haar ondergeskikte posisie: ‘'n Meisietjie soos jy....’ En om haar vir goed te verseker van die dienste van die uitstekende kindermeisie, besluit Adeline om Bettie ‘aan te neem’. Bettie se twyfelagtige posisie begin nou egter vir haar 'n knaende kwelling te word en haar blik op die maatskaplike verhoudings is al so skerp dat sy in haar verbittering uitroep: ‘Jy is nie 'n meid en jy is nie 'n dame nie....’ (p. 70). Aan strand (hoofstuk VI) moet sy weer uitvind hoe haar nederige betrekking vir goed alle toegang tot die hoër kringe afsny en al haar romantiese drome verydel. Goed is haar houding teenoor 'n voormalige weeshuisvriendin geteken, wat in 'n minder gunstige omgewing growwe maniere aangeleer het. Ook onder kindermeisies heers daar 'n soort kastegees! Adeline sterk Bettie in haar
hoogmoed, maar uit selfsugtige motiewe maak sy hoegenaamd geen aanstaltes om haar kastige ‘pleegkind’, wat nog altoos net ingeboekte kindermeid is, uit haar weelderige slawerny te verlos nie. Sy paai vir Bettie met vae beloftes en besef niks van die eensame weesmeisie se marteling, wat in haar vertwyfeling uitroep: ‘Maar wat.... wie bly daar dan oor vir my?’ (p. 78) - by haar eie kring mag sy nie aansluit nie en ook uit die hoër kringe word sy onverbiddelik geweer. Die belofte dat die Rademeyers haar eendag verpleegster sal laat word is maar 'n skrale troos. Stand en geleerdheid het sy nie, maar goeie maniere kan sy van haar meesteres afkyk, wat sy dan ook ywerig en met sukses doen.
Nou verskyn op die toneel Adeline se neef, Ben Maritz, 'n kunsskilder, wat jarelank in Europa vertoef het. Hy het 'n ligsinnige geaardheid, maar sy Don-Juan-periode is agter die rug en hy is geneig, veral in die begin, om die vreemdgeworde toestande in sy vaderland, met 'n siniese glimlag te beskou. Uitmuntend verstaan Marie Linde die kuns om sy
| |
| |
verhouding tot Adeline te suggereer. So b.v. vertel die tipiese, afgekapte sinnetjie van Adeline op p. 184: ‘Liewe ou askoek, as hy (haar man) maar net moes weet....’ ons alles wat ons wil weet, al sê dit feitlik niks! Maar ofskoon Ben nog die bekoorlikhede van sy artistieke niggie op wie hy vroeër verlief was met kennersoog waardeer, ontdek sy geoefende skildersblik in Adeline se skamerige kindermeisie al dadelik 'n begeerlike model. Adeline mag wel met opsetlike sorgvuldigheid vir Bettie telkens op die agtergrond skuiwe, Ben vind tog geleentheid om met haar in aanraking te kom - wat aanleiding gee tot 'n reeks pikante toneeltjies. Sat van Europa se oorbeskawing en sy verkunstelde, wêreldwyse nooiens, raak Ben Maritz meteens onder die bekoring van Bettie se onnosele onskuld. Vir hierdie kosmopoliet bestaan daar geen standsverskil nie, en soos 'n outydse herder loop die moderne seun van 'n Afrikaanse veeboer sy liefie storm in die idilliese omgewing van Bosbaai. Op die gemaskerde bal begin die spelletjie, wat voorlopig net lyk na 'n insident in Ben se eindelose reeks flirtasies. Tydens sy verblyf in Adeline se huis behandel hy Bettie koel-beleef, maar die oppervlakkige kunsgebabbel van Adeline se behaagsieke vriendinne versterk net sy bewondering vir Bettie se ongekunstelde eenvoud. Op Bosbaai poseer sy vir hom, en daar ryp die besluit om sy begeerlike modelletjie tot vrou te neem. Bettie is nog altoos 'n geduldige swoeërtjie wat haar afsloof vir Adeline en steeds op die agtergrond bly. Nooit is sy indringerig nie, soos die meeste van haar soort en Ben se snaakse gedrag ontlok haar die bestraffing: ‘Net om ek arm en onaansienlik is, reken jy ek hoef nie gerespekteer te word nie....’ (p. 166).
Ben styg egter dadelik in ons agting deur die onversetlikheid waarmee hy sy besluit om met Bettie te trou teen Adeline en sy ouers en suster verdedig. Tipies is dit van die selfsugtige Adeline, dat sy nie in die eerste plek aan die geluk van die verloofdes dink nie, maar aan ‘die wêreld met sy skinderpraatjies en meedoënlose kritiek’, wat haar posisie as sosaaietie-dame so ongemaklik sal maak! Buitendien speel die feit dat sy 'n eersteklas bediende gaan verloor 'n groot rol in haar afkeuring van Ben se huwelik. Hoe kan ons ook iets anders verwag van hierdie ontaarde moeder, wat selfs as haar eie kinders die masels kry, meer begaan is oor haar mooi stem, as die gesondheid van haar kroos! (p. 66.) Die posisie van haar ingeboekte ‘pleegkind’ was inderdaad nie benydenswaardig nie. Met listige vroue-diplomasie prikkel sy die eergevoel van die naïewe Bettie op so 'n gevoelige wyse, dat sy 'n gelofte aflê om nie met Ben te trou nie, voordat sy ouers vir haar as hulle skoondogter wil ontvang. (p. 197.)
Op heel natuurlike wyse lei hierdie verwikkeling ons tot die tweede gedeelte van die verhaal. Dit is 'n ontwyfelbare verdienste van die skryfster dat sy dit regkry om op so 'n ongemerkte, byna speelse wyse die verhaal
| |
| |
volgens sy eie innerlike motiewe te laat ontwikkel tot 'n logiese ontknoping. Voor die nuwe periode in Bettie se lewe aanvang, volg egter nog 'n opgewekte beskrywing van die vakansie op Welbedacht, waarin die eenvoudige toneeltjie met Pieter (p. 216) ons dadelik tref deur die opregte gevoel wat daarin tot uiting kom. Adeline doen nog haar bes om 'n scène te vermy en gee vir Bettie ‘'n fyn goue kettinkie’, sodat sy haar verloofring om die nek kan dra, en so sterk is haar persoonlike magnetisme op Bettie, dat dié dit nogal met dankbaarheid aanvaar en meteens aan haar wens voldoen! (p. 220.) Dit is deur sulke fyn, egmenslike trekkies dat die skryfster ons telkens 'n diepe insig gee in die motiewe van haar figure.
Ben gaan nou na Mooifontein om sy saak persoonlik by sy ouers te bepleit. Sy vader, 'n ouderwetse veeboer, het maar weinig simpatie met sy eksentrieke seun, wat die familietradisie verbreek het deur met verf te gaan ‘mors’, in plaas van 'n vooruitstrewende boer te word. Die oubaas probeer om deur lawaaierige drifbuie 'n soort skyngesag te handhaaf oor sy vrou en ses-en-dertigjarige dogter, Aletta. Mooi word die verskil in atmosfeer aangedui tussen die outydse deeglikheid op Mooifontein en die mondaine artistisiteit van Adeline se woning. Die Maritze het egter 'n Europese reis agter die rug, en selfs hier het party moderne gewoontes al ingedring, want die vader speel kaart en Aletta rook sigarette, al hou haar moeder nog nie daarvan om 'n meisie wydsbene te sien perdry nie. Dit is die parmantige oujonknooi, Aletta, wat daarin geslaag het om die ouderwetse boere-omgewing op Mooifontein enigsins te vermoderniseer, en sy is dit dan ook wat die verbitterde aanval teen die ‘verlore seun’ lei. As sy egter merk dat haar sorgvuldig voorbereide kampanje teen Ben tot 'n familiebreuk sal lei, verander sy haar taktiek en bedink 'n listige plan, wat toon dat sy nie vir Adeline hoef onder te doen in vroulike diplomasie nie:
‘Ben is net soos ander mans. Werk hom teen en hy sal die wêreld wil onderstebo keer om sy sin te kry. Gee hom sy sin en hy word sommer ontevrede en wil weer iets nuuts hê’ (p. 240). Bettie sal vriendelik uitgenooi word na die plaas, en moet dan deur haar ‘ongeleerdheid’ haar eie vonnis vel. Volgens Aletta se berekening sal sy so afsteek by die ‘vrolike oorlogsweduwee’ Enid Vance, dat Ben vanself tot ander gedagtes sal kom.
Met die handleiding How to behave in society onder in haar koffer weggepak, kom Bettie aan in die kil-kritiese kring op Mooifontein. Haar natuurlike beskroomdheid slaan nou oor in lompheid en sy kan skaars ja en nee sê. Op knappe wyse word haar onbeholpe verleentheid geteken, wat telkens vererger word deur venynige steke van Aletta. Laasgenoemde lê haar daarop toe vanaf die eerste oomblik op die stasie om Bettie klein te laat voel deur haar in ongemaklike situasies te dwing. Met 'n duiwel- | |
| |
agtige leedvermaak sien sy hoe Bettie verward raak in die kunstig gespinde striknet. Maar Bettie se skamerige agterhoudendheid verteder juis die hart van Ben se vader, wat 'n astrante armblanke verwag het. Die oubaas, wat telkens na die hoek van die kraal gedryf word deur sy kyfagtige huisvrou en dogter, vind Bettie se gedweeheid 'n aanbiddelike eienskap! As hy in die nood is oor 'n paar tabakkrummels, wat op die blink-gevryfde vloer geval het, vind Bettie dadelik 'n oplossing (p. 261). Dat sy deur so 'n diensbode-handigheidjie die oubaas se hart win, is weer een van dié menskundige trekke wat ons dwarsdeur die boek verras.
Deur Aletta se selfsug moet die ongeoefende Bettie op 'n vurige perd ry, met die gevolg dat sy 'n ernstige ongeluk kry, wat byna tot lewenslange verlamming lei. Hierdie verwikkeling, wat maklik tot sentimentele romantiekerigheid kon gelei het, voer die verhaal tot 'n klimaks. Ben se liefde, wat eers oppervlakkig-sinlik was, groei nou tot 'n diepe gevoel, en na 'n innerlike stryd besluit hy om met Bettie te trou, juis op die tydstip waarop daar alle kans bestaan, dat sy òf gou sal sterf, òf lewenslang vermink sal bly. Die berouvolle Aletta doen nog wel 'n laaste poging om die huwelik te verhinder, maar haar verset eindig in bewondering vir Ben se selfopoffering.
Gedurende Bettie se langdurige siekte word die belangstelling gaande gehou deur die liefdesverhouding tussen Enid Vance en die dokter, waarby Aletta op potsierlike wyse derdemannetjie speel. Haar histeriese woede by die ontnugtering na 'n soete illusie het enigsins karikatuuragtig geword. In baie opsigte egter, is die tekening van hierdie twissieke oujonknooi wat haar lewe in 'n doellose verveling slyt uitstekend geslaag.
Teen die end van die verhaal word Adeline se houding meer simpatiek. Sy het haar leer skik in die onvermydelike en word enigsins getroos deur die feit dat Bettie se opvolgster nie so danig sleg is nie! Sy kan dus haar onbekommerde plesierlewe voortsit en verder droom oor haar kanse om tog nog operasangeres te word. Haar skoonmoeder is een van die besgeslaagde byfigure. Mev. Rademeyer is 'n dame van die ou stempel, en as sy kom kuier op Oldenburg moet almal fyn in hul spore trap. Sy hou self gereeld die huisgodsdiens. By die opvoering van Faust hoop sy dat die gehoor 'n les sal leer van Mefisto, wat sy rol voortreflik speel. Sy veroordeel Bettie se lugtige danskostuum en oor die Eggo-standbeeldjie in Adeline se voorkamer sê sy: ‘Om van niks anders te praat nie, my kind, ek kry tog so koud vir die arme skepsel haar part’ (p. 179). Deur sulke toneeltjies word die botsing tussen ouderwetse en moderne opvattings goed aangedui.
By al die voortreflike eienskappe waarop in voorgaande gewys is, laat die roman as geheel beskou, ons tog onbevredig. Dit lyk of die skryfster
| |
| |
uitgegaan het van die stelling dat 'n mooi meisie met 'n volmaakte figuurtjie en skamerige houdinkies niks anders nodig het om 'n voortreflike eggenoot te verower nie. Bettie mag, na die uiterlike, 'n radikale verandering ondergaan tydens haar verblyf by die ‘bevoorregte mense’. In die begin is sy 'n bedeesde, onaantreklike takhaartjie, aan die end 'n verfynde modepoppie, wat met 'n bietjie meer oefening, ook wel sonder 'n handleiding oor beskaafde maniere, 'n goeie figuur sal slaan in die hoogste kringe. Maar, na die innerlik beoordeel, is sy nog 'n onbeskaafde nonentiteit, wat selfs deur haar liefde vir Ben, weinig sielekrag ontwikkel. In die begin word haar gewaarwordings met fyn-vroulike intuïsie aangevoel, maar deur gebrek aan lewenservaring waarskynlik, slaag Marie Linde nie daarin om haar te laat ryp tot 'n persoonlikheid, wat ons op die duur kan interesseer nie. Sy word gered uit 'n minderwaardige posisie, nie deur haar eie opwaartsbeurende lewenskragte nie, maar deur die toevallige bevlieging van 'n eks-Don-Juan, wat selfs tydens sy kort verlowing al af en toe ongeduldig word oor haar naïwiteit. Onwaarskynlik is die geval natuurlik nie - Ben se liefde word selfs op menskundige wyse gemotiveer - maar die oppervlakkige uitbeelding van 'n modepoppie se liefdes-avontuur in die tweede gedeelte van die roman mis dié diepte van gevoel, wat Ampie tot 'n simboliese verteenwoordiger van die armblanke seun maak. Bettie is net 'n gelukkige weeskind, 'n uitsonderingsfiguur, wat geensins die waarheid van bogenoemde stelling bewys nie, en alleen die eerste fase van haar ontwikkeling vorm 'n bydrae tot die psigologie van die armblanke meisie. Ampie wou ook bo sy stand vlieg toe hy met Hester Staander probeer opsit. Maar wat 'n fyndeurvoelde uitbeelding gee Van Bruggen ons nie van sy liefdesontroering en hoeveel juister is dit nie om hom ná die vermoeienis van vergeefse pogings sy eie
grense te leer ken en daarbinne na die bevryding te soek. Wat is Bettie se liefde anders as 'n bietjie sinnelikheid? Dit word nie 'n veredelende lewenskrag wat in vervulling opgaan nie, dit word nie omgesit in innerlike rykdom nie. Sy bly 'n beminlik-onnosele poppie, wat nooit tot volle vroulikheid ontwikkel nie. Sy kan alleen bekoor deur aangeleerde uiterlikheidjies, sy bly innerlik arm, en die verlossing uit haar knegskap sal haar alleen singenot baar.
Dit is natuurlik onbillik om soveel diepdeurvoelde menslikheid te eis in die eerstelingswerk van 'n jeugdige skryfster. Maar sy het daarin soveel blyke gegee van psigologiese insig en fyn opmerkingsgawe, dat ons na hierdie naïewe Bettie, wat deur 'n gelukslag haar droom verwerklik sien, nog 'n ander Bettie kan verwag, wat deur die ontplooiing van haar geestelike geaardheid tot 'n meer volledige vroulikheid sal ontwikkel. Ook in Marie Linde se styl ontbreek nog die ritme van opregte bewoënheid. Dit is wel vlot en deurgaans suiwer, maar tref nooit deur persoonlike segging nie. Wat die skryfster egter goed verstaan is die slag om deur
| |
| |
'n natuurlike opvolging van vlugtige toneeltjies haar persone steeds in beweging te hou en om hulle deur 'n ratse dialoog steeds 'n nuwe kant van hul innerlik te laat openbaar.
| |
Bettie Maritz (1930).
Die verdere ontplooiing van Bettie se persoonlikheid is teleurstellend. Die ‘skatlike Susel’ verveel selfs haar man, omdat sy ‘so kleurloos en alledaags is wat die innerlike betref’. Daarom vlug hy 'n paar maande weg na Europa, waar Adeline na die dood van haar man, optree as operasangeres. Intussen daag 'n ryk oom op uit Argentinië, wat Bettie volledige besonderhede verskaf omtrent haar duistere afkoms. Die skryfster se kragte faal as sy die krisis moet uitbeeld wat ontstaan as gevolg van Bettie se ontdekking dat sy kleurlingbloed in haar are het. Die verdere uitborduring van die rusielewe van die Maritz-familie, die ervarings van die prikkelbare Aletta en die oppervlakkige praatjies van Bettie se vriendinne interesseer ons maar matig.
| |
Dina en Lalie (1927).
Ook uit hierdie roman blyk Marie Linde se onmag om 'n sielkundige krisis uit te beeld. Die tweelingsusters raak verliefd op dieselfde man. Lalie breek die verhouding af uit pligsgevoel teenoor haar man, maar Dina, wat dr. Le Grange slegs eenmaal uit die verte gesien het, kry sulke romantiese bevliegings, dat sy hom agternasit tot in 'n verre uithoek van Suidwes. Daar val sy dadelik in sy arms omdat hy meen dat dit Lalie is! Die bedrog lei natuurlik tot verwikkelinge veral na die dood van Lalie se man, maar alles kom tog weer reg tussen die tweelinge, en ook dr. Le Grange se swaarmoedigheid verdwyn. Dis wel 'n oulike plan om die hele driehoeksgeskiedenis op te los deur susters wat so eners is dat hul maklik omgeruil kan word!
Die mensbeelding bly oppervlakkig. Lalie se onaantreklike eggenoot is eenvoudig 'n karikatuur, en van Le Grange weet ons so goed as niks. Die verhouding tussen die tweelinge is dikwels met talent geteken, ofskoon Lalie se gedrag na Jasper se dood onoortuigend is.
Die beste gedeelte van die roman is die skildering van Brakvlei se skinderlustige gemeenskap en die reaksie van die konserwatiewe inwoners op Dina se moderne begrippe. Die verteltrant is vlot, en die gemak waarmee die skryfster hele reekse toneeltjies inmekaar sit sal die leser, wat alleen na ontspanning soek, bekoor. Wie egter meer verwag sal bedroë uitkom, want Marie Linde se breeduitgesponne dialoog laat 'n mens partymaal voel of jy 'n week aaneen sit en luister het na die geklets van die dames op 'n Brakvleise teepartytjie!
| |
| |
| |
Kortverhale.
Die meeste van hierdie verhale het in Die Huisgenoot verskyn, en die titel van haar jongste bundel, Knap Kêrels en Mooi Nooiens, herinner ons aan 'n polemiek wat in 1935 gevoer is oor die sogenaamde swaarmoedigheid van ons skrywers. Die algemene publiek, wat in sy leesstof meestal slegs na verstrooiing en gesellige afleiding soek, het begin protesteer teen die tallose verhale waarin armblankes, swoegende dagloners, Hottentotte, ens. opgetree het. Daar is tog al soveel narigheid in die ou lewe dat hul liewer die teleurstellende werklikheid wou ontvlug in 'n wêreld van verbeelding. Sat van die Ampies en Annekies, van Antonie Reys en ou-Datie, moeg selfs vir Oom Bart se klugtige manewales, het hul verlang na verhale oor spoggerige mense uit die deftige kringe, waardeur hul dan ook kon verlos word van die nagmerrie van minderwaardigheid.
Dis interessant om na te gaan hoe Marie Linde al sedert 1926 gesellige ontspanningslektuur verskaf het vir hierdie deel van ons publiek. Bettie was nou wel 'n eenvoudige weeskind, maar sodra sy onder die ‘bevoorregte mense’ kom, ontwikkel sy tot 'n regte modepoppie. Sy beweeg in die hoogste kringe, waar gesprekke oor kuns en letterkunde in 'n atmosfeer van sorgelose weelde aan die orde van die dag is.
Ook in haar kortverhale toon Marie Linde 'n besliste voorkeur vir mense uit die gegoede stand, wat af en toe kan ontsnap uit die verveling van die daaglikse sleurlewe en deur 'n buitelandse reis hul smagtende verlange na 'n bietjie romantiek kan bevredig. So ontmoet ons, onder andere, ‘'n kinderlik-kinderagtige oujongnooi’ wat £180,000 trek in 'n lotery, en 'n konvensionele onderwyseressie wat met 'n gerieflike erfenissie 'n avontuurtjie met 'n gigolo in Nizza beleef. 'n Kollega van haar reis met 'n skatryk sakeman na Europa om toesig te hou oor sy wilderige dogter. Sy kry die onvermydelike hartkloppings, terwyl die dogter met haar ‘rooigetinte toonnaels’ wegloop met 'n getroude Oostenrykse ski-breier en in 'n vliegtuigongeluk saam met haar minnaar verbrand.
Verder kan ek nog noem die nooi met ‘'n blomagtige’ gesiggie, wat moet kies tussen 'n lafhartige professor en 'n onbeskaafde boer; 'n ander wat ontvoer word deur die handlangers van 'n ‘romantiese soort vabond’; 'n oujongnooi wat deur 'n kat in aanraking kom met 'n vrygesel, en 'n ander wat deur 'n toevallige telefoonoproep verlos word van 'n ou vlam.
Alledaagse voorvalletjies uit die stadslewe verskaf Marie Linde dikwels 'n geleentheid om haar knap kêrels en mooi nooiens in aanraking met mekaar te bring. Helmien raak onder die betowering van 'n gemaskerde sanger, wat in 'n kafee optree, maar vind later uit dat hy 'n gewone winkelklerk is. In 'n ander kafee word 'n koppie koffie uitgestort op die
| |
| |
rok van 'n modepoppie, en op 'n trem verniel 'n vonkie uit die kêrel se pyp die sykous van 'n vurige nooi. Uit sulke insidentjies ontstaan allerlei verwikkelinge, wat dikwels met 'n heel onverwagte slot afgerond word.
Soos in haar romans openbaar Marie Linde ook in haar kortverhale 'n besondere voorliefde vir onderwerpe waarin sy 'n geleentheid kry om lug te gee aan haar menings oor kuns. 'n Resensent ontmoet sy slagoffer toevallig in die trein en hou 'n lewendige diskussie met haar oor die kwessie van ‘swartgallige’ kuns en romantiekerige ontspanningslektuur om uiteindelik sterk onder die bekoring van haar aantreklike vroulikheid te raak (Duiker en Seemeeu). So behaal Hilda van Woude 'n maklike oorwinning oor haar ‘allerongenadigste kritikus’ sonder om nou juis die kern van die vraagstuk aan te raak. In al haar bundels kan 'n mens verhale aantref wat op kunsmotiewe gebaseer is, en haar karakters gesels met groot gemak oor letterkunde, musiek, beeldhoukuns, oudhede, ens.
'n Ander terrein waarop sy graag beweeg is die bo-natuurlike. Hierdie verhale behoort, myns insiens, nie tot haar beste nie, want sy slaag selde of ooit daarin om 'n werklik beklemmende atmosfeer te skep, omdat haar middele so deursigtig is. Haar spoke is meestal goedgeaard en welgemanierd, en die geheimsinnige elemente bly nie voortspook in ons herinnering nie.
Marie Linde kan met die grootste gemak 'n pikante voorvalletjie skilder; sy het 'n wakker waarnemingsvermoë wat haar in staat stel om die verhouding tussen haar persone op ongesogte wyse te belig. Met die vaardigheid van die geoefende joernalis tref sy al die nodige skikkings vir 'n indrukwekkende klimaks en 'n bevredigende ontknoping. Maar hierdie knap kêrels en mooi nooiens, wat met soveel grasie deur die lewe beweeg en so oulik kan gesels, of soveel buitengewone psigiese ervarings opdoen, het eintlik geen siel nie. Daar is geen ritme van ontroering in Marie Linde se styl nie; sy amuseer ons eenvoudig met 'n klompie dames en here aan wie sy ons vlugtig voorstel. Hul ervarings word wel vlot en lewendig vertel, maar ons glo nooit onvoorwaardelik dat hul werklik bestaan nie. Sy kan geen figure skep, so intensief van beeldende krag, dat hul ná die lesing nog wekelank met groot helderheid en skerp omlynde suggestie in ons herinnering bly voortlewe nie. 'n Mens kry die gevoel dat jy 'n modeparade bygewoon het waar ‘uitgedoste juffertjies’ met 'n ‘bevallige, lome grasie.... verbygesweef het in hul voorjaarstabberdjies, met hul bypassende sambreeltjies en handtassies.’ (Modeparade).
As skryfster van ligte ontspanningslektuur het Marie Linde egter baie verdienstelike verhale gelewer vir mense wat dit nodig vind ‘om deur middel van 'n mooi boek so 'n bietjie weg te kom van die moeilikhede en verdriet en teleurstellings van die ou lewe’. Niemand sal die bestaansreg van hierdie soort lektuur betwis nie, en omdat ons nog so heel weinig daarvan in Afrikaans besit, moet ons Marie Linde se bydrae dankbaar aanvaar. |
|