Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging
(1939)–P.C. Schoonees– Auteursrecht onbekend§ 7. Everard FichardtGa naar voetnoot1) († 1925).Onder die Olyfboom (1922).‘Een van die vernaamste spelekies van die lewe, is vir die man om 'n vrou te vang, en vir die vrou om 'n man te vang. Dié spel verstaan hulle ook goed, net die kuns om mekaar te hou, kan hulle nog biekie leer’ (p. 213). Dit is die tema van Everard Fichardt se roman. Ewert | |
[pagina 257]
| |
en Fanie wil albei vir Lydia ‘vang’, maar Fanie en sy suster Nita leer eersgenoemde dat die groot kuns eintlik is ‘om mekaar te hou’ - na die vangery. Ewert is filosofies aangeleg: hy is ‘op die ou deurmekaar ingewikkelde wêreld, nie om die lewe te geniet nie, maar om die lewe te ontleed’ (p. 10). Sy ontleding van die huwelike van sy vriende het hom tot die gevolgtrekking laat kom, dat alles op 'n ‘sieldodende dwarstrekkery, of in party gevalle, nog iets erger’ uitloop. Maar sy maat Ferdinand troon die alles analiserende skrywer mee na die plaas Rusfontein, en die besoek geval hom so goed dat hy dit gou herhaal. Op weg na die plaas verdwaal hy, om onder die olyfboom vir Lydia raak te loop. Die resultaat is 'n gedaanteverwisseling: die kalm-wetenskaplike navorser kniel in aanbidding voor die vroulike skoonheid! Fanie Fourie, met sy lugtige lewensopvatting, sy liefde vir Wyntjie en Tryntjie en sy opportunistiese moraal is die teëvoeter en mededinger van die ernstige Ewert. Lydia neem 'n afwagtende houding aan en besluit om haar ‘koppie te verdedig’ teenoor die twee, maar Fanie storm al, terwyl Ewert nog sorgvuldige omsingelingsplanne beraam. Ewert win, maar na 'n paar gelukkige huweliksjare veroorsaak sy verhouding tot Nita, wat intussen tikster op sy kantoor geword het, verdriet, agterdog en verwydering. Op 'n dansparty slaan Fanie sy slag, laat Lydia wyn drink en voer haar in sy motor na sy plaas. Wanneer sy tot besinning kom, vlug sy te voet na haar ouers, en onder die olyfboom vind die hereniging van die afgedwaalde eggenote plaas. 'n Doodgewone storie dus, wat ons elke week in die koerant kan lees. Maar Fichardt besit ongetwyfeld die gawe om die hele geval vir ons te laat lewe. Hy bly nie by die oppervlakte, skets nie net die uiterlike gebeurtenisse nie, maar dring ook deur tot die sielelewe van sy karakters. Dit gebeur dikwels nog op 'n onbeholpe wyse. Telkens is daar abrupte oorgange, wat die geleidelik voortskrydende handeling onderbreek; die paar sterretjies wat die geluk van die ongeluk skei in die teks laat ons onbevredig, laat ons voel dat ons die innerlik van die mense nog maar gedeeltelik ken. Aan die ander kant slaag die skrywer daar soms uitstekend in om deur 'n klein voorvalletjie, of 'n handige dialoog ons 'n goeie kyk op die verborge roersels van die mensehart te gee. Na haar vernedering sit Lydia en peins oor die verlede, die hede en die toekoms. Haar oog val op haar dansrok, die tasbare herinnering aan haar skande, en met 'n impulsiewe beweging skeur sy dit fyn en flenters. Ou Sara en Adoons, wat albei goed geteken is, help ons om hul base te verstaan. So laat die skrywer dikwels deur 'n handige groepering die een toneel die ander belig. Die politieke episodes, - want Ferdinand en Fanie opponeer mekaar by twee verkiesings - verbreek die eenheid van die hoofmotief, ofskoon ons Fanie daardeur beter leer ken en ook 'n interessante beskrywing kry van die ervarings van 'n jong Volksraadslid. | |
[pagina 258]
| |
Oor die algemeen is die sielkundige uitbeelding goed geslaag, ofskoon ons somtyds voel dat die karakters nie volgens hul innerlike wese handel nie. Die sielkundige bolmakiesie van Ewert in die begin word deur niks voorberei nie. Die skrywer laat ons nie voel dat dit 'n noodwendige gevolg van die man se eienskappe is en nie 'n handige toneelset nie. Die eerste aanblik van Lydia veroorsaak by Ewert 'n ‘omwenteling’ (p. 42), hy word ‘in 'n kitsie morsdood gegooi’, ‘smoorverlief’. Maar die skrywer spreek homself teë, want eers op p. 127 het ‘hulle vriendskap die interessante, alhoewel gevaarlike punt bereik, waar dit nie meer kon stilstaan nie....’ Dié geleidelike ontplooiing van Ewert se gevoel, wat dan ook taamlik goed geteken word, is seker sielkundig baie juister as die onwaarskynlike omtowering. Ewert is iemand wat alles ontleed, en sy karakter bevat seker outobiografiese elemente. Mens sou dus verwag dat die skrywer meer as genoeg geleentheid het om alles te sê wat hy wil. Maar die wysgerige gees vaar telkens in die skrywer self; dan druk Everard vir Ewert skoon opsy en dreun hy lustig sy teorieë oor liefde, die huwelik, ens. op. ‘Staan bietjie eenkant-toe. Ons wil Ewert en Lydia sien!’ kan ons die skrywer toeroep. Selfs waar hy, soos op p. 208-215, met 'n paar klein veranderings die hele inhoud as Ewert se oorpeinsings kon weergegee het, verkies hy die regstreekse betoog tot die leser. Fichardt het ernstig nagedink oor die vraagstukke van die lewe, en veral oor die huwelik en die liefde. Hy kom tot die gevolgtrekking: ‘Daar is geen gulden kortpad tot duursame geluk’ (p. 126). Tog droom hy van geluksalighede wat ons na 'n eeuelange ewolusieproses sal bereik: ‘ons moet maar net geduldig wees, verdraagsaam, tevrede wees om ieder sy nietige diensie aan die groot gemeenskaplike belang te leen, hier en daar ook 'n stukkie plesier gryp....’ (p. 142). Deur die hele boek loop ons telkens uitsprake raak, wat van juiste sielkundige insig en oorspronklikheid getuig, al staan dit ook heeltemal los van die verhaal. Uit sy beskouings kan ons alweer duidelik sien, dat die patriargale tydperk ook vir Suid-Afrika verby is; dat die allermodernste opvattings elke dag meer en meer gemeengoed word vir ons volk. ‘Die rede van ons bestaan is ook ons hoogste doel, die verstandige voortplanting en onophoudelike verbetering van die ras op hierdie klein aardbol van ons’ (p. 215). In Fichardt se opvatting van die liefde oorheers hierdie gedagte. 'n ‘Ledige doellose vriendskap’ moet verheerlik word ‘tot 'n voller vrugbaarder verhouding’ (p. 128). Hy waarsku die ‘liewe dogterkies’ teen die ‘minsieke seuns’, wat ‘rondswerwende of tembare roofdiere’ is, ofskoon hulle hul ‘bes doen om hulle barbaarse oorsprong te bedek met 'n dunne laag van vervlakte beskawing’! (p. 132-3). Lydia word geteken as 'n ongekunstelde natuurkind, en ons word vertel dat sy ‘'n dinkbeeld gevorm (het) van 'n ideale maat om | |
[pagina 259]
| |
mee te paar en die besonder soort voort te plant....’! (p. 115). Hier verlei die oorheersende gedagte van die geslagsdrif die skrywer tot 'n uitbeelding wat, om die minste te sê, twyfelagtig is. Dit is 'n gedagte wat ons eerder van die filosofiese Ewert sou verwag. Dit is jammer dat 'n skrywer wat ongetwyfeld die gawe besit om ons in aanraking te bring met werklik lewende persoonlikhede, sy taal so weinig beheers. Hy het wel 'n oorspronklike manier van segging, maar die algemene argitektuur van sy styl is lomp en ordeloos; die sinne kan maar staan of lê soos hul wil en die klank van sy ongeordende woordreekse is dié van 'n klomp klippies in 'n kondensblik. Luister maar: ‘Sy het al opgemerk dat hy biekie lief was om hom biekie fyn te vat, as hy dié dag met een van sy baie beste nooiens in die blinkende motor wil ry, maar vir hom om nou vir haar te kom raadpleeg oor so'n allergewigtige kwessie was vir haar selfs van hom iets onverwags’ (p. 59). ‘Ja, dis hom, besluit sy, en sy glimlag effenkies by die gedagte dat, vir die grap, sal sy haar, vir die oomblik nog nie aan hom bekend maak nie’ (bl. 44). Naas sulke wanklanke word ons af en toe verras deur 'n brokkie mooi beskrywing, soos die volgende: ‘Doringstad gaan nou weer sy eie oue rusvolle tydsame gang. Een stofwolkie na die ander word van die verbleekte sanderige straat opgevee van die een plek naar die ander, deur die warme windkies, op doellose dromende wyse....’ (p. 118). Tot die hinderlikste taalenormiteite van die skrywer behoort sy snaakse verbuiging van die adjektief, b.v. ‘die klein rustig spoorweghalt; die skelmpies ondeund lewendigheid; die teenstrydige ernstig deelnemend besorgdheid; in ongekunstel naggewaad’, ens. Oor die sonderlinge woordskikking, die anglisismes, vorme soos versog en werd, asook ander rariteite, kan hier nie uitgewei word nie. Volledigheidshalwe kan hier nog vermeld word dat die skrywer 'n eie spelling gebruik. Dit is 'n onwetenskaplike stelsel, waarin ek geen leidende beginsels kan ontdek nie. As curiosa kan die volgende dien: kaikies, poikies, hoinkie, preinkie, rainkie, spielkie, kinkie, sistog. Uit 'n taalkundige oogpunt is die spelling seker die mins hinderlike element in die roman. |
|