Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging
(1939)–P.C. Schoonees– Auteursrecht onbekend§ 6. Dr. J.R.L. van Bruggen.Hierdie skrywer, wat soms die skuilnaam Kleinjan gebruik, is 'n broer van Jochem van Bruggen. Hy is in 1895 in Johannesburg gebore. Nadat hy in 1919 die graad M.A. in Hollands aan die T.U.K. behaal het, studeer hy filosofie en pedagogie aan die Gemeentelike Universiteit, Amsterdam, waar hy in 1922 promoveer op 'n proefskrif Lektuurvoorsiening vir Kinders en Jeugdige Persone. 'n Bloemlesing uit sy bundel jeugverse (Lentestemme, 1919) het hy opgeneem in 'n nuwe versameling, Gedigte (1925). In die uitgawe Inleiding tot die Studie van Letterkunde (1925) deur Schoonees - Van Bruggen het Kleinjan die tegniese beginsels van die verskuns op voortreflike wyse uiteengesit en partymaal ook 'n openhartige kykie in sy eie literêre werkwinkel gegee. In 1922 het van hom verskyn 'n sielkundige roman Japie, wat hy as twintigjarige student op T.U.K. geskrywe het. In Amsterdam het hy dit hersien, en daar is ook die meeste oortollige etiese en sielkundige bespieëlinge ingelas, wat hy hoop om by 'n volgende druk te verwyder. Lentestemme en Japie beskou Van Bruggen self albei as ‘skoolgaanwerk’. Om die werke in die regte perspektief te beskou is die volgende meedeling van die skrywer ook van belang: ‘As bloedrooi Engelsmannetjie het ek op agtienjarige leeftyd die “King Edward VII School” verlaat. Voor dié tyd het ek nooit enige aanleg in watter vorm ook al vir letterkunde gehad nie. Dit was eers teen die einde van my negentiende jaar dat ek my van soiets as 'n Afrikaanse Taalbeweging bewus geword 't.’ Van Bruggen was enige jare assistent aan die Helpmekaar-Hoërskool, | |
[pagina 251]
| |
Johannesburg, en sedert 1927 is hy dosent aan die Potchefstroomse Normaalskool. Van hom het ook nog verskyn: Bittereinders (1935) 'n roman; Gebroke Drade (1935) 'n toneelstuk; Môrestond (1936) 'n bundel gedigte, en Wraak (1938), 'n bundel kortverhale. | |
Japie (1922).Jan van Bruggen was een van die eerste Afrikaanse romanskrywers wat die tradisie van die heroïes-romantiese verhaal uit die vryheidsoorloë laat vaar het en op besliste wyse koers vat na die moderne roman. Tot omstreeks 1922 is dit veral die radikale teenstellings, liefde en haat, deug en ondeug, lafhartigheid en moed, ens. wat beliggaam word in onveranderlike tipes. Hierdie elementêre volksiel self, sal steeds die groot massa bekoor deur 'n knap intrige-knoop en deur sensasionele lotswisselinge. Dieselfde onsterflike tipes bokspring lustig deur die lewe op die rolprente van ons moderne bioskoop en sal wel altoos 'n dankbare publiek vind. Die mens met sy daaglikse sorge en plesiertjies, en geen ander besit as sy menslike hart onder sy werksbaadjie nie is 'n volkome onbelangwekkende verskyning vir diegene, wat deur innerlike armoede en leegte die hoogtes en dieptes van die daaglikse lewe nie kan besef nie. Dat Jan van Bruggen een van die eerstes was om af te wyk van die vaderlandse bioskoop-roman deur al sy aandag te konsentreer op die sielsgeskiedenis van 'n mens - dit is 'n feit wat Japie betekenis gee in die ontwikkelingslyn van die Afrikaanse romankuns.Ga naar voetnoot1) Japie, 'n weeskind met horrelvoete, word grootgemaak deur oom Gert en tant Sarie, wat geen raad weet met die wonderlike seun nie. Japie het 'n uiters sensitiewe, 'n dromerig-melankoliese geaardheid en 'n artistieke aanleg. Van enkele voorvalle uit sy jeug gee die skrywer 'n mooi, plastiese uitbeelding. Tot die beste gedeeltes van die roman behoort die tobbery van die seun oor sy gebreklike toestand, en oor die gemis van sy ouers. Die eerste periode op die plaas is ‘die saaityd van Japie se skoonheidsgevoel’ (p. 14). ‘Die natuur was vir hom net 'n heerlike droomland, vol soet en strelende geluide, waar sy kinderfantasie onbelemmer kon bou die lugkastele van die jeug.’ Daarop volg die puberteitsperiode, waarin ‘die misterie van (die) sekse tot lewende werking’ kom. Mooi geteken is die ontwaking van sy kalwerliefde vir Koba Groenewald. Op sy negentiende jaar kry Japie ‘aanvalle van wêreldsiekte’ (p. 29). Dit is die Storm-en-Drang-periode, waarin hy met godsdienstige twyfel worstel en weier om te loop op ‘die nou paadjies van sy ouers’. Japie beleef sy ‘swarte tyd’. Hy neem sy toevlug tot die natuur, en op koppiealleen peins hy, meer soos 'n geskoolde psigoloog as 'n begaafde plaasseun, oor die raaisels van die heelal. Dikwels skryf Van Bruggen eenvoudig | |
[pagina 252]
| |
sy eie gevoelens as stadskind of as universiteitstudent aan Japie toe, en die gevolg is dat die skildering van die plaasatmosfeer en die karakterontwikkeling onoortuigend word. Van Bruggen is nog te veel met sy eie innerlik besig om 'n objektiewe uitbeelding van Japie te gee en daarby sukkel hy telkens met onverteerde wysgerige formules wat hom by elke draai belemmer. Japie kom tot die gevolgtrekking dat hy moet uitspring dorp-toe om werk te soek. In die Uniegebou word hy siviele amptenaar en in die Pretoriaanse samelewing ontwikkel sy vrindskap vir Piet Joubert en sy liefde vir Nellie Muller wat met groot innigheid geskilder word. Hy sien ‘die misterie van skoonheid.... in die wese van 'n vrou’ (p. 48). Hy maak ook kennis met die oppervlakkige babbelpraatjies van sy stadmaters met hul ligsinnige lewensbeskouing en leer o.a. hoe om ‘diplomaties te lieg’ (p. 56). In die skildering van die stad se geselskapslewe is veral goed geslaag die figuur van Maggie van der Walt, die sangeres van sentimentele ‘love songs’, wat altoos verkoue is as sy moet sing. ‘Daar kielie iets in Japie! Die inkonsekwensie van die smekend-sentimentele houding, die linker-toon wat net die grond raak, die vingers inmekaar gestrengel, en gedruk teen 'n hart wat seker baie seer kry, op die beste manier van professionele sangers, en die oë so nou en dan smagtend na die blafon gegooi, asof dit haar “lover” se aardse hemel moet wees - en dan die harde metaalstem wat sy oorvlies seer maak, en hom naderhand heeltemal ontsenu’ (p. 54). Wanneer Nellie Muller aan die griep sterf, verloor Japie sy ideale en hy lê hul ‘as 'n verlepte skoonheidskrans op haar graf’. Hy word 'n sinikus, 'n wêreldveragter en wêreldhater. In Johannesburg ontmoet hy 'n ou bekende, wat hom sy smart leer vergeet in kantiene en op die reisiesbaan. Maar die melodie van een van Nellie se liedere, wat hy toevallig in 'n kafee hoor, bring hom tot besinning. Hy raak wel nog 'n slag verlore in die brasserye van die goudstad, maar die liefde van Cecily Morgan en die invloed van Piet Joubert bewerk uiteindelik 'n volkome regenerasie. Met 'n vriend gaan hy na Europa om verder te studeer. In Japie kry ons dus die karakterontwikkeling van 'n uitsonderingsfiguur. Daar is geen spannende avonture, geen lawaai-insidente nie. Dit is net die geskiedenis van die ontwikkeling van 'n begaafde seun, sy stryd met die lewe, sy ondergang en uiteindelike regenerasie. Die vernaamste psigologiese momente het die skrywer plasties uitgebeeld en sy beskrywing van die verskillende krisisse in Japie se lewe getuig van 'n diep indringingsvermoë. Van Bruggen het Japie se stemminge self deurleef en dikwels word ons getref deur die innige, intieme toon waarop hy dit weergee. Maar ongelukkig is hy ook telkens die wetenskaplik opgeleide filosoof, wat swaarwigtig redeneer oor Japie se gevoelens, i.p.v. dit uit te beeld. As die skrywer sy vernuftige sielkundige uitpluiserye vervang het deur | |
[pagina 253]
| |
meer psigologie-in-aksie, dan sou die tekening van Japie meer lewe gekry het. Wat my geweldig hinder in die roman is die geleerde sielkundige verhandelinge, soos o.a. die eerste helfte van Hoofstuk XI en die uitleg van drome op p. 141. Dit is dinge wat in 'n psigologiese handboek tuishoort en allermins pas in 'n roman. Op p. 122 stip die skrywer 'n punt aan op sy ‘wetenskaplike kaart van die mensdom’. Ek kry die indruk, dat hy vir Japie se hele lewe so 'n kaart gemaak het en dat hy vir die vernaamste punte op die kaart met noulettende sorg sy gegewens uit wetenskaplike handboeke byeengesnuffel het. (Vgl. ook b.v. die ‘liefdeskaart’ op p. 71.) Die psigologiese analise van Van Bruggen is deurspek met handboek-terminologie; dit is eksak-wetenskaplik, terwyl dit by groot kunstenaars gladnie 'n saak van vakkennis, maar wel van artistieke intuïsie is. Japie kon maklik 'n dorre, sielkundige skema geword het, maar gelukkig het die warm-menslike gevoel van die skrywer telkens gerebelleer teen die betogende, onderwysende vakfilosoof. Van Bruggen het dit self gevoel, waar hy sê: ‘Laat die psiegoanalitikus vroetel in 'n mensesiel om fantastiese Oedipus-komplekse op te grou, en die psigiater sy patologiese prognose stel - ons wil die tyd deurdrawwe’ (p. 123). Op ander plekke is hy nie so bang vir realistiese tekening nie; ons hoor van 'n lywige dame wat ‘uit die kamer verdwyn met 'n bewuste joep van haar gepantserde lyf, en Japie dink vaag of daar altemit nie iets uit die haak is met haar wapenrusting nie’ (p. 57). Van Bruggen se styl het 'n individuele klank, hy soek na die juiste, tekenende woord en verras ons telkens met digterlike uitbeelding soos die volgende: ‘waar windgekerfde berge 'n ylblou damwal gooi’ (p. 30). Mooi is ook die beskrywing van die see (p. 144 vlg.), waarin ek naklanke van Jan Celliers se Strand-Indrukke hoor. By 'n skrywer wat so goed tuis is in die moderne letterkunde verwag ons nie sulke outydse, vals beeldspraak, soos die volgende: ‘in sy hart het iets gebrand, soos 'n gloeiende stuk yster’ (p. 14); ‘oë, waar heel haar reine kinderhart in trane van simpatie geswem het’ (p. 19), ens. Japie se hart moet wel 'n oseaan wees, want tot vervelens toe skeur daar 'n golf van smart of van emosie uit los: ‘Dis of 'n oorswalpende golf van emosie uit sy hart bars en styg na sy kop in 'n chaos van pyn....’ (p. 75). Gelukkig het in die pynlike golfgevaarte 'n stem geklop ‘met vreeslike klem en hom sy bewende lippe laat toesnoer’ - anders was die gevolge seker noodlottig! (Vgl. p. 66, 73, 83, 101, ens., ens.) Van Bruggen se mense ly ook deurgaans aan 'n abnormale bloedsomloop. Reeds op p. 22 lees ons: ‘hoewel sy bloed na haar gedors het, en so vinnig-vinnig deur sy are pomp.’ Drie blaaie verder: ‘Oop gaan die poorte van die seun se hart, en sy bloed, wat vir 'n tydjie daarin gesluimer het, guds met dik strale uit, en kan sy draaie nie in die are kry nie.’ So hou die bloederige maneuvers aan, ad nauseam! Op- | |
[pagina 254]
| |
vallend is ook hoe dikwels die mense ‘dromerig voel’; die aantal ‘harte wat honger en oë waar honger in brand’. Hoewel daar enkele anglisismes voorkom, (o.a. Rustenburg distrik, die wesie, wat nou alleen die wêreld wil gaan veg, dit maak my so vies voel), is dit hoofsaaklik Nederlandse invloed, wat Van Bruggen se styl dikwels beslis onafrikaans maak. Daar is 'n ryk oes van Hollandismes in te haal op die 155 paginas. Besonder hinderlik is ook sinne van die volgende tipe, wat dwarsdeur die boek in groot aantalle voorkom: ‘die eenvoudige mense, waaronder hy hom het beweeg’ (p. 29). In sy latere geskrifte het Van Bruggen egter die meeste taalmoeilikhede oorwin en getoon dat hy ook 'n gespierde Afrikaans kan skrywe. Die tweeslagtigheid in die taalatmosfeer van die roman kan verklaar word deur die feit dat dit in Amsterdam omgewerk is onder die direkte invloed van 'n verwante kultuur. Wat ek veral waardeer in Japie is die egte lewensgevoel en digterlike teerheid wat daarin tot uiting kom. Hier is eindelik 'n skrywer wat nie bang is vir ‘sluiers’ nie, maar wat op diepdeurvoelde wyse, die groot dinge van die sielelewe, die mymeringe van 'n ware mens in die eensaamheid van die binnekamer, weergee. Die poging om outobiografiese motiewe te gebruik by die objektiewe uitbeelding van Japie het wel dikwels aanleiding gegee tot onware voorstelling - so seer selfs dat Japie partymaal baie na 'n onhandig vermomde Kleinjan lyk - maar as jeugwerk beskou, besit hierdie roman ongetwyfeld kwaliteite, wat 'n groot belofte bevat. | |
Bittereinders (1935).Ons besit heelwat gegewens oor die lyding en ontberinge van vroue en kinders in die konsentrasiekampe, en die ‘storie van hul sterfte’ is taamlik algemeen bekend. Dié historiese gegewens is egter meestal die getuienis van enkelinge, die lydensgeskiedenis van bepaalde huisgesinne. Totnogtoe het ontbreek 'n verhaal wat ons 'n samevattende beeld kon gee van hierdie droewigste periode in ons geskiedenis, 'n verhaal wat nie alleen histories-juis die dorre feite aanteken nie, maar waardeur ons die onsegbare moedersmart en kinderleed in sy volle omvang kon peil. Dokumentêre gegewens was daar genoeg, maar die kunstenaar moes dit herskep tot so'n werklikheid dat ons die ellende van die verlede kon herlewe. Dit is die taak wat Kleinjan hom gestel het in verband met die Mafekingse kamp. Hy het tot sy beskikking gehad die opgetekende ervarings van ongeveer vyftig persone wat die lewe in die kamp deurgemaak het. Sonder om die historiese waarheid geweld aan te doen, het hy hierdie boustowwe in verhaalvorm verwerk. Die skrywer begin met die oorrompeling van vroue, kinders en oumense deur Engelse troepe onder leiding van verraaiers, die afbranding van plaashuise en die onbarmhartige trek na die kamp. Op die kaal kalkbulte | |
[pagina 255]
| |
van die kamp moet tant Hannie en haar kinders drie dae vertoef sonder enige beskerming teen die bytende winterkou. Eindelik kry hulle tog 'n deel van 'n tent, maar vind al dadelik uit dat die kosrantsoentjie ontoereikend is, dat geen ordentlike water verkrybaar is nie en vuurmaakgoed ook uiters skaars is. 'n Mooi beskrywing word gegee van die daaglikse kamproetine, die vervelende toustanery by die rantsoenhuisie, die sarrende geterg van die makkakies, die gesukkel met groen stompe kameeldoring, die ellende met drink- en waswater, die primitiewe higïeniese voorsorgsmaatreëls. In die vierde hoofstuk begin die skaduwees van die dood oor die ongeluksplek saampak. Dertig tot veertig lyke word daagliks in sakke toegespeld en in groot gate ingerol. Tant Jacoba dring deur tot in die hospitaal, en deur haar moedige optrede word sy toegelaat om haar eie kind te verpleeg. Die verwaarlosing van die pasiënte deur onverskillige verpleegsters, soos tant Jacoba dit gedurende nege-en-twintig nagte moet aanskou, sal trane in die leser se oë laat opwel. Nadat die kamp twee weke lank sonder brandhout was, breek daar eindelik 'n storm los. In onkeerbare woede stoot die getergde moeders die wagte opsy en slaan dertien waens kort en klein. ‘En toe daar niks meer oorgebly het om stukkend te kap nie, is die drom in die roes van hul oorwinningsvuur met hul bondels vuurmaakgoed na die kampsuperintendent toe, terwyl “Kent gij dat volk” uitdagend oor die kalkbulte dawer.’ Hierdie houtopstootjie het die vrouens laat besef dat hulle deur gesamentlike aksie heelwat verbetering in die toestande kon bring en onder aanvoering van die wakkere Magrieta Steyn het hulle, na vergeefse vertoë tot die gehate MacCowat, na Mafeking marsjeer om hul saak voor die owerhede te lê. By die laaste hek word hulle deur 'n simpatieke offisier met beloftes gepaai, maar toe MacCowat by hul terugkeer in die kamp weer 'n onbevredigende antwoord gee, bars die opgesweepte gevoelens los in vernielsug. MacCowat moet vlug en sy kantoor word verniel. Die gehate rantsoenhuisie word ook verwoes en 'n parmantige makkakie so toegetakel dat hy twee maande in die hospitaal moes deurbring. Hierdie gewelddadige optrede van ordeliewende boervroue, hierdie bandelose uitbarsting van dierlike woede laat ons goed besef hoe diep die wanhoop oor uitterende kindertjies in die moederharte ingevreet het. Tant Hannie en nig Trienie het ná sorgvuldige voorbereiding besluit om te ontvlug. Mooi word die gevaarlike en avontuurlike tog van die klompie beskrywe. In die kamp het die vroue hul leed met dowwe berusting gedra totdat deur tussenkoms van Emily Hobhouse die toestande sodanig verbeter het dat nuwe hoop weer opflikker. Maar selfs die vredesgerugte kan hul nouliks uit die daaglikse sleur opskrik. ‘Hulle was nie meer plaasvroue nie, maar kampmense, getjapte wesens, nommerpas gemaak, en deur leed en ontbering stomp en moedeloos gebrei.’ Innig het Kleinjan hom ingeleef in die dowwe wanhoopstemming van die laaste dae | |
[pagina 256]
| |
toe dit gelyk het of met die verlies van die onafhanklikheid alles verlore was. Maar met die terugkeer na die verwoeste plase begin nuwe moed langsamerhand weer oplewe en toe tant Hannie klein Sarel en Hannatjie hand in hand op 'n koppie sien staan, begryp sy die betekenis van hul lyding: ‘Ons kan een ding aan ons kinders nalaat, wat hulle Goddank, nooit self hoef deur te maak nie, en dit is die erfenis van ons gelouterde gees. Dis nie verniet dat ons so gely het nie. God het met alles 'n doel. Ons lyding sal die krag van ons kinders word.’ Die tekening van die reine, skugtere kalwerliefde van die twee boerkinders is een van die ligpunte in hierdie sombere smartverhaal. Die gedienstige Sarel, wat as koster optree by tallose begrafnisse, bedink tussen al die ellende 'n oulike plan om sy liefde te verklaar. So gaan die jong lewe te midde van die dood sy gang. Vermaaklik is die geskiedenis van die swaarlywige Siena Bergman wat in 'n kruiwa na die kamp-superintendent gestoot word, en die verhaal van die hongerige tommies wat gulsig hap in die stene boerseep. Daar is ook nog ander lewendige toneeltjies wat toon dat die vroue onder al hul ellende tog nog 'n oog vir die komiese gehad het. Kleinjan het met hierdie verhaal 'n kultuurdaad van betekenis verrig. Laat ons jongmense veral dit lees, want hulle het maar 'n gebrekkige kennis van die heroïese lyding van ons volksmoeders. | |
Wraak (1938).Tot dusver het Kleinjan nog nie die verwagting wat sy eerste werk opgewek het vervul nie. Wraak openbaar wel 'n opmerklike vooruitgang in verhaaltegniek, maar ontroer ons selde deur skoonheid van verbeelding. Op sy beste is die skrywer in hierdie bundel waar hy die verbouereerde vreemdheid van twee arm plaasseuns, wat vir die eerste maal 'n groot skool besoek, uitbeeld (Ontuis), of vertel van ouma se oorlogsmart (Ouma vertel). Liefde en Oorlog en Twee Vriende bevat ook episodes uit die Tweede Vryheidsoorlog, wat hoewel knap vertel, tog geen besondere indruk nalaat nie. Beter geslaag is Goudkoors waarin die lewensbeskouing en geskiedenis van 'n mynwerker, wat aan myntering ly, op onderhoudende wyse deur middel van 'n onderhoud vertel word. Die taal en styl van hierdie bundeltjie krioel van sorgelose foute. |