Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging
(1939)–P.C. Schoonees– Auteursrecht onbekend§ 4. Léon Maré.H.L.F. Maré is in 1889 op Pietersburg gebore. Na 1902 het hy o.a. op Wellington en Pretoria sy studie voortgesit. Maar hy moes al gou sy eie potjie skraap en toe het hy, terwyl hy in die posdiens was, privaat gewerk vir Skool-Hoër. Hy is nou amptenaar in die Uniegebou, Pretoria. Party van sy eerste stukke het in Nederlands verskyn. Van 1911 af is hy 'n troue medewerker van Die Brandwag gewees. Van hom het verskyn: Die Nuwejaarsfees op Palmietfontein (1918); Ou Malkop, bekroon met die Hertzog-prys van die Akademie (1919)Ga naar voetnoot1); Verbygerolde Dae (1928); Mooi Lemoene (1931); Hardepad (1933). Verder nog 'n vertaling uit die Engels van W.J. Marx: Vir die Admiraal (1925) en 'n paar bundels kinderverhale. | |
Die Nuwejaarsfees op Palmietfontein (1918).By Léon Maré is die avontuur bysaak en die mens hoofsaak. 'n Armsalige putgrawertjie, wat deur 'n harde rotsrif skade ly, 'n houtryer op weg na die mark met 'n vrag - sulke eenvoudige motiewe gebruik hy in sy verhale. Tog leer ons Toot veel beter ken in die omvang van 'n kort verhaal, as al die brawe-Hendrik-helde van die avonture-romans, wat hemel en aarde beweeg deur hul buitengewone dade. Léon Maré besit die gawe om sy karakters te laat lewe, só te laat lewe, dat mens hul asem op jou aangesig voel. Deur die tekening van allerlei uiterlike eienaardigheidjies, gelaatsuitdrukking, gebare, ens. sien ons hul vlak voor ons staan. Terselfdertyd openbaar hy in sy beste stukke 'n indenkingsvermoë, wat hom in staat stel om selfs die fluistergeheimpies van 'n mensehart te verstaan, deur te dring tot die diepste kern daarvan en al die begeertes, stemminge en lewensaanvoelinge uit te beeld. Deur ligte aanwaaisels van allerlei herinneringe laat hy ons heel die verlede van | |
[pagina 239]
| |
sy figure begryp, terwyl ook die inwerking van hul omgewing plasties voorgestel word. Selfs waar hy romantiese gegewens kies, soos in die oorlogsverhale, is dit tog altyd meer die mense, as hul avontuurlike ondervindinge, wat Maré interesseer. Met hoeveel liefde verwyl hy nie in Die Kommandeer van Japie Moolman by allerlei besonderheidjies nie, die aanval van die waghond, die trappery op die kat, ens. Soms is sy tafreeltjies 'n byna dood-nugter kopie van die gewone lewe en tog ontroer dit, omdat deur die beskrywing so iets warm-mensliks huiwer. Daar is b.v. die inmekaar gekrimpte Toot op dit putwal (p. 152)Ga naar voetnoot1) met sy brood en koffie; langs hom sy verkluimde seuntjie. Hoe suiwer en eg word die outjie se kindergedagtes weergegee! Dan weer Toot in sy huurkamers, met 'n konsertina op die knie, of besig om 'n kinderskoentjie heel te maak. Goed gesien is dit ook om Outa Booi na die oorlog op Japie Moolman se verroeste ploeg te laat afkom (p. 85). Deur sulke eenvoudige middele bereik die skrywer sy doel. Met tallose klein handelinge bou hy vir ons 'n lewende mosaïek. Op iedere pagina gee hy blyke van fyn waarneming. Hy het gesien hoe die wind met die ou ooms se baard speel, hoe die stoffies agter 'n galopperende ruiter uitslaan en wegkwyn, hoe die wagvure opflikker en fantastiese skaduwees laat ronddans. Vir al die wisselinge in die natuur het hy 'n ope oog - vir die songetinte wolke, die wasige mis op die bergrante, die wondere van die sterrehemel. Ook weet hy hoe die steenbokkie ‘sy eerste bekkie vol soet gras onderuit 'n graspol’ afknyp (p. 195), hoe die rysmiere uit hul gaatjies glip, hoe die muggies ‘in sirkels van tallose spikkeltjies wals en sigsag.... oor waterpoele’ (p. 102). Telkens weef hy mooi stemmingstukkies inmekaar, gee hy met 'n paar trekke die atmosfeer so duidelik aan, dat dit die werklikheidsillusie versterk. Altyd geluk dit hom natuurlik nie. Hy is te veel geneig om iedere keer weer te praat van gordyn, disk, karmosyn, silhoeëtteer, ens. Op p. 42 las hy op storende wyse 'n kwasi-astronomiese opmerking in: ‘Die klein fonkelende sterretjies is ligte van die eindelose Planetewêreld....’ ens. Grotendeels misluk is ook die tekening van Annie Bester voor die ou harmonium: ‘In die voorhuiskamer, voor 'n oopgetrekte vensterraam...’ ens. (p. 37-38). Uit allerlei klein besonderhede blyk dat Maré die toneeltjie alleen as toeskouer beskryf.Ga naar voetnoot2) In Die Nuwejaarsfees word die vrolikheid van 'n klomp olifantjagters met fors trekke geteken. Die kaskenades van oom Klaas, wat 'n ankertjie egte brandewyn op slinkse wyse bespring, is goed beskryf, en die geselsery en aksies van die volk langs die pad word op luimige wyse geskets. Lang-Kerneels het met sy ‘ronde kraal-ogies in 'n driekwartflessie’ geloer en | |
[pagina 240]
| |
vertel nou in die maanlig 'n spookstorie, wat met sangerige tussenwerpsels deur sy maats begroet word. In die stille nageensaamheid klap die voorslag oor die beurende osse, wat met langgerekte uitroepe aangespoor word. Annie Bester, Japie Moolman, Feek en sy perd Bles behandel episodes uit die vryheidsoorlog. Laasgenoemde veral munt uit deur lewendige tekening. Op dramatiese wyse word die verraad van Jan Barkhuise verydel deur die seun Freek. As oom Swart Bêrend na al die swaarkry in die konsentrasiekamp weer terugkeer na sy verwoeste plaas, dan word hy diep geroer deur die aandoenlike getrouheid van die ou skepsel Jonathan, wat uit die algemene verwoesting selfs nog die kuikens van sy dogter gered en grootgemaak het. Skerp is die kontras tussen die gehegtheid van die ou kaffer en die wraaksug van die verbasterde landgenoot. Ou Jonathan se eenvoudige, maar roerende liefde beur die vereensaamde leeujagter op en gee hom nuwe lewensmoed, maar in sy stille gepeins, saans na die plaaswerk, huiwer die verlange na sy kleinseun Freek en die ou perd Bles, wat hom in vergange se dae tog so baie versondig het.... Met warme innigheid het Maré die figure van hierdie skets geteken. In Wrange Vrugte word 'n geëerde volksraadslid deur kindergebabbel en die afskietery van klappers op Krismisaand aan sy verraad in die oorlog herinner. Die skets gee blyk van 'n goeie psigologiese insig. Die afskeid van Voortrekkers aan Dassieshoek in die ou Kolonie en die rit van Frans Malan om die laers teen Dingaan te waarsku, word in twee sketse beskryf. Die stem van die ou Kafferkraal-Murasies is 'n poging om die mentaliteit van 'n Zoeloesoldaat te teken, 'n poging, wat herhaal word in Soeloe-Eer uit die bundel Ou Malkop. Moebie vertel van die tobbery van 'n kaffermoeder oor haar seun, wat toevalle kry, en Joggem Helberg is 'n jongkêrel, wat in 1863 deur leeus verskeur word. Die eerste druk van Die Nuwejaarsfees het ook nog bevat n retoriese beskrywing van 'n storm, wat tereg by die tweede druk weggelaat is. Drie nuwe verhale, Wrange Vrugte, Moebie en Joggem Helberg het daarvoor in die plaas gekom, terwyl tallose taal- en stylverbeteringe gemaak is. Onvoldoende taalkennis gee Maré se werk 'n lelike knou. Hy maak foute wat skoolkinders kan verbeter. Sy interpunksie is swak, sy spelling treurig en anglisismes is volop. Die opdrag om 'n kort skets te skryf, waarin die woorde alleenliks en nouliks nog nie mag voorkom nie sou seker vir Maré die swaarste straf wees. Tot vervelens toe prop hy dié woorde in alle hoekies en gaatjies, en naderhand weet hy absoluut nie meer, wat hul eintlik beteken nie! In Ou Malkop kom selfs voor uiteindeliks (p. 145), oogverblindeliks! (p. 148), natuurliks (p. 195), en die volgende: ‘Guillaumet kan geen woord uitkry van verbasenheid (!) nie en blik die gouverneur alleenliks net meer in verwondering aan’ (p. 198). Hoe die skrywer soms sukkel, blyk uit die volgende. In die eerste | |
[pagina 241]
| |
druk kom voor: ‘'n toegerankte grennadella stoepie’ (p. 43). Dit word in die tweede druk: ‘'n grenadella gerankte stoep’! (p. 44). Op p. 122 kry ons weer ‘'n toegerankte grenadella-veranda’.Ga naar voetnoot1) Soms is daar iets telegramagtigs in die styl, meestal veroorsaak deur die veelvuldige gebruik van verlede deelwoorde. Wanneer Ter Blanche die voorhuiskamer beskou, lees ons: ‘'n Mooi aardige skulpaddoppie kom eindelik onder oog, opgestaan en oorgetree, en dit word gou opgetel van die tafeltjie, waar 'n groen kleedjie netjies oorgetrek is, en waarop 'n groot lamp met 'n kleurige oorglas staan, en dit word noukeurig beskou en bewonder.’ (p. 56.) Dit is 'n tipiese voorbeeld van Maré se verwarde, inmekaargedrukte sinne, slordig aanmekaar gekoppel. Sulke en-en-reekse is daar soos bossies. ..En eindelik sissend en stomend verlaat die lokomotief die treinstasie stadig, en onder 'n geween en geskreeu van ‘hoeré!’ en hoede in die lug opgegooi. En sy (!) trek voort, en nouliks.... ens.’ (p. 68). Dat die koppelwoord naderhand glad geen betekenis meer het nie, of heeltemal verkeerd gebruik word, blyk uit sinne soos die volgende: ‘Onderwyl hy besig is, kom die diensmeisie binne, en met 'n silwer teepot, en sinese koppies en pierings.... (p. 151); Behalwe vir 'n paar opmerkinge nog oor die mooi onweer, wat diekant in die lug lê, en die seun gaan haastig vooruit....’ (p. 65). Ook hul-hul-sinne kom voor. ‘Menige van die burgers.... is.... in hul distrik teruggekeer as versterking, maar hoewel in hul eie deel van hul land, was hulle geskei van hul familiebetrekkinge, want hul plase was so kaal.... en hul families was almal ingevoer deur die vyand na die kampe....’ (p. 69). Daar is nog meer sulke herhalings, wat aantoon, dat Maré se klankgevoel soms erg gebrekkig is. ‘Bo op die kruin.... bars die son deur.... en verlig met uitgespreide trillende strale die grastoppe van die bergtoppe, en verlig donkere spelonke op (!) (p. 195). Maar hy gewaarword (!) nie 'n meisie nie wat buitekant kamp drade diekant, op haar knieë neersak, haar hande tesame omhoog vou, vertrouend op na die troue heldere wagtertjies bo haar kyk (p. 75); Skerp flikker die staal mes voor aan die punt van sy geweer weer.... (p. 76); 'n gekletter van perdepote van verwilderde perde’ (p. 49). Maré is ook te lief vir langdradige omskrywings, wat soos 'n remskoen op sy verhaalgang werk. As ons lank al weet wie Annie is, dan hoor ons nog altyd van ‘Oom Andries Bester se dogter Annie’ of ‘oom se dogter’ (o.a. p. 37, 38). Daar is ook voorbeelde van afgeslyte beeldspraak soos: ‘deurboorde harte (p. 74 en 100); eindelik sprei die duisternis.... soos 'n swart kleed wat neerval (p. 72); die bytende tand (p. 78); die hamer van Tyd’ (p. 95). Komiek word dit wanneer ons hoor: ‘haar bors bewe meteens op en neer soos die rustelose golwe van die see’!! (p. 60). Maar ten spyte van sulke opvallende stylgebreke ontroer Maré se | |
[pagina 242]
| |
prosa ons tog, omdat, soos Jan Celliers tereg opmerk in sy voorwoord, hy ‘dinge so gesien en gesê het as nog geen ander skrywer in ons land nie’. Sy krag lê nie in die tekening van groot-opgesette tonele nie; dit is die vlugge vegies, waarmee hy op verrassende wyse 'n realiteits-illusie kan skep. In sy beste werk is daar 'n innigheid, wat die kleinste voorval beglans met 'n sagte en suiwer lig. Dan klink daar ook op in sy sinne 'n sterk persoonlike aksent, dan vind hy die juiste woorde om sy emosie te vertolk. Dit is alleen 'n gebrek aan tegniese vaardigheid, wat sy werk hier en daar soos skooljongens-geskryf laat lyk. Dié gebrek is in sy tweede bundel | |
Ou Malkop (1919).só markant, dat mens nie anders as van taalgemors kan praat nie. Voorbeelde daarvan staan op byna iedere pagina, en sitate word feitlik oorbodig. Heeltemal misluk is die beskrywing van die ontsporing van die Engelse trein (p. 41-42). ‘Hy kom aangestoom en aangedroom op sy masjienery en hardloop los vooruit met alle krag en verdelgende mag.... Die bodem van die aarde tril! Dis of die sterre in hul blou firmament gril met iedere naderende stamp en uit hul gewelf wil losbeef!.... 'n Gehom-mmm! van raddewerk van masjienery! - en meteens! 'n lang ry swart-kamers hol dol en ril duiselig oë verby! - 'n groot windvlaag skep alles op onder die kranksinnige gedruis! 'n Stulpende onderaardse skok!! 'n donderende donderslag!! en daar omrol 'n stuk swaar ysterwerk soos 'n kanon in die lug!’ (p. 42). Dit is magtelose gestamel met visie- en taalverknoeiing, wat in die historiese skets Etienne Barbier 'n toppunt bereik en soms geheel onverstaanbaar word. Hier en daar is natuurlik nog enkele gelukkige trekke, wat ons aan die skrywer van Die Putgrawer herinner. Veral in Fekkie, die verhaal van 'n blomverkoopstertjie en O so 'n harde Hart, waarin die besoekers van 'n kantien geteken word, is daar goeie gedeeltes. Die Liefling van die Korps gee 'n skildering van die kommandolewe; 'n Wonderlike Ongeluk en Die ou Poskoets voer ons terug na die ou dae. In 'n brief aan Die Burger praat Maré van ‘die onuitputlike bron van die lewes van ons gewesene Afrikaners’ en dit blyk dat veral ‘die stoere ou olifantsjagters van 1861 se dae’ hom aantrek. ‘In die algemeen is die rigting van my strewe om al die goudgeel sonstraaltjies van die verlede van ons voorgeslagte te herroep en te trag om dit vars te laat bly in die geheues van ons jong geslag.’Ga naar voetnoot1) Maré het hom dikwels goed ingeleef in die gees van die ou dae, en die liefdevolle aandag waarmee hy selfs by die geringste besonderhede van die daaglikse lewe verwyl, laat telkens vir ons 'n lig opgaan, wat die algemeen-menslike kant van die historiese feite op verrassende wyse verhelder. | |
[pagina 243]
| |
In die skets Ou Malkop word moralisasies van die skrywer tussen die gepeins van die kaffer ingevleg en op p. 150 is daar 'n uitweiding oor ‘die ou dae’. In Eensame Prospektors is die dialoog onnatuurlik.Ga naar voetnoot1) Ook in sy portret-tipiek is Maré nie gelukkig nie. As ons lees op p. 82, dat Van der Walt 'n ‘dik gedraaide swart buffel-horing snor’ het, en as hy lag ‘geluide maak soos wat kom van wegdrentelende makoue’ (p. 92), dan ontstaan daar al twyfel; wanneer ons enige paginas verder hoor, dat Hoard ‘'n stywe snor oor die bo-lip soos gevoude swawelvlerkies’ het (p. 100), dan versterk dit die suspisie, dat dié opsetlik bedagte kenmerke meer van 'n lomp toneelspeler afgekyk is, as na die lewe geteken. In die latere drukke van sy twee werke het die skrywer 'n poging gedoen om die opvallendste taalgebreke te verbeter. 'n Groot aantal sintakties verknoeide sinne het hy met meer of minder sukses omgewerk, maar daar het nog soveel gebrekkigs bly staan, dat dit die taalgevoelige leser moet afskrik. Of die vertaling van 'n Engelse werk 'n geskikte oefening is vir 'n jong skrywer wat nog so met anglisismes sukkel val wel te betwyfel. | |
Verbygerolde Dae (1928).In hierdie bundel sketse behandel Maré weer sy geliefkoosde onderwerp, nl. ‘die storre ou olifantjagters van 1861 se dae’. Maré se oorpeinsings voer hom steeds terug na die ou tyd, toe die boer nog in hoofsaak jagter was. Mymerend betrag hy die patriargale figure, met die wuiwende baarde en kromsteelpype, wat uittrek op 'n langdurige jagtog. Telkens sien ons een van hulle opduik uit die skemerlig van die skrywer se herinnering en vir 'n wyle vaster vorm aanneem as daar stilgestaan word by 'n waaghalsige avontuur met een van die bosreuse uit die jagveld. Innig leef die skrywer hom in die spannende momente in, en sy bewondering vir die heldefeite uit die verlede word vertolk deur spontane uitroepe wat die gang van die verhaal onderbreek, maar ook die illusie by die leser skep dat hy die voorval werklik sien gebeur. Die vorm wat die beste pas by Maré se dromerige fantasie is 'n soort retrospektiewe mymery wat kort-kort met koesterende aandag verwyl by tekenende besonderhede. ‘Aha! Daar diekant aan die ruie oewers van die Oemsoewanja die onweersnag, sien hy mos die opgetooide doloskaffer.... Dis waar. En sien hy ook nie weer die verdroogde aappoot langs een van die twee omgekeerde bont skulpe nie? Ja. Dis rampspoed! Rampspoed! Nè, ja? Dis die waarheid. Van hulle jagters sou daar een seerkry. Reg! En een van die twee omgekeerde klein dolossies, links op die gladde vel van die swartwitpens digby die afstootlike aappoot voorspel mos dood. Reggenoeg! Nou -’ (p. 34). | |
[pagina 244]
| |
Hierdie stukkie met sy herhaalde uitroepe, fragmentariese meedelings en vrae is 'n tipiese proewe van Maré se verhaaltrant. Langsaam word die skimme uit die verlede opgeroep: ‘Vanaand, soos ek oud en sat van dae, behoeftig en byna versaak in my eensame binnemure so sit en tuur, kom daar na my terug herinneringe van dae van vreugde, sowel as van smarte.... Wat het plaasgevind van kindsbeen af? Wat sluimer daar in die verlede? A, a! die kriekies tjir-rr in die perskelaning alweer!’ (p. 54.) Dis hierdie melankoliese mymerstemming van 'n afgeleefde grysaard wat deurgaans die toon aangee van al die sketse. Sterk voel ons daarin die heimwee van die skrywer na die ‘verbygerolde dae’ van die ou Voortrekkers. Dis die hunkering van 'n moderne stadsmens wat hom ontuis voel in die gewoel van die beskawing; dis die verlange na die onbeperkte ruimtes van die eensame bosveld wat hier tot uiting kom; dis 'n jongman, vasgevang in die enerse roetinewerk van 'n Regeringskantoor, wat hier die avontuurlike dade van 'n dapper voorgeslag idealiseer. Maré het eerbied vir die eenvoudige godsvrug van die olifantjagter; hy bespied hom met liefdevolle aandag in sy daaglikse doening en ken sy gewoontes en kleredrag. Hy kan ook meeleef met die dolle pret van die jongmense wat op die nuwejaarsfees oom Freek se toestemming kom afsmeek om 'n bietjie te dans. Hierdie toneeltjie behoort tot die beste in die bundel. ‘Kinders, kyk, ek het my toestemming net vir 'n bietjie stofmaak gegee, want dans het my afkeuring. Luister, dans en d-a-ns is heeltemal twee afsonderlike dinge.... ‘Dans julle maar,’ het oom Freek saggies gesê en sy arms laat val. Nadat die oubaas met hierdie vernuftige redenasie sy gewete gesus het, roep hy vals-retories uit: ‘Gaan julle nou op julle baan, mense van vreugde!’ Maar gelukkig vind die skrywer dadelik weer die juiste toon, want as een van die jongmense oom Freek daarop wys dat koning Dawid ook gedans het, skiet die oubaas meteens hierdie pragtige kolskoot: ‘Ja, meneer Sjert Krier, ondeunde platjie, dat koning Dawid ook gedans het, betwis ek nie, maar vergeet nie dat die koning tral-de-ra gedans het en dat julle vandag die riepel-die-piepel dans hoor?’ Daardie aand het die jongspan na hartelus gedraai, sodat tante se seep, pampoene en biltong byna van die solderbalke afgetuimel het! Die danslus tas selfs party van die oumense aan, en ouma Dorie probeer om oom Mias weer 'n bietjie jonk te laat voel. Die uitbeelding is egter minder gelukkig: ‘En met haar welbekende ou swart snorretjie oor die kort bolippie van 'n singende mondjie, het sy eindelik met haar swaar liggaamsbou in 'n rigting gehuppel en in dié van niemand anders nie as oom Mias.’ | |
[pagina 245]
| |
Maar te midde van die dolle feesvreugde kom die benouende voorbode in die gedaante van 'n vrou wat met 'n wuiwende bos borriegeel blomme ellende en dood voorspel. Daar is nog meer welgeslaagde toneeltjies in hierdie boek, wat oorvloedige bewys lewer van simpatieke inlewing in die atmosfeer van die ou Trekkers. Maar by alle waardering van die egtheid van die skrywer se ontroering, moet daar tog op gewys word hoe Maré ook nog in hierdie bundel telkens ons stemming bederwe deur gebrekkige taal, slordige sinsbou en ondeurvoelde beeldspraak; hoe hy in sy uitbeelding almaardeur gryp na sekere draaitjies so welbekend uit sy vorige werk en ou motiewe met geringe variasies tot vervelens toe herhaal. Ons wil aanneem dat die ou olifantjagters net een pyp op 'n dag gerook het. Maar Léon Maré het minstens 'n goeie ton sterk boeretabak nodig vir al die ‘knorrende arendskloupype’ waaruit die jagters gedurig ‘bolle rook’ oor hul skouers jaag, of vir die ‘wolke van geurige tabakrook’ wat oor die watente drywe! Een oubaas raak selfs ‘toegehul in sy eie vredewolke van brandende boeretabak.’ Deur skroomlike oordrywing gaan hier alle effek verlore. Dieselfde geld van die ‘pluimveerhoede’, die ‘grysgeel golwende baarde’, en die ‘klam patryskuif’ van die jongkêrels - om maar 'n paar van die skrywer se lyfwoorde te noem, wat al gou tot niksseggende stoplappe ontaard. As voorbeeld van die sonderlinge onmag van die skrywer om 'n doodgewone ding te sê, siteer ek nog: ‘Tant Helena en.... Johanna speel op die klavier en ons verenig in stemme saam in 'n lieflike koor’ (p. 135). ‘Uit die vors (lees fors) en sagte borste van mans, vrouens en kinders bruis daar suiwerklinkende bas en skrille note op....’ (p. 13). Wat is nou eintlik ‘'n erdvarkgat van Voorsienigheid’; ‘'n grasbengelhandjie’, ‘'n vlugteling van geregtigheid’; ‘'n op en neer hewende bors’? En hoe kan die ooste ‘in soene van naamlose kleure goeiennag gewens word’? Of die rondgaande hof opdaag ‘om met al sy grawe en pikke van gereg die laan van geheim om te delwe’?
Maré het in sy latere werk nooit weer die peil van Die Nuwejaarsfees bereik nie. Dit bly 'n voortborduring op bekende motiewe, gevoelige sketse oor armes en misdeeldes, die ou trekkers en jagters van Schoemansdal, verhale uit die oorlog en die lewe van naturelle. Die langste verhaal in Mooi Lemoene is eenvoudig 'n opsomming van die misdade wat deur die aanvoerder van 'n kafferbende bedrywe is. (Die Waaghals). Af en toe is daar wel toneeltjies wat ons aan Maré se beste werk herinner, maar dit lyk nie of hy die belofte van sy jeug sal vervul nie. Die beste skets is Die Straatongeluk. In Harde Pad is daar geen artistieke vooruitgang te bespeur nie. |
|