Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging
(1939)–P.C. Schoonees– Auteursrecht onbekend§ 3. Jochem van BruggenGa naar voetnoot1).J. van Bruggen is gebore te Groede, in die provinsie Zeeland, Nederland, op 29 September 1881. In 1892 het sy vader hom in Johannesburg gevestig. Aan die Pretoriaanse gimnasium het Jochem begin verse maak oor die Voortrek. Die Tweede Vryheidsoorlog het 'n end gemaak aan sy studie en vir sewe maande was hy op kommando, totdat hy by die oorgawe van Johannesburg vasgekeer is. Van toe af moes hy vir homself sorg en in plaas van ingenieur te word, moes hy lewe van die geringe verdienste, wat 'n agentskantoortjie aan 'n onervare jong man in daar- | ||||||||
[pagina 203]
| ||||||||
die tyd kon gee. Na die vrede het hy in 'n wassery die gestrykte wasgoed in pakkies opgemaak, boordjies getel, ens. Maar dit kon hy nie uithou nie. Hy het uitgebars die veld in, ruimte-toe en by sy boesemvrind G.J. Oosthuizen op Steenkoppies gaan woon. 'n Tydlank was hy daar onderwyser aan die C.N.O.-skool. 'n Debatsvereniging en koor het onder sy leiding gebloei, terwyl daar ook van hom toneelstukke opgevoer is. Sy volgende onderneming was 'n tabaksaak, wat hy met sy vrind Oosthuizen opgerig het. Aanvanklik het alles goed gegaan, maar later, veral deur 'n konneksie met 'n uitgeslape seun van Israel, het die onderneming 'n totale mislukking geword, met die gevolg dat albei in 1909 diep in die skuld was. In Ouboet is o.a. 'n sydelingse herinnering aan hierdie episode, wat vir 'n tydlank sy letterkundige aspirasies heeltemal versmoor het. In 1912 het hy sy Voortrekkerverse weer verwerk, maar kon geen uitgewer daarvoor kry nie. In 'n wedstryd van Die Brandwag het Die Praatmasjien in 1914 'n prys behaal en van toe af het Van Bruggen sy koers gekry. Oom Jannie skryf hy in 1915, Teleurgestel en Die Beeswagtertjie in 1916, Ouboet in 1918 en Bywoners in 1919. In 1917 het Teleurgestel die Hertzogprys van die Akademie behaal. Van Bruggen boer tans op die plaas Steenkoppies by Krugersdorp. In die Jaarboek van die Skrywerskring (1936) deel Van Melle interessante besonderhede mee omtrent sy lewenswyse en werkmetode. ‘Hy is in baie opsigte benydenswaardig want dit is nie aan veel skrywers gegee om alleen vir hul kuns te leef nie. Sy boeke bring hom saam met sy klein boerdery genoeg op om, al is dit dan nie ryk nie, daarvan te bestaan.... In sy stil omgewing, omring van die tipes wat hy so goed ken en van mense wat hom altyd weer tot nuwe werk inspireer, vind hy die nodige rus vir die ontwikkeling van sy kalm beskouende en diep aan-voelende gees.’ Hy hou veel van die volgende Nederlandse boeke: Merijntje Gijzens Jeugd, Bartje en Sprotje. Galsworthy lees hy ook graag, maar hy glo nie dat een van hierdie skrywers eintlik ‘vormende invloed’ op hom gehad het nie. Hy is tans besig aan die derde deel van Ampie.Ga naar voetnoot1) Werke:
| ||||||||
[pagina 204]
| ||||||||
Verder drie sketse in Nuwe Afrikaanse Kortverhale. | ||||||||
Teleurgestel (1917).Dit is 'n roman uit die Tweede Vrijheidsoorlog. Die Boere van Waterval en omstreke is besig met skyfskiet as die veldkornet hulle kom opkommandeer. Dirk Liebenberg het sy afgeleefde ouers na die kruitbadjie by Waterval gebring en op 'n wandeling deur die kloof probeer hy om Maria Brinkman oor te haal om sy vrou te word. Sy gee egter die voorkeur aan haar ou speelmaat, Gys, wat as gevolg van 'n speelse opmerking van haar, die kordaatstuk uitvoer om 'n blom op 'n gevaarlike krans by die waterval te pluk. By dié geleentheid word Gys en Dawid, Maria se broer, deur Swartbooi, 'n geheimsinnige potteskuurder, in 'n spelonk gelei, waar hy vir hulle dolosse gooi en somber voorspellings oor die naderende oorlog maak. Na vyftien maande kom 'n kommando nuwejaar vier op Waterval. Dirk koester hands-op-planne, wat afstuit op die idealisme van die vrouens. Later vind hy geleentheid om met Stols en Greef, wat graag hul families wil besoek, stilletjies af te swenk van die kommando. Hy trakteer hulle op 'n paar goeie doppe ‘perskesop’. Stols is 'n swak jabroer en laat hom maklik oorhaal, maar Greef ry met sy maats se perde terug kommandotoe. Dirk vind Maria nog onhandelbaar en sluit in groot verbittering by die Engelse aan, waardeur hy sy pa se dood veroorsaak. Stols sukkel terug Boere-toe, maar laat in sy verbouereerdheid sy geweer agter, wat die vyand aanleiding gee om die woonhuis op Waterval af te brand. Deur Dirk se verraad word Gys en Dawid vasgekeer in Swartbooi se grot, waaruit hulle met moeite ontsnap. Gys word later gewond, die vrouens raak in die kampe, maar na die vrede trou Gys met Maria, en Dawid met Elsie Greef, terwyl Dirk 'n suiplap word. In Teleurgestel het Van Bruggen sy oorlogservarings verwerk. ‘Hy het die verwoeste plase gesien na die oorlog, en hy het geluister na die ondervinding van die Bittereinders, na die verhale uit die tyd toe die Engelse oor Steenkoppies en omgewing hot en haar getrek het en uit die droewe tyd van Johannesburg se renbaan.’Ga naar voetnoot1) Swartbooi se prototiep was ‘'n verdwaasde ou kaffer, wat die Hartleys - daardie tabakmagnate - se kombuisgereedskap geskuur het, dag vir dag in 'n driffie en as 'n malmens geskreeu het party nagte as hy rondloop.’Ga naar voetnoot1) In Die Burger het Van Bruggen verklaar: ‘In ooreenstemming met my vorige werk, sal my strewe bly: 'n afbeeldsel van die lewe soos ek dit gewaar, wat duidelik sal staan in die skynsel van romantiek.’Ga naar voetnoot2) | ||||||||
[pagina 205]
| ||||||||
Nou is ‘romantiek’ juis een van die terme wat moeilik definieerbaar is, maar Van Bruggen wil blykbaar te kenne gee, dat hy geen realis in die enge betekenis van die woord is nie. Sy ver-romantisering lei partymaal tot 'n sodanige vermooiing en opsiering van die werklikheid, dat die egtheid van sy figure in die gedrang kom. Swartbooi met ‘sy dwalende brein, wat sy lewe so vol misterie maak’ (p. 195, 1e druk), sy geheimsinnige grot en orakeltaal is seker romanties geteken, maar wek skeptiese bedenkings van ernstige aard. Ten spyte van die romantiekerige opsiering egter, het Van Bruggen die eenvoudige aanhanklikheid van hierdie verdwaasde ou skepsel, wat sy base oppas met die trou van 'n steekbaardhond, mooi geteken. Gys en Maria, op wie ook 'n sterk romantiese skynsel val, bly vir ons vae figure. Stols daarentëe, wat deur sy jabroergeaardheid geen aanleiding tot romantiekerige vermooiing gegee het nie, is deur 'n raak-realistiese uitbeelding tot 'n lewende mens geword, wat ons nie maklik vergeet nie. Arme Liepie met sy ‘bang-oormekaarkyk oë’, seer rug en orige knipmes ken ons deur en deur. Doodgoed van geaardheid is hy, maar sy swak intelligensie maak van hom 'n morele swakkeling. Hy het wel 'n vae besef van plig en eer, maar is ratser om ekskusies uit te dink, as om 'n ding fluks aan te pak. Tussen die vroumense voel hy meer op sy gemak as onder die geharde kommando-kêrels en in die konsentrasiekamp kan hy 'n skyn van gewigtigheid bewaar deur sy oulike knutselwerkies. Nog 'n ander byfiguur, Moeder Greef met haar laslappies en ou-mens-gemaal is met trekkies van boetserende fynheid geteken, terwyl Luikes Greef met sy droë humor ook goed geslaag is. Suinig met sy woorde, maar groot in sy dade is Luikes, wat net in die hitte van die stryd opgewonde raak en verder met 'n kalme gelykmoedigheid al die wisselkanse van die kryg ondergaan, 'n eenselwige swyer, wat, getroos deur 'n sappige pruimpie, in die stilte oor sy moeilikhede tob. Meer op die agtergrond staan die patriargale figuur van ou vader Liebenberg, wat steunende op die heilige Woord, soos 'n oud-testamentiese siener, die onuitroeibaarheid van sy volk profeteer. By die uitbeelding van Dirk Liebenberg gee Van Bruggen 'n psigologiese uiteenrafeling, maar sy afkeer van die skepsel van sy eie verbeelding is só groot, dat dit hom nie geluk om onpartydig teenoor die figuur te staan nie. Sy haat vir die walglike kreatuur het hom verhinder om heeltemal op te gaan in Dirk se psige. Reeds in die eerste hoofstuk verraai hy deur 'n kwasie-twyfel sy vooroordeel. ‘Ons huiwer om hom so wreed te beskuldig, want ons ken sy verlede nie in besonderhede nie. Miskien sal die toekoms 'n gedagte aan die moontlikheid daarvan regvaardig.’Ga naar voetnoot1) Nou weet ons al: Dirk gaan die sondebok word, en die ongeregtigheid word dan ook by wavragte op hom gelaai! Maar let wel, Van Bruggen sèlf ken sy verlede nie in besonderhede nie. Hoe kan so 'n persoon nou | ||||||||
[pagina 206]
| ||||||||
ooit fel-lewend vir ons word? Met 'n sug van verligting neem die outeur afskeid van hom: ‘En so het ons klaar met Dirk’ (p. 219). Hy het só boos geword, dat hy hom, na 'n paar kwaai trappe vir ou-laas, uit sy verhaal bons! Dit word mos bruilofstyd en daarby pas Dirk, die suiplap met sy ‘valse gryns’ nie. Maar dis 'n oplossing, wat ons nie bevredig nie. Geslaag is die figuur nie, ofskoon daar telkens brokke treffende analise is. Maar meestal neem Van Bruggen teenoor Dirk die houding van 'n bestraffende regter aan. ‘Kan 'n wolwe-aard so gou verander in skape-gedweeheid; 'n dwingeland in 'n oëdienaar....?’ (p. 12.) 'n Oomblikkie tevore het hy nog gehuiwer ‘om hom so wreed te beskuldig’, maar nou is sy vonnis al gevel. Juis die bo sy onderwerp staande gevoelloosheid verhinder hom om 'n warm-menslike omtrek aan die verraaiersfiguur te gee. Later word Dirk dan ook eenvoudig as 'n besetene uitgebeeld. ‘Die fluisterstem van sy gewete sterf in die diepte weg, wat Satan bliksemsnel met misdaadplanne vul’ (p. 145). By die dood van sy moeder kry hy 'n ‘laaste kans’ (p. 191). ‘Dis een van die momente, waarin 'n goeie gees, so hom die tyd gegun werd om tot die harde hart van Dirk deur te dring, 'n ander mens (van hom) sou kon maak’. Gelukkig bly ons dié koddige psigologiese gedaanteverwisseling bespaar! Soms gaan Van Bruggen so op 'n paar tree van sy persone af staan en bepeins dan hulle toestand. Gys is ‘in strak starend gepeins’ (p. 216). En dan roep die outeur uit: ‘O watter gedagtes! So sterk nog as in sy volle kragtyd....’ ens. Daar is nog meer sulke hinderlike ingrypsels van die outeur. ‘Die leser wat onsigbaar agter Dirk aangestap en oor sy skouer geloer het.... Dirk is te ongeduldig om die kamer rond te kyk, maar ons kan dit nog net doen, vóór die aandskemering ons dit belet’ (p. 23).Ga naar voetnoot1) Dit is verroeste romantegniek van die jaar nul! Dat Van Bruggen egter 'n plastiese gawe van geen geringe betekenis het nie, bewys die welgeslaagde toneel, waar Liebenberg vir Greef en Stols wil oorhaal om die wapens neer te lê. 'n Weemoedige klaagtoon van verdrietige berusting deurhuiwer die ritme van Van Bruggen se styl in Teleurgestel. Die smart oor verlore onafhanklikheid en die droewige herinnering aan oorlogsleed tril na in somber klanke. En teen die end word Van Bruggen moeg vir die trommelslae wat ‘die doodmars deurdof’. ‘'n Lange sombere storie.... ons wil hom deurhardloop’ (p. 222). Tog klink daar soms 'n skaterlag; as die kakies retireer vir 'n rollende pampoen (p. 173) en Greef vir Stols laat ‘handsop’ (p. 156). 'n Paar mooi kindertoneeltjies beloof iets vir die toekoms. Opvallend is die gebruik van koppelwoorde soos: knutselwerk-uitdenk- | ||||||||
[pagina 207]
| ||||||||
vermoë (p. 230), swaai-arm-beduie (p. 9), goudblom-oorlaai (p. 20), droomglans-dowwe oë (p. 195). 'n Enkele maal word daarmee 'n mooi effek bereik, maar meestal gee die oorvloedige aanwending 'n indruk van gesogtheid, terwyl baie saamkoppelings in stryd met die taaleie is. Die voorliefde vir lang-asem sinswendings versterk die sware klank van sy prosa, wat met afgemete pas moeisaam voortbeweeg. En daardeur ook hoor ons telkens dissonante, b.v.: ‘Van onder oop, het hoëveld se vooren najaarsstorme daardeur gestroom en binne die lang huise opgestuiwe in die smal-langwerpig drukke reghoek-ruimte, waar die lewe in en uit rumoer na sy hokkies, en kinders spelend raas, nat-besweet’ (p. 221). Tog het Van Bruggen deurgaans 'n fyn gevoel vir woordklank. Telkens kry ons brokkies van sinne, wat in gereelde versritme vorentoe gly; ‘en vínnig wórd haar stáp, ofskóon sy drálend peíns oor wóndervraág....’ (p. 77). Maar ons stuit ook op klinkklank: ‘terwyl sy rol-oë die kamer vergenoeg deurrol’ (p. 114); Al kante uit wil hy koers vat, so rol sy uitpuil oë al kante uit (p. 149); dat drie.... by die val hulle eie val sal vind (p. 194); dit beslis die twyfel van die onbesliste goeie man (p. 150). Koppelwoorde en sinsbou gee aan Van Bruggen se styl 'n moderne cachet. 'n Allersnaaksste indruk maak daarnaas, die ouderwets-retoriese taal, soos ons die ken uit die Hollandse predikanteliteratuur van vóór 1880, wat ook nog dikwels van Suid-Afrikaanse kansels gehoor word. ‘'n Knagende wee, wat die hart verteer (p. 86); Daar drup dit in sy hongerige siel heilsame lafenisdruppe en sy gedagte sien, as deur hemelse ingewing....’ (p. 83). Dit krioel ook van sulke domineesterme soos: hartsvriend (p. 202), hartebodem (p. 76), brandende gemoed (p. 50), tomelose hartstog (p. 126), skoonste hemeldeug (p. 80), ens. En hoe deftig paradeer Van Bruggen met 'n hele kommando holrug perde! Dit is perde wat al meer as 'n halwe eeu nie meer ‘pylsnel oor die pad sweef’ nie (p. 70), dis ou doodgemoorde knolle, wat skaars nog 'n vuiliskar kan trek. Gys is die ‘eweknie van Dawid in geesdriftige opwerping van oorloglugkastele’; daar is in die kloof ‘'n reusemagneet’ wat hom trek (p. 56); ‘Die ontboeseming was as 'n warme son, wat die yskors ontdooi’ (p. 82); ‘toegedekte liefde (het) haar windsels afgegooi’ (p. 99); ens. Gelukkig kry ons tussen die muwwe, onpersoonlike beeldspraak so 'n enkele keer 'n fris veldwindjie: As Swartbooi die plaasmense sien wegvoer deur die kakies dan is ‘die lewe wat in sy oë kom blink,.... soos die.... in 'n koei se oë, wat wild oor die kraalmuur kyk, wanneer haar pasgebore kalfie hok-toe weggedra word’ (p. 196); ‘die stryd teen onsigbare wapens.... soos mambas in die ruigte’ (p. 192); ‘Af drif toe.... kom 'n groot tentwa aangeklop’ (p. 7). Daarnaas kry ons egter weer sulke badkamer-beeldspraak soos: Maria ‘aarsel niks om 'n doeltreffende bekoeling uit te giet nie oor sy brandende gemoed’! (p. 50); ‘Of 'n vloed yskoue water oor hulle rugge uitgegiet word, so | ||||||||
[pagina 208]
| ||||||||
laat, wat agter is hulle ril’ (p. 65). Ook onsmaaklike trivialiteite soos: ‘Daar is geen druppel bloed meer in Stols se neuspunt nie; dis alles weggestroom na die midde van sy romp....’ (p. 157). In sy natuurbeskrywing is Van Bruggen onbeholpe en soms banaal. Hy skerm met groot woorde wat volkome retories en aandoeningloos van algemeenheid is. ‘Die skone dal lê voor die perdelose ruiters in volle somerweelde. Die ou opstal lyk so skilderagtig.... Ook is dit of die skouspel hom hipnotiseer.... Die ganse moot brei uit in sombere somerweelde’ (p. 126-7). Sulke niksseggende frases laat ons heeltemal koud. Nie deur die woord somber ontstaan die indruk van somberte nie. Die somberte-emosie moet hy in beeld bring, moet hy ons laat aanvoel deur plastiese trekke. Maar hy verswak nog meer die indruk van sy frases deur te praat van ‘die lentegroen, (wat) in jeugdige ydelheid wou spog ....’ En dan vervolg hy met valse, ondeurvoelde beeldspraak: ‘Uit egaal donkergroen spreek nou éénselfde stemmige gedagte, waar uitgeswelde rypheid elke deeltjie van die ernstige boskasie herinner aan verwelking.’ Dit is visie-verknoeiing. ‘Die stemming deel sig onbewus mee aan die twee....’ Juis, onbewus, want hoe dit gebeur bly vir ons 'n raaisel. En dat Stols en Dirk albei in presies dieselfde stemming geraak, is papier-psigologie! Daar is nog meer holle frases: ‘Dieselfde voorjaarsagtermiddag het ook sy toweraandeel volbreng in die natuurherlewing’ (p. 20). Dirk kry ‘lewens-lente-visioene’! Die voëltjies sing mooi ‘en dis of die ganse omgewing wil meedoen aan 'n gemoedsontboeseming’! (p. 31). ‘Grootse natuurskoon’ (p. 47), ‘roerlose aandskoonheid’ (p. 90); ‘dis van die aande, waarin natuur sy wonderskoonheid wys met stille majesteit’ (p. 166), ‘ruwe natuurprag’ (p. 52); ‘Die lente het weer 'n jong gewaad oor die velde gesprei (p. 202). En op p. 52 is daar weer ‘'n grootse gedagte, wat setel in die lowerwoestheid’. Die gedagte spring van sy ‘setel’ af en hou 'n netjiese prekie in die tale Kanaäns. ‘Dis 'n plekkie, wat mensekindere wil goedmaak en verhef bo wêreldse nietighede,’ ens. Duisterheid is dikwels die gevolg van die retoriese opblasery. ‘Die kranse voor en weerskante is hoog en amper loodreg, bedek met ruwe natuurprag, wat gestapel op kwynend-skemerlig en duister.... (p. 52). Hoe moet mens jou nou 'n voorstelling vorm van wilde plante gestapel op skemerlig en duister? Op p. 32 is daar ‘klanke, wat hemelwaart denk en dankbaar swewe, vir sparende liefde....’ Al slaan denk ook op gevoel dan is dit nog 'n onbeholpe parallelisme. Onverstaanbaar is: ‘Ligvlekke, wat die boomskaduwees werk, hou vaste lyne’ ens. (p. 87). En wie hoor nie die gekreun van die bombastiese blaasbalk agter sinne soos die volgende: ‘Dis pynlik om die afbreuk van geesverbystering (?) te sien, wat flou, al flouer 'n kwynend verset teen eie onmag vertoon en in sielsmart oorgaan....’ ens. (p. 9). Maria se ‘sterk gestel (het) begin te luister na die stem van siekte. Tallose skrikgedagtes het senewee-skokkend | ||||||||
[pagina 209]
| ||||||||
met haar liefde gespeel en bondgenoot geword van 'n ongesteldheid wat haar sou neerdruk ens. (p. 234-5). En daarom het die siekte so geloer om uit te breek, uit eerbied vir die grondigheid van haar verset en heldepoge.’ Sy kom uit die hospitaal ‘met twee(!) grote, siel-vertolkende oë, verhewe-boeiend’! En daar is nog meer voorbeelde van sulke opgeskroefde woordkramery. Wat moet mens aanvang met taalgeknoei soos die volgende: ‘Humeur lê diep bedolwe onder tallose swaardrukkende gedagtes’, ens. ‘'n Onmag van sy logies verstand, laat pessimisme die vrye teuel’ (p. 82); Luikes is ‘oortrek deur die waas van sy karakter....’ (p. 35); ‘die inwendige Greef’ (p. 36);Ga naar voetnoot1) ens. ens. Die verpersoonliking van abstrakte begrippe gee aanleiding tot raaiseltaal en gesogte wendings. ‘As die sluipgang van hulle genegenheid tuis gekom het is dit getrouheid tot die dood....’ (p. 35); ‘die koers.... waar vinnig verlange die bome deursoek’ (p. 76); ‘Hartverheffende momente wat grondslag vir 'n toekoms lê en lewens bou of brokkel - kort as 'n sug, 'n fluisterwoord, 'n oogstraal as diamante bly skitter aan die langste lewensdraad en nog glansies op sy rafelpunt werp; gebonde aan seisoen nog tyd’ (hoe rym dit met ‘kort as 'n sug’?) ens. (p. 106). Met nog een voorbeeld van Van Bruggen se onbeholpenheid kan ek volstaan: ‘Maar lewe het vasgeklem aan sy omhulsel met ongekende adhesie, waardeur die wetenskap verbaas, wat eers verwaarloos werd, omdat geen hoop bestaan het nie, met ywer die omhulsel onder sy behandeling geneem het.’ (p. 214.) Die dialoog is meestal onnatuurlik-styf en soms so deftig as 'n redevoering. Gys sê: ‘Dis of natuur 'n moedwil toon om haar wonderwerke treffender te maak. (p. 53); Ons volksaard is opgeruimd en vol korswil, wat wys veral op sulke dae, waar hoop, by nuwe begin, ook nuwe ambiesie gee’, ens. (p. 89). En hoe netjies ryg Dirk sy sinne aan mekaar as hy pleit vir Maria! Hy eindig so: ‘Die hoop sal my in doodsgevaar dapperversigtig, in moedeloosheid vasberade maak en my nasie laat liefhê, omdat jou ideale myne sal word!’ Met dié woorde vat hy haar hand ‘wat sy nie kon terug trek nie, omdat haar sielestryd onbeskryflik geword het.’ Dieselfde onmag om heftige emosie plasties uit te beel vertoon Van Bruggen ook waar hy Dirk se houding moet beskryf: ‘As hy verneem dat sy moeder gestorwe is, voel hy getref en kyk somber na die aarde voor sy voete.’ (p. 191.) In 1925 het die derde, heeltemal omgewerkte uitgawe van hierdie roman verskyn. In die agt jaar wat tussen die eerste en derde druk lê, is daar 'n gestadige styging in Van Bruggen se kuns merkbaar, en as hy, na die voltooiing van die eerste deel van Ampie, Teleurgestel omwerk, dan behou hy wel die raamwerk van die verhaal, maar skryf die hele | ||||||||
[pagina 210]
| ||||||||
boek feitlik oor.Ga naar voetnoot1) Hy beheers die tegniek van die roman nou veel beter en al die onbeholpe draaitjies verdwyn. Sy taalgevoel is veel suiwerder en retoriese opsmuk word vermy. In plaas van die afgeslyte cliché's van die eerste uitgawe het sy styl nou 'n persoonlike klank. Die mislukte natuurbeskrywings word vervang deur ander wat getuig van veel skerper waarnemingsvermoë, waarin hy ons wel onder die indruk van die romantiese natuurtonele rondom Waterval bring, ofskoon hy nog selde daarin slaag om die inwerking van die natuur op die gemoedstoestand van sy figure te vertolk. Die dialoog en karaktertekening word ook verbeter, en al lyk Dirk Liebenberg nog baie na die konvensionele romanskurk, die swart strepe van die oorspronklike karikatuur is in elk geval weggewerk. As gevolg van dié gelukkige omwerking word Teleurgestel en Vergeet Nie die twee mees geslaagde romans oor die periode van die Tweede Vryheidsoorlog. Die gang van Van Bruggen se verhaal word bepaal deur die wisselende krygskanse, en hy gee 'n aanskoulike tekening van die droefheid in jong harte oor onvermydelike skeiding, die swaarkry van vroue op verlate plase en die ellende in die kampe, die laagheid van die joiner en die smart van sy afgeleefde ouers. Met geesdriftige oormoed trek die jong burgers na die front, en as hul 'n kans kry om asem te skep, word die oorlogsdruk afgeskud in jolige nuwejaarspret. Maar langsamerhand skep die botsing met die oormag van die vyand en die verraad in eie kamp 'n stemming van troostelose neerslagtigheid wat Van Bruggen goed aangedui het. Net soos Malherbe kon hy in sy eersteling nog nie 'n sintetiese beeld van die volksworsteling gee nie, maar hy bied ons in elk geval 'n verdienstelike skildering van die vernaamste episodes; steunende op eie ervaring leef hy hom goed in die gees van die tydperk in, terwyl hy deur sy plastiese talent verskillende oorlogstipes vir ons laat lewe. | ||||||||
Op Veld en Rande (1920).In Op Veld en Rande is dit moeilik om die skrywer van Teleurgestel te herken, as die laaste verhaal,Ga naar voetnoot2) Die Beeswagtertjie, buiten beskouing bly. Alleen enkele stylwendings soos ‘wit orkaan gedrewe wolke’ (p. 122), en 'n paar geykte frases soos ‘toe twee harte, wat lief en leed van die wêreld verstaan, opreg ineensmelt!’, herinner aan die manier van Teleur- | ||||||||
[pagina 211]
| ||||||||
gestel. Hier ook geen romantiekerige opsiering nie, maar onvervalste werklikheid. So direk beeldend werk die skrywer, dat dit lyk of sy figure spontaan uit die daaglikse lewe reg-uit op ons aangestap kom. Met 'n seldsame vermoë laat hy hulle deur middel van 'n reeks toneeltjies in lewende lywe voor ons optree, op so 'n wyse dat die lig op hul tipiese eienaardighede val. Ons kry in hierdie kort sketse nog geen saamvattende verhaalplastiek nie, waaruit die gestaltes met vaste omtrek, volledig uitgebeeld omhoog rys - dit is meer die fragmentariese weergawe van 'n direkte werklikheid, 'n realisme wat ons die grondstowwe van die lewe in amper onverwerkte vorm aanbied. Eers later sou Van Bruggen in Ampie dié grondstowwe volgens die wette van 'n innerlike, visuele ontroering herskep tot 'n lewende, organiese geheel. Hierdie fragmentariese uitbeelding van verskillende bywonertipes was 'n noodsaaklike voorstudie. En tog, hoeveel bereik Van Bruggen nie al in hierdie sketse nie, en veral in Bywoners. Raak en eenvoudig-waar word Sitman, die ‘meeldiaken’ met sy ‘ongebleekte kussingsloop’ geteken. Hy is die man, ‘wat sit waar hy sit’, ‘die elfde plaag’ (p. 27). Soos Van Bruggen hom uitgebeeld het met sy astrante indringerigheid, altyd kunsies bedenkend om tog maar nooit aan die werk te kom nie, sy windmaker-praatjies wat eie nietigheid moet bedek, sal dié bywonersfiguur lewe in ons letterkunde. Hy staan vlak voor ons met al die flenters van sy verslegting. Hoe goed is nie geteken sy poging om tog nog 'n skyn van vernaamheid te ontleen aan die reputasie van sy onbekende ‘ouboet Karel van Staanderton se distrik’. En die dialoog is so spontaan - dis die lewende terugbeelding van egte gesprekke sonder retoriese byspinsels van die outeur. Hoor maar ou Sitman se gesanik: ‘Nou ja! ek hoor toe gister.... of was dit eergister.... nee dit was gister, dit wil my nou goed byval - Willemse het gister hawer gelaai - ja dis reg, dit was gister.... Nou ja, ek hoor toe gister by oom Andries dat meneer de Klerk altemit iemand sal nodig kry om hand by te sit’ (p. 23). Hoe raak is ook die bywoner se hele persoonlikheid geteken in die kwasie-gewigtige wyse waarop hy meedeel, dat hy ‘tot 'n besluit gekom 't’ (p. 256), of as hy klaag oor die baie werk (p. 43). Uit so 'n paar plasties uitgebeelde toneeltjies word Sitman vir ons meteens fel-lewend, terwyl Dirk Liebenberg, trots al die swaarwigtige analise alleen 'n toneelskurk bly. Ook ‘kromrug Bettie’ met haar huilende kleinspan in die rokerige lug van die hartbeeshuis is goed getipeer. Mooi leef die moeder-instink op in die verdwaasde skepsel, as daar planne gemaak word om haar kinders na die weeshuis te stuur. Sy glo tog so vas, dat niemand anders so goed vir hulle sal kan sorg nie, al sit sy in die grootste ellende. ‘Daar is Driesie!.... Uit die staanspoor is sy maag onderste bo!.... Sal hulle tussen die kliprandjies rondloop om aambeibossie te soek? En dit laat trek? En dit vir hom ingee? - Nog nooit nie!....’ (p. 54). Selfs by die | ||||||||
[pagina 212]
| ||||||||
skildering van die ellendigste verliederliking, wat die skrywer in al sy naaktheid toon, sien hy die aandoenlike besorgdheid van die moeder raak, 'n oorblyfsel van haar verminkte menslikheid. Dit is die ligstraaltjie in hierdie hol van ellende. Dieselfde besorgdheid kom mooi tot uiting as sy àl haar skrale kennis bymekaarskraap om Hendriena uit 'n floute te kry. Die hele beskrywing van hierdie winteraand, waarop Hendriena met haar gewillige ‘beskermers’ rondom die vuurtjie sit, is kostelik. Mooi word die stygende angs van die senuweeagtige vrou aangedui. Buite klink die woeste krete van 'n kaffer-slempparty; binnekant styg die spanning deur die onbenullige praatjies van die Meeldiaken, wat, aangemoedig deur die nerveuse belangstelling van Hendriena, sy breedsprakigheid vry uitvier. Dan kom plotseling die naargeestige gehoe van 'n uil, wat selfs die versufte Bettie laat opskrik en by Sitman bygelowige assosiasies loswoel. Treffend word die eenvoudige hulpvaardigheid van Bettie nou geteken, wat tog effens gehinder word deur die gedagte: ‘hulle natuur is mos heeltemal anderster.’ As sy dan die sieke ‘eenkant-toe’ gedokter het verskyn die forse gestalte van outant Grieta, in wie se teenwoordigheid die bywoners dadelik in hul nietigheidskulpie inkruip. By die varkslagtery sien ons weer hierdie bedrywige boervrou, wat in haar werkhaastigheid die slimpraatjies van die mans kort afkap en met diplomatiese handigheid die karmenaadjies verdeel onder die bure. Die ander bywoners se mentaliteit word ook met 'n paar fors trekke aangedui: Willemse, die staatmaker-voorman, Neef Niklaas met sy naïef-wysgerige praatjies oor ‘bestiering’ en ‘bestuur’, Gouws, die dwarskop. Stols, uit Teleurgestel kon deur die oorlog nie in sy gewone lewe geteken word nie. Maar nou sien ons die bywoners in hulle daaglikse besigheid, hulle getob oor allerlei kwellings en die wrokkende gevoel oor hul afhanklike posisie. By Gouws lei dit tot 'n heftige uitbarsting. Op die hawerland probeer hy om deur 'n geweldige kragsinspanning al die kwellings van sy armoede af te gooi. Maar Willemse se tartende aansporing as hy begin pit-uit raak laat hom in 'n plotselinge oplaaiing van drif sy sekel neersmyt. Die vaderlike vermaning van Andries Vry kan sy verbittering nie wegneem nie en Gouws trek na die myne. Maar ook daar woeker die wrok oor sy ondergeskikte posisie voort in sy siel. ‘Boer se kind’, wat hom nie laat vermaak deur 'n Engelsman nie, sluit nou aan by die Engelse leër! En in die gloria van sy herwonne vryheid kom hy met glimmende oorlogsmondering sy ou swoegende maats dronkslaan. In 'n pragtige toneeltjie sien ons hoe Gouws met die windmaker-praatjies van 'n Cape Boy die bewondering van die eenvoudige Niklaas inoes. Die konserwatiewe baas en Bybelvaste ouderling, Andries Vry, staan ook by die vreemde verskyning van Gouws weer klaar met 'n teks: ‘want in die laaste dae sal 'n mens vreemde gesigte sien....’ Vir Andries | ||||||||
[pagina 213]
| ||||||||
Vry, wat hom met kalme selfgenoegsaamheid tussen sy swoegende bywoners beweeg, bied die lewe nooit 'n probleem of verskynsel, wat hy nie met 'n Bybelteks bevredigend kan oplos nie. 'n Enkele maal kom Van Bruggen self om die hoekie loer, op pagina 29 nl., waar hy verstandige maar onletterkundige opmerkings maak oor kafferpolitiek. Ouboet, Oom Jannie en Die Praatmasjien is ook goed geslaag. Veral die lugtige verhaaltoon val op na die sware sleepgang van Teleurgestel. Daar is 'n vaardigheid in komposisie, 'n handige groepering van allerlei tipes uit die boerelewe, wat met al hul eienaardighede goed geteken word. As realistiese skilder van die plattelandslewe openbaar Van Bruggen 'n bewonderenswaardige deurdringingsvermoë. Stoffel Harmse, die omslagtige verteller en lastige buurman, met sy vervelende ‘jy kan vir Sarie ook vra’, oom Jannie en die weduwee, wat by ‘gebrek aan stof vir vertroulike konversasie hoofpersone uit geslagsregisters van al twee kante opnoem en bespreek’ (p. 101) - dit is fyn-psigologiese trekkies, wat bewys dat die skrywer hom ingeleef het in die mentaliteit van sy mense. Hulle karakter word nie bestuur deur geestige bokkespronge van die outeur nie, maar daar is 'n innerlike ontplooiing, wat ons direk as waar en noodwendig voel. Dit geld egter nie van Die Beeswagtertjie nie, wat eenvoudig 'n nugter bedenksel is, en waar alleen Kleinbooi met enige lewenswarmte geteken is. Die mynwerkers is alleen met so 'n paar strepies toneelverf bestryk en die styl het weer dieselfde opgeskroefdheid as in Teleurgestel. Veral pagina 140 is swak, waar ‘die onmusikale Josef 'n singlus uiter’, en ‘'n siel-treffende Engelse liedjie’ deur sy neus gons ‘met omgewing-influenserende dreun’! Die beskrywing van die begrafnis in Oom Jannie (p. 83) is ook gedeeltelik misluk. Die toespraak tot die ‘onverskillige, gevoellose ligmis’ is heeltemal misplaas, terwyl die volgende sinne ons aan die paddas herinner, wat met so 'n voortreflike gawe des onderskeids die boere op Waterval verwelkom (p. 88). ‘Kyk! die osse hou op met wei, of die redelose vee gevoel, dat nou die tyd nie is vir sinlike lus nie,’ ens. (p. 83). Maar telkens verras die skrywer ons ook deur die toegewyde aandag waarmee hy sy omgewing bekyk. Lees maar hoe steekbaard met ‘uitbundige, kort-bly laggies’ die kat in die kosmos agtervolg tot dit ‘die skoorsteen op, die nok oorgevlieg en met ruie hoepelrug en dik verskrikte swaaistert, op die geweltop vier pootjies vas bymekaar gedruk het in die kleinste ruimte.’ | ||||||||
Die Burgemeester van Slaplaagte (1922).In Die Burgemeester van Slaplaagte bly die opgaande lyn in Van Bruggen se kuns gehandhaaf. Dis 'n heel eenvoudige geskiedenis van 'n paar eenvoudige mense in 'n dooierige dorpie, maar Van Bruggen maak dit | ||||||||
[pagina 214]
| ||||||||
tot 'n stukkie treffende realiteit deur sy lewensware uitbeelding. Oom Lood, wat ‘almelewe oorhoekse jukskeie en vrot voorslae’ (p. 28) met 'n toegeknypte oog verkoop, is familie van Stols uit Teleurgestel. Maar hy is met 'n dieper indringingsvermoë geteken. Ons ken nie alleen sy uiterlike eienaardigheidjies nie, sy lus vir 'n boegoesopie, sy neiging om alles voor die voet te sekondeer op 'n vergadering, maar droom saam met hom oor sy toekomstige kosterskap, kreun saam met hom in sy vadersmart. Want Lewina, sy dogter, doodmoeg vir die eentonige lewe in 'n slaperige stofholte trek na Johannesburg. Goed is die ouers se instinktiewe wantroue vir die groot-stadslewe aangedui en die vertedering wat oor hul harte kom as die kerkklok begin te lui. Oom Lood is 'n deskundige op die gebied van kloklui en hy vererg hom oor die halsoor-kop maniere van die Johannesburgse koster. Reeds voor die reis na Johannesburg het tant Lewina, in 'n opwelling van jaloerse moederliefde, die welgemeende waarskuwing van boet Heina kriewelrig afgekap. Sy verberg haar heimlike kwellings, en haar ergerlikheid oor die nuuskierige belangstelling van bloedverwante verlei haar selfs tot 'n leuen. In hierdie twee toneeltjies (p. 51 en 89) het die skrywer haar houding op voortreflike wyse aangedui. Gedurende boet Heina se lang-asem inleiding sit sy ‘soos 'n huismoeder op 'n Sondagmôre se boekevat as sy tewens die kokery moet dophou’ en later word sy vrou weer getroef met spoggerige uitweidings oor Lewina se netjiese huisie. As hul dom-gerus oor die dogter se toestand huis-toe kom, is dit tog lekker om so 'n bietjie te spog oor die ryk ‘huwelik’! Wanneer Lewina eindelik met haar skande terugkeer, tob haar vader oor die raaisels van die stadslewe, wat hy met sy onnosele Slaplaagtelogika wil oplos. Oom Lood is met soveel gelukkige trekke uitgebeeld, dat ons hom deur-en-deur ken. Die nasionale skoolmeester se skoene word toegedraai in die Engelse krant, waarmee Peach hom wou oortuig van die Duitse gruweldade! Van sulke kostelike humor is daar meer staaltjies. By oom Lood staan dit vas: ‘Daar was net een vèrplie baklei, en dit was in een-en-tagtig se oorlog; en daarom het ons die Rooies toe uitgestof’! (p. 39). Van 'n kunstenaar, wat so diep in die psige van 'n eenvoudige siel kan deurdring, kan seker nog veel verwag word. Ook die byfigure word met enkele raak trekke geteken, sodat die hele stowwerige Slaplaagte met sy bewoners helder voor ons staan. Daar is Pieter van Staden met sy moedelose, don't-kêr-stemming, omdat die reent nie wil kom nie, maar vol vuur op die skoolkommissie-vergadering, waar hy sy wysheid oor windpompe uit. Die hele vergadering is 'n mooi geslaagde voorbeeld van Van Bruggen se ‘copiëerlust des dagelijkschen levens’. Hy hoef ons nie nog te verseker, dat 'n voorval ‘histories’ is nie (p. 60), ons voel direk dat alles eg is, so noukeurig selfs, dat dit telkens die indruk van 'n document humain maak. | ||||||||
[pagina 215]
| ||||||||
Die ondergang van die eenvoudige boermeisie in die goudstad is die swakste gedeelte van die verhaal. Die manier waarop Lewina se ouers en familielede op die geval reageer word wel goed uitgewerk, maar Van Bruggen mis nog die krag om haar val dramaties-beeldend weer te gee. Dit is veral die pedagogiese kant van die saak wat hom interesseer, en in plaas van sielkundige beweging verval hy in 'n saaklike feite-opsomming.
'n Hoogtepunt bereik sy kuns egter in die roman: | ||||||||
Ampie (Deel I). Die Natuurkind (1924)Ga naar voetnoot1).'n Paar weke het ek stil-gelukkig met Ampie deurgebring. En telkens as ek die pen wou opneem om hierdie waardering te skrywe, was daar iets wat my bevelend toegeroep het: Wag.... totdat jy alles inniger deurvoel het! Want Ampie is nie 'n boek wat mens in een slag wil deurlees nie; daar is geen spannende intrige wat geleidelik ontwar en met 'n bevredigende slot bekroon word nie; daar is geen kunsmatige saamskrapery van allerhande toevallige faktore tot 'n geforseerde geheel nie. Ampie is net die geskiedenis van die groei van 'n armsalige bywonersieltjie; Ampie is net vol van die kommergedagtetjies en onsinnige lugkasteeltjies van die halfdierlike seun van ou Goor Dawid, wat sy kind vir 'n hele jaar verruil om hom aan 'n vark te kan ooreet! Nee, Ampie wil jy nie in een slag deurlees nie! Jy wil elke sin stadig proe-proe, elke trek omwerk in jou eie verbeelding, totdat langsaam voor jou oprys die verflenterde boereseun en sy geduldige maat, ou Jakob, die donkie. Terwyl ek dit skryf, staan Ampie hier vlak voor my met sy verflenterde toiings. Ek ruik die muwwe rooklug, wat sy vervuilde liggaam onder die aangekoekte vodde uitwasem. Oor sy voorkop lê die verwaaide slierte van 'n bokram-kuif, uitloerend onder 'n vetterige ou keps wat wegsak oor sy ore. Willoos staar sy groot bruin oë my in verwondering aan. Maar plotseling flits daar 'n glimpie van belangstelling deur sy doellose loeroë; hy het 'n oulike kulplannetjie uitgedink en met onnosele vrypostigheid vra hy: ‘Het omie nie altemit 'n los sikspens nie?’ Is dit nie die hoogste triomf van die kunstenaar nie, dat die figure wat hy in die heimlikheid van sy onbewuste geskep het, in hulle volle menslikheid voor ons oprys, op so 'n manier dat ons hulle nooit weer kan vergeet nie? Dit het Van Bruggen in Ampie bereik. Met Ampie klink daar sonder die geringste twyfel ‘'n nuwe geluid’ in ons Afrikaanse romanliteratuur. Die heerskappy van die kakelbont avonture-roman, op sy bes 'n prettige verposing vir 'n bioskoop-publiek, is verbreek. Ook die Afrikaanse kunstenaar stel ons nou van aangesig tot aangesig voor die Lewe, soos dit werklik is, en die produkte van 'n ‘cowboy’-verbeelding kan ons tans met 'n toegéwende glimlag oorlaat aan dié groot-kinders wat nog lief is vir oppervlakkige plesiertjies. Hulle | ||||||||
[pagina 216]
| ||||||||
sal in Ampie, die epos van 'n nietige bywoner, niks kry wat ‘spannend’ genoeg is nie, want in dié boek sien ons net hoe uit die gewone verhouding van die lewe 'n lewenskiempie sukkel-sukkel om los te kom uit die wurgatmosfeer van 'n dierlike ontaarding en eindelik tot 'n geringe mate van wasdom ontplooi. Ampie word die simboliese verteenwoordiger van 'n hele volksgroep, magteloos spartelend, of gedweeonverskillig onder die ekonomiese masjien, armblanke mens-diere met 'n paar beskaafde aankleefsels, die laaste erfgoed van 'n kragtige ras; mens-diere wat deur die botviering van hul taaie lewensinstinkte, nog sterker geword in 'n verwilderende natuurlewe, telkens in botsing kom met die genadelose maatskappy. En nog dieper moet dié mens-dier wegsink in sy ontaarding, in sy hopelose stryd teen die georganiseerde samelewing, as daar nie 'n verstandige Booysen kom, om met liefdevolle toewyding die Ampies van ons volk op te hef nie. Daarom juis is hierdie boek van net soveel maatskaplike as letterkundige belang, ofskoon dit gelukkig so goed as sonder vooropgesette strekking is. Ons het al baie referate gehoor oor die armblanke-vraagstuk. Laat almal wat hulle besighou daarmee, van ons Eerste Minister af tot die werker in die agterbuurtes toe, nou kennis maak met Ampie, waarin die mentaliteit van die gedegenereerde Afrikaner so treffend uitgebeeld word deur 'n kunstenaar, wat nie net sy bywoner van buite af bestudeer het nie, maar homself tydelik so vereenselwig het met die armblanke-natuur, dat hy 'n vleesgeworde Ampie in sy sukkelende sielsgroei aan ons kon openbaar. In die eerste hoofstuk bring Ampie met 'n seer hart sy esel, ou Jakob, vendusie-toe, want sy pa het 'n onbedwingbare lus vir varkvleis gekry. Fors van lyn is al dadelik die tekening van die vendusie-drukte, met Ampie, half verwilderd en tog vrypostig-vriendelik, leunende op sy ou maat eenkant in 'n hoek van die kraal. ‘Vaal van die stof is die vodde om sy lyf, en die groot, ou keps, wat tot sy ore ook toemaak, nes die aan-die-slaap ou esel hier langs hom. Met die linker-arm oor die skof van sy maat geslaan, hang hy dooie-rus teen die geduldige Jakob. Sy skurwe swart voete, met hulle groot weglê-tone, sak onder die kraalmis....’ Treffend is die vriendskap tussen Ampie en sy maat uitgebeeld; die naiewe hoogmoed van die seun wanneer die afslaer ou Jakob so prys, sy vreugde oor die skramsskop wat die spotlustige Joodjie van die esel kry; en nadat Booysen ou Jakob gekoop het, sy mistroostige stemming en vertedering oor die verlore maat. Maar 'n blik op die ou murasie laat sy bitterheid teen sy vader in felle verwensings uitlaai. Hy sal die bloedgeld van ou Jakob gebruik om onafhanklik te word, maar gaan eers nog by Annekie troos soek. In die tweede hoofstuk hou Oom Tys, Annekie se vader, huisgodsdiens. Beklemmend werk die bedompige pondok-atmosfeer en die geheimsinnige dreiging van die Bybelwoorde op Ampie, wat voel dat uitoorlê | ||||||||
[pagina 217]
| ||||||||
hier niks help nie. Met 'n paar stukkies mooi plastiek kry ons nou 'n kykie op oom Tys se huishoue. Dwarsdeur die boek tref dit ons dat die skrywer hom so ingeleef het in die spreekwyse van sy figure dat hul karakters dadelik opduik uit die kernagtige dialoog. So sê Ampie b.v. in 'n windmaker-stemming na sy tweede bord mieliepap en boontjiesoep: ‘Ek sou (die tarentaal) gekwint het dat sy gorrel nooit weer sou geskree het nie!’ (p. 25.) Ampie het vanaand met grootse planne gekom; dit moet ‘'n regtige opsit’ word! Annekie het egter met vroulike skerpsinnigheid al iets aan sy houding gemerk en hou haar kastig sedig met 'n vraeboek. Hoe beminlik-lomp is sy eerste aanvoorvraag: ‘Voel jy sleg, Annekie?’ want ‘sy hartslag dwing om die bewerasie te kry en hy moet net sluk.’ Pas hierdie laaste sinnetjie nie pragtig in dié atmosfeer nie? Die hele opsittoneel trouens is 'n stukkie plastiese psigologie, treffend deur sy innerlike waarheid. Ampie raak weg in sy grootmans-visioene: ‘Ek sal jou kom haal met my eie trollie en ag donkies,’ maar Annekie lê vir hom haarfyn die hele proses van verloof en trou uit, want alles moet mos presieskorrek en fatsoenlik gaan, soos in die hoër kringe! Die plegtige jawoord en die ring - ‘so 'n blinke met baie steentjies soos klein gernaatpitte.... een wat jou oë seermaak as jy daarna kyk’ - die ring veral, weeg swaar by haar. Met die geld van ou Jakob trap Ampie dorp-toe (Hoofstuk III). Mooi realisties is die tekening van die begerige Ampie voor ou Moosa se winkelvenster. ‘Sy twee voete plak soos dik plat ysters op die leiklipstoep’ - aan so 'n enkele sinnetjie voel 'n mens dat die skrywer hom werklik daar gesien het. So lank as hy geld het, order en koop hy links en regs, en die gedienstige koelies draf vir hom. 'n Egte groot-meneer is hy, wat hom nog verbeel dat hy die koelie toegetrap het met die koop van Annekie se ring! In 'n skeur van 'n donga, waar die dorp se vuil water in afloop, nestel hy hom met sy skatte. Kostelik is die beskrywing van sy agtuur. ‘Hy sukkel die prop van sy gemmerbierbottel met sy knipmes uit, en dadelik kloeng-kloeng hy tamaai slukke weg. Met stote breek sy opgehoue asem uit, terwyl hy gretig met 'n vol hand 'n stuk uit die hopbrood uitknyp. Hy prop sy mond so vol, dat sy wange bak bly as hy kou....’ (p. 39). Die haastige ritme van die sin: ‘Hy grou en gryp en sluk en smul....’ vertolk goed Ampie se gulsige bewegings. As hy versadig is, word die ritme van die sinne ook traag: ‘Lui volg sy oë die dwarreling wat hy uitblaas breed en yl....’ en Ampie se slaperige stemming as hy daar ‘so roerloos as 'n akkedis op 'n klipmuur’ lê en bak word mooi aangedui. Teen twaalfuur se kant gaan hy slagpale-toe, waar hy hom verkneukel oor die laaste spartelings van 'n geweldige afrikaneros. Met die terugloop | ||||||||
[pagina 218]
| ||||||||
na sy dongaskeur sorg hy op 'n oulike manier vir die allernodigste kombuisgereedskappies en met naïewe optimisme peins hy: ‘Wanneer sy tuisplek hier behoorlik reggemaak is, kan hy (Annekie) amper hiernatoe bring!’ 'n Polisieman versteur egter sy idilliese toekomsplanne en Ampie kom agter die tralies. Die vierde hoofstuk lyk vir my oor die algemeen minder geslaag, want in die gesprekke van die twee bandiete word die opsetlike strekking taamlik dik opgeplak. In kwasie-verhalende vorm kry ons 'n beskouing oor die onwettige drankhandel. Ons voel al die tyd dat die skrywer ons wil oorhaal om sy opinie te deel. Die bandiete gebruik hy net as spreekbuise, m.a.w. hy is hier nie 'n beeldende kunstenaar nie, maar 'n redenerende debatleier. Die inspirasie het vir 'n rukkie weggeraak. Tog staan daar ook in hierdie hoofstuk baie mooi dinge. Ampie se verslaenheid, sy eetlus en vertroulike meedelings oor Annekie is goed weergegee. In die vyfde hoofstuk kry ons 'n skildering van Blikkiesdorp, waarin die strekking nog deurskemer. Die skrywer is nog in 'n redeneerbui en sy beskrywing bly vaag en algemeen. ‘Arbeid en bearbeiding alleen sal daardie atmosfeer reinig en selfrespek aan die verslegte blankedom teruggee.’ (p. 59.) Dis of Van Bruggen hier met 'n stokkie na sy uitbeelding wys en sê: ‘Kyk nou goed! Dit is die betekenis van my prentjie!’ 'n glad oorbodige versekering, wat alleen die gang van die verhaal belemmer. Die skrywer sukkel 'n bietjie voor hy weer mooi op stryk kom, maar die eensame wandeling van vader en seun is pragtig van uitbeelding. Ampie het 'n hele rytjie leuens mooi agtermekaar, maar so geweldig is die uitbarsting van ou Dawid se woede, dat Staander net betyds kom om 'n moord te verhinder. Goed gesien is dit om die vader dan later weer te laat witvoetjie soek; ewe gedienstig gee hy inligtings oor 'n paar verdwaalde osse. Nou sien ons ook die familie Nortjé rondom die vuurkan in die môreskemer. Die half-simpele moeder van Ampie, wat af en toe haar kinders probeer stil vloek, verkeer nou in 'n vlaag van vroomheid. ‘Salig hy die in dit lewe’ sing sy aanhoudend, en Mina slaan toevallig die Bybel oop by.... die Hooglied van Salomo! Maar die armsalige krot-bewoners is onbewus van die bittere humor van die situasie. Let op die verhouding tussen Ampie en sy ouers. Vir sy verliederlikte vader, wat slegs een ‘ambisie’ het, nl. om hom te ooreet, koester hy net vrees. Die half-idiote Bettie is 'n geduldige moederdier, wat deur die verstomping van haar gees nie die omvang van die ellende in die murasie-woning besef nie. Krampagtig klou sy egter vas aan die laaste oorblyfsels van beter dae, die herinneringe waarvan telkens deur haar verwarde brein spook. Aandoenlik is in hierdie onnosele skepsel die gevoel van moedertrots. Sy het 'n onbeperkte vertroue in haar oudste seun, | ||||||||
[pagina 219]
| ||||||||
wat al so dikwels sy pa uitoorlê het met oulike plannetjies. Tussen haar en Ampie heers 'n soort vertrouelikheid. Haar lawwe praatjies vererg hom wel somtyds, soos in die geval van die geld wat hy sou ‘gebank’ het. Maar as hy in die regte stemming is, gee hy hom oor aan haar speelse ‘ontydigheid’ b.v. in die lewendige toneeltjie waar sy hom met droë miskoeke bestook. (p. 142.) In die dwaalbrein van Bettie leef nog die moederliefde wat die skrywer op gelukkige, eg-bywoner-manier tot uiting bring. Ampie is nou in 'n moedelose stemming. ‘Sy eerste groot ambisie het jammerlik gesterwe.... Met ou Jakob het hy alles verloor!’ Wanneer hy eers sy verdriet by sy ou maat uitgekla het, kry hy weer nuwe moed. Impulsief besluit hy: ‘Oom Kasper, jy het vir ou Jakob gevat, jy sal vir Ampie ook moet vat!’ Mooi is hier die oorgang na die nuwe tydperk aangedui, 'n punt wat die meeste romanskrywers nogal moeite veroorsaak. Nou word Ampie handlanger op Booysen se plaas. Booysen oorbluf Ampie en sy pa met die plegtige tekening van 'n kontrak, wat een van die bes-geslaagde toneeltjies is. Fyn-ironies is die vaderlike vermaning van ou Goor Dawid, wat soetsappig instem met Booysen: ‘Ja, Ampie, doen jou bes, ou seun.... dis kaffersleg as 'n mens ongeleer bly.’ As hy eindelik die kontrak moet teken, is hy rats genoeg om in die gouigheid nog 'n ekskusie uit te dink: ‘Oom Kasper, jy weet die griep.... my hande was daardie tyd glad dood, en ek het glad verleer om my naam te teken.... Kom Ampie, vat die pen onder; ek sal bo vat!’ (p. 90.) In die volgende hoofstuk sien ons Ampie en Annekie in die dekgras. Maar vooraf moet hy eers haar broer Bart omkoop om die begeerde onderhoud te kry. Bart maak met 'n fyn besigheidsinstink gebruik van Ampie se verliefderige stemming. Al Annekie se besware word opgelos deur Ampie se optimisme. Oom Kasper sal vir alles regstaan. Maar gaandeweg raak hy weer in 'n groot-meneer-stemming, en Booysen se hulp word heeltemal uitgeskakel. Ampie sal self sorg dat hulle twee ‘propper’ kan boer! In die agste hoofstuk raak Booysen aan ‘filosofeer’ oor arm blankes, met die gevolg dat die dialoog opgeskroef en vals word (vgl. p. 113). Nou begin die beskawings-eksperiment op Ampie wat soos 'n wilde dier in 'n soölogiese tuin voel. Daar in 'n konflik in sy eenvoudige siel. Aan die een kant is daar die dierlike instinkte, versterk deur die onsalige invloede van 'n agterlike omgewing en die prikkeling van oorgeërfde neigings, aan die ander kant die half versmoorde kieme wat deur die beskawende invloed van die Booyens tot 'n soort sukkellewe gewek word. 'n Verwilderde veldplant, wat nog so 'n ietsie oorgehou het van sy edele afkoms, word oorgeplant in 'n tuin. 'n Rukwind het die saadjie weggevoer en die veldplant het al halfpad groot geword in die woesteny | ||||||||
[pagina 220]
| ||||||||
van veldruigte, voordat 'n belangstellende tuinman die verdwaalde plantjie terugbring na sy tuin. Nou moet die tuinman eers die wilde lote afsnoei en die plantjie met tere sorg bewaak, voordat dit hom aan die nuwe omstandighede kan aanpas. Met allerhande fyn trekkies word die geval aanskoulik gemaak, terwyl ook die wyse waarop Ampie op die proefneming reageer, goed geteken word. Die wilde natuurkind skep behae in die speelgoed van die beskawing en word al gou vrypostiger in sy houding. In die plaaswerk hou hy sy lyf taai, en Staander is net tevrede oor hom. Op 'n goeie dag kom Ampie se ma met 'n hele tros klein goor-Dawids kuier. Die speelse stoeiery tussen Ampie en sy ma, en haar idiote praatjies gee aanleiding tot lewendige toneeltjies, maar die treffendste is tog die wanhopige poging van die moeder om 'n skyn van beskawing te bewaar. ‘Teenswoordig se kinders is te onpresies. 'n Mens kry geen geaardheid in hulle nie; hulle is nes Kaffers!.... Kleinsus, staan agteruit! Moenie so ongeaard vir 'n grootmens staan en kyk nie!’ (p. 146.) En hoe innig Van Bruggen hom ingeleef het in die taal van die armsalige skepsel, blyk uit die gepaste beeldspraak: ‘Maar Ampie is 'n wonderlike kind, hy is onverstaanbaar soos 'n lemoen sonder pitte. Hy is so dig soos 'n vark wat pitjies het.’ Mooi is ook die uitbundige vrolikheid van Ampie oor die bolmakiesieslaan van 'n kat, en goed gesien is dit om hom dan weer dadelik te laat oorslaan in 'n heftige drifbui, wanneer hy sukkel aan 'n paar moere wat dolgedraai het. Juis by so 'n natuurkind moet ons 'n oer-sterke uiting van die lewens-instinkte verwag. Booysen openbaar hier ook, soos deurgaans, 'n gesonde opvoedkundige insig. Maar die klimaks van hierdie voortreflike hoofstuk (XII) kom nog, want nou bring Bart die afsê-brief van Annekie, 'n juweeltjie van egte tipering. Heftig bars nou weer die woede van die mens-dier los in kernagtige bywoner-beeldspraak: ‘Wat traak dit my met Annekie? Dis nie 'n handvol nie, dis 'n landvol! Dis nie geplant nie, dis gesaai! Kyk hier ou Bart, en sê vir Annekie wat jy hierdie heden sien!’ (bl. 57.) Hy gaan maar weer by ou Jakob troos soek! Dieselfde aand moet die arme beeste dit vergeld. Mooi is die siening in: ‘Die beeste stap langsaam op hul verslapte winterpote, tam oor die plaaspad kraal-toe’ en agter hulle die van dolheid besete Ampie. Die figuur van die swygende Booysen laat hom egter bedaar en aanstons flikflooi hy al weer: ‘Het Omie opgelet? Blommetjie maak uier!’ 'n Skrywer wat so fyn die innerlik van sy karakters kan deurvoel, moet 'n mens liefkry! Ek slaan die tekening van Staander, wat so swaar kry onder sy skuld en die neulery van vrou en dogter oor, om te wys op die heerlik-sterke uitbeelding van Ampie se liefde vir Hester Staander. Hester het hom nodig, want sy wil dorp-toe vir die aanneming. Aandoenlik is sy probeerslag, om met haar op te sit en die Staanders te vermaak met 'n raaisel. | ||||||||
[pagina 221]
| ||||||||
Die arme skooiertjie wat Annekie met bywoners-ruheid behandel het, raak tans in 'n poëtiese stemming. Annekie is nou vir hom ‘somar 'n ordinêre meisiekind, wat g'n behoorlike opvoeding gehad het nie.’ Hy aanbid Hester op 'n eerbiedige afstand. Sy dienende hulpvaardigheid op die reis met die ossewa en die kronkelgedagtes van sy verliefde mymeringe word op 'n innig-ware toon geteken. Hy koop vir Hester 'n sikspens se lekkergoed by die koeliewinkel en ‘sou wat betaal, ja, tien dosyn hoendereiers, wat hy in die ruigte optel, om die fyn handjies van Hester vir so'n ruk vas te hou....’ Sy dorpsindrukke word met 'n paar fynhumoristiese draaitjies meegedeel (b.v. die predikant in die preekstoel). Breed van swaai, digterlik van toon is die beskrywing van die rit plaastoe in die rooidagvroegte. Ampie beleef die tederste emosies; sy hart dwing boontoe na die sterre. Die wa sing vir hom ‘'n lied van liefde, wat wil waak, beskerm en troetel, alles in die wa hier onder sy versorging. Dis weer sy wa, sy osse; dis alles syne wat neffens hom aanklop so reguit na die môrester, helder, blink en lieflik....’ Diep het Van Bruggen die moontlikhede van hierdie eenvoudige sieltjie gepeil en groot moet sy liefde gewees het, om so onder neerbuigende meerderheidsbetoon Ampie se geringste gedagtes na te doel en suiwer-objektief weer te gee. Op die Nuwejaarsfees kom die keerpunt in die lewe van sy gevoel. Hy piets hom fyn uit om die dorpsmeneertjie wat rondom Hester draai, goed op sy plek te sit. Maar die verskyning van sy ma met 'n hele tou goor-Dawids verydel sy plan en nou merk hy eers hoe verwaarloos sy familie is daar in die murasies, ‘waarin hulle opmekaar bondel soos beeste in 'n kraal, en slaapplek vat, as hulle vaak kry....’ (p. 195). Ou Jakob moet hom weer troos en daar by die esel vlam sy drif op: ‘Wie is die Staanders dan so danig? Hulle eet ook maar meeste stywe mieliepap....’ Langsaam ontwaak nou weer sy gevoel vir die verstote Annekie. Inniger lewe hy met die natuur saam in sy vertedering. Maar 'n groot onweer wek in hom die onbestemde vrees en bygeloof van die primitiewe oermens, wat die skrywer in mooi plastiese toneeltjies uitbeeld. Hoe suiwer-menslik is sy benoude beloftes in die dondering van die orkaan! ‘Ag as die liewe Here hom tog maar sal spaar! Hy sal die Bybel elke aand lees en nooit weer vloek nie en nooit g'n arme os mishandel nie....’ Sy benoudheid soek uiting, hy oorwin sy skamerigheid en sing die aandsang vir die Booysens. Aandoenlike humor! In die nag bars hy uit Booysen se kombuis uit, waar sy angsgevoel hom laat skuiling soek het, want hy voel, o so seker, dat die weerlig iets van hom getref het. Dit moet òf Annekie òf ou Jakob wees! En in sy martelende onrus roep hy uit: ‘Ag, liewe Here nee, dan liewerste vir Annekie! - Ag, liewe Here nee, spaar ons tog al drie same asseblief!’ (p. 210.) | ||||||||
[pagina 222]
| ||||||||
By die lewelose liggaam van sy ou maat worstel Ampie die nag deur met sy smart. Annekie moet ook van ou Jakob se dood hoor en hy eindig sy aandoenlike brief ‘so sluit ek met die pen maar Nooit met my verlangende Hart....’ Maar die posmeester het ‘sweerlik die brief vrek-omgedraai!’ Wanneer Bart eindelik met 'n boodskap kom, lewe Ampie se naïewe grootheidswaan op: ‘Ek is onmisbaar vir Oom Kasper, 'n mens kan maar sê: ek is Oom Kasper self!’ Met 'n geweldige oer-krag probeer hy om die veldbrand dood te slaan, en daar by die lap dekgras waar sy eerste liefde uitgebot het, vind hy weer vir Annekie wat hom help om dié skone herinnering van die vlamme te red. Dit is 'n passende slot vir die eerste fase van sy ontwikkeling. Saam met die verstandige Booysen sal hy wel ‘oor die bult kom’ wat maatskaplike posisie betref. Maar in sy gemoed sal hy steeds bly die half wilde natuurkind, wat telkens onder die drang van sy half-dierlike instinkte en oorgeërfde neigings woes en bandeloos moet uitspat uit die beklemmende atmosfeer van die beskawing. Soos Van Bruggen hom geteken het, sal hierdie bywonerseun voortlewe in ons letterkunde en in ons harte. Hy het die koddige, maar ook die tragiese kant van die sukkelgroei in Ampie se siel met die heftigbegrypende en fyn-aanvoelende intuïsie van die waaragtige menseskepper uitgebeeld. En hy besit ook dié vorm van die liefde wat in die dwaasheid van die mense hom met hul gebreke versoen. Sy roman laat ons aan Querido se Amsterdamse epos dink. Met 'n suiwerheid van lyn, 'n forsheid van visie, so vol ingehoue krag het Van Bruggen hierdie epos van 'n nietige mensie geskep. Skoon en harmonies het dit langsaam omhoog gegroei in die kunstenaar se onbewuste en op byna elke bladsy voel ons die huiwerende leeftrilling van 'n groeiende kindersieltjie, wat voetjie vir voetjie die beskaafde wêreld inskuiwe.... Van Bruggen se sinne loop nie 'n lugtige trippelpas nie; inteendeel, dit het deurgaans 'n trae sleepgang. Waar hy 'n gemoedstoestand beskrywe is die sinne volgelaai, swaar van betekenis. Hy het nog, soos in Teleurgestel, 'n voorliefde vir die abstrakte begrip, wat hy gewoonlik deur 'n beeld veraanskoulik: ‘Somber staan die twee (Ampie en ou Jakob) lank roerloos; maar die stil leedgevoel verbree, soos olie op 'n waterplas, oor die skone simpatie, wat in die sombere kombinasie lewe.’ (p. 159.) Meestal moet ons elke sin sorgvuldig weeg en uitpluis om die volle betekenis van die beeld te vat, soos in die volgende b.v.: ‘En onderweg het in sy sterkoorspanne hart 'n reaksie ingetree, wat breed en vol sy hart en denke oormeester, en die teer gevoel wat onder die mal woordgeraas, ondeurdag oor sy lippe uitgeborrel, gesluimer het, bedou die hitte van sy drif’ (p. 158). In so 'n sin word die oorgang van een stemming | ||||||||
[pagina 223]
| ||||||||
(dolle drif) na 'n ander (smartvolle gemis) aangegee, en wie haastig lees, sal hom nie kan inleef in die kronkelinge van Ampie se gedagtegang nie. Partymaal word sy styl, veral waar hy sielkundige skakerings wil weergee, duister en gesog, maar deurgaans kan ons daarin die trilling van 'n bewoë gemoed hoor, wat treur oor die verslegting van die afstammelinge van die Voortrekkers. Want hierdie boek het as vanself omhoog gegroei uit die dieptes van 'n liefdevolle hart, wat met 'n weemoedige vreugde die spartelinge van 'n skooiersieltjie intens deurvoel het. Hy het eerbied vir die geheime skoonheid wat in 'n eenvoudige flenterkind kan ontkiem, en selfs by die beskrywing van Ampie se koddigste kaskenades sien ons op die skrywer se gelaat die glimlag wat wegraak in medelyde. Dis nie die spotlag van een wat hom uit die hoogte uit vermaak oor 'n minderwaardige nie. Die weemoed en die eerbied vir die natuurkind, wat so hulpeloos verbluf, en tog so astrant-naïef kan wees, deurtrek die hele verhaal. Met 'n sobere objektiwiteit teken Van Bruggen die verminkte menslikheid van die bywoner-klas; die ellende van hul gore bestaan versigbaar hy met koelbloedige saaklikheid; die stank van ou goor Dawid slaan soos 'n wasem uit die boek op; die verkafferde lewenswyse word in sy naaktheid geskilder. Hy lei ons deur die pondokke van die armoede, ons voel die benouenis van die bedompige atmosfeer, maar hy deurlig hierdie armsalige bestaan ook met 'n straal van sy gees. Hy rangskik die verbeestelikte armoede-chaos, herbou die gegewens van sy nugtere observasie volgens die ingewings van sy eie hart tot 'n nuwe geestelike orde, wat vir ons menslik-verstaanbaar word. Die oppervlakkige beskouer sien net die warrelende chaos, die kunstenaar herskep dit geestelik, hy orden die veelvuldigheid en maak die lewe perspektiwies. Soos elke waaragtige kunstenaar is Van Bruggen 'n sielsopenbaarder. Hoe grof lyk die weefsel van Ampie se sieltjie tog! Maar die psigologiese insig van die skrywer toon ons hoe fyn die drade daarvan inmekaar gevleg is. Hy laat die toiingskind in sy omhulsel van nietigheid, maar toon ons selfs daarin die sukkelende kiempies van 'n omhoog strewende menslikheid. Die vernaamste faktor in sy openbarende psigologie is die hoorbaar-gedroomde monoloog van Ampie, wat byna dwarsdeur die boek met verrassende egtheid weergegee word. Ampie se figuur sal onvergeetlik bly in ons letterkunde; hy staan daar as die simboliese verteenwoordiger van ons arm-blankedom, 'n roerende aanklag teen die traagheid van die Voortrekker se nasate, wat nou eers begin te soek na hul afgedwaalde natuurkinders, vasgewoel in die striknet van 'n ekonomiese dwang. Die Ampies van ons volk kán en móet gered word! | ||||||||
[pagina 224]
| ||||||||
Ampie (Deel II). Die Meisiekind (1928).Na vier jaar het eindelik die langverwagte vervolg op Die Natuurkind verskyn, wel 'n bewys hoe ernstig Van Bruggen se opvatting van sy kuns is. Ek wil meteens konstateer dat hy in alle opsigte daarin geslaag het om die hoë peil van die eerste deel te handhaaf. In die tweede deel tree die Tys-familie meer op die voorgrond en veral Annekie, wat nou as verloofde ‘meisiekind’ en vrou die hoofrol speel. By die lap dekgras, waar sy eerste liefde uitgebot het, vind Ampie weer vir Annekie, wat hom help om dié skone herinnering van die vlamme te red. Maar selfs by hierdie twee eenvoudige siele is dit nie sommer net 'n geval van ‘mekaar kry’ nie - daar is ernstige hindernisse wat moet weggeruim word voordat Ampie sy droom kan verwesenlik. Gedurende die eerste maande egter, gee hy hom ongestoord oor aan sy verliefde fantasie. Hy leef vèr weg in 'n gelukkige toekoms, waar die tallose kwellings van die gewone, alledaagse lewe tot nietighede versmelt. Ampie, die onnosele flenterkind van die vlakte, het nou 'n digter geword, wat by die es van oom Flip se verlate huisie droomgesigte van sy toekomstige geluk sien. Weemoedig peins hy oor sy mislukte liefde vir die aanstellerige Hester, maar hierdie gedagtes laat net sy bewondering vir sy volmaakte meisiekind styg. Helder besef hy nou hoe Hester hom maar net as haar hotnot wou gebruik. Elke stappie wat hom teruggevoer het tot Annekie kry 'n nuwe betekenis - alles is mos so beskik deur 'n wyse Voorsienigheid, wat hom sy bestemde deel wou gee. Die pondokkie van Staander word 'n heiligdom vir hierdie eenvoudige aanbidder van die skoonheid van 'n vrou, en as hy die leë slaapkamer binnedwaal, waar die geheimsinnige moontlikhede van die toekoms hom oorweldig, dan rys daar spontaan uit sy boesem op die heilige drang om alles vir sy liefste op te offer, en slaak hy die innige versugting: ‘Ag Here, maak ons twee gelukkig hierso!’ So kom onder invloed van die liefde Ampie se beste eienskappe tot ontplooiing. Sy intelligensie mag beperk wees, sy uiterlik ru en onbeskaaf, maar hy beleef tog die teerste emosies. Sy gevoel van eie-waarde styg en met naïef-oulike astrantheid beraam hy plannetjies om die nodigste dingetjies vir 'n eie boerdery in hande te kry. Die onnosele kind van die vlakte swerf nou nie meer gedagteloos rond nie. Hy het 'n doel in die lewe en met 'n onverwoesbare optimisme oorwin hy alle swarighede. ‘Sy planne kom vanaand tromp-op-mekaar, soos 'n span osse, wat op die draaiplek onklaar getrap het’ (p. 12). In werklikheid is al hierdie planne gebaseer op oom Kasper se vrygewigheid, of op sy eie onbeperkte vermoë om skynbaar nuttelose ‘losgoed’, wat net in ander mense se pad is, tot bruikbare dingetjies om te toor. Hy dien Booysen met 'n | ||||||||
[pagina 225]
| ||||||||
gewillige werkywer en reken dat hy die volste reg het op sulke toevallige voordeeltjies of byverdienstes wat hom as voorman op die plaas toekom. Hy is trots op sy eie vindingrykheid wat sulke nuttelose ‘afval’ produktief kan maak. Hy voel dan ook nie die geringste skaamte om met herhaalde aansoeke tot Booysen te kom nie. As hy die vernuf het om Booysen daarop te wys dat sy populierbome te dik staan en die moeite doen om die nuttelose bome uit te dun, dan het hy mos reg op 'n klompie pale vir 'n katel! As hy 'n hok maak vir die lastige, ‘onbesabelde’ sog, dan spreek dit tog vanself dat hy een varkie moet kry! Booysen het gelukkig voldoende pedagogiese insig om Ampie se werkywer deur billike belonings aan te moedig, al moet hy sy vrypostige annekseer-lus ook soms binne redelike grense beperk. Hy weet dat sulke indirekte voordeeltjies, ‘perquisites of office’ as 't ware, Ampie se werkvermoë vertiendubbel, sy selfrespek laat styg en hom prikkel tot getroue pligsvervulling. Een van die hindernisse wat voorlê is die teenstand van tant Annie. Met die skerpsinnigheid van 'n moeder het sy al gou die ‘strawwe vryery’ opgemerk, maar haar welgemeende, hoewel taklose waarskuwing spoor Annekie net aan tot koppige verset. Noudat die geliefde bedreig word, verander haar kalme geneentheid vir Ampie eensklaps in 'n gloeiende passie, wat klem en oortuiging verleen aan haar vernuftige argumente. Vol kinderlike vertroue bepleit sy Ampie se saak: ‘O Ma ken nog nie vir hom nie. Ampie begin nou al te sorg.... Ampie het baie groot kanse en sy planne is agtermekaar...’ Met 'n kragwoord probeer die moeder haar neerlaag dek. Sy is mos die arme sukkelaarster wat almal se swaar moet dra! Met veel meer tak voor sy die saak by haar man aan. Oom Tys het deur 'n noukeurige studie van die Bybel 'n verbluffende redeneervermoë ontwikkel, wat hom in staat stel om alle andersdenkende persone met 'n welgekose teks morsdood te gooi. Met sy eenvoudige logika bereik hy die sonderlingste gevolgtrekkings, en daar hy met 'n ruime mate van verwaandheid bedeel is, kan hy hom maklik verbeel dat hy eintlik predikant moes geword het. Tant Annie maak 'n goedgeslaagde aanval op sy verantwoordelikheidsgevoel en verplig hom om uit sy ‘hoëre regione’ af te daal tot die beskouing van die huwelikskanse van sy dogter. Maar die uitkoms is vir haar 'n verrassing! 'n Huwelik tussen bloedverwante - daarvoor is daar mos bewysgrond in die Bybel, en al is Ampie ook hoe dom, hy wat oom Tys is, sal hom volleerd aflewer aan die predikant! Met so 'n magtige bondgenoot as oom Tys is die saak vir Ampie gewonne. Pragtig word die styging in Annekie se liefde uitgebeeld in die hoofstuk By die Dekgras. Sy is nou nie meer die skamerige meisiekind nie, maar die vrou van aksie, wat alles reël, en daarby ook die teder beskermende moedertjie wat Ampie soos 'n hulpbehoewende kind opbeur en vertroos. Die aanneming, wat soos 'n reuseberg vir hom wil platdruk, | ||||||||
[pagina 226]
| ||||||||
lyk nou die eenvoudigste saak van die wêreld. Annekie se innige geloofsvertroue - ‘Jy sal nie afgewys word nie! Die Here sal jou deurhelp!’ - en haar intieme kennis van die eksamenstokperdjies laat in Ampie die ou ingebore optimisme herleef. Annekie is inderdaad 'n vrou-duisend! Haar liefde maak haar sterk. En sy leef, omdat sy so eg-menslik is. Op oortuigende wyse laat die skrywer ons hier voel dat die liefde, selfs in sy eenvoudigste en aller-primitiefste openbaring, altyd ons hart ontroer. Ander skrywers mag hul besighou met die ingewikkelde verhoudings tussen verkultuurde modernelinge, maar Van Bruggen hou ons aandag gespanne deur sy afbeelding van een van die oerinstinkte by twee eenvoudige siele. Ampie se optimisme maak weer plek vir die ou beklemmende gevoel as hy Vlakplaas se woning instap. Oom Tys lewer 'n lekeprekie, wat Ampie opnuut laat wanhoop aan sy kansie om deur die gevreesde aanneming te kom. Annekie weet egter hoe om hom te bewerk en wy hom in die geheime van ouers-vra in. Hierdie middernagtelike toneeltjie vol komiese trekke is besonder goed geslaag. Annekie dring soos altyd daarop aan dat alles in verband met die bruilof ‘propper’ moet gaan en as gevolg moet Ampie nog 'n behoorlike bekendmaking selfs aan oom Kasper skrywe - 'n vermaaklike brief waarin Ampie dit nog regkry om 'n paar ‘losgoed’ te annekseer. Op die tog na die nagmaal is Ampie weer vol rebelse gedagtes. Sy vrees vir die aanneming laat hom al die onnodige omhaal verwens. Waarom kan hy Annekie nie eenvoudig ‘vat’ as vrou nie? 'n Aanmerking oor sy slegte drywery gee hom 'n kans om sy opgekropte bitterheid uit te haal op die onskuldige osse en as sy bui gesak is, kry hy weer nuwe moed. By die katkisasie kom hy onder die besef van sy sonde en begryp selfs waarom die bliksem ou Jakob getref het. Mooi word die ewolusie van sy godsdienstige begrippe aangedui en sy klimmende bewondering vir Annekie, wat al haar maats uitstof deur ratse antwoorde. Bart, noual twintig jaar, is aangesteek deur die diamantkoors; die groue verveling van die eensame lewe op Vlakplaas en sy afkeer van gereelde plaaswerk dryf hom na die delwerye. Op Vlakplaas het hy hoegenaamd geen vooruitsigte nie en as hy maar 'n paar pond kan los kry sal hy 'n fortuin gaan uitgrawe. Pragtig is die toneeltjie waar Bart met sy meerdere ‘wêreldkennis’ spog, maar Ampie hom so netjies troef met die argument dat hy nog nie mondig is nie. Met meer sukses bewerk Bart sy pa, wat ook al geluister het na die lokstem van die delwerye. Bart is 'n gebore diplomaat en as gevolg van sy slimpraatjies verower hy die moeisaam opgegaarde spaarpennings van sy moeder, wat bedoel was vir Annekie se bruilof. Vir baie lesers sal hierdie droë bruilof seker maar net 'n droewige | ||||||||
[pagina 227]
| ||||||||
spektakel wees. Maar let op hoe die skrywer deur sy suiwere weergawe en pittige plastiek, lewe en beweging, kleur en geur gee aan die bywonerplegtigheid. Alles lyk so simpel, so plat-ordinêr, maar daarby tog weer so menslik en so innig dat elke besonderheidjie ons ontroer. Van Bruggen staan nie van ver om met 'n hoogmoedige glimlag die spektakels van hierdie bruilofsmense te betrag nie. Hy het met hulle geleef, met hulle gewerk en.... diep in hul siele gekyk. Trots oor sy mondigheid het Ampie eindelik aan alle eise van wet en kerk voldoen, en agteraf beskou, was al die lastige formaliteite tog darem nie so erg nie - ‘Hy sien kans om elke dag te trou’ - as hy maar Annekie se hand kan hou! Langs die sewentienjarige bruid sit hy nou; 'n wit laken waarop ‘orals blink sigaretspapiertjies vasgehaak is’ moet die feesatmosfeer aandui in oom Tys se pondokkie. Maar die hoofrol op die bruilof word eintlik gespeel deur Ampie se moeder wat, uit haar gewone versuftheid opgeskrik, nou astrant die voortou vat. Waar sal ons nog so 'n voorbeeld van skrynende ironie kry as die gelukwens van hierdie verdwaasde moeder: ‘Hier staan julle vandag soos ek en Dawid vanmelewe ook gestaan het. Deur ons is jy vandag so 'n aansienlike man as jy nou is. Wandel in die voetstappe van jou vader, dan sal jy jou nooit hoef te skaam nie, en jy sal nooit nodig hê om te bedel nie!’ Die huwelikslewe het vir Ampie se moeder niks as eindelose ellende en ontbering gebring nie, maar in hierdie vlaag van helder-bewustheid sien sy dit nog steeds as die glanspunt van haar bestaan. En hoe leef die moedertrots oor haar eersgeborene nie weer op nie, as sy Ampie as ‘'n aansienlike man’ so beskou! Al die jare van swaarkry tussen haar rumoerige kroos het nie die stralekrans om ou Goor Dawid se hoof laat verbleek nie! Hy is nog steeds die ideale eggenoot van haar jong dae. Almal moet vir hom padgee, sodat hy sy seun kan gelukwens. Hoe sterk voel ons hier die tragedie van die huwelik tussen swaksinniges, met sy nasleep van menslike verwording tot in verre nageslagte. Ook Goor Dawid, eenmaal amper die moordenaar van sy kind, besef vandag iets van die trots van sy vaderskap. Ampie het hom wel ontgroei, maar hy het tog deel aan sy seun se sukses. ‘Hulle het hom deeglik opgebring en kyk waar staan hy vandag!’ As ‘die twee ruwe hande mekaar pak en mekaar onbarmhartig vasknyp’ by die gelukwens, dan kom daar tog 'n soort toenadering tussen hierdie ontaarde vader en sy seun. Die aankoms van die Booysens veroorsaak heelwat verwarring onder die bruilofsgangers. Interessant is dit om te sien hoe hulle reageer op die besoek van hierdie ‘hoë lui’. Oom Tys verwens Bart wat hom van die middele beroof het om sy naam op te hou; Dawid word meteens gedienstig en maak die stringe los; die kleinspan is skoon oorbluf en ‘hul lyfies is styf soos boontjiestokke’. Maar dis weer Ampie se moeder | ||||||||
[pagina 228]
| ||||||||
wat die situasie beheers. Hier is nou 'n kostelike geleentheid vir die Nortjé's om te wys dat hulle nie niksgewènd is nie: ‘Ampie, my kind, hier kom hulle, hou julle naam op!’ En haar moedertrots vind uiting in die spoggerige uitroep: ‘Ek sê, nig Grieta, waar op die aarde wil jy 'n mooier bruidspaar hê, as daardie twee?’ Booysen slaan meteens die regte toon aan en slaag daarin om die halfbewustelose bruidegom uit sy dommeling op te skrik. Maar dis net vir 'n oomblikkie, want hierdie bruilofgedoente is vir Ampie 'n foltering. Hy is so gelukkig, maar wil tog net graag alleen met sy vroutjie wees. En soos 'n opgewonde kind, moeg gespeel en oorspanne, bars hy in trane uit. Dis eers in hul stille woninkie dat hy werklik tot die besef kom van wat daar met hom gebeur het. Ook hierdie eerste aand is mooi van uitbeelding. Ampie wil nog wegsak in sy bedwelmende geluksroes, maar Annekie voel meteens die verantwoordelikheid van haar taak as huisvrou. Na 'n bietjie speelse stoeiery moet Ampie kleingeld maak van 'n paar stompe, want daar moet vetkoek gebak word. Nou vind sy groot geluk 'n uitweg in heftige aksie. Hy duik oor die onderdeur en ‘met die dissonantse geluide soos van 'n hotnot wat drie dae al nuwejaar gehou het sak hy toe met die groot byl op die stompe in dat die yster sing en die spaanders spat.’ Kinderlik is die blydskap van die jonggetroudes oor hul groot kosvoorraad, waarvoor oom Kasper gesorg het. By die vroomgestemde Annekie wek dit innige bewondering vir die Booysens se godsvrug en 'n begeerte om ‘ons ou-mense te help as hul uitraak’. Met so 'n oorvloed weet hierdie bywoner-bruidjie amper geen raad nie! Haar vrome bewondering vir die Booysens gee egter aanleiding tot 'n wanklank in Ampie se gemoed. Vir haar is dit die natuurlikste saak van die wêreld dat Ampie nou nes haar pa sy pligte as huisvader moet uitvoer. Hulle gaan mos ‘na die Woord lewe’. Maar Ampie se hart rebelleer teen wat hy as onnodige omhaal voel. In sy hart is hy nog steeds die losbandige natuurkind, wat alleen terwille van sy liefde effens toegee aan Annekie se ideaal om ‘propper’ te lewe. By die tafelgebed kan hy nog verbyskrams, maar die gedagte aan boekevat beneem totaal sy eetlus. Vroutjie is natuurlik vererg oor hierdie gemis van waardering vir haar kookkuns, maar Ampie het alweer 'n oulike koudleiplan - die wedstryd met die vetkoeke. Annekie gaan egter onverstoord haar gang en hy moet deurdruk met die huisgodsdiens. Die lees uit die Bybel gaan nog, maar as dit by die gebed kom, voel Ampie soos 'n moeg gejaagde dier wat deur die honde gegryp word. ‘Sowaar, ek kan nie bid nie, Annekie, so wragtig waar nie!’ klink sy hulpelose smeekstem. Die onbarmhartige wêreld het die natuurkind weer vasgevang in sy striknette. En as Annekie hom sy hulpeloosheid verwyt, bars die ou dierlike drifte weer los in hom, sodat hy dreig om haar om te stamp. | ||||||||
[pagina 229]
| ||||||||
Pragtig volgehou tot die einde toe is hierdie beskrywing van die bruilofsnag, met die wedersydse vertedering wat tot 'n gelukkige versoening lei. Met 'n koppie koffie as vredesoffer en 'n vriendelike ‘Môre, my vrou’ keer Ampie terug tot die nuwe lewe wat hom wag. In 'n drifbui kan hy soos 'n wilde dierasie te kere gaan, maar die liefde laat die teerste roersels van sy hart tril, totdat sy eerste spontane gebed opstyg. Hy en Annekie sal same soos die môrester opklim tot in die hemel.
Elke besonderheidjie in die bruilofstafereel hou ons aandag gespanne. Daar is 'n dramatiese element in die komposisie, wat ons van verwikkeling tot klimaks voer. Suiwer en innig van aanvoeling is die emosies van bruid en bruidegom, wat deur elke gebaar en woord hul ganse wese vir ons blootlê.
Met die naamgee van die eerste kind kom Ampie weer in verset teen die aloue gewoontes waaraan sy vrou so hardnekkig kleef in haar sug om alles behoorlik te doen. Die ou wrok teen sy vader herleef weer as die hele tros Nortjé's die kraamkamer inborrel om moeder en kind om te krap met hul luidrugtigheid. En die herinnering aan sy vader se onregverdigheid laat hom meteens dink aan die trooster van sy jeug, ou Jakob.Ga naar voetnoot1) Na dié moet sy seuntjie heet! Oom Tys vind natuurlik 'n Bybelse voorbeeld wat presies op hierdie geval pas; sy bewysgronde, soos Van Bruggen dit tipies uitdruk, kom so ‘met broek en baadjie uit die Bybel uit.’ Annekie moet swig vir hierdie onomstootlike argument en haar man se verering van sy ou jeugmaat maak haar hart so week, dat ook sy die kind spontaan Jakoppie noem. Hierdie insident en ook Ampie se gevoelens as hy die nuwe donkie ‘Kortkom’ kry, laat ons besef hoe knaend die honger na simpatie in Ampie se troostelose jeug moes gewees het. Hoe diep het sy eenvoudige maar gevoelige siel nie gely as gevolg van die onsimpatieke omgewing waarin hy opgegroei het nie. Noudat hy eindelik in vrou en kind 'n steunsel in die lewe gekry het, bestaan daar ook die moontlikheid van 'n verdere ontwikkeling van sy wese, wat die skrywer ons seker in 'n vervolg sal gee.
Opmerklik is dit hoe ook in hierdie deel Van Bruggen se taal vasgegroei sit in die bywonerpsige. Dis nie afgeluisterde sinnetjies nie, so terloops opgeteken ter wille van die snaaksigheid, maar spontaan ontspringende beeldspraak, wat op voortreflike wyse die bywoner sfeer karakteriseer. Hierdie beeldende taal kan die kunstenaar alleen skep as hy hom diep ingeleef het in die siel van sy mense en hul omgewing. Dit is 'n skeppende arbeid wat hoë eise stel aan die verbeelding van die skrywer. Van Bruggen voer sy mense meestal handelend op; hy bring | ||||||||
[pagina 230]
| ||||||||
hulle in dialogiese kontak, sodat ons die klank van hul stemme hoor en hul voor ons oë sien beweeg. En selfs waar hy beskrywend optree, bly hy as vanself binne die gedagtesfeer van sy eenvoudige mense. As voorbeelde noem ek die volgende: ‘Die lewensvolle oomblikke van die laaste ure het sy siel gebrei soos 'n voorslagvel, wat deur die breier op- en inmekaar verfrommel, bruikbaar word.’ (p. 56.) ‘Die delwerye trek hom soos 'n soutplek 'n uitgevarste bees.’ (p. 82.) ‘Soos die ore van 'n dommelende donkie skielik opklap as hy iets vreemds geware, staan Ampie en Annekie gelyk, penorend voor oom Kasper.’ (p. 103.) ‘Hy voel soos sterk suipkalwers wat van lewensvolheid en begeerte agteropskop.’ (p. 109.) ‘Lewe na die Woord! - Dis weer die klipbank wat nie nate het nie.’ (p. 130.) ‘Hy dink glo dat sy nou soetbroodjies sal bak en flikflooi, terwyl hy met die krulstert rondloop.’ (p. 153.) ‘Sy planne kom vanaand tromp-op-mekaar, soos 'n span osse wat op die draaiplek onklaar getrap het.’ (p. 12.) Dit hoef geen betoog dat hierdie taal volkome pas in Ampie se denksfeer nie. Dis die manier waarop Ampie self die dinge voel en sien, en Van Bruggen se eie taalbewussyn is as 't ware op non-aktiwiteit. As 'n ouderling gaan sit in die kerk, dan sien ons die handeling deur Ampie se oë aldus: ‘Die ouderling het sy bobaadjie agter oopgesmyt en toe gaan sit....’ (p. 99). En dis nie deur enkele tipiese bywoneruitdrukkings soos gedeps kontant, uit wans uit, ens. dat hierdie effek verkry word nie. Dit is eintlik 'n herskepping van die bywoner se hele taaleie, wat alleen kan ontstaan in die gemoed van 'n kunstenaar, omdat hy sy karakters nie alleen van buite-af observeer nie, maar van binne-uit kreëer. Daarom ook kan Van Bruggen hom so volmaak inlewe in al die wisselende stemminge van Ampie, wat hy op seldsaam gelukkige wyse weergee. Daar is die optimistiese Ampie, wat alle swarighede kafloop en hoë lugkastele bou op die goedgeefsheid van sy baas; die berouvolle Ampie wat bewe by die gedagte aan die toornige God, maar deur sy eienaardige logika tog tot 'n soort begrip kom van die ganse wêreldorde, die dood van ou Jakob inkluis (p. 77); die opstandige Ampie wat soos 'n malmens te kere gaan teen alle ingestelde gebruike, maar dan weer in 'n helder oomblik so naïef kan redeneer oor die noodsaaklikheid van die trouseremonie (p. 95); die mondige Ampie, so ernstig onder die indruk van sy verhoogde status, ens. Stap vir stap kan ons nagaan hoe Ampie uit die skrale gegewens van sy beperkte ervaringsfeer en met sy steeds verrassende logika 'n soort verklaring vind vir al die raaisels van sy heelalletjie. En sterker en sterker word onder die lees die oortuiging dat ons hier te | ||||||||
[pagina 231]
| ||||||||
doen het met 'n lewende, 'n waaragtig lewende mens, wat volgens die wette van sy eie sielsaard op natuurlike wyse groei en ontwikkel. Mag die skrywer daarin slaag om ook in die volgende deel die hoë peil van hierdie kunswerk te handhaaf. | ||||||||
In die Gramadoelas (1931).Ons het geen ander skrywer wat die mentaliteit van die plattelandse boer so innig begryp en met soveel liefde uitbeeld nie as Jochem van Bruggen. Org Basson en sy maats is maar 'n klompie doodgewone boertjies wat op die rand van die bosveld woon. Hulle gesels oor alledaagse sake, gee mekaar raad in tyd van siekte en skinder oor hul bure. As die skrywer hierdie dingetjies nie tot 'n kunstige en harmoniese vertelling saamgevoeg het nie, as hy nie deur die dialoog ons meteens die diepste natuur van hierdie boere blootgelê het nie, sou ons nouliks ag op hul geslaan het. Die verafgeleë uithoek waarin hulle woon is so arm aan gebeurtenisse, dat ons die talent van die skrywer moet bewonder, wat dit regkry om met sulke skrale gegewens voortdurend ons belangstelling te span. Na 'n aangename reëntjie, wat almal in 'n opgewekte stemming bring, stap die boere na 'n Jood se winkel om die weeklikse pos te haal en om hoendereiers om te ruil vir winkelgoedjies. Org Basson trap vanmôre skaars die grond raak, want eindelik is deur sy verkiesing tot ouderling, 'n lewensideaal bereik. Hy het nou ook ‘'n amp’, en ‘'n mens kry op Sukkelaar nie somarso 'n amp nie!’ Buitendien het hy met die verkryging van hierdie status getriomfeer oor sy meer gegoede swaer, Homan, die vrederegter. Langs die pad vind hy geleentheid om heelwat wysheid oor kerksake kwyt te raak aan Ackerman: ‘'n Kerk is soos 'n baster regering’ of soos ‘'n koöperasiestoor - daar is gedurig 'n lot lopende uitgawes’. Hy moet egter versigtig praat, want hy het nog geen offisiële berig van sy verkiesing nie. Homan is teleurgestel want hy het gereken dat ‘'n ouderlingskap die amp van vrederegter waardiger (sou) maak’. Hy vind egter 'n oulike plan om sy gekweste ydelheid te paai. Sy karretjie en donkies gaan hy vanmôre aan die nuwe ouderling verkwansel om dan die hele buurt dronk te slaan met die aankoop van Meester se Ford! Maar net soos Org swyg oor sy verhoogde status, net so stil bly Homan ook oor hierdie plan. Tog is daar 'n heftige stryd aan die gang tussen die twee waardigheidsbekleders van die Sukkelaarwyk, en ons bewonder die vernuftige taktiek waarmee hulle mekaar probeer koudlei. Basson stap huis-toe met die groot koevert wat ‘vas teen sy hartklap brand’. Langs die pad kry hy geleentheid om uit te wei oor die voortreflikheid van 'n predikant, en hy is wonderlik tevrede oor sy eie | ||||||||
[pagina 232]
| ||||||||
verhewe gedagtes. Week van aandoening word hy as eindelik die brief sy innige begeerte verwesenlik: ‘Hy, oudste, raadsman, regter, wagter op die mure van sy kerk, 'n voorganger van sy kerkgenote in die diens, 'n leier op die goeie pad van hulle geesteslewe; maar tewens vermaner en bestraffer van hulle wat verkeerd loop. Die laaste een van Sukkelaar se wyk sal eerbied vir hom hê....’ Die verantwoordelikheid van sy nuwe amp begin meteens swaar te weeg sodra hy sy woning binnetree. Alle gedagtes aan die behaalde triomf moet nou wyk vir die besef van die verhewe pligte wat op hom rus. Geen wonder dus dat sy vrou se houding hom kriewelrig maak nie. Sy en die kinders het mos geen begrip van sy heilige roeping nie. Maar sy vrou se praktiese beswaar, die feit naamlik dat sy kisklere totaal verbleik is, spoor hom aan tot onmiddellike aksie. Hy kan nooit toelaat dat Andries Homan spot oor sy armoedige klere nie, en 'n manel kan 'n mens mos nie met hoendereiers ruil nie! Meester moet dus maar 'n diplomatiese brief opstel en sy weiering van die amp in die beste voue lê. Die onderhoud met Meester en die omkeer in Org se gemoed op die tuiswaartse wandeling is met dramatiese spanning geteken. Org het sy kastige redes vir die weiering so mooi uitgedink, maar die eintlike rede kan hy tog nie verswyg nie. Meester se bestraffing bring hom tot nadenke, maar dit is veral die gedagte dat Homan in sy plek sal gekies word wat die deurslag gee. Natuurlik vind hy egter 'n hele reeks godsdienstige oorwegings om sy aanname van die ouderlingskap te regverdig. Wanneer Org Basson as ouderling bevestig is vervul hy sy pligte so getrou dat sy boerdery 'n bysaak word. Die sieleheil van die Sukkelaarwyk druk swaar op sy gewete. Hy vind dit selfs noodsaaklik om ernstig met Andries Homan te gaan praat oor ‘die nuwe gees wat so stadig en gewis die gebuurte kom verpes’. En hy beklaag Andries wat nou maar te voet moet stap! Kostelik van tekening is Org se besoek by die apostoliese De Wet's, wat hom skoon oorrompel met hul hallelujas en tekste. Hier maak sy ouderlingswaardigheid glad geen indruk nie en na die koffie vlug hy maar. By Tannie se sterfbed verkeer hy in 'n meer simpatieke omgewing. Hierdie besoek is 'n allergewigtigste gebeurtenis in sy lewe, want vir die eerste keer gaan hy en sy vrou offisieel 'n kranke besoek en dit nogal per rytuig. Org gesels op salwende toon met sy vrou oor ‘ondeurgrondbare en onpeilbare’ sake en hy koester hom in die eerbiedige bewondering van sy ega, wat oortuig is dat Andries Homan nooit vir hom sou kon kers vasgehou het nie. Met seldsame suiwerheid het Van Bruggen die godsdienstige ‘diepsinnighede’ van die ouderling weergegee. Daar is geen sweem van spot in die uitbeelding nie. Maar telkens voel ons 'n huiwering om die mondhoeke as die ouderling so humoristies-naïef redeneer. 'n Enkele staaltjie: ‘Ek sê alles word so bestier van Hoërhand, en of | ||||||||
[pagina 233]
| ||||||||
nig Walla die afkooksel van dagga of versterkdruppels op 'n kelkie wyn vir ou Tannie ingee - as die gesette tyd daar is, moet 'n mens hensop.’ By die sterfbed kry Basson geleentheid om sy waardigheid as ouderling te laat gevoel en hy steek eers pyp op as alles verby is. Maar wanneer hy aanstaltes maak om te vertrek moet hy ontdek dat die donkies met die kar weggestap het. Hy volg die spore van die eerste bult na die tweede, maar gewaar hulle nie. Met sy gedagtes in hoër sfere het hy die soektog begin, want die sterfgeval het hom diep geroer. Maar allengs maak die vrugtelose soekery hom tog kriewelrig en per slot van sake blameer hy.... Andries Homan, wat hom 'n gat in die kop gepraat het oor die donkies. Eindelik sien hy Meester se Ford oor die bult kom. Maar nou kry sy hoogmoed 'n nekslag, want aan die stuurwiel sit.... Andries Homan ‘met 'n glimlag oor sy kakebeen’! Dat sy aartsvyand, of ten minste sy vernaamste mededinger, wat hy nog onlangs bekla het omdat hy geen ryding het nie, vir hom, die ouderling, hier in die stowwerige pad te voet moet kry - so 'n vernedering is darem te erg! ‘Die ouderling sit langs die vrederegter agter die windskerm, terwyl die motor vorentoe snor. Org Basson kan gladnie met sy swaer Andries Homan gesels nie. Dis of sy tong verstyf, sy gedagtes absent en hyself gebreek is.....’! En hiermee eindig een van die beste verhale wat Van Bruggen ons nog gegee het. Die naywer en afguns van twee plattelandse waardigheidsbekleders is met die hand van 'n meester geteken. En die staaltjies van die eenvoudige ouderling se ‘studiekursus in die godgeleerdheid’ is so treffend dat Org Basson meteens op onvergeetlike wyse gekenmerk staan as tipe van die onontwikkelde plattelandse kerkraadslid. Ons het geen ander skrywer wat hierdie soort boere so kan laat leef en so kan laat praat nie. Van Bruggen het hulle lief en deur sy warm-menslike meegevoel kan hy hulle aanstellerytjies en gewigtig-doenery met die vergoelikende glimlag van sy humor betrag. Die orige ses verhale van hierdie bundel bevat ook verrassende skoonhede, maar staan seker nie op dieselfde plan as Org Basson nie. In Vrouestemreg word ons weer getref deur die gemak waarmee die skrywer die plattelandse redeneerkuns kan weergee. Twee susters voer 'n heftige debat oor die vrouestemreg en ofskoon die snelheid waarmee hulle van standpunt verander miskien alte onwaarskynlik lyk, sal die leser tog geniet van die komiese effek daardeur bereik. Ou Loek is 'n tipe van die getroue Boesmanbediende, wat saam met die plaas oud geword het. Goed geskilder is die angs van die ou skepsel wat in sy eensame kamertjie aangestaar word deur die ‘uitgepeulde oë’ van 'n verongelukte maat wie se lyk hy berowe het. | ||||||||
[pagina 234]
| ||||||||
Booia (1931).Deur sy ondervinding as boer het Van Bruggen 'n uitstekende geleentheid gekry om die kaffer van naby te beskou. Moeilikheid en ergernis met sy werkvolk sal die boer wel altyd hê en in hierdie skets uit die kafferlewe word party van die oorsake daarvan aangetoon. Digby Kromloop is daar 'n Engelse Sendingskool onder bestuur van Jan Ballantoe, 'n ‘geleerde kaffer’, wat darem nog sy sopie kafferbier geniet. Met behulp van Longman's Readers en 'n stewige kweperlat bring hy die kaffertjies onder die indruk van Engeland se wêreldmag. ‘Die eerste lied wat Jan Ballantoe hulle geleer het was die volkslied ‘God syf die King’. ‘Die groot kafferkaptein, Dingaan, het die Boere verniel; hulle het somar aanmekaar dood gebly lê by die rivier; maar die boere het hulle land gevat, hierdie land ook.... Eendag sal hulle weer die land terugkry, maar hulle moet net leer soos die witmense.’ Dis in hierdie omgewing dat Booia en sy ouers kom woon. Booia is die jongste kind, die verskoppeling van die familie. Sy vader, ou-Rooi, is 'n goeie bierdrinker, maar aartslui, en die enigste manier waarop hy 'n woonplek kan kry op die plaas is om Booia vir 'n jaar te verhuur. Booia moet dikwels saamwerk met die geelkaffer, Sagrys, wat ook deur sy huisgenote met die grootste minagting behandel word. Sagrys is op sy manier wysgerig aangelê, en omdat hy die ontluikende selfstandigheidsgevoel by die oorblufte Booia aanmoedig, ontstaan daar al gou 'n innige vriendskap tussen die twee verstotelinge. Die eerbiedige hulde van die jong kaffertjie is 'n vergoeding vir al die belediginge wat hy tuis moet verduur, en die wysgerige antwoorde, wat hy op Booia se oulike vrae gee, prikkel die jong kaffertjie se weetgierigheid. Booia kan egter nie verstaan waarom sy held so gedwee en lydsaam is nie, totdat Sagrys hom vertroulik meedeel hoe bang hy is om in sy wilde drif 'n moord te begaan. Die geleidelike ontplooiing van hierdie vriendskap is met innige oorgawe geteken deur 'n kunstenaar wat die siel van die kaffer net so goed kan peil as dié van die armblanke. Die kaffers in hierdie verhaal lewe; hulle is nie slegs verkapte witmense wat kromtaal praat nie. Ons sien hul aan die werk op die veld en luister na die bierpraatjies van die leeglêers by die struise; ons kry 'n besef van die ontaarding van hierdie natuurvolk as gevolg van sy aanraking met die blanke beskawing wat deur 'n verderflike skynopvoeding hom losmaak van sy oorgeërfde stamgewoontes. Hierdie verhaal is 'n kragtige pleidooi vir 'n meer simpatieke belangstelling in die naturelle-psige, en tegelyk 'n aanklag teen die blanke ras wat in die afgelope eeu die ‘swart skepsels’ alleen as goedkoop arbeidskragte, maar selde as mense beskou het. Duidelik teken Van Bruggen die sedelike verval en dierlike ontaarding deur sy beskrywing van die bierpartye. Hier verdwyn al die skyn- | ||||||||
[pagina 235]
| ||||||||
beskawing in 'n woeste orgie van barbaarse uitspatting wat eindig met doodslag. Sagrys word weggevoer deur die polisie. Ook ou-Rooi, wat so geëerd gevoel het oor sy benoeming as diaken, word verlei deur sy dranksug en moet Kromloop met skande verlaat. Daardeur word Booia se groot ambisie om Ballantoe se skool te besoek verydel. Hy moet maar weer beeswagtertjie word en sal sy vereerde held nooit weer sien nie. | ||||||||
Die Sprinkaanbeampte van Sluis (1933).Lambertus Bredenhand, die hooffiguur van hierdie verhaal, is eiefamilie van Liepie Stols uit Teleurgestel, Sitman, die meeldiaken uit Op Veld en Rande, oom Lood, die Burgemeester van Slaplaagte, Oom Tys uit Ampie, en Org Basson, die ouderling van In die Gramadoelas. Hierdie ses broers van die Lamsak-familie ly almal in meerder of minder mate aan die ongeneeslike kwaal van papbroekerigheid. Dit sou 'n interessante studie wees om die oorsprong, die wisselende simptome en verloop van die familiekwaal in elke geval te ondersoek en te vergelyk. By alle uiterlike verskil in omstandighede is daar tog ook onmiskenbare familietrekke tussen hierdie lamlendige broers van Slaplaagte, Sukkelaar, Sluis... ens. Hulle het byna almal eienskappe wat aan beter dae herinner, oorblyfsels van die beskawing wat hulle met patetiese koppigheid probeer handhaaf. Lambertus Bredenhand het deur ‘sprinkaan, skuld en boedel’ uit alles uitgeraak en dis alleen deur die goedgunstigheid van swaer Lewies dat hy nog 'n hoekie van die plaas mag bewoon. Hy verdien af en toe iets deur los werkies en verbeel hom dat hy 'n volmaakte ambagsman is, wat net deur een goeie kontrak weer finansieel selfstandig sal kan word. In werklikheid egter, is hy 'n armsalige sukkelaar, wat gedurig spog oor sy bedrewenheid in alle ambagte en sy groot toekomsplanne, maar intussen sy drie kinders laat verhonger. As ‘Ouboet’ van die familie maak hy aanspraak op die eerbiedige hulde van al sy broers en susters. Die blinde verering van sy bejaarde moeder wat in hom die ewebeeld van haar oorlede eggenoot sien, versterk die besef van sy ‘ouboetskap’ en kom goed te pas as hy nou regtig honger is. En Ouboet is darem nie te trots om 'n shilling, wat die weduwee van haar alimentasiegeldjies afknyp, in sy sak te steek nie! Maar van sy broers en susters verdra hy geen kritiek nie. As hulle maar net verlangs skimp oor sy verwaarloosde kinders, dan voel hy bitter gekrenk. Hy beskou homself as 'n voorbeeldige vader, wat sy kinders goed versorg en 'n Christelike opvoeding gee. Sy verlies aan prestige in die buitewêreld probeer hy inhaal deur 'n oordrewe strengheidsbetoon teenoor sy oorblufte kinders, wat wegkrimp van vrees as hy hul net skeef aankyk. Hy het hul wel innig lief, maar in plaas van te sorg dat hul tenminste mieliepap in die huis het, streel dit sy eieliefde om hul verstandjies met vernuftige bybel- | ||||||||
[pagina 236]
| ||||||||
verklarings te verbyster. So handhaaf hy sy roem as vaderlike priester van die huisgesin. Hy, wat nederig die Jood se belediginge moet verdra om weer 'n bietjie krediet te kry, sluit hom op in 'n ongenaakbaarheid sodra dit familiesake geld. So lei Lambertus 'n dubbelbestaan. In sy verbeeldingswêreld is hy nog steeds die onafhanklike ‘ouboet’ wat met salwende praatjies sy meerderheid wil handhaaf. Maar telkens word hy uit die droom van eie vernaamheid wakker geskud deur die krenkende realiteit van sy sukkelbestaan. Hierdie gedurige botsing tussen droom en daad het Van Bruggen fyn-ironies veraanskouelik. Ons moet glimlag oor die wewenaar, wat so swaarwigtig-vervelend kan redeneer oor geluk, maar as die oujonknooi effens swaar van begrip is met lustige basstem Uit Diepten van Ellenden ‘uitsing tot die laaste vers toe’. Maar tewens voel ons 'n innige medelyde met die arme sukkelaar wat meen dat 'n tweede vrou sy ekonomiese rehabilitasie sal verseker - ‘'n hulpe neffens hom sal die voorspoed weer verdubbel....’ En hoe wel die deernis nie in ons hart op nie as ons die patetiese figuurtjie van die kindmoeder, Ousus, betrag. Terwyl Lambertus in vrome oorpeinsing 'n late oggendrus geniet moet sy maar bontstaan om die noodsaaklikste kossies te leen - hier 'n brood, daar 'n bietjie mieliemeel.... Van jongmens-plesier weet sy niks, want haar moederlike pligte hou haar tuis. ‘Sy moet soos 'n grootmens saam met tant Leen en Ouma ou klere sit en lap en verstel, dikwels na hulle stemmige redenasies luister en die vermanings aanhoor, dat sy die wesies en Pa tog al te goed moet oppas en versorg....’ Byna daagliks moet sy haar fyngevoeligheid geweld aandoen om weer 'n aanneemlike ekskusie uit te dink as sy Klein uitstuur om iets te gaan leen. Maar haar eerbied vir haar vader bly ongeskonde, al weet sy maar alte goed dat van sy wonderlike planne selde iets tereg kom. Lambertus se aanstelling as sprinkaanbeampte bring 'n hele omkeer teweeg in die armoedige huishouding. Die spens is vol kos, en Pa kom heel deftig op 'n vosperd aangery! So lank as hy kan bewaar hy 'n geheimsinnige stilswye om die eerbiedige bewondering van sy kroos ten volle te geniet. Hierdie aanstelling is salf vir sy gekwetste hoogmoed, want nou kan hy sy verlore prestige in die familie herwin en hul lastige bemoeiing met sy huislike sake hooghartig van die hand wys. Buitendien word die hele distrik sy koninkryk; kuier-kuier kan hy rondry om orals orders af te gee, selfs aan die korrelkop Louw Grebe, wat hom altyd uit die hoogte wil behandel. En nou voel hy ook astrant genoeg om die rooihaardogter, Dirkie Coetzee, te verower! Maar iets knaag tog aan sy gemoedsrus, want Dirkie het sy eerste aansoek van die hand gewys, omdat sy al moeg was om ander mense se kinders groot te maak. In 'n oomblik van swakheid het hy sy seun Koos aan swaer Lewies afgegee, en hy voel nou dat die aandrang van die familie om hom daartoe te beweeg niks anders as 'n sluwe plan van | ||||||||
[pagina 237]
| ||||||||
die Satan was om die pad na Dirkie oop te stoot. Hy herinner hom sy doopbelofte en vorm die vaste besluit om sy spannetjie bymekaar te hou. Vol innige vadergevoelens gaan hy hulle tegemoet en met ongewone tederheid behandel hy Koos se diepsinnige vraag. Hierdie armsalige sukkelaar, so kleingeestig en kleinserig in sy hoogmoedswaan, so nalatig in die versorging van sy kroos, ken tog ook die ekstase van die opregte vaderliefde: ‘Bredenhand se vaderhart word groot. Watter span kan teen syne optrek in godsvrug en 'n goeie stil geaardheid? En nou moet hulle uitmekaar uit? 'n Buitestaander kan 'n vaderhart nie peil nie.... Koos moet eendag, so die Here wil, predikant gaan word.’ Pragtig het Van Bruggen die diepere menslikheid van hierdie eenvoudige siel aan ons geopenbaar ook in die sterftoneel waar die vader in die gebed worstel om die behoud van sy seun. Die plotselinge omswaai van knaende armoede na betreklike rykdom wek ook by Ousus 'n hunkering na geluk. ‘Moenie huil nie, moenie treur nie, die jongetjies van Sluis kom weer’ sing dit in haar hart. 'n Geurige koffiekan sal die lokmiddel wees, of ‘sy kan maar baie dikwels die werf gaan vee, so ewe ongeërg, en Adriaan de Bruin of Sarel Venter sal sonder moeite na haar toe kom’.... In suiwerheid van uitbeelding hoef Ousus nie agter te staan by Annekie nie. Dit mag waar wees dat Van Bruggen in hierdie verhaal geen nuwe rigting inslaan nie, dat hy eenvoudig voortborduur op bekende motiewe, maar wat innigheid van aanvoeling en forsheid van beelding betref, verdien sy jongste werk al die lof wat hy vroeër met Ampie behaal het. | ||||||||
Haar Beproewing (1934).In hierdie verhaal eksperimenteer Van Bruggen met nuwe motiewe. Elsie, 'n welopgevoede meisie, verlaat as gevolg van 'n selfstandigheidsdrang haar ouerlike woning en beland as onderwyseres op 'n eensame Bosveldplaas. Met die beskrywing van die primitiewe leefwyse in hierdie armoedige omgewing is Van Bruggen op bekende terrein, en hy doen dit met die talent wat ons van Ampie se outeur kan verwag. Elsie se beproewing is die lot gewees van baie Afrikaanse onderwyseresse en ons sou hierdie stukkie beskawingsgeskiedenis nie graag wou mis nie. Maar hoofsaak in die verhaal is die botsing tussen Elsie se persoonlikheid en dié van die sinlik aangelegde boer Bromberg. Hy het in die onherbergsame oord half verwilder, en omdat hy nog nooit enige ernstige teëstand ondervind het nie, verbeel hy hom dat almal onder sy gesag moet buk. Sy dominerende houding het van sy vrou 'n gewillige, halfversufte slavin gemaak wat alleen by haar kinders en vee 'n bietjie lewensvreugde vind. Elsie se voorgangers het hy gou klein gekry deur hulle | ||||||||
[pagina 238]
| ||||||||
te oorbluf met 'n soort vaderlike bemoeisiekte. Geen wonder dus dat hy begin te glo in die onfeilbaarheid van sy stelling oor die ‘veldnatuur’ nie, wat hom die reg gee om sonder inagneming van belemmerde konvensies vry om te gaan met sy onderwyseressies. Elsie se besliste optrede en haar bytende sarkasme laat egter die fondament van sy verwarde lewenshouding inmekaar krummel, en na drie dae moet hy erken: ‘Jou skielike astrantheid het my laat opkrimp soos 'n ystervark en ek het daarna opgespring soos 'n springhaas.’ Die karakter van hierdie eiesinnige, heerssugtige boer, wat deur sy kluisenaarsbestaan in 'n woeste uithoek abnormale komplekse ontwikkel, is 'n interessante gegewe. Van Bruggen se uitbeelding bly egter te oppervlakkig en fragmentaries om daaraan reg te laat geskied. |
|