Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging
(1939)–P.C. Schoonees– Auteursrecht onbekend§ 2. Dr. D.F. Malherbe.Malherbe is gebore in Daljosafat (Paarl) in 1881 en het sy eerste onderwys ontvang op die Hugenote-Gedenkskool. Na verdere studie op Wellington en Stellenbosch het hy in Duitsland gepromoveer (1906). By sy terugkeer in Suid-Afrika het hy een van die leiers van die Tweede Beweging geword. In 1910 word hy professor in moderne tale aan die Grey-Universiteitskollege, en in 1918 het dieselfde inrigting hom benoem tot professor in Afrikaans. Malherbe neem 'n eervolle plek in onder ons digters, maar sy belangrikste bydrae tot ons letterkunde is op prosagebied. Van hom het die volgende romans verskyn: Vergeet Nie (1913); Die Meulenaar (1926); Hans-die-Skipper (1929); Loutervure (1931); Die Hart van Moab (1933); Saul die Worstelheld (1935) en Die Profeet (1937). Verder 'n vyftal toneelstukke en 'n taalkundige werk: Afrikaanse Spreekwoorde en Verwante Vorme. | |
Vergeet Nie (1913).In die nabyheid van die rustige Karodorpie, Steenburg, woon die Du Pré-familie op die plaas Rietfontein. Oom Willem en tant Annie het saam oud geword in die Karo-eensaamheid. Hul dogter, Bettie, is ook 'n ‘kind van die vrye veld, 'n pragtige voorbeeld van die Afrikaner-meisie’. Oom | |
[pagina 167]
| |
Willem is enigsins melankolies van geaardheid en die oorlogsgerugte vervul hom met 'n donker voorgevoel. ‘Die vuur sal brand van noord tot suid.... en dit is my asof.... ek die end nie sal belewe nie’, so lui sy profetiese woorde op die vooraand van die groot krisis. En die plegtige huisgodsdiens is nog nie afgeloop nie, toe Servaas Vermaak, die bywoner, wat dorp-toe was en daar Adonis as skaapwagter gehuur het, met die oorlogstyding vergoed 'n end maak aan die ‘rustige rus’ van die plaasbewoners. Nie lank na Servaas kom Bettie se verloofde, Piet Marais, geneesheer op Steenburg, om afskeid te neem. Hy is Kolonialer, maar offer al sy goeie vooruitsigte op om by die Boereambulans in diens te tree. Oom Willem, wat in alle sake die Bybel tot rigsnoer neem, veroordeel rebellie, maar heg tog sy goedkeuring aan Piet se daad, as hy hoor dat hy veral gaan om geneeskundige hulp te gee. Met gloeiende geesdrif verdedig Piet sy handelwyse teenoor Bettie se besware en pyl dan op sy vosperd reguit Boere-toe. Ons ontmoet hom weer by die Boeretroepe, maar nie meer as Rooi-kruisdokter nie, want dis al die tydperk van guerilla-oorlog. Piet is trots al die teleurstellings nog dieselfde vurige entoesias, die geswore vyand en bestryer van papbroekerigheid. ‘Nee, manne, laat ons saamstaan(,) almal wat kan tot die end’. Onder sy invloed word die flouhartige Japie du Plooy en oom Jan ook ‘bitter-einders’. Intussen kom Bester, die beroemde rebelle-kommandant, met 600 man die eentonigheid van 'n vervelige namiddag verdryf op Rietfontein. Bester, 'n 35-jarige man, wat tot hiertoe alle vroue met onverskilligheid verbygegaan het, moet dadelik ‘hands-op’ vir Bettie! As sy na Piet verneem, deel hy haar mee, dat hy weet van 'n dr. Marais, wat vroeg in die oorlog aan koorssiekte dood is. Hy beloof haar om nader inligtings in te win. Oom Willem verwek heelwat ontstemming onder die rebellekommando deur die verdediging van sy Bybelse standpunt aangaande trou aan die regering. Die volgende oggend sukkel hy dorp-toe met sy eseltjies om die besoek van die Boere aan Kommandant Hunt te rapporteer, en loop 'n lelike skrobbering op, omdat sy rapport so laat inkom. Bester se liefde vir Bettie beïnvloed die bewegings van sy kommando en deur sy herhaalde besoeke aan Rietfontein raak die Du Pré-familie in die moeilikheid. Oom Willem, pas herstel van 'n swaar siekte, word in 'n vreeslike storm dorp-toe gevoer deur die Engelse. In haar radeloosheid bedink Bettie 'n wanhopige plan om haar pa te red. Sy skryf 'n brief aan Bester, wat met sy kommando nog in die nabyheid verkeer, en laat dit deur Servaas besorg. Maar Adonis verklik alles aan die Engelse en as Servaas terugkom van sy vrugtelose tog, word hy saam met Bettie en haar moeder na die tronk geneem. Oom Willem en Servaas word na Port Alfred gestuur deur die militêre, Bettie kom agter die tralies, terwyl tant Annie vrygelaat word op parool. | |
[pagina 168]
| |
Intussen het dr. Marais een van genl. De Wet se vertroudes geword en as Du Plooy met rapporte na die Kolonie vertrek, kry hy 'n brief vir Bettie mee wat hy in Bester se hande laat. Maar deur sy poging om die brief aan Bettie te besorg, raak Bester gevange en word ter dood veroordeel. In die tronk kry hy geleentheid om Bettie te vertel, dat Piet nog leef. Kort na Bester se teregstelling keer Bettie en haar moeder weer terug na Rietfontein. Oom Willem het kort na sy aankoms in die kamp op Port Alfred beswyk. Na die vrede kom Piet terug om sy bruid te trou.
Bettie word ons voorgestel as 'n ideale Boermeisie. Alleen die feit, dat sy haar afgeleefde ouers nie kan verlaat nie, weerhou haar om Piet se voorbeeld te volg en aan te sluit by die ambulans. In die gevangenis en teenoor Hunt gedraag sy haar kloek. Sy is blykbaar trots op die rol wat sy gespeel het, en as Piet haar ná die oorlog vra, of sy bereid is om vol te hou in die groot stryd teen die Engelse kultuuroorweldiging, antwoord sy met 'n tikkie verontwaardiging in haar stem: ‘Piet, mag jy my nog so 'n vraag vra nadat ek soveel opgeoffer en gely het?’Ga naar voetnoot1) Dit kom my egter voor asof Bettie haarself moedswillig in die ongeluk gestort het, en as dit die geval is, dan verloor haar ‘offer’ vir die nasionale saak heelwat van die heroïese kleure, wat die skrywer daarin geweef het. Op pagina 66 staan: ‘Al die veerkrag van haar nasionale gevoel is deur die oorlog in volle beweging gekom, en niks is daar sterker by haar gewees as die wens om positief te mag meedoen aan die stryd nie. Maar hoe kon sy haar ouers verlaat? Onmoontlik vir haar om uit te gaan as verpleegster! En so is dit haar ernstige gebed geword dat sy op watter wyse dit God behaag 'n aandeel mog kry aan die oorlog. En as sy niks kan meedoen nie, dan wou sy meely met haar volk.’ Hoe edel hierdie besluit op sigself ook al mag wees, dit neem die feit nie weg nie, dat Bettie se naasbysynde plig ongetwyfeld was om vir die veiligheid van haar afgeleefde ouers te sorg. Maar as sy by haar vader se siekbed moet waak, dan spook die gedagte van deelneem aan die oorlog, wat 'n idée fixe by haar word altyd deur haar brein: ‘Sou die Here haar roep om haar siek vader op te pas, en mag sy daarom geen deel hê aan die oorlog nie? Sou dit haar roeping en werk worde, beskeie en stil, waar sy hoë aspirasies had?’Ga naar voetnoot2) Piet Marais se oorlogsgeesdrif en wie weet, miskien ook die Engelse romans, wat sy van die skool af meegebring het,Ga naar voetnoot3) het haar blykbaar taamlik sentimenteel gestem en haar belet om 'n nugter kyk op sake te behou. As Bester haar meegedeel het, dat 'n sekere dr. Marais in die begin van die oorlog aan koorssiekte dood is, maak | |
[pagina 169]
| |
sy allerhande onuitvoerbare planne - ‘sy sou stilletjies wegraak, te voet loop as dit al was, haar lewe daaraan waag, sy sou sôre, dat sy êrens by die Boere te lande kom, sy sou Piet soek.... en as hy waarlik dood was, sy graf met haar trane bevogtig!’Ga naar voetnoot1) Die laaste sinnetjie kon wel in een van Feith se romans gestaan het. Daar is trouens meer wat ons aan die sentimentele romans van die agtiende eeu herinner. 'n Paar ou briewe van Piet maak sy ‘met voldoening ope en lees dit in stil mymering en met die gevoeligheid van 'n teer vrouehart.’ (p. 64.) Dat Bettie ‘in die traag-skrydende ure van die nag’ romantiese plannetjies uitgedink het, is psigologies volkome juis, maar ons is nie gewend, dat 'n flink Boermeisie van drie-en-twintig jaar, wat bowendien reeds op haar agtiende jaar ‘selfbewus en ryp genoeg vir verantwoordelikheid’ (p. 33) was, dat so 'n meisie, tans die enigsteGa naar voetnoot2) stut en steun van haar grys ouers, in uiters benoude dae haar alte lank oorgee aan 'n Wertheriaanse sentimentaliteit nie. Bettie se volgende dade toon dat sy doelbewus, ja moedswillig alles doen om ‘'n aandeel aan die oorlog te kry’ - m.a.w. sy lê die veiligheid van haar ouers in die waagskaal ter wille van 'n meisiesagtige gril, wat sy vir ‘hoë aspirasie’ aansien! Sy weet, dat haar pa 'n swartkruis agter sy naam het, dat die geringste suspisie hom in lewensgevaar kan bring en tog ontvang sy Bester ‘alleen in die sitkamer’ (p. 92). Bester het ongetwyfeld 'n sterk indruk op haar gemaak, en ofskoon sy trou bly aan Piet en haarself wys maak, dat ‘as Piet dood is, sy ook dood (sou) wees vir die wêreld’ (p. 90), sien sy tog verlangend uit na Bester se terugkeer. En nie alleen omdat sy hoop, dat hy nuus van Piet bring nie. Piet behou wel die ereplaas in haar gemoed, maar uit die omstandigheid, dat sy oorweeg wat Bester vir haar kan beteken in geval Piet werklik dood is, kan ons besluit dat sy persoonlikheid haar diep getref het. Sy redeneer so: ‘Sy is mos sterk genoeg, sy het Piet te lief om aan enig ander man te dink’ (p. 95). En sy doen dit tog! Bettie maak 'n krisis van ernstige weifeling deur. Sy het Bester lief en al wat haar terughou is ‘die dure besef van plig en eer.’ (p. 99.) Oom Willem het dadelik die groot gevaar ontstaande uit die herhaalde besoeke van Bester ingesien en Bettie ernstig gewaarsku (p. 95). Sy het volkome goed geweet, ‘dat alle persone, wat geheime konneksies met so 'n gevreesde en verwenste mens het op die ongenadigste manier sou gestraf word.’ (p. 96.) Tog ontvang sy Bester nóg eenmaal alleen - sy dink nie aan die gevaar waaraan sy haar ouers blootstel nie, ofskoon hy haar meedeel dat sy stap gevaarlik is en dat die Engelse dus naby | |
[pagina 170]
| |
is - sy gaat swygend met hom die sitkamer binne en steek nog daarby 'n kers op (p. 97). Op dié manier bewerk sy haar pa se ongeluk. Kan ons haar dus glo as sy uitsnik: ‘Ag Pa, ek kan dit nie help nie, ek is net so onskuldig soos Pa’? (p. 102.) Miskien wel; miskien was dit bloot vroulike onversigtigheid. Maar die volgende stap van Bettie - die brief wat sy aan Bester skrywe - is alleen verklaarbaar as 'n moedswillige poging om haarself ‘'n aandeel aan die oorlog’ te verskaf. Sy kom tot die konklusie, dat alleen Bester haar pa kan red. Het sy gemeen, dat hy die Engelse moet agtervolg en oom Willem terugbring plaas-toe? Moes Bester vervolgens Rietfontein verdedig teen die Engelse oormag? homself, sy kommando en die vrouens laat platskiet ter wille van één man? Of moes hy die afgeleefde, sieklike grysaard, teen die se eie wil saamsleep op sy swerftogte? In haar opgewondenheid het hierdie eenvoudige oorwegings nie by haar opgekom nie en in haar naïewe geloof aan Bester se al-sterkheid skryf sy aan hom - 'n impulsiewe daad - psigologies volkome juis. Maar haar moeder se opmerking, dat haar plan gevaarlik is, bring haar nie tot nadenke nie. En plotseling blits dit deur haar gedagte: Nou kan ek my ‘hoë aspirasies’ bereik - sy kry die ‘besef.... dat sy self in die draaikolk van gebeurtenisse begin meedans. Was dit dan nie altyd haar ernstige versugting nie?’ (p. 107.) Juis, sy is lank al moeg vir die eensame lewe op die plaas, waar sy al meer as 'n jaar opgesluit sit. Haar romantiese siel smag na dade van durf, en intussen suggereer sy haarself, heeltemal ter goeder trou, dat sy alles doen om haar pa se ontwil! Maar Servaas is die man, wat haar tot rede sal bring! Hy weet meer dan sy: ‘Die vlakte, die bossies, dit lewe van duisende kakies so na Vaaldam se kant toe. Die hele wêreld is vanaand vol van hulle.’ (p. 110.) Hy erken: ‘dis byna verniet om so iets te probeer en daarby gevaarlik.’ (p. 109.) Helaas! Arme Servaas verloor ook ál sy gewone boere-nugter-heid - hy kan ‘die vurige pleit van 'n skoon jonkvrou’ nie weerstaan nie! En hy gaat jou waarlik waar op die dollemansboodskap uit, ofskoon sy vrou uitdruklik verklaar dat dit ‘gek mense se werk is om so iets te doen’ (p. 112). By 'n nugter beskouing van die feite moet ons kies tussen twee opvattings: (1) òf Bettie is ten spyte van haar drie-en-twintig jaar nog maar 'n bog kind soos Janetta haar noem, wat met die grootste onversigtigheid haarself, haar ouers en Servaas in die ongeluk stort, òf (2) in 'n toestand van radelose opgewondenheid maak die idée fixe ‘om haar deel aan die oorlog by te dra’ haar onbekwaam om die simpelste logiese gevolgtrekking te maak. In albei gevalle word dit dan egter onmoontlik om haar handelwyse as 'n onselfsugtige, edele daad te beskou en verloor haar offer sy grootse betekenis. Soos Malherbe haar geteken het kan sy nooit as heldin, as die ‘moedige Boermeisie met haar sterk en besliste | |
[pagina 171]
| |
karakter’Ga naar voetnoot1) beskou word nie. Sy is eenvoudig die slagoffer van haar kinderlike onnoselheid of van haar ‘hoë aspirasies’, wat ons medelyde opwek, en die bewondering vir haar kloek gedrag in die gevangenis word getemper deur die bewussyn, dat dit alles onnodig was, terwyl ons haar bowendien met reg kan verwyt, dat sy haar ouers en Servaas met sy familie in die ongeluk gestort het - ja selfs die dood van haar vader verhaas het. Bettie, soos die outeur haar wil voorstel, is 'n psigologiese teenstrydigheid. M.H. van Campen het die raak opmerking gemaak, ‘dat kunst het zichtbaar worden der noodwendigheid in 't voorgesteld gebeuren ten gevolge heeft, en dat het blijken dier noodwendigheid de schóónheid van 't voorgesteld gebeuren uitmaakt.’Ga naar voetnoot2) Dit is juis dié sigbaarwording van die noodwendigheid, wat ons in Bettie se ‘offer’ mis. Malherbe het een van die mees dramatiese momente in sy verhaal laat glip. Hy gee ons self die gegewens vir die uitbeelding van 'n geweldige konflik; aan die een kant Bettie se geheime liefde vir Bester, die bestaan waarvan sy self nog nie wil erken nie; daarmee saamgevleg die hoop, dat hy haar iets omtrent Piet Marais sal kan meedeel en bo-op dit, haar kriewelrige ongeduld om na 'n jaar van gedwonge niks-doen eindelik haar lang gekoesterde plan om aktief op te tree in die oorlog uit te voer. Aan die ander kant: die besef dat dit haar plig is om ter wille van haar ouers en as verloofde van Piet, wat miskien nog leef, alle omgang met Bester te vermy. As Bettie in só 'n konflik eenvoudig haar naasbysynde pig gedoen het, dan sou ons haar ook sonder om te weet, dat sy dapper was in die tronk, as 'n heldin kan bewonder. Vergeet Nie is 'n aaneenskakeling van dramatiese tonele, waarin die oorlog voor ons geestesoog verbytrek. Sonder veel verandering sou dit dan ook moontlik wees om die roman om te werk tot 'n toneelspel, waarin daar wel veel aksie, maar weinig botsing van hartstogte sou voorkom. Ons kry 'n indruk van wat daar gewoel en gekook het in die hart van die volk gedurende die oorlogsjare, van die lyding van vrouens en oumense, van die dapperheid van die Kolonialers, die laagheid van die National Scouts, die vervolging en plaery onder die krygswet. Maar by die beoordeling van die boek moet ons een faktor veral nie veronagsaam nie: dit naamlik, dat die teenswoordige geslag nog in meerder of minder mate onmiddellik betrokke was in die gesketste gebeurtenisse, dat daar tallose herinneringe van die groot oorlog nog lewe in ons bewussyn. Dié herinneringe word deur die skrywer in dramatiese verhoudinge gegroepeer en iedereen kan dadelik uit sy eie ondervindinge analoë gebeurtenisse rekonstrueer. Dit versterk die indruk wat die gelesene op ons maak honderdvoudig. Die skrywer roep ou halfvergete | |
[pagina 172]
| |
impressies uit hul wegkruipplekkies te voorskyn. Op onbewuste wyse vul ons self die verhaal aan, en so kry dit oplaas 'n aktuele kleur, 'n sterk geprononseerde persoonlike karakter, wat die leser tot in die diepste roersele van sy siel beweeg, maar wat die verhaal op sigself nie besit nie. Ek noem een voorbeeld om my bewering te verduidelik. Die teregstelling van Bester herinner ons dadelik aan kommandant Scheepers. Die oorspronklike ontroeringe, veroorsaak deur die tragiese uiteinde van Scheepers, versterk die indruk, wat die soortgelyke lot van Bester by ons verwek en raak daar gedeeltelik mee geïdentifiseer. Die gevolg is, dat Bester-Scheepers in die roman 'n werklik lewende persoonlikheid vir ons word. Maar nou ontstaan die vraag: Is Bester, wanneer ons ons persoonlike ervarings heeltemal uitskakel, nóg 'n lewende persoonlikheid, ontroer die wyse waarop Malherbe hom uitgebeeld het ons dàn nog? Dit is die enigste wyse waarop ons die kunswaarde van Vergeet Nie vir die nageslag kan bepaal, want oor 'n tagtig of honderd jaar, sal die boek nie meer in so 'n voordelige posisie verkeer nie, dan kan dit alleen nog profiteer van die nasionale oorleweringe van die groot stryd. En selfs dìt sal die boek nog 'n groot voorsprong gee, want by 'n volk met 'n kragtige bewussyn word die nasionale helde uit 'n vergange glanstydperk altyd met 'n stralekrans van heilige aanbidding versier. Dit is bekend dat De Geuzen van Onno Zwier van Haren lank as 'n kunswerk van die hoogste skoonheid beskou is, eenvoudig omdat dit 'n nasionale onderwerp behandel. Maar ons keer terug tot Malherbe se karakteruitbeelding en vraag: Wat weet ons nou eintlik van Bester? Hy is 'n bekwame en dapper kommandant, wat verlief raak op Bettie. As hy hoor, dat haar verloofde nog leef, besluit hy na enige stryd om haar dit mee te deel. In die hof verdedig hy sy handelwyse op hartstogtelike manier en gaan sy dood tegemoet soos 'n held. Alleen by die beskrywing van sy laaste dae kry ons enigsins 'n blik op sy sielelewe en die totaalindruk bly vaag. Bester is sonder lewensdeurdringing geteken, daar is niks individueels, wat hom tot 'n duidelike persoonlikheid maak nie. Piet Marais eweso. Hy is. 'n tipe van die ontwikkelde Afrikaner, wat deur 'n vyfjarige studie in Europa sy insigte verruim en sy lewe verdiep het. Hy het daar ‘jare van worsteling’ gehad, hy moes dikwels ‘met smart afskeid neem van oortuiinge wat (hom) in vlees en bloed oorgegaan (was) van (sy) kindsheid af.’ Hy was 'n ernstige soeker na waarheid, wat uit ou tradisies en nuwe wetenskap vir homself 'n eie lewensbeskouing gebeitel het. In die karakter van Piet lê seker 'n stukkie outobiografie, maar in 'n oorlogsroman was daar geen kans vir 'n psigologiese uiteenrafeling van hierdie interessante fase in die ontwikkeling van die Afrikaanse student nie. Ons wag nog op die kunstenaar, | |
[pagina 173]
| |
wat die botsing en gedeeltelike samesmelting van die Afrikaanse en Europese kultuur moet uitbeeld.Ga naar voetnoot1) Ons verneem ook nog enige besonderhede van Piet se oorlogservaring en hoe hy verlang na Bettie. Maar 'n lewende persoonlikheid, met wie ons al die wisselende stemminge van die avontuurlike kommandolewe deurvoel, word hy nie. Ook tant Annie bly 'n vae figuur. Op Bettie het sy blykbaar geen invloed nie. Selfs aan Hunt was dit duidelik, dat sy geen aktiewe rol kon speel nie en die treurige gebeurtenisse slaan haar dan ook heeltemal terneer. Oom Willem is met meer liefde geteken. In sy bybelvastheid, sy afkeer van pronk en na-apery is hy 'n tipe van die Afrikaanse boer. Ons verneem dat ‘dors na kennis hom aangespoor (het) tot selfopvoeding’, maar uit die opgawe van sy biblioteek blyk, dat dit hoofsaaklik godsdienstige kennis was, waar hy na gestreef het. Hy bly getrou aan die Engelse regering, omdat sy godsdienstige oortuiging hom leer, dat rebelleer sonde is. Maar, as hy later persoonlik kennismaak met die onregverdige taktiek van die Engelse, laai sy haat op teen die vyand van sy volk en kry hy simpatie met die rebelle. Vergeet nie is die plegtige boodskap, wat hy aan Servaas gee op sy sterfbed. Bester, Piet Marais en tant Annie is karakters, wat getipeer, maar nie psigologies gekreëer is nie. Die skrywer staan te veel met sy eie ekheid tussen die objektief beeldende teksdele, hy mis die gawe om sy gegewens tot 'n saamgegroepeerde eenheid te bring, om sy persone heeltemal objektief van uit hul eie innerlike wese te laat lewe. Deur die subjektief deurleefde werklikheid vleg hy sy eie beskouings en daardeur verdwyn die realiteitsillusie. Die roman word 'n aaneenskakeling van dramatiese momente, maar geen epiese struktuur, waarin die ganse sielelewe van 'n groot tydperk in sy gehele menslikheid tot een grootse beelding samesmelt nie. As Piet Marais oorlog-toe ry hoor ons: ‘Dis die eerste rit vanaand van 'n besielde Kolonialer na 'n slagveld wat so groot sal word soos byna die gehele beskaafde Suid-Afrika, na 'n oorlog wat nie sal oortref word in gemene gruweldade nie.... ens.’ (p. 22). Dit is wat Malherbe weet, maar Piet was tog geen profeet nie. Op hinderlike wyse dring die skrywer homself hier op die voorgrond. Sy historiese kennis verwerk Malherbe presies soos De Waal. Op pagina 52-54 staan 'n lang oorsig van militêre gebeurtenisse en op pagina 63-64 'n uiteensetting van die toestande onder die krygswet. Alleen deur 'n betoog kan hy die nodige atmosfeer vir sy verhaal skep. Só kry ons geen begrip van die dramatiek van die worsteling nie. | |
[pagina 174]
| |
Soms egter slaag Malherbe daarin om deur pittige plastiek die leser direk te tref. 'n Voorbeeld daarvan is die mooi kommandotoneeltjie in hoofstuk X, waar 'n lewendige dialoog ons dadelik op hoogte van sake bring. Die brief uit die konsentrasiekamp met sy bemoedigende woorde: ‘Gaan voort, want ons saak is reg en God sal ons nie verlaat nie’ laat ewe ons gemoed tril, en ons sien die duisende vroue in geduldige lyding. 'n Oomblik later vaag die nugter vraag van generaal De Wet: ‘Hoe is die posisie?’ alle droomgepeins weg. Maar as kort daarop ‘soos 'n magtige gebed waar berusting in ruis’ die burgers se plegtige lied tussen die koppies weergalm en die generaal en sy staf met eerbiedige gebaar hul hoede afhaal, dan sweef ons op die klankedeining na 'n wonderland van heilige herinnering - dan sien ons die stoere manne ‘saamsing met vrou en kind, met vrind en bloedverwant onder gewyde dak....’ Hier is innigheid van weergawe. Ons voel die diepe kneusing van sterk manneharte, wat op die nuwe dag in stille Godsvertroue wag. 'n Skrywer, wat so mooi die nodige sfeer met uiters gevoelige tikkies kan aandui, hoef waarlik nie sy toevlug tot koel-verstandelike historiese geredeneer te neem nie. Hy hoef nie uit sy denkbewussyn allerlei verklarende toeligtings aan te voer nie - die leser vang dadelik die aksent van waaragtigheid uit die klank van sy woorde op. Maar selfs by hierdie mooi veldtablo kom die skrywer se opdringerigheid te pas. Hy vind dit nodig om weer blyk te gee van sy historiese kennis en vertel ons dat ‘die wêreld in kampe van blokhuise afgeperk is.... waaromheen swaar kolomme opereer met 'n onuitputlike gedetermineerdheid om die groot veggeneraal van die Boere in die reusenetwerk van bewegende lyne toe te wikkel’.Ga naar voetnoot1) Dat De Wet se gevangeneming die Boermagte sou knak is 'n feit, só vanselfsprekend, dat die meedeling daarvan absoluut oorbodig is, vir ons èn vir die nageslag. Mens sou ewegoed 'n Fransman daaraan kan herinner, dat Blücher en Wellington vir Napoleon wou vang by Waterloo!! As die skrywer die orige informasie tog wou meegedeel het, dan moes hy dit so in die dialoog gevleg het, dat ons dit nie voel as 'n opsetlik skoolmeesteragtige opmerking nie. Gebrek aan plastiek is daar in die volgende sinnetjie: ‘In 'n omsientjiestyd is die welkom bevel uitgevoer.’ (p. 135.) Dit is 'n blote konstatering, wat by die leser geen impressie van die handeling wek nie. En juis in die vorige sin slaag die skrywer daar pragtig in om deur die herhaling van die woord afsaal 'n duidelike gehoorbeeld te suggereer. ‘Afsaal’, klink dit deur die rye, ‘afsaal tot ver agteruit en rondom’. Ons hoor hoe slaperige burgers met sware basstem mekaar die woorde nasê, totdat die klankeketting dreun in die agterste gelid. Maar in plaas van die gehoorhallusinaie te verinnig deur die geskuifel van die saals, | |
[pagina 175]
| |
wat me dowwe plof en stiebeuelgerinkel op die aarde bons, kom die skrywer met sy niksseggende verklaring: ‘In 'n omsientjiestyd is die welkom bevel uitgevoer.’ Nog so 'n geval vind ons op pagina 13. ‘Dit kan stil, ontsettend stil word op Rietfontein. In die middel van die dag kan dit gebeur dat daar geen lewensteken te bespeur is nie.’ Uit so 'n beskrywing blyk duidelik, dat die outeur nie in die toestand is nie, maar praatjies oor die toestand maak. Hoeveel mooier is die beeld waarmee hy ons dadelik die stilte en eensaamheid op Steenburg laat voel - die dorp, ‘waar alle geluid en rumoer van menslike bedrywigheid nietig wegsterwe soos die breek van 'n dun, droë takkie in 'n ontsaglike woud’. Dan is daar nog iets wat hinderlik is in die kommando-toneel. Japie du Plooy is ‘deur die invloed van dr. Marais tot 'n waaghals en onvermoeide verkenner omgetower.’ (p. 138.) Ook al ‘in 'n omsientjiestyd’? Vir so 'n sielkundige bolmakiesie het mens 'n ouderwetse toordokter nodig en ek twyfel of Piet dié kuns in Duitsland geleer het. Daar is nog meer voorbeelde van die neiging van die skrywer om hom tussen sy verhaal en die leser te plaas. Servaas kom die dorp ingery op die 12de Oktober 1899. Dan kry ons in enkele raakgetekende lyne 'n pragtige ets van Steenburg en omgewing, - maar dit is nie Servaas, wat die dorp so sien nie - dit is Malherbe. Ons loop nie saam met Servaas onder die peperbome nie. Nee, die skrywer sit op een van die koppies en peins oor die ‘sukkel-werksaamheid’ van klein mensies en die wydomhemelde velde, waarin die dorpie ‘soos 'n nouliks sigbare stippie’ wegsink. Intussen vergeet ons Servaas totaal, verdwyn alle realiteitsgevoel. Malherbe vertolk die gedagtes van sy persone deur sy liriese, parafrase in plaas van die gedagtes self, in hul eie taal te gee. Op pagina 34 word die gang van die verhaal onderbreek deur die volgende opmerking: ‘Arme Bettie en Piet, watter reggeaarde sou nie medely hê met julle nie,....’ en op pagina 46 roep hy uit: ‘O, die wonderlike gawe van heerlike ontboeseming aan die mensekinders gegee,....’ Bettie se innerlike lewe word soms op fyn-psigologiese wyse deurvoel. Haar tobbery oor die lot van die geliefde, die nuansering van haar gevoelens by die verskyning van Bester, die manier waarop sy wik en weeg wat hy vir haar sou kan beteken ingeval Piet werklik dood is, dit is treffend uitgebeeld. Maar haar karakter word onwaar, omdat ons nie kan glo aan die egtheid van haar ‘offer’ nie. Ook die tekening van oom Willem is aandoenlik in sy egte menslikheid. Maar die groot betekenis van Vergeet Nie as literêre kunswerk lê nie in die karaktertekening of komposisie nie, maar in die styl met sy sterk persoonlike aksent. Malherbe se prosa is byna heeltemal vry van vreemde invloed. Dit is prosa met 'n eie ritme, prosa waarop 'n fyn digterlike waas rus. Hy | |
[pagina 176]
| |
beskryf nie alleen die uiterlik van wat hy sien nie, maar dring deur tot die innerlikste wese, sodat ons die geur daarvan kry. Die skroeiende son brand ons deur die hele boek, ons sien die stowwerige dwarrelwinde op hul grillige togte oor die vaal Karovlaktes. Al die wisselende natuurtonele het die skrywer diep ontroer - die skaduwees van die swart wolke, langsaam skuiwend oor die jong skaapbossies, wat ‘soos dwergies koes’; die plasreëns, wat neerbons met woeste geswiep, die langgerekte kettingligte wat geheimsinnige tekens aan die swart hemel skrywe. Op Rietfontein het hy die witgeswelde arms van die vyelaning gesien, ‘waar die jong vye soos klein kindervuisies aan uitloer’; Steenburg teken hy met 'n paar uiters fyn penseelstrepies - die ‘rustige Karodorp, dromend in selftevredenheid en wyd omwoon deur slapende koprande wat in donkerbruin pantser en ylvaal groei uitgebeiteld rus teen die ewigblou hemel aan.’Ga naar voetnoot1) Sonder aarseling vertolk die digter die fantastiese skyn wat die dinge in sy oog aanneem; sy impressionistiese beelde tril en bewe van jong lewe. Sy metafore is nie spoggerige blinkgoed, wat as versiering van buite opgeplak is nie, hul sit vasgegroei in sy skepping, wel spontaan op uit sy onbewustheid. Adonis se ou baadjie is ‘lewensmoeg en klaar met die wêreld’, die kleurevariasie van sy gelapte ferweelbroek is ‘soos 'n bont mensesee by 'n wedstryd waar die son sy ligte glans oor heenstrooi op 'n vrolike somermiddag’. So gee Malherbe ons telkens met 'n paar raak-etsende woorde 'n verrassend-nuwe kyk, en haal hy skoonheid selfs uit die flenter-ploiings van 'n ou Hotnot. Op die plaas het hy die ‘dowwe basmusiek van die ooie, swaar van dreuning nes dié van 'n aanstormende vloed afgewissel deur indringende skreenote van die lammertjies’ gehoor; hy het die kalwers stofdraaie sien maak as hul onbekommerd die jong dag ingaan. Die swaar reëndruppels spat teen die vensterruite ‘of jy ertjies saai’; die westewind ‘die hoopbederwer van die Karoboer.... vlie tussen die wolke in en skeur hul uiteen met dreunende en druisende gebaar. Wild klop hy hulle uiteen, die swaar gepakte wolkemassas soos 'n geoefende hanteerder van 'n sweep 'n digte klomp vee, totdat hul uitgedun heenseil, een-een wegsmeltend onder sy verskroeiende asem, en die lug weer vry neerblou in die hittige sonstrale.’Ga naar voetnoot2) | |
[pagina 177]
| |
So magtig is die indruk van die natuur op die skrywer, dat hy al die wisselende stemminge van sy persone met 'n stukkie natuurvisie deurlewe. As Servaas ‘vol van vrees vir die toekoms’ teen ‘die vaal hange uitslinger met sy kar’, dan lyk ‘die swygende rande so naar, so onvriendelik nes dreigende ongediertes’, dan ry hy op 'n pad, wat ‘spookagtig wegslinger tussen die donker swartkoppe in.’ Wanneer Piet Marais wegry van Bettie oorlog-toe, dan is dit donkermaan, dan sing ‘'n byterige Oktoberluggie 'n klaende sangetjie’ in sy ore. En as Bettie hom agterna kyk dan straal ‘die blinkende sterre met oë van genade op 'n verbroke vrouehart’ neer. By haar ontwaking die volgende oggend ‘lê die sonnegoud heilig en skoon soos 'n glimlag van Gods genade’ op tafelrande en koppies. Vir Japie du Plooy en sy maats is die rooi lug 'n onheilspellende teken. Die westewind laat Bettie huiwer; ‘net so wreed en meedogenloos soos die stofstorm daar buite heenbruis, so het die omstandighede ook met haar lewe gespeel!’ Wanneer oom Willem weggevoer word van Rietfontein hang ‘'n afgryslike weer in die lug’ en na die storm ruis die sagte buitjies ‘soos 'n vreedsame verontskuldiging vir verbygegane wreedheid’ neer oor die onskuldige grysaard. En die vroue op die plaas voel ‘of die natuur selfs geen simpatie en gevoel vir hul leed had nie.’ Oor die kindertjies van Servaas ‘gly die sonstrale van 'n koninklike somermiddag beskermend en seënend.’ Oom Willem sterf saam met die ondergaande son en die geruis van die see is ‘'n plegtige dodeklag’. Wanneer Bester sy doodvonnis hoor, sien die son ‘soos 'n rustige god in spraaklose medely op 'n toneel van menslike leed’ neer. By die uitvoering van die vonnis kom die son weer ‘net agter verre rande uit.... terwyl rondom die ligfontein 'n bloedrooi halwe maan ver in die blou uitsirkel. Betyds gekom om bloedvermaak te aanskou’. Hier egter kry ons die indruk, dat die son en die bloedrooi maan daar met geweld bygesleep is. Veral die gekursiveerde sinnetjie bederf die stemming, terwyl die omskrywing ‘ligfontein’ banaal is. Wanneer Piet en Bettie na die oorlog op die klipheuwel by Rietfontein sit, dan ‘treur ook die son in sy bloedrooi vlieserige omhulsel, 'n weerglans van die bloed wat vergiet is op die Afrikaanse velde’, maar enige oomblikke later as hul twee siele ‘saam(vloei) in 'n heilige vervoering van onvermengde geluk, van toekomsdrome en toekomsweelde’ dan ‘skemer die laaste glimlag van die ondergegane son in roerlose stilte uit....’ Vergeet Nie begin met die son en eindig met die son. Meestal slaag die skrywer daarin om met sy digterlike visie op die natuur sy stemmingsbeelde te verinnerlik, maar dit word ook soms bloot manier. Naas eg-Afrikaanse beelde, wat getuig van fyn waarnemingsgawe kry ons egter ook flou-geryde uitdrukkings soos: ‘Verder het hy die sleutel waarmee hy onmiddellike toegang tot Bettie sou verkry’, (p. 69); | |
[pagina 178]
| |
Bester is oortuig van sy ‘onblusbare liefdegloed’ vir Bettie (p. 96); Aan Oom Willem het die willekeur sy skaamtelose hand geslaan. (p. 149); Bester het sy vonnis in die gesig gekyk soos 'n marmerbeeld (p. 186); ens. Ook onvervalste retoriek: Die suiwer suiderhemel met sy ontelbare flikkerbronne.... 'n klanklose(?) prag van lewende juwele gesaai oor die grondelose boesem van die lug,.... (p. 44); 'n gloeiende naald boor langsaam deur sy siel, agterlatend 'n smal baan van verskroeide lewensvreugde (p. 44) - 'n beeld wat positief walglik is. Afgeslyte uitdrukkings ontstel ons in dubbele mate by Malherbe omdat sy stylkuns oor die algemeen deur so 'n innige, suiwer-eenvoudige woordkeus beheers is. Ons voel dat hy gesoek het na die alleen-juiste woord en dikwels klink daar 'n harmoniese toon in sy geïndividualiseerde sinsbou. Hy wou méér gee as 'n gewone amusementsroman en as een van die eerste kuns-uitings in prosa sal sy werk steeds van belang bly. Hy het die joernalistieke vaalheid uit ons taal weggevaag deur sy fleurige beelde, ontleen aan Afrikaanse veld en lug, en daarby besit hy as digter 'n fyn gevoel vir woord- en klankwaarde. Ten spyte van die foute in sy styl en komposisie hang Vergeet Nie soos 'n klein druiwetrossie in die groen wingerd van ons letterkunde. Die beelde met hul Karo-omwaasde ongereptheid is die wynkleurige korrels, mekaar verdeukend in die transparante ronding van sappige swelling, wat die tingerige steeltjies in hul liefdegroei bedek. En wie, stil-gelukkig, die korrels een vir een in al hul sonnegeurende sappigheid geproef het, sal ook die tere stingeltjie nie àlte wreed vergooi nie. | |
Die Meulenaar (1926).Op die Bolandse plaas, Meulkloof, is 'n vandisie aan die gang. Tys Theron het vir sy broer borggestaan en moet die ou familieplaas verkoop. Op 'n handige wyse laat die skrywer ons kennismaak met die hooffigure, die swaarmoedige eienaar van Meulkloof en sy gelowig-vertrouende eggenote Betta; die slim berekenende prokureur Louw, wat deur 'n teatrale maneuver die plaas ter elfder ure uit die hande van die skuldeisers red om so vat te kry op oom Tys se mooi dogter, Leonore. Maar die meeste lig val op die nuussnuffelaar, Piet Mens, wat ons met sy ‘streepsakvol kletsstories’ goed inlig oor die verhouding tussen die persone, en die eenvoudige meulenaar, Faans, wat half suf oor die afskeid van sy geliefde meule, sukkel om die toedrag van sake te verstaan. Tussen die vandisiedrukte deur kry ons 'n mooi blik op die ou wynplaas, waaroor die donker skaduwees van die filoksera toesak. Ek noem maar net so 'n pragtigbeeldende sin soos: ‘die tuinmuur wat.... agter donker eikestamme langs in gesellig-vrindelike spierwit lyning opstryk tot bo waar die pad swaai om 'n stokou seringboom’ (p. 6). | |
[pagina 179]
| |
Mooi is die tekening van Faans se jeukerige werklus, sy verlange na die ‘rammel-ritteling van die meulhuis’, die enigste musiek van sy kleurlose bestaan. Hy is een van die Ampie's van ons volk, 'n natuurkind, wat op ons eindelose vlaktes agter skape rondgeswerf het, totdat die genadelose natuur hom neergesmak het in die agterbuurtes. Tys Theron het hom uit die verwaarlosing van Blikkiesdorp gered, maar daar was tog iets geknak in hom, en so traag het die sukkelgroei van sy siel in die nuwe omgewing uitgebot, dat die dertigjarige Faans geestelik nog maar 'n kind was. 'n Troue werkesel is hy, gelukkig in sy daaglikse doening, al sy verlangens gesus deur die egalige rammeldeuntjie van die ou meule en die vertroulike geselskap van sy ‘suster’ Leonore. Maar die buitengewone gebeurtenisse op Meulkloof laat ook Faans opskrik uit sy rustige dommel. Met die traagheid van 'n Sitman kom hy tot die aandoenlike besluit om sy deel van die maalgeldjies op te offer. Hy moet help om die plaas los te boer! En as hy eenmaal besluit het, sit die idee ‘soos 'n olienhoutstomp in potklei’. By Ampie is dit die kronkelinge van 'n naïewe grootheidswaan wat ons tref, maar hier is die eenvoudige liefdedaad soos die sussende trooswoordjie van 'n kind, wat sonder besef van die hopelose ouersmart, tog uit pure aanhanklikheid meely. Die dertigjarige kom tot 'n late geestesgroei. Hy begin homself rekenskap te gee van sy verhouding tot Leonore en tob in sy enigheid oor los praatjies wat hy opgevang het oor haar vryers. Die herhaalde besoeke van Louw begin hom te hinder. Maar dis veral die skinderpraatjies van Velbaadjie wat hom tot inkeer bring. Sy eerste gedagte is wraak. Dié astrante Hotnot wat dit gewaag het om 'n oordeel uit te spreek oor 'n witman, moet op sy plek gesit word. Maar die feit dat Koos Bester hom as 'n moontlike mededinger beskou, bring die erotiese kant van sy natuur, wat tot hiertoe nog gesluimer het, in aksie. ‘Dié middag by die ete het Faans met ander oë na Leonore gekyk’ (p. 57). Voorlopig egter is dit die bitterheid oor sy vermeende agteruitsetting deur Leonore wat sy gedagtes beheers. Hy is goed genoeg om haar skoene te versool, maar as die jongkêrels kom, moet hy padgee! In hierdie gemoedstemming begin hy half te glo aan Velbaadjie se praatjies dat hy ‘agteraf’ is en net vir sy kos en klere werk. Met die koms van Koos Bester word sy geprikkelde jaloesie opgesweep tot 'n koorshitte. Sy verstand, wat anders so traag werk, vat dadelik die betekenis van Velbaadjie se half sak koring. Dat hy nog die koring van Bester se parmantige handlanger en speurder moet maal, is darem te veel geverg! Die opgekropte haatgevoel van die laaste maande bars los, noudat hy eindelik 'n tasbare vyand het op wie hy hom kan wreek. Die afranseling van Velbaadjie is 'n veiligheidsklep. Maar die wrokgedagtes woeker voort in sy siel. Hy is magteloos in | |
[pagina 180]
| |
sy woede, omdat hy sy minderwaardigheid gevoel teenoor die verfynde aanvalsplanne van die listige vyande wat hom van Leonore wil beroof. Hy kan alleen steun op sy fisieke oormag. ‘As dit 'n vyand was wat hy met die vuis kan beveg, hy sou hom byloop met al sy mag, en nie ophou voor hy hom nie klaargemaak het, of voor hy self nie dood is nie’ (p. 64). Sy groeiende liefde vir Leonore, waarvan hy nog nie heeltemal bewus is nie, maak hom siende. Op die piekniek begin hy sy posisie beter te besef. Hy is maar net die ou pakesel, goed genoeg om die padkos teen die steiltes op te sjou, maar verder moet hy padgee! En sy verbittering vind uiting in die nors opmerking waarmee hy Koos Bester se slimpraatjies afkap. Dit streel sy gekrenkte eergevoel as hy Piet kan troef in die diskussie oor die ligging van die plase, en sy nydigheid oor die intimiteite tussen Leonore en Koos, wreek hy op die klippe wat hy van die berg afrol. Met die verjaarsmaal van tant Alie kry hy eindelik 'n kans om een van die gehate belaers van sy ‘suster’ neer te vel. Die wrokgedagtes, wat hy so lank getroetel het, prikkel hom tot 'n impulsiewe daad, waarvan sy vlak verstand die gevolge nie kan besef nie. Hy het geen ander middel van verweer nie as sy vuiste, en in 'n uitbarsting van dierlike woede pak hy Louw aan sy gorrel beet. Die primitiewe veginstink beheers hom. Sy erotiese gevoelens word nog aangewakker deur Gareopa se suksesvolle vrytaktiek, en in sy drome verskyn Leonore nou as ‘sy Engel wat hy aan sy hart wil vasdruk’ (p. 90). ‘Die liefdesbewussyn (het) in sy siel opgestaan soos 'n stormwind’. Onder Leonore se bestraffing vlam die veglus weer in hom op: ‘Ek is nie vir hom bang nie’. Maar hy voel tog die strieming van haar verwyt, ofskoon dit hom moeite kos om die moontlike gevolge van sy daad te besef. Noudat die mededingers van die vlakte af is, moet Faans sy slag slaan. Hy het lank genoeg sy engel op 'n afstand aanbid. Maar as hy die aand met die tonteldoekwedstryd 'n mooi kans het, ‘dwing sy hartslag om die bewerasie te kry’ en sy eerste aanvoorvraag is net so naïef soos die van Ampie: ‘Het jy die pannekoek gebak vanmiddag?’ (Ampie vra: ‘Voel jy sleg, Annekie?’ (p. 99). Leonore moedig hom aan deur haar skertsende opmerkings, en net soos Ampie, raak hy weg in grootmansvisioene. ‘Wragtie-waar, Leonore, ek sal vir jou wys - die meul en die boerdery - ek sal geld maak, wragtie-waar’ (p. 101). Hy merk wel dat Leonore 'n bietjie gekskeer, maar reken tog dat sy eerste probeerslag nie sonder sukses was nie. Vir die eerste maal het hy sy ‘skamerige agterhoudenheid’ oorwin. Sy geesteslewe kom tot 'n | |
[pagina 181]
| |
late bloei. Met 'n fyne ironie het Malherbe hierdie opsittoneel geteken. Leonore se vertrek na Kaapstad spoor Faans aan tot die hartstogtelike oorrompeling in die meule (p. 106). Sy liefdesverlange word nou so sterk dat die eentonige dreunmusiek van die meule hom nie meer bekoor nie. As so 'n skepsel soos Gareopa tog sy koppige meid kan oorwin, waarom sou hy dit dan nie regkry nie? Maar oom Tys se vaderlike teregwysing laat sy lugkastele omtuimel en soos 'n kind wat na 'n goeie pak slae beterskap belowe, stamel hy: ‘Ek sal dit.... nie weer doen nie.’ Hierdie belofte gee hy egter aan sy weldoener in 'n stemming van weke dankbaarheid, sonder dat hy enige begrip het van oom Tys se redenering. Dis 'n spontane opwelling van sy kinderlike aanhanklikheid, nie 'n verloëning van sy liefde nie, want Faans is een van dié nature wat maar eenmaal in die lewe liefkry. Nou begin die swart onweerswolke saam te pak oor Meulkloof. Betta word ernstig siek en sterf, Faans kry 'n hou met 'n knopkierie, die verband word opgesê. Faans se ongeluk bring toenadering tussen hom en Leonore, en hy vra haar ook om vergiffenis. Die ou werklus stoot weer in hom op en deur 'n eenvoudige logika oortuig hy homself, dat dit net deur sy haastigheid was, dat hy van Leonore vervreemd geraak het. Hy is nog vol hoop en sal net sy taktiek verander. Soos die ou meule dag na dag dieselfde ou liedjie sing, so maal ook Faans se gedagtes al om Leonore. Onder die lemoenboom kry hy eindelik weer 'n kans om van sy liefde te getuig. Die stamelwoordjies wat hy uitkry is die wanhopige kreet van 'n hunkerende siel: ‘Leonore, o jy moet vir my sê, ek kan nie langer wag nie, ek gaan dood so.... Verstaan, jy en die meul.... dis al wat ek voor leef....’ Hierdie swygsame onnosele het onder invloed van sy liefde eindelik uit sy deemoedige onbewustheid ontwaak tot 'n persoonlikheid, wat sy eie siel ken en die geheim van sy diepste wese in 'n roerende pleitrede openbaar. Baie eenvoudige siele soos Faans, vol van 'n hunkerende innigheid, gaan ook sku die lewe deur, sonder dat hulle ooit tot uiting kom. Onbewus van die sieleskoonheid wat daar in hul lewe, verstom hul meer en meer, totdat hulle geruisloos die groot stilte ingly. Maar Faans het die moed om na sy deeltjie geluk te strewe, en soos hy daar staan onder die lemoenboom met sy witgestuifde mosdoppie, ruis daar in die siel van die meulenaar die magtige lied van 'n groot liefde. As Leonore hom ontnugter, roep hy uit: ‘Hoe kan ek verder lewe?’ Toe hy verder nog hoor van die opsê van die verband en besef dat sy enigste ou trooster, die meule,Ga naar voetnoot1) ook verlore is, pak hy in sy wanhoop al die skuld op homself en met die uitroep: ‘Dit moes maar 'n doodhou gewees het’ strompel hy na die meule toe. Met 'n koppige onversetlikheid klamp hy hom vas aan sy selfbeskuldiging. Die siel van die dertig- | |
[pagina 182]
| |
jarige kind het wakker geword uit 'n sluimerswaarte, dromerig die lewe ingestaar, geworstel om die skaduweebeeld van sy verlange te gryp, en toe weer die swaar ooglitte vergoed in die liggaamlike dood gesluit. Die lewenskiempie in Faans sou onder die gunstigste omstandighede kon ontbloei het tot 'n geringe mate van innerlike skoonheid. Maar 'n vroeë ryp laat die eerste tere uitspruitseltjies genadeloos verskrompel en deur sy aanleg, deur sy geringe geestelike ontwikkeling, mis hy die krag om 'n afgestote liefde tot innerlike lewe om te werk. Dat die moontlikheid tot 'n vollediger menssyn met een felle slag so onherroeplik afgesny word - dit is die weemoedige tragiek van Faans se lewe. Al wat daar nou vir hom oorbly is 'n troostelose plantebestaan. Soos 'n slaapwandelaar sal hy weer verder deur die lewe dwaal. ‘Daar ver in die onderveld met 'n paar stukkende velskoene in die doringveld en skape oppas.... en lewe sonder om te dink aan wat kom....’ (p. 199). Oom Tys se jammerhartige verklaring dring nie deur tot sy afgetobde brein nie en in botte wanhoop herhaal hy net: ‘Oom, dit moes maar 'n doodhou gewees het!’ Sy versmade liefde slaan oor in 'n skroeiende pyn, wat hom geestelik en liggaamlik verteer. Hy begin selfmoordgedagtes te koester. As die afskeidsmôre eindelik aanbreek styg die onkeerbare drang in hom op om nog eenmaal vir oulaas die stem van sy lewensmaat te hoor. ‘Nee, nog eenmaal moet die meul dreun, nog eenmaal!’ Op die trap oorval 'n duiseling hom en daar teen die klipmuur vind die slaapwandelaar die ewige slaap. En die dreungeraas van die ou meule wat hom soveel jare in sy geestelike sluimering getroos het, sus hom ook in die dood in. ‘Toe verstel Tys die skuif wat sy hand lang, lang jare nie aangeraak het nie. En toe staan die groot swart wiel stil daarbuite, en die stene en die ratte en die siwwe stil hierbinne, soos die meulenaar op die vloer’ (p. 201). Ons staan hier nie by 'n ‘treurige ongeluk’ nie, maar by die tragedie van 'n eenvoudige siel, wat na sy geringe vermoë geworstel het met die lewe, maar wat noodwendig moes ondergaan. Selfs sonder die aanduiding van die fisieke oorsaak van sy dood voel ons dat Faans se ondergang sielkundig onvermydelik is. Met dié mooi slot kon Malherbe tevrede gewees het. Wat hy op die hierbo gesiteerde sin laat volg bederf net die stemming, want die versugting oor die oplossing klink onverskillig in die mond van Tys, en kom alleen van die outeur. Met Faans het ons letterkunde nog 'n lewende mens ryker geword. Die ander persone word wel anekdoties en pittoresk behandel, maar die grondslag van hul sielelewe word nie ontbloot nie. Die besielde beweging ontbreek en die besonderhede oor hul innerlike gesteldheid word nie deur 'n lewende draad verbind nie. Dit is of die skrywer al sy liefde aan Faans gegee het en hom nie die tyd gegun het om hom in te leef in die | |
[pagina 183]
| |
ander karakters nie. Louw is die gewone romanskurk wat moet help om die oplossing te bewerkstellig. Leonore, met haar ‘hoë aspirasies’ is 'n swak replica van Bettie, en haar worsteling om haar ‘offer’ te bring is vir my net so onoortuigend as die van haar dubbelgangster. Die skrywer probeer wel om die ‘afgronde’ van haar smart te beskrywe, maar hy is nie in staat om haar gevoel uit te beeld nie (vgl. o.a. p. 174). En ten spyte van dié ‘afgronde’ twyfel ek aan die egtheid van Leonore se smart, omdat hierdie rebellerende meisiekind selfs by die sterfbed van haar moeder so besig is met haar musikale aspirasies, dat sy dit regkry om te tob oor die feit dat haar moeder juis ‘op hierdie tydstip’ moet sterwe (p. 103). Dieselfde gedagte spook nog knaend deur haar brein selfs as sy haar skik in haar lot: ‘En waarom moes dit juis nou gebeur?’ (p. 103.) Net so onoortuigend as die skildering van haar smart is ook die tekening van haar liefde, want die herhaalde ‘eendag’ met 'n paar.... is net 'n aanduiding van die skrywer se onmag. Ons kan alleen hoop dat Malherbe eendag daartoe sal kom om die botsing in 'n vrouehart met innige deurvoeling uit te beeld en intussen dankbaar aanneem wat hy ons in Faans gegee het. ‘Na die heuwels van my jeugland lok 'n stille stem my aan....’ sê Malherbe in 'n gedig wat aan die roman voorafgaan. Aan dié jeugherinneringe het ons die treffende skildering van die Bolandse wynplaas te danke. Soos hy in Vergeet Nie die Karo-landskap vir ons laat lewe het, so openbaar hy hom hier weer as die liefdevolle siener, wat al die skoonheid van die daaglikse plaasbedryf kan omvat met sy wye blik. Dit is 'n groot voorreg as 'n kunstenaar die werklike onderskeid van een landstreek teenoor 'n ander kan aanvoel. Meulkloof is nie 'n idilliese plaas in 'n vae niemandsland nie - dit kan net in die Boland lê. Die swaarmoedige eienaar mag wel arkadiese neigings hê en meer van sy koerant en koffie hou as van die gewone swoegwerk, maar die plaasvolk word met fors beeldende lyne geteken in hul daaglikse doening. Malherbe ontrol die hele plaasbedrywigheid voor ons soos dit wissel na gelang van jaargety, en met die fyn voelhorinkies van 'n wakkere observasie raak hy telkens skilderagtige besonderhede aan. By die mebosmaak krimp die meide se bruin vingers wit ‘van woel met die pappery’; om die voorstoep ‘dwaal 'n lêhoender lui-lui verby met sy bek wyd oopgerek of sy kakebeen uit lid is’; op die mos in die onderbalie drywe ‘perlemoenblase soos groot mensoë’ rond.Ga naar voetnoot1) Tot die mooiste gedeeltes behoort die beskrywing van die wingerdspit (p. 144 vlg.) en die wedstryd tussen die astrante Velbaadjie en Korneels. Malherbe ken al die eienaardighede van die Kaapse Hottentot en het hul taal goed beluister. Hoor maar | |
[pagina 184]
| |
so 'n tergerige Velbaadjie: ‘Nee-a, nie bank spit nie! Toe dan, waar is jou murg nou?.... Vandag bars jou akker! Heeldag Jan du Toit se brood opeet, Jan du Toit se bokvleis klaarmaak, en dan nog bank spit! Toe dan nou, Korneels van Blerk, styf en sterk, gou by die bak, maar vrot by die werk!’ (p. 149.) Malherbe beskryf nie alleen die Hottentot nie - hy beeld hom ook uit in aksie. Ons hoor sy vleiery om 'n ekstra sopie te bemagtig, ons sien hom gebukkend staan tussen die brokkelende sooie by die wingerdspit, ons hoor die dowwe slae van die dissel in die ingewande van die hol stukvate. In die parstyd stap Korneels ‘met sy kort mostaai toiingbroekie tot in die watervoor waar hy sy gespierde kaal bolyf laat sak om sy geel seningbene te was waar rooi en groen druiwedoppe skilderagtig aan vasklou’ (p. 52). So sien Malherbe alles raak op die ou wynplaas, tot die blinkgeslypte gereedskap en die kwikstertjies wat tussen die sooie rondwei om erdwurms op te pik. En tussen die gewone bedrywigheid deur teken hy in lewendige toneeltjies die Hottentot met sy spoggerige aksies, sy bygeloof en sorgelose vrolikheid, sy eienaardige vry-metodes en inkruiperige vleiery. Ek weet van geen ander Hottentot wat so springlewendig deur 'n roman bokspring nie as die parmantige Velbaadjie. Dat Malherbe in sy roman gebruik gemaak het van bekende letterkundige motiewe, reminisensies wat hier en daar uit sy onderbewussyn opgedoem het, dit is seker, al ontken die skrywer dit met klem. Onder die lees moes ek partymaal dink aan toneeltjies uit Ampie en The Mill on the Floss, terwyl dr. S.J. du Toit die roman beskou as 'n gelukkige, maar bewuste adaptasie van Notre Dame de Paris.Ga naar voetnoot1) Du Toit se mening is stellig onjuis, want ten spyte van alle ooreenkomste, is Malherbe se roman onteenseglik sy eie skepping. Die klank van die boek is eg, die uitbeelding van Faans se karakter is deurleef en die milieuskildering kom soos die skrywer sê: ‘Uit die groen veld van my jeugland
uit herinnering se wei....’
Ooreenkomste, omwerkings van bekende motiewe, selfs adaptasies kan ons by die beroemdste letterkundige werke aanwys; as die kunstenaar maar daarin slaag om sy stof te besiel, as hy ons ontroer deur die waaragtigheid van sy sielsaksent, dan kan hy sy motiewe uit alle windstreke versamel om daaruit nuwe skoonheid te skep, sonder dat hy die waarde van sy werk verminder. In Malherbe se roman is daar vir my niks wat na bewuste navolging lyk nie. In vergelyking met Vergeet Nie is daar 'n aanmerklike styging in sy kuns waar te neem. Hy beheers die romantegniek veel beter en sy karaktertekening het veel inniger geword - altans wat die hooffiguur betref. | |
[pagina 185]
| |
Hans-die-Skipper (1929).In die hooffiguur van hierdie roman leef onverswak voort een van die eienskappe van die Hollandse volk, wat ons tans maar selde aantref by sy Afrikaanse afstammelinge, naamlik die liefde vir die see. Hans is nie sommer 'n gewone visser, wat terwille van wins sy bedryf uitoefen nie. Afstammeling van 'n seekaptein wat tweemaal om die wêreld geseil het en seun van 'n vername noordkapper-jagter was hy. En deur 'n tyd troetel hy die tradisie van sy seemansadel, kniel hy in aanbidding voor die portret van die seekaptein, ‘met sy windmaker mondering’. Ekonomiese toestande het egter van Hans gemaak 'n eenvoudige visser op 'n stranddorpie, 'n ou sukkelaar wat skaars genoeg uit die see kan haal om sy huisgesin aan die lewe te hou. Maar Hans is 'n digterlike dromer, wat hom nouliks bekommer oor alledaagse moeilikheidjies. Die wye see is sy gebied; op die land slaap en eet hy, op die see alleen leef hy. ‘Daar is nie 'n heerliker werk nie.... Om so digby die hart van die see te lewe, om sy senuwee te voel as die skuit op die branders bewe, om sy stem te ken en te weet waar hy sy skatte bêre, om die roer te swaai dat die skuit in die skuinste hang van lekker-loop....’ Hierdie liefde vir die see is by Hans 'n verterende hartstog. As hy in die ou tyd gelewe het, sou hy saam met die waaghalsigste ontdekkers oor onbekende oseane rondgeswalk het. Maar op die ou stranddorpie kan hy net droom oor 'n nuwe skuit waarmee hy hoop om 'n paar ekstra shillings te verdien. Diep in sy hart koester hy die ideaal dat Johan, sy enigste seun, die tradisies van 'n roemryke seemansgeslag sal handhaaf. Gedeeltelik word hierdie wens vervul as vader en seun vir die eerste maal uitvaar op die nuwe skuit, deur Meester se vrygewigheid gekoop. Maar na hierdie hoogtepunt van geluk word Hans plotseling neergesmak in die afgronde van die wanhoop. By Johan, wat sy vader 'n tydlank half onwillig gehelp het, ontkiem daar langsamerhand 'n sterk afkeer van die see. Hoe hy ook al probeer, hy kan nie opgaan in die fantastiese visioene van sy vader nie, wat telkens nuwe moontlikhede in die vissersbedryf sien en in vervoering raak oor die heerlik-vrye lewe op die golwe. Hy vind 'n willige bondgenoot in sy moeder, arme versukkelde Trynie, wat deur 'n lewe van swaarkry en gedurige angs oor die veiligheid van haar man maar alte goed weet hoe weinig winsgewend en gevaarlik die vissersbedryf is. Die botsing tussen vader en seun word met fyn sielkundige insig geteken en kulmineer in 'n heftige rusie van sterk-dramatiese spanning. Johan se begeerte na selfstandigheid word aangewakker deur sy liefde vir Nelie, en gedurig geprikkel deur die skimpe van sy aartsvyand, Rooi-Koos. Hy wil die wye wêreld in om 'n onafhanklike bestaan te verower; sy jong lewe mag nie in die ou vissersdorpie uitdroë ‘soos die | |
[pagina 186]
| |
snoeklywe onder die afdak nie’. Bitter is die stryd wat Johan moet voer tussen die kinderlike liefde wat dit vir hom onmoontlik maak om sy vader se ideaal meteens te verpletter en sy eie steeds sterker wordende lewensdrang, wat hom prikkel tot koppige verset. In die vaal-eentonige reëndae, wat hom vaskeer in die armoedige vissershut, groei sy wrok teen die vissersbedryf, wat niks anders as leeglêery of skrale wins kan bring nie. Die werklus prikkel elke spier in sy liggaam, en hier moet hy geduldig en gedwee op mooi weer sit en wag! Met moederlike tak slaag Trynie daarin om hom vertrouelik te laat gesels oor sy toekomsplanne, wat langsamerhand vaste vorm begin te kry. Maar dan kom Hans binne. Soos gewoonlik is sy kop vol grootse planne vir die toekoms, en selfs ernstige moeilikhede met die vissersvolk kan sy optimisme nie blus nie. Hy sal alle moeilikhede oorwin, ook die verbygaande onwilligheid van Johan. As die nuwe skuit aankom, raak hy weg in ekstatiese visioene. Die kind van die see het eindelik die speelgoed van sy liefste droom bemagtig. ‘So 'n seeperd hê, dit lyk of hy nou-nou die branders wil sny’, juig dit in sy siel. En daar op die strand doop hy die skuit Johan, want sy twintigjarige seun sou hom mos help om die ou seemanstradisie in volle glorie te laat herleef. Alte spoedig maar word hierdie lewenslang gekoesterde illusie wreed verstoor. Hans, wat die hart van die see so goed ken, het die hart van sy seun maar sleg begryp. Johan beleef 'n ernstige krisis, maar as laaste offerande van sy kinderlike liefde onderdruk hy sy afkeer van die see en gaan saam op die eerste vaart. ‘Hans-die-Skipper se wens was werklikheid. Sy siel was in die hemel. Hy was nie meer Hans-die-Skipper nie, nie meer op die see nie, maar die deining self, 'n stuk van die see self.’ In hierdie opgetoë stemming is hy minder versigtig as gewoonlik en alleen met 'n uiterste kragsinspanning kan hy die nuwe skuit deur 'n geweldige storm veilig aan wal bring. Dieselfde storm maak ook 'n end aan Johan se weifeling: ‘Hy het my uitgesmyt, die storm, en ek is nou vir altyd 'n landdier’. In die volle besef van sy ontluikende manlikheid deel Johan sy vader mee: ‘Ek haat die see!’ Wanhopig veg die ou geharde seeman om die besit van sy droombeeld, wat so ná aan verwesenliking gelyk het. Roerend is die klag van sy gebroke vaderhart as hy snik oor sy verlore ideaal. Hy pleit en redeneer met die halsstarrige seun, wat nou so skielik 'n vasberade man geword het. Maar uiteindelik oormeester sy drif hom en in 'n vlaag van woede jaag hy Johan die kamer uit met 'n viskierie. Hans, wat soos 'n sorglose kind deur die lewe gedwaal het, wat nooit iets anders as die ruisende lokstem van die ewige see gehoor het nie, staan nou hulpeloos teenoor die lewe. 'n Tydlank mag hy hom nog ver- | |
[pagina 187]
| |
hard in sy sterke seemanstrots, maar as dit blyk dat die verlore seun gelukkig is in sy nuwe werkkring, dan voel Hans dat die enigste stut van sy lewe weggeslaan is. Nou word hy gewoonweg Hans-die-Visser, of sommer Hans. Selfs die see spot met sy onvervulde ideaal. By sy vrou vind hy geen simpatie nie en sy ervarenste helper, Willem, verlaat hom ook op hierdie kritieke tydstip. So word hierdie yster-sterke seeman 'n willige prooi van die swakhede van die ouderdom. Die tintelende arbeidsgenot prikkel sy senuwees nie meer nie, want in die donkerte van sy treurende vaderhart het die groot stilte binnegetree. As die verwoestende griep die vissersdorpie bereik kom Hans se skuitjie ook vir goed terug ‘na die stil donker land’ waar hy gebêre word. Nie voordat hy egter op sy sterfbed nogeens gegryp het na die verlore ideaal nie. Want as Johan sy sterwende vader kom besoek, verkeer Hans in die salige waan dat hy nou weer visser wil word. Die sterftoneel is van 'n aangrypende tederheid. Die tragiek van hierdie eenvoudige visserslewe het Malherbe met waaragtige gevoel en diepe lewenswysheid geteken. In die uitbeelding van Hans kon die digter ook sy eie hunkering na ‘die woelende perlemoerveld van die see’ uitleef, met die gevolg dat ons in die skipper se bedrywigheid dikwels die praktiese raakvat van die man van aksie mis en in die plek daarvan vind die mooi-gestileerde, digterlike oorpeinsings van die skrywer self. Dis moeilik om hierdie mening met bewyse te staaf, want ek konstateer hier 'n totaalindruk. Malherbe het sonder twyfel 'n uitgebreide studie gemaak van die praktiese kant van die vissersbedryf, maar telkens as ek die beskrywende en analiserende gedeeltes herlees sien ek agter die gestalte van Hans-die-Skipper oprys die peinsende digter, wat my, in 'n stem trillende van liriese bewoënheid, wil beduie hoe lief hy die see het. Dis bes moontlik dat 'n digterlike visser soos Hans as volg kan praat: ‘Kyk Meester,.... daar anderkant waar die groot brander se rug donker maak, daar begin die tweede weibank. En Meester het seker opgelet dat die see heeldag blou was tot hier voor, nêrens 'n groen streep nie.... Môre op die tweede weibank silwervis volop en ook rooistompneus, môre! Jy kan nooit dink nie, as die blou ferweel hier voor teen die rotse blink...’ (p. 20). Tussen hierdie nugtere aanduidings in tipiese visserstaal doen die gekursiveerde sinsnedes vreemd aan. Stam hulle nie uit die digterlike bewussyn van die skrywer self nie? Hans leef egter ‘digby die hart van die see’; hy het die grootste veragting vir ‘doodgewone strandlopers wat net na die see kyk, wat hom nie regtig liefhet nie en ook nooit sy hartklop hoor nie - daar ver in die diepte, waar die walle van water met jou praat van groot dinge....’ (p. 103). Maar selfs as ons rekening hou met die digterlike aanleg van Hans en die geheimsinnige motief (die vrou | |
[pagina 188]
| |
op die rots) wat die skrywer deur sy karakter gevleg het, dan wil die gedagte my tog nie loslaat, dat Hans meestal die see deur Malherbe se oë sien nie. In 'n gesprek met die Hotnot Willem oor die Sofia kry ons b.v. onverwags die volgende opmerking: ‘Hans-die-Skipper se blou oë het groot gerek van opgewondenheid. Weer was hy op die toppelende wildigheid van deiningwalle geruisloos voortskuiwend oor ongemete dieptes.... (p. 152). Dat Malherbe eenvoudig sy eie diepgevoelde ontroering oor die skoonheid van die see in die plek van dié van Hans stel, blyk nog duideliker uit Hans se droom op die duinsand na die vergeefse besoek aan ou Samuel (p. 162). Die skipper raak hier glad vergete en dis met Malherbe se skuit wat ons ‘bly hang en gly langes geweldige blou-groen walle van ongelooflike deining, verlore tussen groeiende hoogtes van waterwildernis....’ Die liriese aandrang van hierdie skrywer is so sterk dat hy hom nie rustig kan inleef in die gedagtewêreld van sy karakters nie. Onbewus vertolk hy deurgaans sy eie stemminge, laat hy hom willoos voortwieg op die stroom van sy eie gevoel. As Johan in 'n isegrimmige bui ongeduldig hom afvra: ‘Sou sy jong lewe dan hier moet verdroë soos die snoeklywe onder die afdak?’ dan voel ons meteens hoe suiwer die rebelse gesindheid van die jong seun met so'n enkele sinnetjie aangedui word. Maar onmiddellik daarna dink Malherbe self verder vir die seun en wil hy ons wysmaak dat Johan se hoorbaar gedroomde monoloog as volg lui: ‘Sou sy prikkelende werklus en lewenskrag, wat van hom 'n man wil maak op 'n ander arbeidsveld.... sou hy met sy groot vertroue in wat hy kan en wil, in die sukkel-lewe van vissersverdriet moet kwyn....’ Ook in die dialoog hoor ek kort-kort die Malherbiaanse aksent. Johan vertel b.v. in ritmiese volsinne hoe hy ‘walg van die armsalige gepeuter, waar die dag g'n genot gee nie en sy siel doodgaan.’ (p. 169.) Trynie gaan by die venster sit om uie te snipper. Nou sou 'n mens verwag dat hierdie eenvoudige vissersvrou in haar siening van die see iets individueels sou openbaar. Maar let op hoe die skrywer kalmweg sy eie visie in die plek daarvan skuiwe: ‘As sy haar oë opslaan by die venster uit, dan was die see triesterig van 'n vaal rumoerigheid, met die noordewind se wilde gehuil, met die noordewind se buierige brutaalheid daarop - en agter op die horison dreigende donkerheid van wolkwoestyn.’ (p. 164.) Dis nie net Hans wat digterlik aangelê is nie, maar ook Trynie en Johan. Dis 'n heel digterlike familie, wat praat en dink in die mooibeeldende taal van.... Malherbe. Daar is weinig variasie in die wyse waarop die skrywer die lewe van sy karakters ondergaan; almal is tipes van eenselfde menslikheid. Dit blyk ook uit die simpatieke figuur van Meester, wat die ganse | |
[pagina 189]
| |
skat van sy teleurgestelde liefde uitstort oor die bewoners van die vissersdorpie. Geen hut is vir hom te nederig nie en aan almal deel hy die trooswoorde van sy rype lewenswysheid mee. Alleen hyself vind geen troos nie.... totdat die vrou van sy jeugdige liefde terugkeer. Ek het die grootste bewondering vir die sobere krag waarmee die verheffende invloed van hierdie eensame werker geteken is. Maar wat is hy anders as 'n dubbelganger van die skrywer, wat die nodige kommentaar lewer op die bedrywighede van die vissers? Hy groei nie tot 'n sterk omlynde persoonlikheid nie en in sy ontleding van die probleme van die vissers hoor ek steeds die weerklank van die skrywer se stem. Ook Meester het ‘'n poëtiese siel’, wat die skoonheid van die see alleen in die taal van Malherbe kan vertolk. Gelukkiger is die skrywer gewees in die uitbeelding van sommige byfigure. Nelie het ten spyte van Meester se pogings om haar verder te laat leer geen ‘hoë aspirasies’ nie; sy is 'n meisie van vleis en bloed. Die ontluiking van haar liefde vir Johan en haar instinktiewe afkeer van die woeste Rooi-Koos beleef ons in enige dramatiese tonele. Nelie is dit wat aan albei seuns se lewe vaste koers gee. Johan se beste eienskappe ontwikkel deur haar inspirerende liefde en die onstuimige hartstogtelikheid van Rooi-Koos word veredel tot deemoedige bewondering. Ook die jaloesie tussen die twee seuns en die wyse waarop hulle Nelie geskenke aanbied word voortreflik geteken. Malherbe het egter slegs gedeeltelik daarin geslaag om mense te skep wat hul eie lewe lei en vanuit hul binneste wese alles deurskou. Hy het die tragiek van die botsing tussen vader en seun, die vreugde en verdriet van die mense op die vissersdorpie met sy tedere genegenheid en innigste gedagtes bekoester. Ook is dit hom geluk om aan party dramatiese momente van sy verhaal oortuigend gestalte te gee. Maar om die mense met hul omgewing te laat saamsmelt en só te dramatiseer dat ons een algemene visie op vissers en see kry, dat ons die hele handeling as eenheid-van-gebeure ondergaan - daarvoor is die gesketste werklikheid met te veel subjektiewe beskouings deurwewe. Met ekstatiese opgetoënheid getuig Malherbe van sy liefde vir die see. Ritme is daar en klank, vloeiende melodiek en plastiese rykheid as hy die stem van die see vertolk. Op die skrywer self is van toepassing wat hy van Meester sê: ‘Gretig het sy siel gedrink van die oormagtige stemgeruis van die see, en saam met die soutdamp wat al voor hom uit wasig-wit opstuiwe tot teen bos-bekroonde duinheuwels bo, het die aandgesang van die see stemmingdieptes in sy binneste ontroer totdat dit meegeruis het met die sterwende branders teen die sand en meegedreun het met die klankgeweld van die oseaan, stemminge swaar en ryk van inhoud, maar onpeilbaar, half skrynende verlange, half jubelende geluk.’ Daar is stukke prosa in hierdie roman voortreflik van sonoriteit, ryk | |
[pagina 190]
| |
van beeldende krag, blyverrassend deur oorspronklike metafoor! Steeds word die digter se aandag vasgehou deur ‘die lang lyn van vervarelike branding, die spel van ewige selfvernietiging en ewig-onvermoeide heropstanding’, steeds jubel sy hart oor die wisselende kleurespel in ‘die perlemoenpaleis van die see’, steeds luister hy gespanne na die singende golfruisings. 'n Enkele keer is daar wel 'n pronkerige swierigheid in sy styl, of bederf hy die ritmiese effek deur elke nuwe sin met 'n eentonige en-en-en te laat begin. (Vgl. vir laasgenoemde b.v. p. 63-64, 234 vlg.). Maar Malherbe het tog sonder enige twyfel deur sy hoogstygende siening ons brokstukke gegee van 'n prosagedig oor die see, trillend van ritmiese bewoënheid en magistraal van skone woordbou. | |
Loutervure (1931)Ga naar voetnoot1).Hendrik, die seun van Piet Vaalplaas, keer, nadat hy sy studie in die regte in Holland voltooi het, na Suid-Afrika terug en vestig hom as prokureur op 'n plattelandse dorp, waar hy in vennootskap tree met 'n verengelste Afrikaner, Myburg. Vol jeugdige geesdrif werp hy hom dadelik in die kultuurstryd en bereik in samewerking met die dominee groot resultate. In sy kantoorwerk en in die hof handhaaf hy en kom daardeur in botsing met sy vennoot en die magistraat wat hom met vaderlike neerbuigendheid vermaan. Op 'n dinee in die klub reken hy gedug af met hierdie twee teenstanders, wat hy verpletter onder die mokerhoue van sy logika. Hierdie gedeelte van die roman bevat 'n mooi skildering van die kultuurstryd, wat nog lang nie volstry is nie, omdat soveel honderde Afrikaanse prokureurs nog steeds redeneer soos die veragtelike Myburg, wat daar lewensgroot voor ons staan met sy bangerige papbroekigheid en onderdanige inkruipery. Maar, trots sy sukses as kultuurleier, voel Hendrik tog dat hy losgeraak het van sy volk, omdat hy die kinderlike geloof van sy jeug verloor het deur sy buitelandse studie. Hy word ‘'n eensame, 'n apartheid op homself’ en ‘kan dit nie regkry dat die mense alles aanneem vir waarheid sonder om te ondersoek nie....’ Hy kan baie mooi redeneer oor godsdienstige sake, maar hy het afgeleer om te bid. Die hoofmotief in die roman is om aan te toon hoe Hendrik uiteindelik terugkeer tot die ou paaie nadat hy gegaan het deur vure wat louter. Twee skokkende gebeurtenisse veral laat die fondamente van sy lewensbeskouing wankel. Sy vader, wat algemeen geëerd was onder die boere, het hom skuldig gemaak aan brandstigting om Hendrik se studieskuld te betaal. Piet Vaalplaas word letterlik ‘deur sy geheim verteer’ en sterf as gevolg van kwellende gewetenswroeging. Hendrik ry sy seuntjie | |
[pagina 191]
| |
onderstebo met sy motor en beseer die kindjie so ernstig dat hy kort na die ongeluk beswyk. Van belang is ook die stille invloed van Hendrik se jong vroutjie, Hester, wat met die dominee 'n geheime verbond sluit om haar man se siel te red. Die manier waarop hierdie bondgenootskap gesluit word is egter onoortuigend. Is dit waarskynlik dat 'n jong vroutjie, nog in die eerste ekstase van haar huweliksgeluk, haar geheime vermoedens sal openbaar aan 'n derde persoon? Die toneel waar die jong dominee die neerslagtige Hester vertroos deur sy arm ‘vir een enkele huiwerende sekonde.... om haar jong, warm lyf’ te laat gly en sy hom versoek om haar man by die klub te gaan soek is onsuiwer van beelding. Nog meer onoortuigend is Hendrik se retoriese smartkrete as hy staan by die lyk van sy kind (p. 194). En die moeder? Sy verklaar kalmweg dat haar eersteling moes sterwe om Hendrik se siel te red. 'n Halfuur later vra sy weer ewe kalm: ‘Is jy nuuskierig om te weet wat van die saak geword het, Hendrik?’ (Tydens sy kind se worsteling met die dood moes hy in 'n baie belangrike moordsaak optree.) By hierdie hoogtepunt van die verhaal het Malherbe se uitbeeldingsvermoë jammerlik gefaal. Hoofsaak by hom was die motivering van Hendrik se bekering, maar om dit te bereik moes hy die onware sterfbedtoneel bedink. Suiwerder van uitbeelding is die stryd in Piet Vaalplaas se gemoed, Hendrik se worsteling met godsdienstige twyfel en die eenvoudige hondetrou van die bywoner, Niek. ‘Die waghond van Vaalplaas’ het 'n onuitputlike werkywer en vind sy hoogste vreugde in die arbeid. Maar Niek se siel is ook beswaard deur die geheim van die brand en sy konsertina word weggebêre. As Piet Vaalplaas hom wil weghê van die plaas, omdat hy hom herinner aan sy bedrog, dan weier hy eenvoudig om te gaan. Die eenvoudige aanhanklikheid van hierdie troue siel is treffend en waar van tekening. En hoe duidelik staan sy vrou Bet ook nie voor ons nie as sy al die onheile wat Vaalplaas tref toeskryf aan die twee skoorstene van neef Piet se nuwe woning: ‘Sien, nig Miem, dis wat ek sê, 'n huis met twee skoorstene...., dit is nie 'n ding vir ons hier langes nie....’ Hierdie roman het uitstekende kwaliteite en is kerngesond van strekking. Dit beklemtoon die feit dat kultuuropbou sonder godsdiens as fondament waardeloos is, en gee 'n diepgaande ontleding van die stryd tussen kinderlike geloof en geleerde twyfel. | |
Die Hart van Moab (1933).Tussen Moabiete en Hebreërs het daar 'n eeu-oue vete bestaan. Met wisselende sukses het hulle mekaar bekamp, totdat die Hebreërs die groot Moabitiese koning, Eglon, op verraderlike wyse vermoor en sy heirmagte 'n beslissende neerlaag toegedien het by die vere van die | |
[pagina 192]
| |
Jordaan. (vgl. Rigters 3.) Langsaam egter het die gekneusde doringboompie hom weer opgerig. Azkar, 'n reusagtige Enakiet, word die draer van die nasionale wraakgedagte. Hierdie trotse heersersfiguur weier om sy rug te krom voor die gehate Hebreërs, en deur sy aansteeklike geesdrif slaag hy daarin om al die kragte van sy nasie te mobiliseer teen die erfvyand. Die herstel van sy verdrukte volk brand in hom soos 'n verterende vuur. In sy hart hoor hy ‘die onverwoesbare hartklop van Moab’, en op sy ‘breedgeheupte swart perd’ besoek hy gedurig al die strategiese punte van sy land om die jong manne deur sy begeesterende woord tot verset aan te spoor. So word Azkar die verpersoonliking van die beste eienskappe van die Moabitiese volk, die ongekroonde koning en beminde volksheld, op wie se wenk 'n eendragtige volk, ten volle bewus van sy nasionale roeping, die juk van diensbaarheid sal afwerp. Met die vèrsiende blik van die gebore volksleier het hy sy veldtog jarelank tot in die fynste besonderhede georganiseer. Die nasiebewustheid is aangewakker deur woeste godsdiensfeeste ter ere van die stamgod Kamos; wapentuig lê hoog opgestapel in die grot van die oorlogsmid Aljarim, en die jong manne is deur jarelange oefening en gereelde wapenskouings gebrei vir die stryd, wat nou elke oomblik kan ontbrand.
Azkar se grootse visioene van nasionale oorwinning en welvaart word egter wreed verstoor deur die afvalligheid van die skone Ruth, dogter van die Moabitiese koning Eglon. Hy het haar innig lief en wil haar as koningin aan sy syde laat heers oor die herbore Moab. Maar die groot volksheld, wat duisende woeste krygsliede met nasionale trots besiel het, pleit en soebat tevergeefs by Ruth. Op al sy patriotiese pleitredes en liefdebetuigings het sy net een antwoord: ‘Jehowa roep my.’ Onder die invloed van Naomi het sy die ware God leer ken, en só afkerig geword van die heidense afgodediens dat sy 'n armoedige en onsekere bestaan in 'n vreemde land verkies het bo die hoogste eer in haar eie land. Haar liefde vir Azkar en sy verleidelike smeekbee: ‘Bly hier en leer jou nasie wysheid’ laat haar wel enigsins weifel, maar sy bly tog rotsvas staan in haar heilige oortuiging. Met die vertrek van Ruth begin in Azkar die ontredderingsproses, wat op die vooraand van die groot worstelstryd sal uitloop op 'n tragedie. ‘Ruth, Ruth! kreun dit diep-in. Wat help hom die verering van 'n nasie, as hy Ruth nie het nie, haar skoonheid en wysheid, as sy siel kwyn hierbinne?’ (p. 60.) Aanvanklik egter, probeer hy om die onrus van sy siel te smoor deur verdubbelde nasie-arbeid. Hy besoek die bergspelonk van Aljarim waar hy die smartverlede van sy nasie herdenk en nuwe inspirasie put uit die opgestapelde oorlogstuig. By die krygsoefeninge van die boogskutters is hy weer die besielende leier, ten volle bewus van sy gewyde roeping. | |
[pagina 193]
| |
Maar sy innerlike onrus dryf hom voort na Ahura, die wyse profetes, en sy eie vertolking van haar geheimsinnige orakeltaal laat hom die terugwinning van Ruth nie alleen beskou as 'n persoonlike triomf nie, maar ook as ‘bevrediging van 'n nasionale hartstog.’ (p. 70.) ‘Azkar is Moab’ het die wraaksugtige boogskutters in ekstatiese vervoering geskree, maar hierbinne in hom dreun dit: Rut is Moab! ‘Want Ruth in die vreemde, dit was soos 'n stuk nasionale trots uitgesny en oorgelewer aan die mishandeling van die vyand - 'n bloedende hart het agtergebly in die land van Moab.’ (p. 70.) Hy besluit om na die land van die Hebreërs te gaan om Ruth met sy liefde terug te win en om die sterkte van die vyand te verken. Op die koringvelde van Boaz word die konflik tussen Jehova en Kamos uitgestry om te eindig in 'n tragedie vir Azkar. Want die skone Ruth sou die stammoeder word van die koningshuis van Dawid. Smaad en hoon moet Azkar ondervind op die bruilof van Boaz en Ruth. Tevergeefs trag Ruth sy stygende verbittering te besweer deur hom te wys op die gedugte arm van die straffende Jehova: ‘Ek kan net ween om Moab omdat hy van God verlate is’ (p. 208). Hierdie teenslag sal Azkar se wraakoefening des te vreesliker maak. By sy terugkeer word die ganse Moab gemobiliseer vir die groot stryd teen die Hebreërs. Alle weerbare manne word getel en die hoofmanne hou krygsraad. Temidde van die oorlogsbedrywigheid is Azkar weer gelukkig: ‘Die vreugdetrots wat uitstraal van sy gesig was aansteeklik, die hovaardigheid van sy ongebroke wil was besielend.... G'n berg was te hoog of vesting te sterk vir sy bloed-eisende wraakwil.’ (p. 228.) Nadat die oes ingesamel is sal die dag van afrekening kom. Maar in hierdie periode van afwagting begin die anders so sterke held wankelmoedig te word. Diep in sy hart leef nog die hunkering na Ruth, en hy het behoefte aan haar inspirasie. 'n Voorgevoel van naderende onheil bekruip hom. Nog voor hy die sein vir die verenigde aanval op die Hebreërs kan gee, word 'n groot gedeelte van sy land oorrompel deur plunderende woestynhordes. Twee van sy vernaamste hoofmanne Amri en Siglam kry rusie oor 'n vrou, en Ahura, die profetes spring van die rotse af met die noodkreet: Wee Moab! In 'n skermutseling met die woestynbendes word Azkar dodelik gewond; langs hom sneuwel Amri - albei ongevalle te wyte aan Siglam se verraad. In sy doodsbenoudheid sien Azkar die optog van sy magtige leërskare en met sy laaste asemstote gee hy die sein vir die aanval op die Hebreërs. ‘Maar voor die druisende aanstorming staan Ruth, groots, afwerend, waarskuwend. | |
[pagina 194]
| |
Ruth, skone Ruth! fluister Azkar.’ (p. 252.) Die liefde vir die afvallige Ruth het in hierdie magtige volksheld 'n innerlike tweespalt teweeggebring wat hom in die beslissende ure van die groot nasiestryd tot 'n wankelmoedige weifelaar gemaak het. Azkar was nie meer Moab nie, Azkar was Ruth. Deur die ontrou van 'n hoofman verdwyn die groot driemanskap van die toneel op die vooraand van die worsteling met die Hebreërs. Wel mag die volk roep: Wee, wee, Moab! Wee, wee! Maar die tragiese ondergang van die gevierde volksheld en sy twee vernaamste hoofmanne beteken volstrek nie die terugsinking van die Moabiete in 'n toestand van knegskap nie. Om die boodskap van die roman goed te begryp moet ons veral let op die aanhaling voor die titelblad: ‘Zou een volk kunnen geboren worden op eene eenige reize? Jes. 66:8.’ Azkar het sy taak goed volbring; hy het die Moabiete nasiebewus gemaak, en hul vaderlandsliefde tot 'n brandende koorsgloed aangewakker. Al verdwyn hy van die toneel, en al word die vryheidsoorlog vertraag deur die onverwagte inval uit die woestyn, vroeër of later moet die stryd teen die Hebreërs losbars. Malherbe teken slegs een fase van die Moabitiese evolusie tot onafhanklike volk, en hy het daarby ongetwyfeld aan die ontwikkeling van sy eie volk gedink. Ook by ons lê agter die rug ‘jare van sorgsame arbeid, van trots-aankweking by die jeug dat hul opgroeiend van eiewaarde en nasieliefde vervul word.’ Afrikaanse Aljarims het ook met seningarms swaarde gesmee vir die stryd om nasiebehoud, en die slagvaardige jeug van Suid-Afrika sal sekerlik nie gedoog dat die hele nasieplan verydel word deur wankelmoedige leiers nie. Beskou ons die boodskap van die skrywer in hierdie lig, dan hoor ons daarin die dreunende hartklop van Suid-Afrika. Dis die besielende strydkreet van 'n digterlike siener wat sy volk oproep tot die groot worstelstryd om nasionale selfstandigheid wat nog voorlê. Met uitsondering van enkele wysiginge het Malherbe die hooffeite onveranderd uit die Bybel oorgeneem. Maar die sobere en saaklike gegewens het in sy digterlike verbeelding uitgegroei tot 'n epiese herskepping van die Ruth-geskiedenis. Ons het hier dus te doen, nie met 'n blote oorvertelling van die Bybelse verhaal nie, maar met 'n kunstenaarsverbeelding na aanleiding van 'n gegewe tema. Omdat Ruth die Moabitiese volksheld liefhet word haar vertrek uit haar vaderland tot 'n episode vol dramatiese spanning. In afwyking van die Bybelverhaal is sy in die roman nie 'n gewone Moabitiese nie, maar 'n dogter van koning Eglon. Die keuse waarvoor sy staan is: ‘'n diensmaag in die vreemde of 'n vorstin in haar eie land.’ Ruth maak 'n bange stryd deur en as sy vir die tweede maal moet kies tussen Jehova en Kamos, dan trek sy haar | |
[pagina 195]
| |
terug in die eensaamheid tussen steile rotsgevaartes om te luister na die goddelike stem. Soos Querido se Simson is sy 'n Godgewyde. ‘By die barre steenrotse het Jehowa haar noodgeroep gehoor en aan haar verbygegaan’ (p. 193). Diep is sy haar bewus van haar heilige roeping. Maar sy ken dae van bange weifeling, en dis alleen in Jehova se krag dat sy haar vroulike trots kan oorwin op die nagtelike tog na Boaz se dorsvloer. In die uitbeelding van die Ruth-gestalte het Malherbe 'n besondere skoonheid bereik. Nooit vervlak die stryd in haar gemoed tot die banaliteit van 'n sentimentele amourette nie, maar steeds word die liefdesverhaal opgestoot in die sfeer van 'n verhewe epiek. In sy ander werk het Malherbe trouens al getoon dat hy 'n ras-skrywer van digterlike prosa is. In hierdie roman skilder hy met 'n weelderige oordaad van statig voortbewegende sinne. Die koringsny-wedstryd waar Azkar en Jethar, blind van jaloesie en afguns, hul kragte meet onder die oë van Ruth word deur die geweldige plastiek tot 'n gigantiese worsteling, begelei deur snerpende uittartings en skimptaal. In die magtige kragsinspanning van die koninklike koringsnyer voel ons die uitstraling van 'n heftige nasieliefde, wat die skone Ruth wil terugwin, maar ook die triomfkreet van die verdrukte wat eindelik sy vyand onder die voet vermorsel. Ofskoon Malherbe seker nooit in Palestina was nie, laat hy ons die vrugbare valleie en heuwelkamme sien; die wuiwende koringvelde word deur 'n verskroeiende son geblaker, en die gebulk en geloei van groot kuddes klink in ons ore; in 'n donker grot tussen ‘onbereikbare rooibruin ravynrotse’ woon Ahura. Dan bring Malherbe ons weer op die vollemaansfees van Kamos, waar feesdronke menigtes in dolle uitgelatenheid rondwoel en ‘slanklywige Moabietiese dogters groepe begerende manne met danskunstige vertoning begogel’ (p. 57 - Vgl. ook die mooi beskrywing van Hadath se danskuns op p. 80). So trek die ganse landskap met sy bewoners voor ons oog verby. Hoe innig moet die skrywer hom nie ingeleef het in die mentaliteit en verbeeldingswêreld van hierdie primitiewe mense nie, voordat hy dit kon bereik. Hy het die hart van die Moabiete gepeil, en ons die gebeurtenisse van 'n vergane tydperk laat meelewe asof dit alles gister plaasgevind het. Sal sy boodskap deurdring tot die hart van Suid-Afrika? | |
Saul, die Worstelheld (1935).Volgens die opvatting van die ou wêreld was die koning in die eerste plaas 'n godsdienstige figuur, wat egter ook politieke funksies moes vervul. Vir die Oosterse volke was hy 'n godeseun, verhewe bo die menslike sfeer. Hy tree op as middelaar tussen God en mens, en deur hom regeer God oor die volk. As ons hierdie opvatting vergelyk met die oorlewering | |
[pagina 196]
| |
dat God self koning is oor Israel en as opperste krygsheer sy troepe oproep tot die stryd, dan word dit duidelik dat daar in die instelling van die koningskap vir Israel iets gelê het wat moeilik kon aangepas word aan die ou ideaal. In 1 Sam. 8:7 sé die Here dan ook aan Samuel: ‘Nie jou het hulle verwerp nie, maar My het hulle verwerp om nie koning oor hulle te wees nie.’ Israel word egter deur 'n sterk buitelandse vyand, die Filistyne, gedwing om 'n koning te vra. Die versplintering van die stamme en die gebrek aan eendragtige optrede het doeltreffende teenstand onmoontlik gemaak. Simson se oorwinnings kon die roofsugtige vyand nie terugdring nie; onder die rigter-priester Eli het Israel tweemaal verpletterende nederlae gely en selfs die ark verloor; kortom, die voortbestaan van die hele volk het op die spel gestaan. Maar ten spyte van hierdie politieke oorwegings het nog sterk geleef die besef dat Jehova die opperste leier van die volk was, en Gideon het die religieuse gevoel vertolk toe hy die koningskap afgewys het met die woorde: ‘Ek wil nie oor julle heers nie, en ook my seun mag nie oor julle heers nie: die Here sal oor julle heers.’ En selfs in Samuel se dae het Jehova sonder koning sy volk tot oorwinning gelei. Eers toe Samuel oud en afgeleef was en sy seuns die volk geterg het deur hul wanpraktyke, wil Israel 'n koning hê soos al die ander nasies. Wie die Oud-Testamentiese beoordeling van Saul en Dawid wil verstaan, moet in gedagte hou dat Israel se koning regeer as plaasvervanger van God en dat sy vernaamste taak is, nie die uitroeiing van die Filistyne nie, maar die handhawing van die goddelike insettinge. Saul was uitsluitend politicus; aan godsdienstige beginsels steur hy hom weinig en hy hou alleen rekening met die eise van die praktiese politiek, die taktiek van die bereikbare. Hy is 'n veggeneraal met die koningstitel.Ga naar voetnoot1) Dawid, aan die ander kant, was allereers volgeling van Jehova, en sy eerste regeringsdaad was die terugbring van die ark na Jerusalem en die plan om 'n tempel te bou. Godsdienstige beginsels is vir hom van die hoogste belang, en hy voel hom in alles volkome afhanklik van God. Die teenstelling tussen Saul, die opportunis, en Dawid, die beginselvaste leier, word in Malherbe se roman sterk beklemtoon. Ons ontmoet Saul na sy glorieryke oorwinning op die Amelekiete, wat hom tot die liefling van die volk gemaak het. Hy drink ‘die skuimende beker van selfvoldaanheid en selfverheerliking’ en droom grootse drome oor 'n verenigde Israel, wat al sy vyande sal onderwerp en tot diensbare slawe maak van 'n sterk imperialistiese ryk. Soos hy Doëg, die Edomiet, tot 'n nuttige dienaar gemaak het, so sal hy ook van Agag 'n sterk bondgenoot maak. Hy rig 'n segeteken op en koester hom in die verering van die volk. Wreed word egter sy grootheidswaan geskok deur Samuel se doem- | |
[pagina 197]
| |
woord: ‘Gehoorsaamheid is beter as offerande.’ Die gees van die Here het van hom gewyk en ‘'n bose gees, deur die Here gestuur, het hom verskrik.’ In die roman speel Tirsa, die aantreklike vrou van koning Agag, die rol van die bose gees. Deur listige diplomasie word Saul soos deeg in haar hande. Ter wille van haar verstoot hy ‘die huismoederlike Ahinoam’, wat deur gebrek aan vorstelike grasie weinig indruk maak as koningin. Hy laat Tirsa toe om 'n afgodsbeeld te dien in sy paleis, en is so verlief dat hy nie merk hoe sy met vleitaal en vroulike lis planne smee om verdeeldheid in sy ryk te weeg te bring nie. Saul ken oomblikke van die hoogste geluk as hy die eerbiedige hulde van sy troepe ontvang: ‘Die gesig van die oefenveld, die werklikheid van die aksie, die kragmarse en skyngevegte, die besieling van die jeug tot gloedvolle daad van die oorlog as basuin en trompet die aanrukking verhewig, en die huldiging van die koning op die breë kruin van die heuwel as beseëling van hulle keuring en inlywing - swaarde omhoog en 'n jubelgeroep aaneen van duisend stemme: Lewe die koning!’ As hy en sy bekwame leërowerste, Abner, tussen die troepe beweeg op hul pronkperde, dan styg die volk se geesdrif tot 'n dolle drif wat geen perke ken nie. En niks is vir hierdie outydse Mussolini so dierbaar nie as die bewieroking van sy persoon! In die eensaamheid egter, stry hy sy verborge stryd. ‘Die skroeiyster van Jehowa se ongenade’ het sy siel gebrand en die besef dat God hom verstoot het, laat hom in buie van sombere neerslagtigheid verval. Hy word agterdogtig en bygelowig en verdink selfs die troue Jonathan van verraad. Die bekoorlike Tirsa en die verstandige Abner kan hom wel 'n wyle uit sy droefgeestigheid opwek - ‘maar daar ontbreek iets - nie manskap of wapens of geesdrif nie - iets wat hom innerlik so ryk gemaak het op alle vroeëre oorlogstogte, 'n geloof, 'n moedigheid wat teen die sterkste koning nie sou gefaal het nie.... Dit was die glans van Samuel se gelaat wat vir hom was soos 'n weerkaatsing van Jehowa se goedheid self.’ Hy behaal wel 'n skitterende oorwinning sonder Samuel se hulp, maar diep in sy siel weet hy tog dat Jehova se straffende toorn sterker is as al sy militêre kragsvertoon. Die innerlike verskeurdheid van die worstelheld is die sentrale tema van die roman. Dawid, die sanger van Bethlehem, word gehaal om genesing vir sy kranke siel te bring, maar hierdie getroue Jehovadienaar vererger net die kwaal, omdat Saul telkens herinner word aan sy eie afvalligheid. Dawid vertolk sy godsdienstige gevoel deur geïnspireerde snarespel, en as hy in Michal se oë kyk, ‘dan swel sy hale tot breër aanrukking en die tempo van sy slag verhewig met 'n vreemdheid van vaart dat sy hande as vanself beweeg en die siel van oorvolheid druip....’ Maar Dawid weier beslis om in die vertrekke van Tirsa, waar die afgodsbeeld staan, te speel. Sy harp is alleen aan die God van Israel gewy. | |
[pagina 198]
| |
In die beelding van die Dawid-gestalte het Malherbe se kuns tot die hoogte van verhewe epiek gestyg. Tussen al die luidrugtige krygsrumoer skilder hy die tere liefdesidille van Michal en Dawid wat op die bruilofsfees onverwags verstoor word deur Saul se jaloesie. Treffend word ook uitgebeeld die onveranderlike vriendskap van Jonathan. Saul se jaloesie word tot raserny opgesweep deur die listige inblasings van Tirsa, wat nou 'n volmaakte beheer oor hom uitoefen. Deur priestermoord, die uitdelging van Nob en die agtervolging van Dawid verbreek hy die eenheid van Israel en maak hy die magtige stam van Juda afvallig. Hy skep nog vermaak in militêre vertonings, maar word meer en meer die ‘grote Eensame’, gekwel deur angsvisioene van Jehova se toorn. Diep in sy siel weet hy dat die rebel Dawid nie die eintlike belaer van sy koningskap is nie. Hy moet stry teen die Onsienlike. Maar Tirsa, ‘sy geluk en sy sonde saam’, kan hy nie opoffer nie! Met koorsagtige haas span hy alle kragte in om Israel se ganse leërmag teen die Filistyne te mobiliseer. Hy probeer die steun van die priesters herwin deur die verbanning van alle waarsêers en heg minder waarde aan Tirsa se raadgewings. Deur fors geskilderde tonele laat Malherbe ons 'n blik kry op die onverpoosde arbeid van 'n magtige volk, wat dag en nag wapens smee en krygsbehoeftes versamel om gereed te wees vir 'n beslissende stryd teen die aartsvyand. Maar as die Filistyne eindelik aanval, soek die magtige koning van Israel na 'n dodebesweerster in die gramadoelas van Endor, wat Samuel se gees moet oproep. ‘Nou kruip hy om 'n brokkie hoop te bedel by die Gees van die Godsman!’ Nadat Samuel sy doemwoord herhaal het, stel Saul hom aan die hoof van sy troepe en veg met bowemenslike moed op die kranse van Gilboa. Tevergeefs is egter sy wanhopige teëstand en ‘Saul, die groot Worstelaar, (sink) in sy eie swaard.’ Soos Malherbe die tragiese ondergang van hierdie magtige koning geteken het, word dit 'n menslike drama vol spannende momente. Saul, die held, die magtige veggeneraal, kom in botsing met Samuel, die heilige, en word die slagoffer van Jehova se toorn omdat die volk Hom verwerp het vir 'n aardse koning. Eers deur die troonsbestyging van Dawid, ‘die man na Gods hart’, word die versoening teweeggebring. Saul is slegs 'n skakel in dié versoeningsproses, en die uitverkore volk moet deur sy nederlaag tot inkeer gebring word. Saul se bedoelings was so goed: hy wou al die Israelitiese stamme saamsmee, tot 'n hegte eenheid. Maar hy raak bedwelmd deur blinde grootheidswaan, laat hom verlei deur die bekoorlikheid van 'n vrou en vergeet dat hy alleen die plaasbekleder van Jehova is. Sy weldeurdagte militêre maatreëls faal, sy grootse plan van nasiebou misluk, want, ‘as die Here die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou; as die Here die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagter.’ 'n Plegtige boodskap bring hierdie roman ons - 'n | |
[pagina 199]
| |
boodskap waaraan ook ons Afrikaanse nasiebouers wel mag herinner word. Presies soos in Die Hart van Moab het Malherbe hier nie eenvoudig die Bybelverhaal oorvertel nie, want hy het in verskeie belangrike opsigte daarvan afgewyk. Ook was dit nie sy bedoeling om Saul tot 'n gewone romanheld te maak nie. Die historiese Saul het die sentrale figuur geword van 'n epiese herskepping, waarin die fantasie van die kunstenaar vry beweeg het. ‘Querido's Simson’ merk dr. C. Tazelaar tereg op, ‘is niet de weergave van den Bijbelschen Simson, doch de naar historische motieven episch getransponeerde fantasieschepping, hetgeen ongetwijfeld tot een meten naar anderen maatstaf dan die der Schriftuurlijke zuiverheid noopt.’ Hierdie uitspraak is ook van toepassing op Malherbe se Saul, en die verstandige leser sal hom seker nie beskuldig van Skrifverdraaiing nie. Ons moet hierdie roman beskou as 'n talentvolle begeleiding van die sobere Bybelse gegewens en ons daaroor verheug dat Malherbe met soveel suiwerheid die essensiële boodskap van Saul se val vertolk het. | |
Die Profeet (1937).Azkar, die onvermoeide nasiebouer, bring wee oor sy volk omdat hy in die beslissende ure weifel; Saul, die groot worstelaar, kan ten spyte van sy militêre genie sy volk nie red nie omdat hy in sy grootheidswaan vergeet dat hy slegs die plaasbekleder van Jehova is. Sedekia, die laaste koning van Juda, maak 'n onheilige verbond met die eertydse aartsvyand, en bewerk daardeur die uitroeiing van die treurige oorblyfsel van sy volk en die verwoesting van Jerusalem met sy tempel. Dis of Malherbe in hierdie drie romans soek na die oorsake van volksgroei en volksverval. 'n Brandende liefde vir sy eie volk spoor hom aan tot 'n herskepping van Bybelse gestaltes wat hy aan die Afrikaanse volk voorhou as rigsnoer vir die toekoms. Nêrens word daar 'n direkte toepassing op Afrikaanse toestande gemaak nie, maar telkens straal die ooreenkoms tussen Palestina en Suid-Afrika deur. As Jeremia van die dak van Ahikam se woning afkyk op Jerusalem, dan dink hy met weemoed aan die sondige verval van sy volk: ‘Die roemryke dae van die voortyd doem op - Israel nog vry en ongeskonde, Jerusalem 'n veilige veste voor die aangesig van Jehowa.... En die landvolk trou nog aan goddelike voorskrif, bloeiend op die hooglande van Juda en Benjamin en noordwaarts, gesond in die arbeid en vol van die guns van die dae.... stad van sy liefde. Land van sy liefde waar die gras gewuif het teen die hoogste klipkoppe en seë van koring die laaglande oordek het; waar die beestetroppe gewei het, 'n blinke wemeling op die heuwels, waar heuning versamel word in duister ravynsplete tot versadiging en die solderskure van die hemel oopgevloei het op hul tyd met 'n volheid wat tot aan die wortel raak....’ Reeds so 'n enkele aanhaling laat ons voel hoe Malherbe by die be- | |
[pagina 200]
| |
peinsing van Israel se lot steeds dink aan sy eie volk wat ook ‘'n nasie met verkeerde planne’ is. Afgodery, ‘onderduimse planne-smedery’, 'n verbond met die erfvyand, die kwaad wat gebore word uit grootdoenerige oorlogsvertoon - dit is almal faktore wat Israel se ondergang bewerk. Wanneer Jeremia dan met die gloed van 'n heilige oortuiging die dwase leidsliede van sy volk gésel en met 'n bloedende hart die doem van Israel aankondig, dan huiwer daarin ook die droefheid van die skrywer oor soveel verkeerds by sy eie nasie. Jeremia het al by sy eerste optree as profeet gesien dat Israel tussen die magtige wêreldryke, Babel, Assirië en Egipte platgedruk sou word (die visioen van die kokende pot). Josia se poging om die godsdiens te suiwer laat die profeet egter glo dat die oordeel afgewend kon word en dertien jaar lank word sy boetpredikasies nie gehoor nie. Na Josia se neerlaag en die terugval in al die ou afgodery voorspel hy die verwoesting van die tempel: ‘Vertrou nie op bedrieglike woorde nie - wat sê: Die Here se tempel, die Here se tempel, die Here se tempel is dit.’ (Jer. 7:4.) Hiermee het Jeremia die welgevestigde oortuiging, dat Jerusalem onverwoesbaar was, aangerand. Jesaia het immers voorspel dat God self Jerusalem sou red en 'n engel het dan ook die Assiriërs verdryf. Daarna het Josia die tempel gereinig en die wetboek ingevoer. Geen wonder dus dat volk en priesters volkome gerus voel en Jeremia van godslastering beskuldig nie. Die heiligdomme van Jerusalem was die brandpunte van die godsdienstige en politieke lewe, die simbool van wat vir Israel die allerheiligste was en alleen 'n landverraaier kon praat van hul verwoesting. Jeremia se reeks strafpredikasies veroorsaak soveel vyandskap dat hy nouliks in die openbaar kan verskyn en die skrywer Baruch moet soms sy vermanings voorlees. Jojakim laat die boekrol verbrand en die profeet met sy skrywer word met die dood bedreig. Sy woorde gaan in vervulling, want 'n groot deel van die bevolking word as ballinge deur Nebukadnesar weggevoer. Die swak koning, Sedekia, wat oor die armsalige oorblyfsel regeer, word maklik oorrompel deur die leiers van die chauvinistiese party, wat hul deur 'n bondgenootskap met Egipte, Tirus, en Ammon sterk genoeg waan om die juk van die Chaldeërs af te gooi. So staan sake aan die begin van die roman. Dit is die besondere verdienste van Malherbe dat hy so 'n verrassende lig werp op die aangrypende tragiek van die groot profeet se lewe, dat hy ons so 'n diepe insig gee in die eenvoudige menslikheid van 'n gefolterde siel. Die gewone Bybelleser, en miskien selfs baie Bybelkenners, sal, as hul eerlik is, moet erken dat hul slegs 'n vae voorstelling het van die bittere stryd wat hierdie geweldige profetefiguur moes volstry. Malherbe laat die hele periode van Israel se droewige verval en vernedering voor ons geestesoog herlewe, hy bring ons in aanraking met die verdwaasde volksleiers en valse | |
[pagina 201]
| |
profete wat deur politieke knoeiery en militêre gesnoef die nasie-eer wil herstel. Maar dwarsdeur al die patriotiese fanfaregesketter klink die vermanende stem van die boetprediker, wat te midde van die algemene sedeverbastering, onversaagd sy volk terugroep tot die ou paaie en hul probeer opskrik uit hul ydele vertroue op die tempel. Jeremia se hand was teen almal en die hand van almal teen hom. Teen sy sin is hy gedwing om te profeteer en hy moes altoos voorspel wat sy hart laat ineenkrimp het van pyn. ‘As hy maar 'n mens kon wees, eenmaal net 'n mens om 'n wyle te vergeet.... Waarom moet hy alleen verteer word, moet die sap van sy vlees opdroog en sy tong kleef aan die gehemelte weens die blindheid van die volk? Want van die koning af tot die houthakker, van die priester tot die danseres tier 'n Jehowatartende onverskilligheid.’ Jeremia ken oomblikke van swakheid waarin hy twyfel aan sy verhewe roeping. Hy het afstand gedoen van alle aardse besittings, geen gesin opgebou nie sodat hy hom heeltemal kon wy aan sy heilige taak. Maar soveel teenstand en bespotting het hy ondervind, so hopeloos en ydel was die resultaat van sy arbeid dat hy soms in ure van wanhoop getwyfel het aan die egtheid van sy boodskap. En so verskriklik was die boodskap dat sy gepynigde siel moes kreun: O liewer om sy volk ontwil, wou hy die verwoesting van die stad nie sien nie, en kon sy woorde maar leuen gewees het.’ As sy enigste steun in die raadsaal van die koning hom ontval, dan staan hy magteloos teenoor die maghebbendes met slegs 'n klein klompie eenvoudiges van gees wat ag slaan op sy roepstem. Maar ‘onsigbaar wewe Jeremia die kleed van Geloof, die yle wade van vertroue om sy eensame siel....’ Hy word in die gevangenis gewerp en mishandel. Tot in die modderkuil van 'n afgryslike kerker moet hy afdaal, maar daar kom hy tot die besef van die nietigheid van eie lyding by die aanskouing van die nood van sy volk, wat wegsink in die grondelose sondekuil. ‘In dié nag, groot van genade, het alle aankleefsels van menslike onwaarde, wat by tye nog geleef het in hom, verteer geraak’ - nou was hy bereid om soos 'n ondergaande herfsblaar een te word met die aarde omdat God hom 'n blik gegun het op die toekomstige herstel van sy volk. Met gewyde erns het Malherbe hom verdiep in die tragiese smart van hierdie geweldige profetefiguur. Sonder om Jeremia se hoë roeping in enige opsig te kort te doen, toon hy ons die profeet as mens onder die mense. Hy mag nie, soos die valse heilsprofete, sy vernederde volk troos met voorspellings dat die ballinge en weggevoerde tempelskatte spoedig sou terugkeer nie; aan hom het die smet van verraad gekleef omdat hy hierdie ydele verwagtings moes vernietig deur te verkondig dat nog 'n groter ramp naby was, naamlik die wegvoering van ellendige oorblyfsel en die verwoesting van die heiligdomme. Hy, die vurige vaderlander, kon nie aansluit by die volksparty, wat die juk van Babel wou afwerp | |
[pagina 202]
| |
nie, maar moes slaafse onderwerping aan die goddelose Chaldeërs predik. En op sy daaglikse omwandelinge moes hy sien hoe die afgodery tot in die siel van sy volk ingevreet het. Anders as Jesaia, wat met breedoratoriese gebaar die verhouding van Jehova tot sy volk verduidelik, rig Jeremia sy hartstogtelike woorde tot die individu, lê hy nadruk op die verhouding van die enkeling tot God. (Jer. 31:33, 34.) Daarom is sy stem soveel gevoeliger, daarom tril daar so 'n innige ontroering in die klaagliedere van hierdie groot individualis onder die profete: ‘O my ingewande, my ingewande, ek bewe van angs. O mure van my hart. My hart steun in my, ek kan nie swyg nie....’ (Jer. 4:19). Net soos in Die Hart van Moab en Saul, die Worstelheld het Malherbe ook hier, met uitsondering van enkele wysiginge, die hooffeite onveranderd uit die Bybel oorgeneem. In sy kunstenaarsverbeelding herlewe egter die hele periode; hy bring ons in aanraking met die futlose koning, wat hom nie bekommer oor die lyding van sy volk nie en alleen aan eie veiligheid dink; hy voer ons na die raadsaal waar Pashur en Seraja hul verkeerde planne aan die swak koning dikteer. Ons kry 'n kyk op die militêre bedrywighede wat deur die spoggerige grootpratery van Jugal aangewakker word, maar beleef ook saam met die gewone volk die verskrikkinge van die langdurige beleg van Jerusalem. En tussen al hierdie rumoerige tonele van krygsgeweld skilder Malherbe die tere liefdesidille van Baruch en Hélea, wat by die palmboom in die wewer se agterplaas mekaar heimlik ontmoet. Maar van die begin tot die einde word elke toneel beheers deur die forse gestalte van die groot profeet, wat sy onheilsboodskap verkondig in die koning se paleis, sy vermanende stem laat hoor op die straat, maar ook as die wandelende Liefde inkruip in die hutte van die armes vir wie sy woorde ‘reëndruppels van genade’ was. Wanneer die heiligdomme verwoes is, trek hy met die treurige oorblyfsel van sy volk na Mispa en vandaar, na nuwe onheile, lei hy die vlugtelinge na Egipte: ‘Die Here het die volk rasend gemaak.... Nog trap Hy sy parskuip vir die volk van Israel.’ |
|