§ 32. Speurverhale.
In hoofstuk I § 13 is reeds 'n algemene karakteristiek van die speurverhaal gegee. Aangesien hierdie sensasielektuur niks met letterkunde te maak het nie, kan 'n verdere beskouing van die twintigtal verhale, wat in die periode (1926-1938) verskyn het, agterweë bly. Om die geaardheid van hierdie genre egter nader aan te dui, word die eerste speurverhaal in Afrikaans, Donker Spore (1926) deur Langenhoven, en twee van Leipoldt in besonderhede bespreek. Volledigheidshalwe volg hier 'n lys van die vernaamste ander skrywers op hierdie gebied.
Hendrik Brand (skuilnaam van dr. S.H. Skaife) het die meeste opgang gemaak, en sy eerste bundel verhale Adriaan Hugo (1928) het selfs 'n agste druk bereik, terwyl Die Swart Hand (1930) reeds viermaal herdruk is. Daarop het gevolg: Die Verlore Prins, Die Skerpioen (1932), Die Bedrieër en Onegte Diamante (1938).
Beeba: Die Diamantkoper (1929); Die Diamanthalssnoer (1929); Viedas: Jean de Ville (1929); Konstant Kamerling (skuilnaam van J. Wapenaar): Die Juweel uit'n Oosterse Tempel (1932); Leipoldt: Die Moord op Muisenberg (1932); Die Verbrande Lyk (1934); Hans Rompel: Die Vloek van Ming Loeng (1934); Flaneur (skuilnaam van E. Serfontein) Die Getuie vir die Verdediging (1935); A. Maree: Wie se Spoor (1935); Dirk Terblank: Die Moord op Boontjieskloof (1935); Ellenberger: Wrede Wraak (1936); Johann van der Post: Op die Spoor van die Rampokkers (1938); David Louw: Growwe Moorde (1938).