§ 30. Juanita de Villiers.
Loëla (1938).
Deur middel van hierdie verhaal wil die skryfster aantoon ‘dat die onskuldige onegte kind in die reël te wreed deur die wêreld behandel word. Ek voel dat ons nie genoeg medelye vir daardie kind toon nie. Hoeveel stote en stampe en klappe word haar nie moedswillig toegedien nie?’ Loëla, 'n fynopgevoede onegte meisie gaan na die dood van haar pleegmoeder skoolhou op Helderbron, waar sy inwoon by die aristokratiese familie Rive. Haar prinsipaal, wat baie karikatuuragtig geteken word, maak haar die hof, maar laat haar in die steek as sy haar afkoms openbaar. Toe sy in wanhoop die wêreld wil intrek om haar verlore moeder te soek, ontdek sy haar in mev. Rive. Dis 'n erg romantiese verhaal wat eindig met die huwelik van die heldin, na die gewone liefdesverwikkelinge. Die skryfster vertel vlot en lewendig, maar openbaar weinig diepte in haar uitbeelding. Helderbron is werklik 'n uitsoek-plaas, en sy aristokratiese bewoners vorm 'n skrille kontras met die gewone boere wat totnogtoe in ons verhaalkuns opgetree het. Miskien moet ons dit beskou as 'n reaksie teen die groot aantal armblanke-romans.