§ 29. A.J. du Plessis.
Die Skraal Man (1937).
Hierdie goedvertelde avontuurverhaal bevat soveel spannende elemente dat dit met graagte deur ons jongmense sal gelees word. 'n Knap landboustudent gaan onder 'n vals naam op sy oupa se Karoplaas boer om dit uit die kloue van die verbandhouer te red. Op taktvolle wyse voer hy nuwe metodes in, verbeter die veestapel en bestry gronderosie. Sy vernaamste taak is egter om 'n geheimsinnige veedief, wat op groot skaal te werk gaan, op te spoor. Vir die gewone polisie is hierdie dief, wat ons effens herinner aan Mikro se Ruiter in die Nag, natuurlik glad te slim, maar na maandelange geduldige en baie avontuurlike speurwerk, slaag die held daarin om ‘die skraal man’ te ontmasker. Hierdie ontknoping gee ons ook die sleutel tot 'n geheimsinnige liefdesverhouding. Die vernaamste skurk verdrink in sy eie dam, sy handlanger val van 'n rots,