§ 27. A.D. Divine.
Die Seerower van Saldanha (1935).
Hierdie vlot geskrewe verhaal uit die tyd van die Hollandse Oos-Indiese Kompanjie sal die harte van baie jongmense verbly. 'n Parmantige rower, Boon, het die Stavoren verower. Pieter Malan, 'n flukse Afrikaanse seun, kom deur 'n misverstand ook aan boord met 'n paar slawe, en word gedwing om deel te neem aan die rooftogte. 'n Poging om te ontsnap misluk; Pieter beleef verrassende avonture, red 'n mooi meisie uit die hande van die woeste rowers en slaag uiteindelik daarin om die Stavoren en nog 'n ander skip aan die regmatige eienaars in Tafelbaai af te lewer. As beloning kry hy 'n mooi plaas van die Kompanjie en natuurlik verower hy ook die hart van die nooi!
Alles is nie ewe waarskynlik in hierdie verhaal nie, maar die jong lesers sal hul daar nie veel aan steur nie. Hulle sal die moed en durf van die Afrikaanse held bewonder en terloops ook heelwat leer omtrent die kuns om 'n seilskip te bestuur. Dubbel welkom is hierdie boek omdat dit ons jeug in aanraking bring met die glorieryke tydperk toe die Hollandse driekleur op al die wêreldseë gewapper het. Tromp en De Ruyter