Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging
(1939)–P.C. Schoonees– Auteursrecht onbekendSeuns van die Wolke (1934).In sy voorwoord roep die skrywer die ‘geagte leser’ toe: ‘Vergeet u daelikse sorge vir 'n rukkie en vlieg saam met my in gedagte die toekoms in, en laat ons by die kinders van die toekoms gaan kuier en sien hoe hulle die lewe op die ou aardbol geniet.’ Die lesers van hierdie boek sal met weinig uitsonderinge seker jong mense wees en hulle sal dit ongetwyfeld geniet ook. Die skrywer het met groot gemak 'n reeks spannende avonture saamgeflans, wat feitlik almal in die lug afgespeel word, want die jong mense van die jaar 2034 ‘is mos gebore met vlerkies op die skouers en met draadloos in die ore.’ Gevolglik vind die meeste vrypartytjies nou tussen die wolke plaas en speel die seuns in plaas van rugby lugpolo. As hulle besluit om te trou, skep hulle so in die gouigheid 'n predikant op, voer hom na 'n hoogte van 15,000 voet en dwing hom om daar die formulier af te lees! Die geheimsinnige element in die verhaal word verskaf deur dr. Van Vuuren, wat in sy geheime Drakensbergse laboratorium probeer om ‘die krag aan die atoom te ontruk’. Natuurlik vind daar ook 'n groot lugwedren plaas, waarin party mededingers 'n snelheid van 450 myl per uur bereik. Vanuit die lug laat die skrywer ons 'n vlugtige blik werp op die geweldige industriële ontwikkelinge in Suid-Afrika, en so terloops verneem ons o.a. dat oorlogvoer afgeskaf is en alkohol nie meer gebruik word nie. Een van die weinige probleme wat hierdie toekomsmense nie kon oplos | |
[pagina 161]
| |
nie, is die uitskakeling van geraas, wat egter deur sommige firmas benut word as dryfkrag vir masjinerie. As ontspanningslektuur vir jong mense heet ek hierdie boek hartlik welkom. Die skrywer vertel vlot en aangenaam en verras ons dikwels deur die handige gebruik wat hy van nuwe uitvindinge maak. Ook die ernstige kant van die lewe word beklemtoon, want deur die beskouings van dr. Van Vuuren en die stigting van die H.O.B.-Klub kry ons 'n blik op die idealistiese strewe van die mens van die een-en-twintigste eeu. Dit sou miskien onbillik wees om meer van hierdie verhaal te verwag, ofskoon Van Oordt ons deur sy voorwoord rede daartoe gee. Die volwasse leser wat verwag dat hy in aanraking sal kom met die lewende mense van die jaar 2034, kom bedroë uit, want die skrywer toon ons weinig of niks van die geestelike groeiproses wat die mensheid in die loop van 'n honderd jaar deurgemaak het nie. Hierdie swewende seuns van die wolke, wat die hemelruimtes skeur met hul donderende vaartuie en so gemaklik oor vastelande en oseane wip, voer blykbaar so 'n jagtende lewe dat hulle geen tyd het om rustig oor sake te peins nie. As die skrywer hom minder op uiterlikhede toegespits het, sou sy verhaal aan diepte gewin het. Per slot van rekening maak dit tog weinig verskil of 'n mens per motor of per ossewa na Durban reis, dan of jy in 'n vliegtuig na die uithoeke van die aardbol yl. Wel belangrik is egter wat daar in die siel van die reisiger omgaan. En so onbelangrik is die mense in hierdie verhaal dat ons hul name skaars kan onthou! |
|