Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging
(1939)–P.C. Schoonees– Auteursrecht onbekend
[pagina 160]
| |
meisie wat deur 'n skurk gehipnotiseer en ontvoer word, maar na die gebruiklike moeilikhede tog veilig in die arms van 'n dapper boerseun beland. Gelyktydig met die voorbereiding van die Kalahari-tog sien ons die polisie besig om die duister gange van die bende na te speur met behulp van 'n verliefde tikster wat sommer alle geheime uitflap. Na 'n reeks verwikkelinge waarin o.a. 'n moord inbegryp is, word die boerseun so op die nippertjie uit die kloue van die skurk gered. Die skrywer het gesorg vir die nodige spanning, en die jeugdige lesers, vir wie die boek seker bedoel is, sal hulle nie alte veel kwel oor 'n paar onwaarskynlikhede nie. Uitbeeldingsvermoë besit die skrywer nie, maar sy styl is met enkele uitsonderings taalkundig korrek. Tot dié uitsonderings reken ek die titel, wat tog seker moet lui: Die Begrawe Stad. Ofskoon hierdie roman met die letterkunde niks te maak het nie, kan dit aanbeveel word as ontspanningslektuur vir die jeug. |
|