§ 23. J. Gysbert Slier.
Pagal (1932).
Die eerste deel van hierdie verhaal bevat 'n beskrywing van die ondervindings van die Boerekrygsgevangenes op Diyatalawa. Die hoofpersoon, Justus Barman, is 'n warme patriot, wat 'n wrewelige haat teen die Engelse koester, en deur sy opstandige gedrag telkens swaar gestraf word. Uiteindelik beland hy in 'n gestig vir kranksinniges. Na die vrede bly hy in Indië agter om te soek na die dogter van 'n Engelse generaal op wie hy verliefd geraak het.
Die tweede deel beskryf die pogings van 'n paar families om hul verwoeste plase weer bewoonbaar te maak. Die hoofpersoon is Van Winkelen, 'n egte romanskurk, wat in die oorlog verraad gepleeg het en daarna deur sluwe huweliksplanne probeer inkruip onder goeie families. Hy word in die derde deel gedwarsboom deur Barman, wat teruggekeer het na sy dogter in Suid-Afrika. Barman vermoor die verraaier, maar die polisie verhinder nie sy huwelik met die generaalsdogter nie.
Die karaktertekening is oppervlakkig en onoortuigend. Jong lesers sal geboei word deur die liefdesverwikkelinge en deur 'n reeks lewendige toneeltjies uit die plattelandslewe. Die skrywer het deurgaans 'n prettige verteltoon, maar af en toe vermoei hy ons deur gebruik van retoriese opsmuk.