§ 22. J.D. Olwagen.
Fiela van die Oermense (1932).
Die samelewing van die oermense word gedurig in beroering gebring deur die strooptogte van 'n geheime genootskap, Die Wolftande, aan die hoof waarvan die berugte Makok staan. Die lede van hierdie genootskap tree op as bose geeste en lê hul daarop toe om orals kwaad te steek tussen die stamme. Hulle leef van roof, voer jong meisies weg, en omdat hul 'n wrok teen die hele gemeenskap koester, pleeg hul steeds nuwe gewelddade. Makok het 'n spesiale vete teen die huisgesin van Koefa weens 'n liefdesteleurstelling. Hy probeer Fiela ontvoer, maar word gedwarsboom deur Kain, vir wie die oermense 'n buitengewone eerbied koester. Na 'n reeks avonture wat so kunstig inmekaar gevleg is dat die spanning al sterker word, volg die klimaks in die slothoofstuk waar Fiela gered word en die geslepe skurk, Makok, eindelik sy straf ontvang. Die skrywer vertel vlot en het 'n lewendige fantasie. Die wonderbaarlikste gebeurtenisse vind plaas, maar omdat die bloeddorstige wesens in so 'n duistere oertyd lewe, sal die jong lesers vir wie die verhaal bedoel is, wel geen lastige vrae stel nie! Elke hoofstuk is vol spannende avonture en sluit op so 'n wyse af dat die nuuskierigheid verder geprikkel word.
As staaltjie van die skrywer se styl kan die volgende beskrywing van Fiela dien: ‘Haar oë bly dig gesluit, maar die granaatkleurige wange waarop die opkomende son rooi vlekkies skilder, die rooskleurige, soenlokkende lippe, die breë voorkop waarop die sagte morewindjie met die los lokkies speel, en waarin die woordjie wil gegraveer lê, die ferm kennetjie waaragter beslistheid wegkruip, die ophewende bolyf wat die sielsnare