§ 21. Elizabeth Vermeulen.
Vlaktes en Sterre (1932).
Hierdie avontuurverhaal behandel die liefdesgeskiedenis van twee meisies wat deur 'n innige vriendskap aan mekaar verbonde is. Die skryfster het daarna gestreef om haar vertelling te verhef bo die oppervlakkige peil van die gewone liefdesverhaal met sy onverwagte kronkelinge en klewerige sentimentaliteit. Om dit te bereik het sy haar hooffigure met buitengewone eienskappe bedeel. Marie Delamere is die edele dogter van 'n dorpspredikant. Sy is die verpersoonliking van onskuld, onselfsugtigheid en baie ander deugde. Ongelukkig slaag die skryfster nie daarin om haar as waaragtige mens te laat lewe nie. Hoe onwaarskynlik en byna komies is Marie se onvermoë om Leo Meyer se liefde raak te sien! Dit lyk wel na 'n opsetlike bedenksel om Leo se verklaring nou regtig dramaties te maak.
Ook Juliana bly 'n newelagtige figuur. Sy koester hoë ideale en is besonder intelligent, maar word tog baie maklik gehipnotiseer deur 'n skurkagtige advokaat. As gevolg van 'n tydelike verdwasing tree sy in