§ 17. Ds. Harper Martins.
By die Alwyn (1925).
Harper Martins, wat as teologiese student met 'n aantal vry waardelose rymbundels gedebuteer het, het in 1925 uitgegee By die Alwyn, 'n ‘romantiese’ verhaal. Dit is die beskrywing van die lewe van 'n jongman, wat sy ideale nooi vind in 'n hartbeeshuisie op die vlaktes van die Karo. Martins het die allerbeste bedoeling: hy wil die ongekunstelde Afrikaanse meisie idealiseer om party studente, wat met uitlandse vrouens terugkeer na hul vaderland, te waarsku. Maar sy lewenservaring is nog te beperk, sy sielkundige insig te oppervlakkig, sy gebrek aan plastiek te opvallend, om 'n leesbare verhaal te skrywe. Jannie, die hoofpersoon in die verhaal, het sonder twyfel in die teologie en nie in die medisyne gestudeer nie, want hy praat deurgaans die ‘tale Kanaäns’. Hierdie prekerige jongkêrel, wat sy ontroue Berta so netjies die leviete voorlees, en met dweepsugtige patriotisme die mooi Karo-skaapwagtertjie al dadelik kan vra: ‘Lena, sê my, is jy 'n ware Afrikaner meisie?’ is seker 'n seldsame tipe van die Stellenbosse student, wat deur die gewone nooi van vlees en bloed as 'n onuitstaanbare vent in die pad gesteek sal word. Jannie kan gerus wag tot hy regtig op die preekstoel staan. Daar sal hy seker sy teks goed uitwerk, maar hier in die verhaal is hy 'n houtpop brawe-Hendrik, wat met klugtige aksies oor sy wit sportpakkie 'n deftige domineestoga probeer aantrek.
Martins het 'n warme liefde vir sy volk, maar juis dié liefde verlei hom tot 'n karikatuuragtige voorstelling, wat sy boodskap onaanneemlik maak. Hy is gevoelig vir natuurindrukke, maar 'n onontwikkelde styl belemmer die vertolking daarvan. As hy iets op prosagebied bereik, sal dit alleen na lange jare van onverpoosde studie wees, want af en toe is daar wel 'n opflikkering in sy styl wat iets beloof vir die toekoms. As sy weke gevoelerigheid met verloop van tyd tot meer besadigde lewensinsig ryp en hy sy neiging vir retoriese opsmuk kan oorwin, sal Harper Martins later miskien 'n treffende boodskap tot sy volk kan rig, want aan erns en oortuiging ontbreek dit hom nie.