§ 18. J.J. Groeneweg.
Waar die Doringbome fluister (1925).
Van hierdie skrywer, wat onderwyser is in Pretoria, het 'n aantreklike boek vir jongmense verskyn: Waar die doringbome fluister (1925). Groeneweg probeer om die romantiese met die leersame te verbind, en sy gesonde lewensopvatting maak die boek, trots sy gebreke, besonder geskik vir die rypere jeug. Dis jammer dat hy begin met 'n snoewende verwysing na 'n vorige boek van hom, Onder het Zuiderkruis, waarin die hooffigure al opgetree het. Die gevolg is 'n sensusagtige opsomming van hul hoedanighede, wat ons hoegenaamd geen insig in hul karakters gee nie. Hierdie twee Pretoriaanse studente slaan eenvoudig bolmakiesie deur die lewe; hul geestelike vader voorsien hul ryklik van alles, uitsoekbetrekkings, 'n fabelagtige skat, mooi vroutjies, ens. Het hulle dan nooit gestudeer, swaargekry, liefgehad nie? Nee, hulle kry, selfs in die swygende oerwoud van Middel-Afrika, nie eers kans om behoorlik te dink nie! Nou mag ons wel in ‘'n boek vir jongmense’ geen diepgaande ontleding eis nie, maar dit is m.i. onpedagogies om die jeug so 'n verdraaide beeld van die lewe te gee.
Die menskant van hierdie boek is die swakste. In die begin ontmoet ons die twee studente in Pretoria, en ons moet heelparty onbenullige koffiepraatjies aanhoor, maar kry tog ook 'n paar treffende toneeltjies, o.a. oom Stefaans se bedevaart na Irene, die ontgroening van nuwe studente en die twee honde Boef en Vlak. Die leersame gedeelte bestaan uit definisies en verklarings, wat vir ons jongmense grotendeels oorbodig is. Sou 'n Afrikaanse kind miskien nie weet wat 'n dolos, 'n trapsoetjies, of 'n skut is nie?
Beter op stryk kom die skrywer as hy Vis en Jetjie na Middel-Afrika neem. In hierdie onbekende oord is die skoolmeester se gesellige aardrykskunde onmisbaar, en deurgaans ook nie hinderlik nie, omdat hy prettig vertel. Die gewoontes van die inboorlinge word met liefde beskryf en die hele tropiese landskap met sy mense, diere en plante begin vir ons te lewe. Op handige wyse sit die skrywer sy toneeltjies inmekaar en met vaardige hand teken hy die romantiese omgewing. Met stygende belangstelling sal jong lesers die pakkende avonture van die reisigers volg, wat eindig met 'n mooi klimaks, die verhaal van die mensvreters. Hierdie toneel word werklik op 'n meesterlike wyse opgevoer en dit bevat al die eienskappe wat ons van 'n boek vir jongmense kan eis. Alleen sou ek die skrywer 'n meer digterlike kyk op die fantastiese bewegings van sy figure toewens; 'n beskrywingstalent wat deur ritme, klank en rake plastiek al die menigvuldige aksies en geluide van die mensvreters in die sagte maanglansing vir ons tot 'n onmiddellike realiteit kan maak. Dat Groeneweg dit nog nie bereik nie, skryf ek hoofsaaklik toe aan sy