Dieselfde gebrek aan pittige plastiek en beeldende fantasie merk ons op as Gauché sy ‘betowerend mooi’ Sannie moet voorstel. Ook hier beroep hy hom op 'n ander kunstenaar: ‘As ons beeldhouer Van Wouw, 'n origineel soek vir 'n beeldontwerp wat 'n tiepe van 'n volmaakte dogter van die natuur voorstel, sal hy nie 'n beter een kry nie as Sannie Joubert’ (p. 25). Moenie oor so 'n natuurkind praat nie, teken haar, sodat sy vlak voor ons staan. Dáár lê die moeilikheid!
Die verskyning van Ogg se Piet Plessis, a Backveld Boer, ‘die berugte boek.... waarin die Afrikaner weer ten onregte swartgesmeer word’, het aanleiding gegee tot Gauché se verhaal. Hy ‘het toe gemeen om 'n paar tiepes onpartydig en juis voor te stel’ - so deel die skrywer ons in sy voorwoord mee. By tipes het dit gebly, want Gauché se figure stel eintlik meer fragmentariese begrippe en gevoelens voor as logies opgeboude wesens met 'n eie emosionele lewe. Hulle het lief, hulle trou; die uiterlike lewensfeite word aanskoulik geteken, maar tot die innerlike roersels van hul harte dring die skrywer maar selde deur. Hulle is meer samelapsels van afsonderlike eienskappe, wat onder sekere omstandighede op 'n verstaanbare wyse reageer, as lewende mense met wie ons innig saamlewe. En omdat hulle met so weinig lewenswarmte geteken is, kan ons onmoontlik belangstel in al hul verliefderigheidjies. Jong mense van 15 tot 16 jaar sal die boek deurhardloop om te sien of die paartjies mekaar ‘kry’; oueres wat nie net ‘vir die storie’ lees nie, sal daar weinig in vind wat tot lewensverryking en -verinniging kan dien, sal hoogstens kan sê: ‘So 'n vryery het ons al meer gesien, so 'n bruilof het ons baie vroeër saamgevier en sulke ideale plase wil ons graag erwe!’
Dat die skrywer sy karakter net van die buitekant beskou, blyk uit die ‘ontwaking’ by Sannie. ‘Iemand wat haar, ongemerk, noulettend waarneem, sal gou-gou tot die ontdekking kom, dat haar beweginge meer werktuiglik as bedaard genoem kan word.’ (p. 97.) Die uiterlike bewegings dui die skrywer sorgvuldig aan: 'n traan vloei ‘oor haar skone wange met reëlmatige tussenpose’ (sekuur gemeet!); haar ‘byna volmaakte gestalte’ wat vroeër tot die gevleuelde wesens behoor het, want dit het ‘gesweef’ ‘op die vlerke van haar trotse, ongedwonge eie ek’, neem nou meer normale afmetings aan en haar ‘bewegings stem harmonies ooreen met haar uiterlik’ (p. 99). Ons hoop dat dit ten minste 'n voorlopige ruspunt was van Sannie se ‘nimmereindigende natuur’! (p. 15).
Die innerlike bewegings, wat hier tog van oneindig meer belang is, word net effentjies aangeroer, of botweg op nugtere wyse gekonstateer: