het die skrywer nader toegelig in sy bundels Natuurkundige en Wetenskaplike Studies en Die Siel van die Mier, waarin hy breedvoerig uitwei oor verdubbeling van persoonlikheid en geur as seksuele signaal by diere.
In Die Wit Uil kry ons weer 'n stukkie abnormale psigologie in verhaalvorm. Van Vuuren het vyftig jaar lank ‘die las van 'n moord gedra wat hy nooit gepleeg het nie.’ Die motief toon ooreenkoms met Skaduwee van 'n Misdaad in die bundel Sketse uit die Lewe van Mens en Dier.
Afrikanerbeeste, Isaak Slyk en Jonkheer van der Made tot Zevenster getuig almal van Marais se liefde vir diere. In die eersgenoemde verhaal is die hoofpersoon 'n ou Boesman ‘wat oënskynlik op gelyke voet met diere kon omgaan, wat hulle taal kon praat en hulle gemoedsbewegings deelagtig kon word.’ Ou Hendrik het 'n wonderlike beheer oor sy beeste, en al sal sommige lesers wel twyfel aan die waarskynlikheid van sy buitengewone maneuvers, sal hulle tog moet erken dat die skrywer die kuns verstaan van deur sy noukeurige diere- en veldkennis ons van die begin tot die end te boei.
Dr. Preller het in sy inleiding tot Marais se gedigte daarop gewys hoe by die digter ‘oormaat van verdriet gelei (het) tot 'n gevoel wat grens aan lewensmoeheid.’ Marais se siniese lewensbeskouing het uiting gevind in Skoppensboer:
Gewis is alles net 'n grap!
Ons speel in die komedie mee,
geblinddoek met 'n lanferlap
wat selfs die son 'n skadu gee.
Dieselfde troostelose opvatting vind ons in die verhaal De Boom in het Midden van den Hof. Eerw. Scalinger, wat na 'n vyftigjarige bediening op Drogebult afgetree het met die bittere besef dat sy lewe 'n mislukking was, word versoek deur 'n Afrikaanse Mephistopheles wat hom ‘die ware Elikser des Lewens’ aanbied. Hy beswyk vir die versoeking en herwin sy verlore jeug - maar slegs 'n kort rukkie - want al spoedig kom die donker skaduwee van Skoppensboer al sy toekomsdrome vernietig:
‘Nou weet hy dat elke vreugde wat sy dwase hart in die vooruitsig gestel het altyd 'n gesteekte perske was - met die kleure van die dageraad van buite en wurms en verrotting van binne.’
Uit hierdie beknopte karakteristiek van Marais se vertelkuns sal dit duidelik wees dat hy deur die uitsonderlikheid van sy verhaalmotiewe, deur die verbinding van digterlike fantasie en wetenskaplike insig reg het op 'n eie plekkie onder ons Afrikaanse vertellers. As gevolg van sy uitgebreide ervaring op velerlei gebied het hy 'n intieme kennis opgedoen van ons mense op die platteland, en sy wetenskaplike proefnemings met