§ 12. P. Meyerink.
'n Pionier in Suid-Afrika (1922).
Op skool laat die onderwyser die leerlinge soms 'n denkbeeldige reis maak en vertel dan allerhande besonderhede om daar 'n bietjie realistiese kleur aan te gee. Op dieselfde manier laat Meyerink 'n Hollandse huisgesin in die jaar 1680 uit Rotterdam oorkom na Suid-Afrika. Op saaklike wyse, in korrekte, maar kleurlose taal deel hy ons hul ervarings mee. Die dramatiese momente, soos die afskeid van die familie en die aankoms in die Kaap ‘slaan hy maar liewers oor’ (p. 21), of ‘laat dit aan die verbeelding van die lesers oor’! (p. 38). Die persone wat in die verhaal voorkom is net poppe, wat die skrywer na willekeur gebruik om historiese kennis aan die man te bring. Die familie Harmse kry 'n plaas by Stellenbosch en maak die wildernis bewoonbaar. Een van die seuns gaan met Simon van der Stel saam op die tog na Namakwaland.