Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging
(1939)–P.C. Schoonees– Auteursrecht onbekend§ 9. Sadie Bosman.Langs Kronkelende Weë (1921). Dit is 'n verhaal van ‘hartverskeurende afskeid’, van eindelose gekreun en gesteun, van sugte en snikke! Dis nie die gewoonte om statistiese tabelletjies in 'n letterkundige kritiek te gebruik nie, maar in hierdie geval moet tog vermeld word, dat daar byna vyftig maal gesug word! Dan nog al die trane! Emmers vol! Soms kom al om die ander bladsy byna die uitdrukkings ‘met 'n sug’, ‘met betraande oë’ voor.Ga naar voetnoot2) Met sulke en dergelike huilerige woordjies, met 'n salwende tederheidsbetoon, 'n sieklik-verweekte gevoelerigheid probeer die skryfster om ons te ontroer. Met sielsleë frases wil sy ons in 'n droefnisstemming bring! ‘Duisenderlei bange vrese vervul steeds haar treurende hart en die skoon oë was moeg van al die stil geween.... die oë vol skaduwees (waaragter) 'n wêreld van wee verberg was’ (p. 155). ‘Maar vanaand moes die sterre hulle aangesig verberg vir die hartverskeurende strome van mensebloed (!) wat orals vloei, en skyn die hemelse vrede verder as ooit te wees van die oorloggeteisterde aarde’ (p. 61). ‘Met gebukte hoof, verbleekte gesig, en dromende oë hervat sy haar lewenstaak; maar die glimlag op haar lippe het vir altyd verdwyn, (So, so! P.C.S.) en haar hart daarbinne was versteend’ (p. 96). Nêrens 'n gevoelde | |
[pagina 140]
| |
woord nie, net pure aanstellerige bombas. Of anders 'n mislike foefie om eie onmag te bedek. ‘Oor die bitter skeiding en hartverskeurende vaarwel laat ons saggies 'n sluier neer’ ens. (p. 47). As Lear uiting gee aan sy droefheid oor die dood van Cordelia, dan sê hy met 'n eenvoudige gebaar: ‘Pray you, undo this button. Thank you sir’. Só werk die beeldende kunstenaar. Groot en egte lewensgevoel kan alleen geuit word deur groot styleienskappe. Daar is duisende diep ontroerdes, by wie alleen hakkelwoordjies of stomme gebare 'n aanduiding gee van die lewenstragiek. Maar alleen die kunstenaar kan die donker dieptes vir ons oopblits. Dit kan nie gedaan word met praatjies oor ‘snikkende geween’ en ‘gesmoorde smartelike kreune’ nie. In Sadie Bosman se styl is daar nooit 'n opglansing van oorspronklikheid nie. Dit is wat Querido noem 'n ‘grijseffene breikousenstijl’, waarin die dooiste gemeenplase met 'n geroetineerde ratsheid afgerittel word. Nooit raak sy verleë oor 'n woord nie, die naalde klik-klik met masjinale reëlmatigheid. Tog het sy 'n stof behandel, wat by 'n waarlik voortreflike werker tot 'n geweldig aangrypende tragedie sou kon gegroei het. Hannes en Miemie is verloof, maar deur die rebellie en die veldtog teen Duits Suid-Wes (1914) ontstaan daar vyandskap tussen hul vaders. Hannes kom tot ander insigte deur sy omswerwings in die Vrystaat en op die end van die ‘kronkelende weë’ kry hy tog vir Miemie. Geteken word dus die reaksie op 'n paar persone van die geweldige konflik, wat die Afrikanerdom in twee partye verdeel het, en vandag nog soveel bitterheid veroorsaak. Maar die twee vroue, deur wie Hannes tot Nasionalis bekeer word is geen gewone sterwelinge nie - hulle is engele! Veral Lida word ons voorgestel as ‘'n vleklose engel’ en selfs die dokter ‘'n bedaarde ou Engelsman’ (p. 198) verklaar, dat ‘vir so 'n engel ons besoedelde aarde 'n onwaardige woonplek (is)’ (p. 199). Maar ook Miemie is so 'n voorbeeldige jongedogter, dat dit geen verbasing wek as ons hoor dat sy ‘engelagtig lyk’ nie (p. 16) en Hannes ‘met so 'n hemelse teder blik aan(sien)’Ga naar voetnoot1) (p. 44). Hannes is ‘'n treffende beeld van 'n flink jongeman, wat 'n suiwer, eerbaar en opreg lewe lei’ (p. 24). Sy enigste sonde is, dat hy 'n Sap is, maar die stroopsoet seuntjie word deur die liewe engeltjies so mooi reggehelp, dat hy ook volmaak word! Beskou ons nou die orige figure van die limpatiese geselskap, dan blyk dit, dat oom Gideon ooreenkoms vertoon met die swaarmoedige grysaards uit Vergeet nie en Teleurgestel. Hoe dat oom Koos nou eintlik tot berou kom, word nie vertel nie. Die bedrywige tant Lizzie, wat gelukkig geen tyd het om te veel te sug nie, is die bes geslaagde figuur. Waar daar geen geleentheid vir sopperige sentimentaliteit is nie, blyk dit dat die skryfster 'n goeie opmerkingsgawe het. Tant Lizzie is ten minste 'n menslike mens. | |
[pagina 141]
| |
Tot watter onsinnigheid die sentimentele neiging aanleiding gee blyk hieruit: Miemie het ‘'n ondeunde kuiltjie, wat elkemaal so skelmpies uit die wange loer, en waarin die hart van Hannes lank reeds baie diep ingetuimel het’! (p. 3). Sy gaan na die somerhuisie waar ‘die roostakkies en kamperfoelie om die latwerk heen (slinger); daar steek sy dikwels haar arms na hulle uit ‘om hulle aan haar bekommerde hart te druk’! (p. 56). Stel mens jou die dinge nou nugter voor, dan is dit om van te skater! Die toneeltjie waarin die ou Basson, wat aan die maal geraak het oor sy in die rebellie gevalle seun in die middel van die nag vir Hannes kom vra: ‘Vir watter kant het jy gestem?’ (p. 167) laat ons op plastiese wyse voel, wat 'n lewensaak die politiek vir ons mense is. Dit is psigologiein-aksie en heel wat anders as 'n bewering soos die volgende, wat ons op goed geloof moet aanneem, sonder dat ons daar iets van gevoel het. ‘In die oorlogskool het (Hannes) geleer dat helde gebore, en nie gemaak word nie, en dat die beesagtige in die mens soms die redelose dier ver oortref’ (p. 102). Die politieke tendens en die feit dat daar resente gebeurtenisse van nasionale belang in behandel word, gee die roman 'n aktuele kleur. Deur die een party kan dit as 'n wapen in die politieke stryd beskou word, maar van letterkundige belang is dit nie. Feitlik is dit dan ook slegs 'n vertaling, want die oorspronklike uitgawe van 1916 was in Hoog-Hollands. In Die Huisgenoot (1924) het verder 'n verhaal verskyn: Stemme van die Vlaktes, waarin meegedeel word die ondervindings van 'n tranerige Bolandse meisie, wat in die Noordweste gaan skoolhou en daar, soos haar maats in die vorige roman, weer ontelbare sugte slaak. Daar is egter veel verbetering in styl en tegniek te bespeur en 'n poging word gedoen om ook die innerlikheid van die figure te ontleed. Op haar beste is Sadie Bosman in enkele kort verhale, o.a. Melima (Die Huisgenoot, 1924). |
|