Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging
(1939)–P.C. Schoonees– Auteursrecht onbekend§ 8. J.H. Malan.J.H. Malan is in 1874 op Groenberg, Wellington gebore. Sy eerste onderwys het hy van C.P. Hoogenhout ontvang. Van 1894-1897 was hy onderwyser in die Vrystaat. Daarna het hy verder gestudeer en tydens die Tweede Vryheidsoorlog Hollands gedoseer aan die hoërskool op Seepunt. In 1904 begin hy sy joernalistieke loopbaan by die Re-Echo. Vervolgens het hy gewerk by Het Zuid-Westen en Het Westen. In Potchefstroom was hy ook redakteur van die tydskrif Werda, wat vir ongeveer 'n jaar bestaan het. Nadat hy lank gedien het op die redaksie van Die Volksblad het hy hom gewy aan navorsingswerk in die Vrystaatse Argief. Reeds tydens die drie-jarige oorlog het Malan sy historiese ondersoekings in die argiewe begin en 'n versameling van Africana aangelê. Boer en Barbaar het in 1913 verskyn, 'n toneelstuk Na Olikheid kom Vrolikheid in 1917, Die Swerweling in 1921, Sonskyn en Skaduwee in 1926 en Die Opkoms van 'n Republiek in 1929. Tydens die veldtog van dr. W.J. Viljoen ten gunste van die Vereenvoudigde Spelling het Malan in Ons Land vir Afrikaans gepleit onder verskeie pseudonieme, soos Cabo, Bonhomie, ens. Op joernalistieke gebied is hy as Oom Fanie bekend. Hy het o.a. deur die halfkroon-fonds £4000 vir generaal De Wet se boete ingesamel. Vir sy aandeel in Die Dolosgooier van Joubert Reitz word na die bespreking van dié boek verwys. | |
Die Swerweling (1921).Die Swerweling is ‘'n verhaal uit die tyd van die Franse Hugenote in Drakenstein’. Lambert Lourier, wat in Frankryk baie Hugenote oor die grense gebring het, word in Suid-Afrika ‘'n onverbeterlike makdroster, | |
[pagina 135]
| |
swerweling en niksdoener’ (p. 165). Hy is 'n sieltjie sonder sorg, wat ‘geen staanplek in hierdie wêreld (wou) hê nie.’ (p. 40.) ‘Ek is wat ek mag word. Ek glo aan geen instelling van die mens nie’ (p. 47). Sy vernaamste besigheid is dan ook rondkuier, jag en ipocras drink by die landdros, Samuel de Meurs, wat ook vroeër Hugenote gehelp het om te ontvlug. Lambert toon 'n neiging om sy swerwersbestaan op te gee as hy verlief raak op Anna, die dogter van Rousseau. Maar hy verspeel sy kanse, omdat sy Kaapstadse ‘pepermintjie’, Isabella, so vrypostig met hom omgaan. Nadat Danie vir Anna uit die see gered het, kry sy die ou-jonkman lief, terwyl Lourier troos soek by Isabella. Op voorspraak van sy vrinde, benoem die Goewerneur, Louis van Assenburgh, Lourier tot onder-stuurman op die retoervloot, en op die Amsterdamse skeepstimmerwerf vergeet hy al sy swerwersideale en word 'n rustige werksman. Die Swerweling is 'n historiese roman, die hoofdoel waarvan die aanbrenging van geskiedkundige kennis is. Daar is tallose historiese uitweidings o.a. oor die vervolging van die Hugenote in Frankryk, die politiek van die Oos-Indiese Kompanjie, ens. Uit allerlei besonderhede blyk ten duidelikste dat hier 'n historikus, wat jarelank met groot toewyding in argiewe sy gegewens bymekaar gesnuffel het, aan die woord is. ‘Dit is 'n jammerte dat geen enkele brief uit die tyd bewaard gebly is nie in sover dit die Kaapse Hugenote aangaan’ (p. 17.) Soms deel hy sy kennis op betogende wyse mee, soos in hoofstuk V, of anders laat hy iemand 'n opsetlike vraag stel. Anne wil weet, wat vir mense die Dragonders is (p. 20); Anna vra: ‘Maar wat is nou eindelik (eintlik?) die galeie? (p. 22); De Smit: ‘Maar Aploon, wat is nou eintlik die Buddhisme?’ (p. 59); en op p. 105 vra Anna weer: ‘Maar wat doen die Hugenote en die misdadigers dan nou eintlik op die galei?’ En so is daar meer voorbeelde, wat ons telkens laat voel, dat ons hier met geen mense te doen het nie, maar alleen met 'n skrywer, wat onder allerlei vermomming sy byeengegaarde kennis aan die man wil bring. Ten spyte egter van 'n argaïstiese tintjie in die styl, ten spyte van al die moeite wat die skrywer gedoen het om histories juis te wees in die skildering van die omstandighede, gewoontes, huisraad en klere van die Kaapse Hugenote, voel ons direk, dat dit 'n bordpapier-wêreldjie is, wat ons die moderne werklikheid nie laat vergeet nie. Dié indruk word nog versterk deur die gebruik van sulke outydse foefies soos die volgende: ‘Ons mag 'n gedeelte van die gesprek by die voordeur afluister, solang die slaaf in die kombuis aan slaap is....’ (p. 92); ‘As 'n mens 'n dag na die gebeurde in die vorige hoofstuk vermeld, en dit kort na sonsondergang, saggies by die opestaande gang binnestap en by die deur links in die kamer kyk, sou 'n mens 'n meisie van omtrent 19 jaar oud voor 'n groot spieël het sien staan.’ (p. 144.) So teken die moderne kunstenaar nie. Dié laat ons geen gesprekke by die voordeur afluister | |
[pagina 136]
| |
nie, maar plaas ons in die volle realiteit, omdat hy met sy eie persoonlikheid die lewe van sy uitgebeelde persone deurleef het. ‘Il faut que la réalité extérieure entre en vous; à nous en faire crier, pour la bien reproduire’, sê Flaubert. Die slemppartye van Lourier en De Meurs is miskien die besgeslaagde toneeltjies in die boek. De Meurs met sy toegeknipte oog en knorrende brak, Lambert in sy astrante vrindskaplikheid is goed geteken, terwyl die dialoog meestal fris en lewendig is. Hoe styf en onnatuurlik word dit egter op ander plekke! ‘Ja, as dit (die liefde) die diepte van die ware moederliefde het en 'n vermeende liefde nie 'n bandelose drif is nie wat te dikwels en helaas, al te gou tot 'n ontnugtering van die werklikheid (?) kom.’ Sulke en nog swaarwigtiger betoë lewer Jacob de Smit op p. 137. Hy praat van ‘'n nimmereindigende lewenswroeging’, terwyl ook Isabella so deftig soos 'n dominee redeneer: ‘Jy sien daar so beteuterd en ontredderd na liggaam en siel uit, asof jou sterwensuur naby is.’ De Smit vertel Lourier dat sy ouershuis ‘nou 'n droom, 'n ysingwekkende, nimmereindigende herinnering (is). Terwille van (sy moeder) het (hy) nog teen die verdrietelikhede van die lewe manhaftig en hygend geworstel....’ (p. 46). De Smit met sy triestige beskouings moet dien as teëhanger van Lambert Lourier met sy lugtige swerwersnatuur. Maar die hele selfmoordepisode behoort tot die swakste gedeeltes van die boek. Malan verstaan nie die kuns om deur intuïtiewe, deurdringende details sy persone te laat leef nie en De Smit bly vir ons 'n skim. Sy teatrale lamentasies mis alle egtheid, en die tekening van sy geval is so alledaags, dat dit by ons geen dieper gevoel opwek nie as soortgelyke berigte, wat ons af en toe terloops in 'n koerant raaksien. Die onverstaanbare praatjies van Aploon oor Boeddhisme lyk baie na onhandige vertalings uit 'n handboek oor Oosterse wysbegeerte. Onder ander sê hy: ‘Die mens het geen eie ek nie. Hy bestaan uit 'n liggaamlike uiterlike gevoel, waarneming, begeerte en bewussyn wat hy hom kan verbeel en as hy sterf, plof dit almal uiteen’ (p. 59). Die vertalings uit Pascal is ook nie almal gelukkig nie. ‘Die teenwoordige is nooit ons end nie....’ (p. 115). Die Franse teks lui: ‘Le présent n'est jamais notre fin: le passé et le présent sont nos moyens; le seul avenir est notre fin.’Ga naar voetnoot1) Dit lyk baie of 'n Engelse vertaling Malan hier op 'n verkeerde spoor gebring het, want uit die verband blyk dit dat Pascal wou sê: Die teenwoordige is nooit ons doel nie. Onduidelik is ook Malan se vertaling van: ‘Si nous naissions raisonnables et indifférents, et connaissant nous et les autres, nous ne donnerions point cette inclination à notre volonté.Ga naar voetnoot2) ‘As ons onverskillig - oplettend....’ ens. (p. 115). Onverstaanbaarheid is 'n vaste kenmerk van Malan se styl. Telkens | |
[pagina 137]
| |
stuit mens op sinne, wat jy drie of vier keer moet lees, voordat dit op 'n manier duidelik word. Sy verwronge uitdrukkingswyse laat mens dink aan 'n swaargelaaide wa, wat kerun-kreun teen 'n knaende opdraand uitgesleep word. Dié duisterheid word meestal veroorsaak deur 'n onbeholpe sinsbou en woordskikking, of 'n verwarde gedagtegang. ‘'n Halwe of hele bottel wyn by glasiewyse genuttig in 'n aand deur een persoon, is nie juis beskou deur die fatsoenlikste in die land nie, dat 'n mens op 'n ongeoorloofde wyse oor jou maat gaan.’ (p. 92); ‘Ek snap dit nie, maar ek glo dat 'n Indiese bende ook in die rigting van die onsienlike en harmonie vir hulle beweeg’ (p. 122); ‘Daarmee is hulle die aand, byna histories vir die familie se geskiedenis uitmekaar’ (p. 126). Die beskrywing van die verjaardagfees op die kasteel in Hoofstuk XVII mag in alle opsigte histories juis wees, maar met kuns het dit seker niks te maak nie. ‘Eindelik tree die goewerneur, onder menigvuldige buigings van die gaste.... binne. Daaronder word opgemerk, onder meer, landdros de Meurs, lede van die Politieke Raad, ander vernaamste ingesetene van die stad.... Isabella was in 'n platgeplooide swart syrok, mevr. luitenant Rheede in 'n polonnaise-plooirok...’ (p. 153-4). So 'n verslag kan die jongste rapporteur van Die Volksblad ook skrywe! In wat blykbaar as 'n kunswerk bedoel is, behoort soiets, om die minste te sê, seker nie voor te kom nie. Malan het 'n manier om met die grootste erns uit te wei oor alledaagse onbelangrikheidjies. ‘Anne wat in die kombuis besig was om te stryk, het binnegekom nadat Anna, haar dogter, vir haar van die gaste vertel het en sy het hulle almal hartlik welkom geheet, nadat sy vir hulle gegroet het’ (p. 8). Nou weet ons dit tog sekuur: eers groet, dan welkom heet! Maar, ‘intussen sal Anna voorbereidsels vir die ete maak’ en ‘solang die gaste en Pierre oor die rit, die weer en die boerdery praat is die tafel gedek en verder alles in verband met die aandete in orde gebring. Toe hulle almal aansit, was daar genoeg vir almal.’ Gelukkig vir die huisvrou, maar hoe sy dit so sekuur kan weet by die begin van die maaltyd al, is nie erg duidelik nie! Dan volg 'n uitweiding oor die ‘Fransche brood’. Na die ete is die huisgodsdiens, wat deur Pierre gelei is, waargeneem. Eers is 'n hoofstuk uit die Bybel uit voorgelees, toe 'n psalmvers gesing, ens.....’ Waarom moet sulke welbekende sake so plegtig meegedeel word? Hier het Malan nou 'n mooi geleentheid gehad, om deur enkele plastiese trekkies, deur die tekening van 'n paar gebare of die aanduiding van 'n reeks klein handelinge sy persone uit te beeld. Maar vir hom is dit, as historikus hoofsaak, dat die leser moet weet van ‘die worsteling van die Camisarde, (wat) op die punt is om onderdruk te word’. Gevoel vir die natuur het Malan wel, maar hy vergenoeg hom meestal | |
[pagina 138]
| |
met konvensionele beeldspraak. Die bergpunte gooi hul ‘wit musse’ ongeduldig af (p. 5); ‘van die sonneskyf (spat) 'n see van gloeiende vonke (af)’ (p. 6); ‘Statig en deftig is die son reeds agter die westerkimme weggestap in sy fonkelende mantel van goud en oranje en violet’ (p. 199). Waag hy hom aan 'n nuwe beeld dan kry ons rariteite soos die volgende: 'n Wyfie-kokkewiek antwoord haar maat ‘in 'n perfekte maat...., met halleluja's’ (p. 63), terwyl die lenteson elke jaar ‘nimmerfeilend oor elke boom en blad na 'n gure winternood halleluja's neergiet - helaas, helaas, ook as requiem vir die voorgeslag wat verby is, wat leef, wat kom’ (p. 80-1). Halleluja's as requiem! 'n Voorgeslag wat leef, wat kom! Dit staan daar! | |
Sonskyn en Skaduwee (1926).Hierdie bundel bevat vier verhale en 'n aantal verse. Reeds die allereerste sin bewys dat Malan sedert 1921 nie veel vooruitgang op stylgebied gemaak het nie. In Die Kaapse Kluisenaar is die stilistiese gebreke so opvallend, dat die verhaal ongenietbaar word. Van die tweede bladsy af word die sinne op eentonige wyse aaneengeryg deur en, en dan, en toe. Ek verswyg egter ander gebreke in Malan se styl, omdat die in hoofsaak 'n herhaling is van swakhede in vroeër werk. In die verhaaltrant, wat wel hier en daar nog 'n moeisame sukkelgang het, is deurgaans egter 'n groot verbetering te bespeur. In die besgeslaagde verhaal, Oom Kalie, het die skrywer sy figure noulettend bespied en deur die optekening van allerlei eienaardigheidjies laat hy die ses natuurkinders enigsins vir ons lewe. Hulle ondersoek die kwaliteit van mekaar se tabak en trek Kaap-toe met bondeltjies droë vrugte; oom Kalie gaan op 'n ongewone wyse na 'n weduwee vry en vier ook sy bruilof op 'n snaakse manier. In hierdie toneeltjies laat Malan geen enkele beweging van sy figure aan sy aandag ontsnap nie en die omgewing word ook met liefde geteken. Hier en daar gee hy 'n treffende natuurskildering, soos b.v. van die paddas wat op die damwal ‘'n huislike verskil in die maanskyn beslis,’ (p. 53). In Die Eerste Offer word 'n patologiese geval behandel. James Walton, 'n Ierse student, vlug vir die wraak van 'n geheime genootskap na Suid-Afrika, waar hy na 'n tydperk van omswerwing skuil soek by 'n landgenote in die Pêrel. Die vrees vir agtervolging het egter sy geesvermoë gekrenk en Malan gee 'n breedvoerige skildering van Walton se martelende dwaalgedagtes. Hy het 'n ernstige poging gedoen om hom in te leef in Walton se sielestryd en slaag ook daarin om die vlugteling se grillige gedagtegang weer te gee. Maar as ons lees dat Walton se ‘grimmige helfte’ 'n stryd voer teen sy ‘beminlike helfte’, wat sukkel om ‘tot besef van sy waarde vir 'n ware lewensaanskouing te kom (p. 92), dan voel ons | |
[pagina 139]
| |
twyfel opkom oor die egtheid van die geval. En dié twyfel styg as Walton in die aand na 'n afmattende staptog besluit: ‘Hy mag ten minsteGa naar voetnoot1) probeer om 'n groot vraagstuk oor die onsterflikheid, oor die doel van die lewe op te los’! Al lyk dit of Malan skerm met groot vraagstukke, waaroor hy self nie tot helderheid gekom het nie, tog sê hy soms treffende dinge, soos b.v. die twee aanhalings op p. 126. Sy natuurgevoel is ook veel inniger en al is daar nog ‘ware halleluja's’ op die voëltjies se repertoire, verras hy ons tog deur 'n fyn opmerksaamheid en deur die wyse waarop hy 'n natuurstemming aandui. Oor die algemeen is daar dus 'n opmerklike styging in Malan se werk waar te neem. Hy is 'n gevoelige siel wat ernstig peins oor die lewensverskynsels, en deur 'n uitgebreide lektuur wysheid uit baie bronne versamel het. Maar in sy worsteling met die taalmaterie ontglip die skoonheid hom, en deur sy verwronge taaluiting slaag hy nie daarin om 'n gawe kunswerk te skep nie. Volgens prof. J.J. Smith is Malan ‘die hanteerder van 'n gespierde en kleurryke taal, wat wel hier en daar van stroefheid getuig, maar wat darem in sy kern eg Afrikaans is’ (Die Huisgenoot, 18 Junie 1926). Op die stroefheid het ek orals gestuit en die gespierdheid slegs by uitsondering aangetref. |
|