Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging
(1939)–P.C. Schoonees– Auteursrecht onbekend§ 5. Reenen J. van Reenen (1884-1935).Reenen J. van Reenen is in 1884 op Calvinia gebore. In 1902 het hy met sy B.A.-eksamen die eerste Koningin Victoria-beurs aan die S.A. Kollege behaal. Vier jaar later het hy in Amerika sy studie vir siviele ingenieur voltooi en na 'n jaar praktiese ondervinding op groot besproeiingswerke in Nebraska na Suid-Afrika teruggekeer. Gedurende sy studiejare het hy hom ook op taal en lettere toegelê en reeds van 1898 af op die tekenkuns. Aan die Brandwag-interviewer vertel hy: ‘Dit was met die herlewing van die Afrikaanse Taalbeweging, wat in 1915/16 so sterk gegaan het, dat die skryflus by my opgekom 't. Ek het 'n paar hoofstukke prosa en verse geskrywe, wat my vrinde hier op Bloemfontein beval 't. Hulle aanmoediging het my beweeg om Die Agterstevoortrekkers (1917) uit te gee. Maar gedurende die voorbereiding van dié werk moes ek toe my ou teorie toepas: n.l. dat die poging om leeslus onder ons volk op te wek, sal misluk, of in alle geval baie langer sal neem eer dit met sukses bekroon word, as die leesstof nie geïllustreer is nie.’Ga naar voetnoot2) Behalwe die genoemde werk het van hom verskyn Celestine (1919), en Verborge Skatte (1920), twee bundels sketse; 'n roman: Die Lokaas (1921) en twee kinderboekies. | |
Celestine (1919) en Verborge Skatte (1920).Dit is twee bundels verhale, hoofsaaklik navolging van Edgar Allan Poe, aan wie Verborge Skatte dan ook opgedra is. Celestine bevat spookstories, met een waarvan die skrywer in 1903 'n prys behaal het in The South African News. Dié verhaal, 'n Hopie Bene, is 'n droom, maar in die orige word die geheimsinnige element nie verklaar nie, behalwe in Tant Annie. James Russel Lowell het aan Poe toegeken ‘a power of influencing the mind of the reader by the impalpable shadows of | |
[pagina 121]
| |
mystery’.Ga naar voetnoot1) Verder sê hy: ‘In raising images of horror, also, he has a strange success; conveying to us sometimes by a dusky hint some terrible doubt which is the secret of all horror.’Ga naar voetnoot2) Dit is wat ons grotendeels by Van Reenen mis. Sy voorstellinge is te nugter, sy geheimsinnigheid te deursigtig. Die subtiele realistiese illusie, wat Poe b.v. in een van sy beste verhale, Ligeia, skep, lê buiten Van Reenen se bereik. Wie b.v. Poe se nagwake by die lyk van die Lady Rowena vergelyk met die enigsins analoge situasie in die verhaal van Celestine (p. 30) voel direk, dat dit veral realistiese uitbeelding is, wat by Van Reenen ontbreek. Poe verstaan die kuns om deur allerlei suggestiewe besonderhede 'n dodelik beklemmende atmosfeer te skep - Van Reenen noteer alleen die geheimsinnige feit. Die vergelyking wat dr. Dorothy Scarborough tussen Poe en Hoffmann maak, pas ook op Van Reenen ‘His (Poe's) horrors have a more awful effect because he is an incomparably greater artist. He knows the economy of thrills as few have done. His is the genius of compression, of suggestion.’Ga naar voetnoot3) Die Verborge Skatte word deur professor Erts se buitengewone vernuf ontdek. Die raaiselskrif in Die Voortrekker se Skat is gebaseer op die van Poe se verhaal, The Gold-bug. In Die Kinderdief word gebruik gemaak van 'n motief, waarop Poe o.a. The Purloined Letter gebou het: ‘the intellect suffers to pass unnoticed those considerations which are too obtrusively and too palpably self-evident. The Minister had deposited the letter immediately beneath the nose of the whole world, by way of best preventing any portion of that world from perceiving it.’ Ook in die uitwerking van die besonderhede is daar ooreenstemming. Van Reenen het 'n aangename verteltoon en sy verhale is verdienstelike ontspanningslektuur. | |
Die Lokaas (1921).Gert Vermaak, 'n begaafde weeskind, word deur oom Willem en tant Miem aangeneem. Toe hy ses jaar oud was, kom 'n ontwikkelde Hollandse skeepskaptein om gesondheidsredene op die Karoplaas woon. Onder sy leiding word Gert so buitengewoon skerpsinnig, dat dit die opmerksaamheid van 'n kapitalis trek, wat hom na Europa stuur om in die regte te studeer. Na sy terugkoms vestig hy hom in Kaapstad en word gou een van die leiers van die Boereparty. Maar die kapitalis gebruik 'n mooi vrou as lokaas, en by die stemming oor 'n gewigtige wetsontwerp word Gert ontrou aan sy party. | |
[pagina 122]
| |
Voorop moet gestel word, dat die skrywer geen poging doen om die geleidelik voortskrydende geestelike ontwikkeling van 'n geniale kind te skets nie. Hy gee alleen ‘'n loshangende versameling van staaltjies wat Gert (hom), af en toe in die laaste dertig jaar.... vertel het.’ Die skrywer is nie die objektiewe uitbeelder van 'n deurleefde werklikheid nie, hy is net die verteller van Gert se geskiedenis. Hy self tree telkens op die voorgrond, spreek ‘die welwillende leser’ toe (p. 29), en voel hom kort-kort gedronge om brokkies van sy eie wysheid by die verhaal in te las. Daarom mis dit die warme tinteling van intimiteit, daarom bly die skrywer maar alte dikwels aan die buitekant van sy persone. ‘Dit lyk asof (Gert) teenoor die kaptein voel soos 'n minnaar teenoor sy nooientjie - hulle gesprekke was hom heilig en dit sou heiligskennis wees om dit te publiseer’ (p. 29). Alweer die treurige sluiertaktiek, 'n vyeblaartjie om eie magteloosheid as kunstenaar te bedek! Is dit dan nie juis die kunstenaar nie, wat met sy wondere intuïsie moet deurdring tot die heilige der heilige? Die uiterlike lewensfeite sien ons almal, lees ons daagliks in die koerant, maar dit is die kunstenaar, wat die verborge roersele van die hart moet openbaar. Hy moet so opgaan in die persoonlikheid van sy figure, dat hy alles seker weet, dat hy die kleinste nuansering van sy gevoelens en gewaarwordinge kan ontleed. As hy alleen kan sê: ‘Dit lyk asof....’ (p. 29), dan twyfel ons aan die egtheid van sy voorstelling. Hoe moet ons nou met Gert meelewe, as van die drie belangrikste jare uit sy ontwikkeling selfs geen ‘loshangende versameling van staaltjies’ meegedeel word nie? Maar wat wèl verhaal word is, dat die R.M.S. Tartar presies om vieruur uit Tafelbaai gestoom het met Gert aan boord en dat hy met die R.M.S. Scot uit Europa teruggekeer het! Van die jong advokaat weet ons nie veel meer as die plaat by p. 132 ons te sien gee nie - 'n jongkêrel soos duisend ander - geknip uit die eerste die beste kleermakerskatalogus! Gelukkig is daar enkele gedeeltes waar Van Reenen nie alleen die verteller nie, maar Gert self is. Die uitmekaarhalery van oom Willem se oorlosie (p. 19-20), die waterlei in die nag (p. 40) en nog ander toneeltjies uit Gert se kinderjare toon, dat die skrywer 'n fyn psigologiese insig het. Dit geld ook van die manier, waarop Gert sy besluit neem om Stella nie op te gee nie. Hoe treffend-juis is dit gesien om die nesmakende duiwe die deurslag aan ry redenasies te laat gee! Maar die mooi gestileerde sinne, wat Gert se dink-taal moet voorstel is weer van Van Reenen. Ook enkele gelukkige trekke in tant Miem en oom Willem toon, dat die skrywer 'n taamlike uitbeeldingsvermoë het. Maar dit is alles so fragmentaries, dat die persone tog vaag bly. So word die planne van die intrigerende kapitalis met dieselfde behendigheid as in Verborge Skatte uitgewerk, maar daar is weinig aanduiding dat hy behalwe draadtrekker ook mens is. | |
[pagina 123]
| |
Gert is blykbaar 'n uitsonderingsfiguur, maar selfs so beskou, is daar enkele trekke in sy karakter, wat wys op 'n verdraaide psigologie. Op p. 24 word ons verseker: ‘Soos 'n openbaring.... word sy volksbewussyn skielik gebore’. Hy is nog maar ses jaar oud, maar omdat hy so 'n talentvolle knapie is, wil ons dit aanneem. Ongeveer ses of sewe jaar later hoor ons egter: ‘Volksbewussyn sal hy maar ontwikkel in die vreemde lande wat hy later sal deurreis’ (p. 68). Afgesien van die teëspraak is die voorstelling hier absoluut vals, want daar is geen enkele jongeman van twaalf of dertien jaar nie wat, selfs al begryp hy die abstrakte idee ook, so 'n wonderlike besluit kan neem. En die wysgerige bespieëlinge op p. 52-53 is geen ‘raaisel’ nie, maar eenvoudig gedagtes van die skrywer self, wat hy aan die twaalfjarige knapie opdring. As voorbeeld van die swak tegniek kan aangehaal word, dat deur die lang uitweiding op p. 11-12 die spelende Gertjie skoon vergeet raak. Net so gaan dit met die kaptein. ‘Ons durf darem nie langer by hierdie interessante woordkuns vertoef nie, want ons vriend die seevaarder wag nog al die tyd vir ons op die drumpel van die voordeur....’ (p. 16). Op p. 22 heet dit: ‘Maar ek loop my verhaal verby, en ons moet eers weer 'n bietjie terugkeer.’ Van Reenen het 'n los, gemaklik-vloeiende styl, wat egter weinig persoonliks het. Beeldspraak gebruik hy maar selde; die ‘verdraaide beeld’ op p. 139 is nie gelukkig nie, en die ‘spatsels van die smeer van die misvloer’ wat mens aan golwe laat dink nog minder (p. 66). Die ‘liefdesbeker’ (p. 52) ken ons al van toeka se dae af! ‘In hierdie dae begin Gertjie al in brein en liggaam tamelik uitrek’ (p. 39) - 'n pynlike proses, wat mens aan die inkwisisie laat dink! | |
Die Agterstevoortrekkers (1917).Johan van Heemskerck het in sy Batavische Arcadia (1637) 'n paar Haagse here en dames 'n plesiertoggie laat doen met die doel om ‘onder 't soet van minnepraetjes al spelende (te) komen tot kennisse van de vaderlandtsche gelegentheden, daer niemandt een vreemdelingh in behoort te zijn.’ Van Reenen stuur 'n aantal Bloemfonteinse geleerdes en kunstenaars met hul families op die ou voortrekkerpad ‘om te probeer of daar nie, daar in die bosse en klowe, in die kranse of op die bulte nog van die heldemoed van die ou voortrekkers te bespeur is nie, en of daar op die wye ope veld nie 'n kans is om weer die helder eenvoudige duidelike uitsig op die lewensprobleme op te vang en in (hul) daaglikse omgang te gebruik nie’ (p. 32). Die ooreenkoms is duidelik, ofskoon daar seker van bewuste navolging geen sprake kan wees nie. By Van Reenen is daar nie soveel ‘loofwerck van liefkooserijtjes’, maar die minnende paartjie ontbreek tog ook nie. Die poging om pastorale en didaktiese | |
[pagina 124]
| |
motiewe te verenig is al merkbaar in die aangehaalde sin. Oom Jakob sê ook nog: ‘Dis die doel van die uittog.... om 'n veldwasempie op te vang uit die Afrikaanse Son en Veld’ (p. 31). Nog duideliker straal die pastorale motief uit die volgende deur: ‘Daar in Bloemfontein in 'n atmosfeer van kunsmatigheid, val die klank (van die ossewa) weg, hier op die veld, ver van die besmetlike invloed van groot stede, mag die plof plof van die ossevoete nou en dan in die sand wegval, maar die skok van die wiele bly.’ (p. 110.) Die didaktiese motief blyk ook nog hieruit: ‘Opgewonde gee ek antwoord dat dit 'n eerste-klas plan was om die sienswyse van die voortrekkers te verstaan, en hulle geskiedenis met smaak te leer lees....’ (p. 20). En die sewende trekreël lui: ‘Elke aand sal een van die trekkers.... 'n lesing gee oor die een of ander in die geskiedenis van die Voortrekkers’ (p. 37). Maar sterker nog as die pastoraal-didaktiese motiewe van die verhaal is die satiries-humoristiese element. Die meeste van die Bloemfonteinse deskundiges verbeel hulle wat wonders. In die ‘afskeidsbrief’ heet dit: ‘Ons is beslote om.... ons diep kennis vir almal wyd en syd bekend te maak’ (p. 40). Die Professor wil drie waens vol boeke laai ‘om aan die boere te verkoop’; Jan, die ‘goggadeskundige’ wil die boere waarsku teen skadelike insekte, en Antoon, die musikus hoop dat deur sy musiek ‘nuwe ideale mag ingeboesem word in diegene wat binne die betowerde sirkel van ons skitterende strale inkom’ (p. 31). Oom Jakob egter voel dat die groot geleerdheid van sy maats eensydig is. ‘Op seker gebiede het ons.... vooruitgegaan, maar op ander.... is ons baie versleg’ (p. 32). Hy is dan ook gewillig om aan die voete van die plattelander te sit en lesse van hom te leer. Ook oom Kaas, die ‘diepgeleerde professor in geskiedenis’ voel, dat die hele spul dalk sal verkeerd loop, dat die Agterna-trekkers bes moontlik Agterstevoor-trekkers sal word en sy voorspelling kom uit. Die vernaamste doel van die skrywer is om die verwaandheid van die hooggeleerde akademiese here bespotlik voor te stel. Die heel eerste voorval gee al dadelik die toon aan. Die osse trek afdraand net so swaar as opdraand en terwyl hulle 'n geleerde dispuut hou oor dié raaiselagtige omstandigheid, kom 'n onnosele konstabel die moeilikheid oplos deur die styfaangedraaide briek los te draai! Dat klein Leon aan die ossewabriek dieselfde funksie as aan die van 'n outo se slinger toeskryf, is meer as 'n gelukkige grappie; dit is meteen al 'n simboliese voorstelling van die groot afstand tussen die Voortrekker- en die moderne beskawing. Die trek is skaars aan die gang of die entomoloog vind uit, dat oom Gert iets oor goggas weet, wat hy nog nooit in sy diepsinnige handboeke van gelees het nie, en met 'n ironiese laggie voeg die skrywer hom toe: ‘Neef Jan, ek het gemeen jy gaan vir die boere leer, nie hulle vir jou nie.’ (p. 54.) S.K., die professor in fisika vind uit, dat al sy gekompliseerde | |
[pagina 125]
| |
instrumente en spitsvondige berekeninge minder vertroubaar is as die kennis van die eerste die beste ou boertjie. En dan is dit nog boonop klein Botterkoppie wat hom tot die erkentenis bring! Op die tuinfees slaan almal behalwe oom Jakob 'n gek figuur. Die dorpelinge verskyn in trekkersdrag, maar die kastige trekkers in haastig bymekaar geskraapte Europese spektakels! Alles doen hulle agterstevoor! Die steekse motor van die dokter, wat deur die osse dorp-toe moet gesleep word is weer 'n ironiese beeld - die moderne vernuf afhanklik van die ouderwetse trekkersmetode. Die professor kry in ‘'n hoekie van die Vrystaat’ 'n resep vir heuning-bier, wat hy tevergeefs in sy geleerde foliante gesoek het, maar sy onbekendheid met die praktiese uitwerking daarvan besorg hom 'n wetenskaplike hallusinasie, wat tot 'n algemene bespotting aanleiding gee. By die afgebrande huis loop die trekkers 'n gewone boer raak, met 'n ontwikkelde kunsgevoel en so 'n fyn beskawing dat dit hulle bewondering afdwing. Wanneer die trekkers by Kerkenberg kom, waar Piet Retief se naam op die rots staan, word die toon van die verhaal ernstiger. Die historiese gevoel ontwaak en oom Kaas bevredig Emmie se weetgierigheid deur allerlei besonderhede oor die Voortrekkers se ossewaens mee te deel. Op die Natalse pad kom die piëteitsgevoel tot uiting in 'n humoristiese regspraak tussen ossewa en outo. ‘Ek het die Afrikaner Nasie gedra toe dit nog 'n suigeling was; en nou, op my ou dag, wil julle hê dat ek moet pad gee vir 'n bog kind, so jong dat hy self erken dat hy nog nie eers gebore is nie.’ ‘Grootgeraas’ is 'n outo van ‘aanstaande jaar se model’ en ‘Die Dromedaris’ weier om pad te gee vir so 'n ‘aangewaaide, buitelandse ding - niemand weet eers wie sy ouers is nie!’ (p. 210.) Hier is die soort humor aanwesig, wat volgens Schopenhauer is ‘der hinter den Scherz versteckte Ernst’,Ga naar voetnoot1) want uit so 'n toneel spreek die wil van 'n volk om die erfenis van sy voorvaders te bewaar ‘van vreemde smetten vrij’. Dirk vind nog 'n geleentheid om die ‘geleerde ape’, S.K. en die Goggadokter droog te sit. Hy verydel die grootskeepse opgrawingsoperasies operasies van die twee deur die egte voortrekkersvurk met sy pennemes uit te grawe, terwyl 'n verroeste valse ‘versigtig in watte opgewoel’ tereg kom in Jan se trommel. Dis 'n laaste verbluffende kopstoot op die dorre kamergeleerdes! Die manier waarop die dansparty eindig is 'n bewys, dat die agternatrekkers tog onder die besielende invloed van hul voorvaders geraak het en hul onder al die malligheid goed ingeleef het in die gees van dié grootse tydperk met die skrynende wee. As die maan wegraak, en die uile droewig skree, begin Antoon se viool ‘te huil soos 'n moeder oor haar kind se lykie.... Soos diegene wat pas 'n dierbare vriend in sy | |
[pagina 126]
| |
graf gelê het, uitmekaar gaan, so verdwyn nou stilletjies die gaste een vir een’ (p. 235). Om 'n toneel van sulke roerende stemming in al sy innigheid uit te beeld - daarvoor was Van Reenen nie woordkunstenaar genoeg nie. Die oorgang van uitgelate malligheid kom te plotseling. Dirk se gulle lag oor sy welgeslaagde grap, sy ‘dis nou regtig 'n lekker bal’ klink nog in ons ore as ons by die ‘stille snikke van sterk mans’ kom. Maar ons voel tog iets van die stille plegtigheid van die oomblik en enkele dowwe dreunings van 'n verre dodemars kom uit die verte aansuis.... Verswak die skrywer nie die ernstige ondertoon van sy werk deur ná so 'n toneel weer met minnepraatjies aan te kom nie? En smoor hy dit nie heeltemal deur die ragtime-klanke van die agterrede nie? Ek meen van wel. Magteloos, totaal magteloos staan Van Reenen as woordkunstenaar teenoor die natuur. Die trekkers mag 'n ‘veldwasempie’ opgevang het - ons kry nie eers die ruik daarvan nie! ‘My hand het net gejeuk vir 'n kwas en verf om die pragtige kleure op doek of kaart te skilder, maar al had ek die gehad sou dit my darem onmolik gewees het om uit te druk wat ek gevoel het....’ (p. 84). En met die pen kom hy ook nie verder as 'n gestamel oor die onbeskryflike kleure nie (p. 138). Dit is vir hom ‘'n soort heiligskennis om die wonderwerke van die Natuur te veel in hulle teenwoordigheid te analiseer’ (p. 152). Daarom moet ons tevrede wees met die kennis, dat hy 'n lekker pypie daar op die Nek gerook het, en dat hy nooit moeg word van die treurwilgers rondom die damme nie! (p. 85.) Die taal en styl is gebrekkig en die beeldspraak weinig oorspronklik. Die dialoog word meestal gekenmerk deur 'n besonder losse natuurlikheid, en tallose lewendige toneeltjies getuig van groot plastiese talent. Sommige daarvan is egter skadelik vir die eenheid van die werk en dit geld ook van enkele langer vertellings, wat die aandag op storende wyse van die hooftema aflei. Dit is o.a. die geval met hoofstuk XXIV, wat ‘Herinneringe uit die Engelse oorlog’ bevat. Daar is nog meer sulke uitweidings, wat die verhaal soms na 'n versameling van los anekdotes laat lyk. |
|