Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging
(1939)–P.C. Schoonees– Auteursrecht onbekend§ 2. Adv. J.H.H. de Waal (1871-1937).Jan Hendrik Hofmeyr de Waal is gebore op 30 Desember 1871 op die plaas Bakkerskloof, Stellenbosch. Sy vader was boer en handelaar, sy moeder die oudste suster van ‘Onse Jan’. Aan die Normaal-Kollege in Kaapstad het hy gematrikuleer en daarna was hy 'n tydlank onderwyser o.a. op Uitenhage en Utrecht. Later het hy 'n betrekking aangeneem in sy vader se ysterhandel, maar die joernalistiek het hom aangelok en as voorbereiding vir dié vak het hy regte gaan studeer in Londen, waar hy aangesluit het by die Inner Temple en as studievrind o.a. generaal Jan Smuts had. Nadat hy in besonder kort tyd sy wetseksamens afgelê het, tree hy in die huwelik met Emma de Kock (1898) en woon vir ses jaar in dieselfde huis as ‘Onse Jan’, vir wie hy as ‘luitenant’ dien. In Julie 1903 word hy redakteur van die tydskrif, De Goede Hoop, | |
[pagina 103]
| |
waarin Stompies, Johannes van Wyk en Die Tweede Grieta verskyn het. ‘Sy bedoeling met daardie geskrifte was om die jong lesers soveel moontlik met leesstof in populêre skryftrant te voorsien, en wel in die taal wat hy van jongsaf voorgestaan het - Afrikaans.’Ga naar voetnoot1) Op sy kantoor is op 5 Oktober 1906 die Afrikaanse Taal-Vereniging ontstaan en die erkenning van ons taal in die Kaapse geregshowe is aan sy inisiatief te danke.Ga naar voetnoot2) In Des. 1914 het hy afgetree as redakteur van De Goede Hoop, as gevolg van 'n wrywing met die uitgewers oor politieke kwessies. Onder die nom de plume, Jan van Rozenburg, had hy naamlik generaal Hertzog se politiek verdedig by die kabinetskrisis in 1912. Nederland het sy dienste as voorvegter vir ons taalregte erken deur sy benoeming tot lid van die Leidsche Maatschappij, en van die Universiteit van Pretoria het hy in 1936 'n doktorsgraad honoris causa ontvang. Hy was enige jare voorsitter van die Unie-Volksraad, waarin hy lank Piketberg verteenwoordig het.
Johannes van Wyk het oorspronklik in De Goede Hoop verskyn, die eerste hoofstuk in Jan. 1904. Die skrywer verklaar self, dat die ontstaan van die roman te danke is aan sy betrekking as redakteur van die blad.Ga naar voetnoot3) De Waal het skrywer geword, nie deur 'n innerlike skeppingsdrang nie, maar deur die dwingende mag van omstandighede. Toevallig het 'n yweraar en hartstogtelike voorstander van die lank geminagte volkstaal die middel in die hand gekry om aan verstokte teenstanders te wys, dat in dié taal 'n roman kon geskrywe word. Eers probeer hy om deur uitlowing van 'n honorarium die skryflus van sy lesers op te wek, maar die resultaat was teleurstellend; al die stukke moes in die snippermand. Aangemoedig deur die sukses van sy toneelspel Angelina het De Waal toe besluit om self 'n roman te skrywe. Met sy nugter verstand het hy 'n reeks toneeltjies op kunsmatige wyse inmekaar gepas en die resultaat was 'n leesbare roman, wat veral die jongeliede, vir wie De Goede Hoop in die eerste plaas eintlik bedoel was, met groot spanning gevolg het. Ons staan hier voor 'n gewigtige kultuurgebeurtenis. Dit naamlik: in 1904 het die eerste Afrikaanse roman van die Tweede Beweging verskyn.Ga naar voetnoot4) Die skrywe van Johannes van Wyk was 'n daad van betekenis. Na al die gekibbel 'n daad. En 'n daad, wat vir meer as een die oë laat oopgaan het. Vir lange jare had die teenstanders van Afrikaans met triomfantlike gebaar hul onweerlegbare stelling opgedreun: ‘Het Afrikaans heeft geen letterkunde!’ De Waal se antwoord was: Johannes | |
[pagina 104]
| |
van Wyk. ‘Die eerste oplaag het bestaan uit 500 eksemplare, en die drukkerskoste was toe slegs een-sesde van wat dit vandag vir so 'n aantal sou wees. Tog is ek destyds gelukgewens geword met my moed dat ek dit gewaag het om 'n boek in Afrikaans uit te bring.’Ga naar voetnoot1) Vir die voorstanders van Afrikaans was die roman dan ook 'n welkome bondgenoot. Die Afrikaanse Taalgenootskap in Pretoria het onmiddellik 'n beroep gedoen op alle Afrikaners om dit te lees, en die meeste koerante het dit warm aanbeveel. Sy verspreide stukke het De Waal in 1911 gebundel onder die titel Stompies, en daarop het gevolg 'n roman Die Tweede Grieta (1912). In die volgende jare het die politieke bedrywigheid op hom beslag gelê, totdat hy na 'n kort verhaal Oorlog tussen twee dokters (Die Huisgenoot, 1922) 'n derde roman uitgee: Oupa en sy Kleindogters (1923). In 1928 verskyn Die Lewe van David Christiaan de Waal deur J.W. (sien hoofstuk X) en in 1931 word Oorlog tussen twee Dokters in omgewerkte en uitgebreide vorm gepubliseer. My Herinnerings van Ons Taalstryd (sien hoofstuk X) volg in 1932 en in 1934 Die Eksentrieke Essie. De Waal het ook drie toneelstukke geskryf: Oupa, Die Jong Skrywer en Die Dobbelspelletjie. Van Stompies het in 1937 'n uitgebreide herdruk in drie deeltjies verskyn: Lucie, Sy Wilskrag getoets en Amper, maar nog nie.
As raamwerk vir 'n reeks avonture kies De Waal in al drie romans 'n periode uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis. In Johannes van Wyk gebruik hy die troebele tydens Adriaan van der Stel se regering en die jagtogte op Boesmans om 'n historiese kleur aan sy ingewikkelde intrige te gee. In Die Tweede Grieta neem die hooffigure deel aan die Tweede Vryheidsoorlog, terwyl die gebeurtenisse in Transvaal, tussen die anneksasie deur Shepstone en die slag by Majoeba, die agtergrond vorm van Oupa en sy Kleindogters. Die grondplan van al drie romans is as volg: die eer van 'n wonderskone meisie (of meisies) word belaag deur 'n aantal volbloed skurke, maar verdedig deur 'n paar voorbeeldige helde wat na bomenslike inspanning uiteindelik die skurke opruim en hul bruide in die arms sluit. Om die spanning te verhoog word gebruik gemaak van wisselende oorlogskanse, nagtelike spokerye, fynbedagte wraakplanne, 'n dubbelsinnige testament, die geheimsinnige verdwyning van die heldin en verder al die onverwagte toevallighede en verbluffende draaitjies van die intrigeroman, wat by De Waal steeds uitloop op 'n driedubbele huwelik en 'n paar gesonde suigelinge ‘....almal spekvet’. Hoofsaak bly by De Waal altoos die intrige, wat hy inderdaad met vindingryke vernuf inmekaar sit. Al die romans is vol spannende situasies, en steeds word die belangstelling geprikkel deur nuwe verwikkelinge, wat veral jong lesers met koorsagtige gejaagdheid laat soek na die ver- | |
[pagina 105]
| |
rassende ontknoping. Om gouer daar te kom, sal hulle wel die historiese uitweidings oorslaan, wat dikwels heeltemal los van die verhaal staan. Met dié geskiedkundige gedeeltes het De Waal dieselfde bedoeling as D'Arbez, om naamlik sy jong lesers op aangename wyse 'n les in vaderlandse geskiedenis te gee. In die eerste jare van die Tweede Beweging was dit erg nodig, want dit is bekend dat die waarheid dikwels stelselmatig verdraai is op ons skole. Die didaktiese element is dus 'n welbewuste poging van 'n patriotiese skrywer om die anti-nasionale onderwyspolitiek van die oorwinnaar teë te werk. In Johannes van Wyk is die historiese vernis baie dun, en 'n besonder avontuurlike tydperk uit die vroegste Kaapse geskiedenis word alleen gekies, sodat die karakters die wildste kaskenades kan uitvoer, maar tog nog 'n glimp van waarheid behou. Die skrywer doen hoegenaamd geen poging om hom in te leef in die atmosfeer van die periode nie, en die tekening van die manne, wat in die worsteling teen Adriaan van der Stel die eerste saadjies van ons nasionale bewussyn gesaai het, is oppervlakkig. Die maatskaplike verhoudings en die verengelste dialoog is die van 1900 en dit is alleen 'n paar uiterlikheidjies wat ons aan 1700 se gebeurtenisse herinner. Meer in sy element is De Waal as hy historiese gebeurtenisse uit sy eie tyd skets, soos in die ander twee romans. In Die Tweede Grieta kry ons wel geen dramatiese skildering van die volksworsteling nie en word die eenheid van die roman verstoor deur historiese uitweidings. Maar die skrywer het hierdie periode tog self deurleef, en hoewel dit gladnie sy bedoeling is om die innerlike roersels van die volksiel uit te beeld nie, slaag hy soms uitstekend daarin om ons 'n stukkie oorlogspsigologie te gee, soos o.a. die gesprek tussen Bertie Muller en kaptein Glide in hoofstuk III. In Oupa en sy Kleindogters word die historiese drade soms met goeie gevolg deur die handeling gevleg, maar die losstaande betoog ontbreek ook hier nie (Hoofstuk XXII, b.v.). Die karakters word wel sydelings in die geskiedkundige handeling betrokke, hul uiterlike dade word meegedeel, maar van hul innerlike lewe weet ons so goed as niks. Ons sou so graag geweet het wat daar in oom Klaas en Gert se gemoed omgaan as hulle deelneem aan die opstapeling van die klipmonument by Perdekraal; maar by so 'n sterk-dramatiese moment skiet die skrywer se uitbeeldingsvermoë te kort en hy kan net die nugtere feit meedeel (p. 131). Oupa Klaas is die beste verteenwoordiger van die tydperk. Hy is die opregte ou Takhaar, besiel met die vryheidsideaal, en afkerig van alle nuwe gewoontes deur vreemde fortuinsoekers ingevoer. Die botsing tussen die ideale van die ou Voortrekkers en die ligsinnige, nuwerwetse sedes van die jonger geslag, wat verlei word deur die valse skitterglans van die stadslewe is die sentrale tema waar die avonture om gegroepeer | |
[pagina 106]
| |
word. Hierdie waardige oubaas, wat eenkant alleen in sy rondawel woon, die raadgewer van sy kleindogters en bestraffer van sy papbroekerige seun is 'n aanduiding dat De Waal gelukkig meer aandag aan karaktertekening begin te wy. In die vorige verhale is sy helde marionette, aangeklede poppe, waarby die avontuur alle psigologie verdring. Die enigste ontwikkeling, wat daar by sy hooffigure te bespeur is, bestaan daarin, dat die oorspronklike eienskap waarmee hy hul bedeel het, hoe langer hoe sterker word. Sy helde word al dapperder, sodat hulle in die laaste hoofstuk Uebermenschen is, sy skurke al hoe swarter, totdat hul die baarlike duiwel in persoon word. Hy bedink allerlei middeltjies, wat daarop bereken is om ons bewondering vir sy held te laat styg, of ons veragting vir sy skurke te vergroot. Johannes van Wyk is in alle opsigte 'n voorbeeldige jong kêrel en so ook Andries Burger. Laasgenoemde is wel 'n bietjie koppig op skool, maar De Waal laat ons goed voel, dat dit eintlik 'n goeie eienskap is, wat net pedagogiese leiding nodig het. As Andries dan ook Perold se skool deurloop het, word hy 'n tipe van die nasionale student. Hy wil nie eers met sulke ‘rou rooi’ dametjies, soos Grace Palmer praat nie, en die koppigheid van die kind moet ons bewonder, omdat dit die onversetlike wilskrag van die jongeling verklaar, wat teen die wens van sy pleegvader en professor tog oorlog-toe gaan. Andries is ook 'n sportman van die eerste water; hy weier om met sy beste vrind 'n dop te gaan steek en verwyt hom ernstig sy losbandigheid en gebrek aan nasionale sin. Bertie se swakheid moet dien om ons 'n hoër dunk van Andries te gee. In die oorlog word Andries so gou gebrei, dat ‘hy amper enigiets sou waag’. Hy maak 'n stoutmoedige aanbod aan generaal De Wet (p. 159) en as verkenner is hy die dapperheid in persoon, wat altyd die vyand baasraak. Op 'n koppie red hy Bertie, neem drie National Scouts gevange en skiet een dood. Sy gewonde vrind verpleeg hy met die grootste selfopoffering (p. 206). Phineas voel ‘glad ongerus in Utrecht’ as hy hoor, dat daardie waagduiwel.... in die rondte swerf as verkenner’, en al is hy ook nie vandag se kind nie waar dit op geslepenheid aankom, moet hy telkens erken, dat Andries hom uitoorlê. Andries kry altyd die mooi rol; hy red Grace van die Kaffers, bring haar in veiligheid en voorsien haar van geld; hy maak die geld buit, wat Phineas en Loogman van die weduwee afgeneem het en stuur dit aan haar terug met De Jager. As genl. De Wet 'n skitterende oorwinning behaal, dan is Andries daarby. As veldkornet Potgieter in die nood raak, dan is dit Andries, wat hom raad gee, en met die hulp van twee vrinde bestook hy die Engelse uit 'n voordelige posisie sodat die kommando ontsnap en die vyand groot verliese ly. Maar Andries is nie alleen 'n onverskrokke krygsman en verkenner nie, hy kan ook 'n mooi gedig maak en behaal selfs 'n prys | |
[pagina 107]
| |
daarmee. As die vrede gesluit word, dan hoor ons: ‘niemand het die prysgee van die duurgekogte onafhanklikheid van die Transvaal dieper ter harte geneem nie as die jong hooghartige Andries.’ By die tekening van sy skurke gaan De Waal presies op dieselfde wyse te werk. Die een laag swartsel na die ander smeer hy op. Gert Rass word oplaas só gevaarlik in sy duiwelagtige haat, dat De Waal verplig is om hom op te ruim voor hy Johannes en sy vrinde kan beloon vir hul deug.Ga naar voetnoot1) Phineas Marais, die eks-teoloog is ook 'n monster, wat al monsteragtiger word. Sy huigelary word hoe langer hoe geraffineerder, en om die bewondering vir Andries des te hoër te laat styg word sy teenstanders al hoe gewikster in Fariseïese listigheid. Hy moet deur sy verraad en geldsug die nodige verwikkelinge skep, sodat Andries 'n kans kan kry om sy edelmoedigheid en onverskrokkenheid aan die dag te lê. Die laagheid van Phineas is die terrein waarop die patriot Andries, le chevalier sans peur et sans reproche, steeds met sukses opereer. Andries is dwarsdeur die roman die lieweling van die outeur, orals word hy verheerlik, orals word die pad vir hom skoongemaak. Hoe dat by De Waal alles afhang van die grillige toeval blyk uit die verlowing van Hester Fourie en Bertie. Hester sê Phineas af, nie as gevolg van 'n geweldige sielekonflik nie, waarin haar patriotisme en liefde in botsing kom. Tot op die laaste behou sy haar naïewe geloof in sy opregtheid, ja verneder haarself voor haar veragtelike aanbidder: ‘Ek weet, dat jy my sal beskou as 'n bedriegster, 'n valse skepsel.... Ek weet dat jy die naam van Hester Fourie sal verag, sal verfoei, sal wil uitdelg uit jou geheue,....’ Sy is selfs gewillig om Phineas te trou al was hy ook ‘handsupper’ - eenvoudig omdat haar eie pa ook sy nasie verraai het - 'n rede wat psigologies absoluut vals is, omdat juis die skrynende pyn daardeur veroorsaak, haar die verlore ideaal des te inniger sal laat koester en haar verlange om dit in die minnaar terug te vind oneindig versterk. ‘Pa het my diep teleurgestel, maar Phineas sal sy man staan - hy sal aan sy volk getrou bly’, so sou die vrou Hester geredeneer het, die vrou wat geloof het, dat hy 'n volksleier behoort te word! As De Waal wou gehad het, dat ons Hester Fourie moet bewonder as 'n fiere dogter van die Vrystaat, dan moes hy die bittere kneusing van haar meisieshart uitgebeeld het by die oorlopery van haar vader en minnaar, die wondere, geheimnisvolle rypwording van haar kinderliefde vir Bertjie, en haar langsame bewuswording van die feit, dat haar gevoel vir Phineas 'n vergissing was. Maar in die roman gehoorsaam sy aan ‘'n onverklaarbare, waarskuwende stem.... 'n instink wat na geen menslike raad wou luister nie’, terwyl sy tog héél goed | |
[pagina 108]
| |
weet, dat Bertie die plaas van Phineas in haar hart ingeneem het. Of het Phineas haar ook leer huigel? Haar liefde vir Bertie is nie 'n allesbeheersende, allesoorwinnende passie nie, wat haar met dwingende mag na die geliefde dryf, maar haar lot word beslis deur die absoluut toevallige ontdekking van Nurse Nellie. Haar lewe is nie die langsame ontplooiing uit 'n innerlike drang, wat onverbiddelik dryf na die vervulling van 'n eie sielsgeaardheid nie, omdat die skrywer nog nooit geloop het op die slingerpaadjies, wat soos 'n wirrel-warrel-vlegwerk uitgesprei lê oor die groot wonderland - das Ewig-Weibliche. Die blinde toeval! In Johannes van Wyk het die nommertrekkery op die basaar 'n beslissende invloed op die lewensgeluk van ses persone. En as Johannes sy kans laat glip, dan speel dieselfde blinde toeval hom die meisie nogeens in die hand, dan kry hy 'n geleentheid om Hester te red en verseker die flink optrede van sy vrinde hom 'n ongestoorde wandeling met haar. By die eetmaal is dit wéér die blinde toeval, wat hom 'n sitplaas naas Hester gee; wat die kaptein en kolonel met plotselinge doofheid slaan, sodat hy sy geheimpies uitvoerig aan haar kan vertel. Voorwaar, Johannes laat ons dink aan Van Lennep se motto by De Roos van Dekama. Hy is die man wat: ‘wacht en stille sitt’ en tog alles kry, terwyl Gert met al sy slim planne homself net in die ongeluk stort. En Grace Palmer? Haar huwelik is afhanklik van die toevallige ontdekking, dat sy die tweede Grieta is. Sy self gee drie redes op, waarom 'n huwelik met Andries onmoontlik is. ‘De Intrigeroman kan alles bewijzen. Hij is een droom; de natuurwet is er buiten dienst gesteld.’ Om dié rede behoef dit dan ook geen verbasing te wek nie, dat daar nog 'n hele reeks onwaarskynlikhede in die twee romans te vinde is, o.a. die verdwyning van Grieta, die onvoldoende motivering van die haat tussen Andries en Phineas, en veral die feit, dat Conradie die Kaap verlaat sonder om Andries mee te deel wie Grace is. Op dié manier kry Andries nog 'n kans om sy koppigheid te wys en die feit, dat hy nou al deur sy oorlogservarings tot selfstandige man geryp is, verhinder sy pleegvader nie om hom nog soos 'n stout seuntjie te behandel nie! In J.v.W. laat die karakter van Abram ons ook twyfel aan die egtheid daarvan; die skoot wat Abram net presies in die hart tref, terwyl hy op Johannes se hart mik, verwek 'n skeptiese glimlag. Dat Gert in die gifdrinktoneel hom so maklik laat fop, klink ook onwaarskynlik. De Waal slaag daar nie altyd in om sy sterk-romantiese gegewens deur 'n onweerstaanbare suggestiewe werking tot onbetwyfelbare realiteit te maak nie. Dit blyk ook duidelik uit Andries se avontuur by Utrecht. Ons verneem dat 't ‘buitengewoon donker’ is - só donker selfs, dat die ruiter ‘nouliks die kop van sy pêrd kon sien.’ Tog laat ‘'n warrelwindjie 'n | |
[pagina 109]
| |
dun stofwolkie.... opstuif’! Later eers word die terrein deur bliksem af en toe verlig. Maar dit bly só donker, dat die kaffer ‘slegs 'n donkere gestalte’ is. Die skrywer laat ons egter nie voel deur allerlei fyn trekkies nie, dat dit werklik donker is. Hy teken die hele toneel asof dit alles in die skroeiende son gebeur het. ‘Verbysterd en asof half lam leun sy (Krysie) met haar een hand teen een van die opstaande rotse.’ Het Andries kat-oë gehad, of het hy dit ook alles ‘met die hulp van (die) weerlig’ so haarfyn gesien? Hy soek nie voel-voel na die gewere en bandeliers nie - hy tel sommer ‘een van die twee Lee-Metfords en die bandeliers op....’ Hy loop nie struikel-struikel oor die los klippe in die donker nie - ‘hy nader.... die meisie’. En sy sien hom ‘verward’ aan; ‘sy skud haar kop’, as hy haar iets vraag en ‘aan haar kappie en jas kon jy.... sien, dat sy terdeë met klei in botsing gewees het.’ Het dit ook alles gebeur met die hulp van bliksemstrale, want dis nog só donker, dat hy byna oor die twee doodgeslaande perde val. Die gebrek aan suggestiewe besonderheidjies belet ons om die waarheid van die nagtelike toneel te voel. Die skrywer het dit nie innerlik deurleef nie, maar met sy nugter verstand die avontuur inmekaar gesit. En hy was hier tog op bekende terrein, wat hy was self onderwyser in Utrecht en het seker meer as een van dié donderstorme gesien, wat met sulke plotselinge felheid kan neerswaai, so geheel anders as in die Kaap. Die donderstorm word as volg beskrywe: ‘Die stormwolk, waaruit soveel vog gegiet en vuur geskiet was, was nog met onverminderde water en elektrisiteit belaai en woed nog aldeur voort, (dus 'n wolk, wat voortwoed!) maar nie meer vlak bo-kant die hoofde van die jong twee nie. Die reusagtige massa was na die noordweste gedrywe, en slegs die nadruppels val nog by die vlugtelinge. Met die ooptrek van die hemel kom ook die opgaande maan te voorskyn.’ Van natuurvisie geen sprake nie, nog minder van individuele impressie of verrassende segging. Die hele beskrywing word gegee enkel om die laaste sinnetjie, want Andries moet 'n kans kry om ‘die sewentienjarige poppie’ te bekyk. Die beskrywing van Patrysvlei is soos die van 'n afslaer, wat 'n plaas wil verkoop. Patrysvlei is ‘'n lushof’ met mooi draadheinings. Daar is 'n ‘deftige woonhuis’ met ‘netjies ingerigte buitegeboue, stalle, krale, kampies en pluimveehokke’; ‘in sag groen gelowerde vrugteboorde’, 'n groot tuin, 'n ‘massiefgewalde dam’, deur 'n ‘altydlopende stroom gevoed’ en verder ‘uitgebreide, duidelik afgebakende saai- en weilande’. Die skrywer verseker ons, dat dit ‘'n bekoorlike landgoed, 'n paradysie’ is, maar so 'n vendusieagtige ophemeling laat ons totaal koud en het met kuns niks te maak nie. Die van buite-gekome observatoriese gewaarwording is nie deur die van binne opstygende deurvoeling tot 'n psigiese verbeelding geryp nie. | |
[pagina 110]
| |
Die verslag van die voetbalwedstryd in hoofstuk vyf van Die Tweede Grieta is ook 'n bewys van De Waal se onmag as kunstenaar. So 'n beskrywing kan 'n rapporteur van 'n agterveldse koerantjie ook gee, want dis kleurlose joernalistiek, sonder 'n persoonlike aksent, in die allergewoonste voetbaljargon. Die partytjie by Bertie was in 'n groot saal ‘waar die meeste van die mense in vrolike gebabbel vergader was.... Verversings en lekkernye is intussen rondgedeel en van die keurigste sterk dranke kon jy te drink kry.’ In Johannes van Wyk nog 'n staaltjie: Hester en Johannes sing saam op die rots: ‘Toe begin hulle weer. Al die ander was stil as die graf. Heerlik weer lui (weerlui?) die skone melodie. Trillend weer het iedere noot in die rotsagtige kloof van kant tot kant weerklink. Met soveel gevolg is elke woord uitgebring geword dat dit ingedring het tot in die diepste hoekie van elke hart en die fynste snare daar geroer het. Was dit dan wonder dat selfs Louise haar oë vogtig geword het?’ Viermaal weer; sesmaal ge opmekaar gestapel! en dit in ses-en-'n-halwe reël! By die waaragtige kunstenaar, wat hom diep in sy stof inlewe, verander ritme, styl, taal, woordekeus voortdurend al na gelang van die stof. De Waal wil hier musiek in woorde verklank en hy hakkel soos 'n doofstomme. Die mooi alliterasie: ‘Trillend weer het iedere noot in die rotsagtige kloof van kant tot kant weerklink’ gaan verlore in die aanswellende gutturale kakofonie. De Waal se styl het geen eie geluid nie. Sy taal is die van die koele gedagte, ontspring nie uit 'n ontroerde gemoed nie, mis harmoniese ritme. Nooit voel ons daarin die koorsagtige klop van die digter, nooit tintel daarin die warme liefde vir singende woorde nie. Kort en saaklik deel hy ons mee, soveel as nodig is om die intrige te verstaan, soms met katalogusagtige dorheid. Grace word ingelei in ‘'n kamer van middelmatige grootte, wat klaarblykelik gedien het vir eet-, slaap- en werkkamer tegelyk, want in die middel staan daar 'n tafel met 'n bord, 'n kaasbak, 'n suikerpotjie, 'n standertjie, 'n paar koppies en pierinkies en nog meer sulke goed; naby die venster sien jy 'n tafeltjie met 'n goedkoop naaimasien en 'n werkmandjie daarop, terwyl, aan die teenoorgestelde kant van die kamer, die voetenent van 'n ledikant van agter 'n Japanse skerm uitsteek. Verder bemerk jy daar ook 'n wastafeltjie en enige ander meubelstukke - almal oud en eenvoudig, maar net en sindelik.’Ga naar voetnoot1) Geen verrassende wending, geen metaforiese vermoë nie. Dit is net asof hy 'n reusagtige settery het, waarin die sinne netjies in hul bakkies gerangskik staan - la phrase fait une fois pour toutes.Ga naar voetnoot2) As iemand skrik of verbaas is, dan het hy byna altoos ‘wydgespalkte, | |
[pagina 111]
| |
wit kykers’ en staar 'n ander persoon ‘ontsettend verras’ met oop mond aan, terwyl daar ‘'n vinnige rilling’ deur die hele lyf loop! Soortgelyke stylverstenings is volop in die romans en ons sou die hele inventaris kan opmaak van die bakkies in De Waal se settery; van die beperkte aantal stereotiepe uitdrukkings, wat met tergende reëlmatigheid by amper elke dialoog voorkom - die ‘knersende tande’, ‘geamuseerde gesigte’, die ‘hande in die hare’, die krappery agter die ore, of op die kop, die ‘bevestigende knikkies’, ‘wit bewende lippe’, ‘glinsterende, wetende, verwilderde, verslindende.... oë’; ‘vuurrooi wange’, ‘veel-betekende(?) glimlaggies’, ‘angstig-kloppende, bonsende harte’ en al die verskillende soorte kyke!! - o.a. ‘die kyk.... wat as 'n dolk tref’, (J. van W., p. 46). Dan nog De Waal se besonder hartlamuitdrukking kykers - van allerlei aard: diep, vurige, swart, donkerbruin, glimlaggende, skitterende, medely wekkende, sielvolleGa naar voetnoot1), glimmende, bewonderende, grys, groot, ope, blink, pragtige, patetiese....Ga naar voetnoot2) 'n Enkele maal word ons verras deur 'n raak tekening: ‘rooi as 'n granaatappel’, (Tw. Gr., p. 121); ‘met 'n berouvolle krakie in sy stem’, (Tw. Gr., p. 269), - maar dis nes 'n eensame blommetjie in 'n vaal stoppelland. Meestal is De Waal doodtevrede met die ou beskrywende adjektiewe, wat die Nederlandse skrywers van vóór 1880 duisendmaal afgerinkink het. Dit blyk veral waar hy die uiterlik van sy persone teken. Hester Linde het ‘'n lelieblanke kleur, afgewissel deur die roseblos van gesondheid...., daarby vertoon sy 'n paar oë so helder, so hemelsblou, so sielvol, as g'n digter of skilder sou kan teken nie; 'n lieflike neusie gelyk en reg as van 'n marmer beeld.’ (J.v.W., p. 63). Sy is 'n engelagtige wese, (J.v.W., p. 72 en 162) met hemelse oë; ook Grieta is 'n beeldfraaie mens.... meer geskik vir die tuiste van engele, dan vir hierdie prosaiese aardbol’, (Tw. Gr., p. 1); ‘'n buitengewone juweel’ met ‘melkwit hals’ en ‘goudbruin hare, wat tot sieraad sou gestrek het vir die skoonste towergodin’, terwyl Hester weer 'n ‘liewe juweeltjie’ is, ‘'n allerpragtigste kind, die beeldskone predikantsdogter’ met ‘'n sneeublanke gelaat’. Sy is ‘die liewe engel wat dag en nag Johannes se gedagte besig hou en 'n vuur in sy hart aangesteek het wat niks kan uitblus nie....’ (J.v.W., p. 178). Ook Grace laat ‘'n vlammetjie.... ontbrand, wat Andries nie lig kon blus nie’. Nes by Hester word ons verseker van die magteloosheid van die skilder en nou ook nog van die beeldhouer: ‘Het ooit 'n skilder 'n kinnetjie pragtiger geskets? Het ooit 'n beeldhouer 'n mondjie bedeel met soveel uitdrukking, soveel karakter, soveel soete onskuld, as wat vertoon word deur daardie twee gesonde, klein, allerliefs gevormde lippies?’ (Tw. Gr., p. 239). Sy is ook soos haar moeder ‘meer geskik vir die tuiste van engele’: ‘Dat 'n regtige, gewone, aardse mens so | |
[pagina 112]
| |
fouteloos (anglisisme!) daar kon uitsien, sou hy nooit kan geglo het nie.’ Ons glo dit dan ook nie!! Mens moet na Tollens en sy konfraters gaan om die sussies van De Waal se engeltjies te kry. De Waal se ‘fouteloos fraai’ meisies dra natuurlik ook klere, ‘fouteloos passend’ soos Grieta; hul het ‘lieflike gelaatstrekke’, ‘pragtige elegante’ gestaltes, of anders ‘heerlik-fraai - slank en tog vol’; meestal ‘langwerpige’ gesiggies soos Hester Linde, Hester Fourie en Grace; maar die koddigste is wel die plompGa naar voetnoot1) wange, wat by De Waal blykbaar die betekenis van die Engelse plump het! Vergelyk ons nou hiermee die manier, waarop Van Lennep sy dames en here teken, dan val die sterk ooreenkoms dadelik in die oog.Ga naar voetnoot2) Aan beelde waag De Waal hom baie selde, en as hy dit doen, dan is dit gemeenplase, of ridikule voorstellings soos: ‘Hy kon sy brein in geen ander rigting laat vloei nie’ (Tw. Gr., p. 259); ‘Die nommer van die meisie wat nou so dryf op die hete onstuimige stroom van sy gedagtes’, (J.v.W., p. 64); ‘sy gedagtes rol oor al die gebeurtenisse van die aand terug’, (J.v.W., p. 106); ‘Die digte sluier wat haar geestesoog bedek het, is afgeruk’, (J.v.W., p. 174); Andries hoor Grace se ‘silwerstem. Dit tril(!) die snare van sy hart’, (Tw. Gr., p. 259); ‘Byna onmiddellik daarna, soos in 'n towerslag verander haar gelaat in glad 'n ander plooi....’ wat net so 'n wonderlike metamorfose is soos die van Andries, wat volgens Phineas van 'n askoek tot 'n doring ontwikkel, (Tw. Gr., p. 242 en 382). ‘Jacob van Lennep was van 1829 tot zijn dood in 1868, Rijksadvokaat; bijna 40 jaar dus. Het ambt maakt de man. Deze man moet dus wel tot in z'n tenen advokaat zijn geworden, vooral omdat-ie van z'n eigen natuur al had, wat dat ambt in 'n mens pleegt te ontwikkelen: handigheid in 't pareren en uitvallen; scherpzichtigheid van elk plekje dat de tegenpartij bloot geeft; en bij deze schermmeesters-talenten, toch eenvoudige waarheidszin en oprechtheid....Ga naar voetnoot3) Dieselfde eienskappe is ook te vinde in die romans van advokaat De Waal. Hy het sy eie pleiterstalent aan Malherbe geskenk en die kruisverhoor van Gert is een van die besgeslaagde gedeeltes van Johannes van Wyk. Phineas behaal ook 'n advokate-oorwinning op die Smithfielders en die weduwee, en sy listige draaitjies laat ons meer aan die geregshof as die Teologiese Kweekskool dink. Vir die samestelling van sy intriges kon De Waal dan ook profiteer van sy eie ervaring in die geregshof, 'n element wat 'n ruim plaas beslaan in sy romans. Die lewendigheid van sy dialoog laat aan dieselfde invloed dink. Oor 'n raak antwoord staan sy persone selde verleë, en tog ontaard dit nie in 'n vernufsdialoog nie, maar is gewoonlik 'n weergawe van die los natuurlike gesèlstoon. | |
[pagina 113]
| |
By De Waal kan ons konstateer 'n byna volslae veronagsaming van die volkstaal. Hy was een van ons eerste skrywers en het soos weinig ander die kans gehad om gebruik te maak van tipies Afrikaanse wendinge, wat in die rykste verskeidenheid net op die lewewekkende adem van die kunstenaar gewag het. Maar in plaas daarvan gebruik hy die dorre beendere van 'n voos ou-tydse retoriek, wat al twintig jaar morsdood was. Of wat uit kultuuroogpunt nog veel erger was, hy leen hot en haar van die Engelse en sit die jong lesers van De Goede Hoop 'n onsmaaklike huspot à l'anglaise voor - juis dié mense, wat hy, as taalyweraar, moes oortuig van die deugdelikheid van die Afrikaanse taal. As De Waal woordkunstenaar gewees het, dan sou hy op sy togte met die Rondgaande Hof, wat hom in nou aanraking met al die klasse van die samelewing oor 'n uitgestrekte gebied van die Kaapprovinsie gebring het, die volkstaal beluister het, met volle teue die fris veldgeur van die ongerepte Afrikaanse idioom ingedrink het. En indien hy ook al dikwels die verpestende lug, wat stadig maar seker by ons taalvensters ingewaai het, moes opsnuif, was dit dan nie juis sy heilige plig as voorman, om met speurende sorg alle uitlandse bysmakies uit die nasionale taalspys, wat hy vir argelose jongeliede opgedis het te verwyder nie? Maar die Engelse stormwind het De Waal omgewaai en al het hy in die afgelope jare effentjies gespartel om op te staan, die vyfde druk van Johannes van Wyk en die derde druk van Die Tweede Grieta bewys dat dit hom totnogtoe nie geluk het nie. In sy dissertasie Taal en Poësie van die Tweede Afrikaanse-Taalbeweging het dr. E.C. Pienaar gekonstateer, dat met betrekking tot anglisismes Johannes van Wyk ‘aan 'n ongeneeslike kwaal ly’.Ga naar voetnoot1) In Die Burger van Augustus 1921 laat De Waal hom as volg daaroor uit: ‘Is dit die skuld van die outeur dat soveel anglisismes burgerreg verkry het in ons taal? Toe ek die boek geskrywe het, het ek die spreektaal ten naastenby weergegee soos hy gebruik geword het, nie soos ek of my taalvriende sou verkies het dat hy moet wees nie. My skryftaal was maar 'n weerspiegeling van die spraak.... Die woorde lyk (hou van) en kyk (blik).... sou ek darem in geen geval laat vaar het nie. Hulle het pos gevat in ons taal en verarm dit nie.’ Dr. Pienaar het ongetwyfeld gelyk as hy beweer, dat De Waal se taal ‘'n weerspiegeling was van 'n kunsmatig vervalste spraakwerklikheid, soos die onder bepaalde anti-nasionale skoolinvloede in bepaalde kringe geheers het.’Ga naar voetnoot2) ‘Moed broei moed’ is die vertaling, wat Grace Palmer gee van ‘Courage breeds courage’. Andries verbeter dit tot: ‘Moed kweek | |
[pagina 114]
| |
moed’Ga naar voetnoot1). Dit is presies die wyse waarop De Waal te werk gaan. Sy gedagtewêreld is Engels, en sy skrywery is 'n langdurige gesukkel, 'n kriwelagtige gepeuter om aan Engelse gedagtes 'n Afrikaanse tint te gee. Só kan geen kunswerk ontstaan nie. Ons stuit gedurig op uitdrukkings en woorde, waarvan die Engelse voorbeelde hul direk aan ons opdring. Dit is dan ook 'n vergeefse poging om die twee romans van anglisismes te suiwer, wat die skrywer alreeds probeer doen het; die rooi suurdesem het deur-en-deur getrek tot in hul kern. In Oupa en sy Kleindogters is die taal en styl oor die algemeen baie beter versorg en ook wat anglisismes betref steek hierdie roman gunstig af by sy voorgangers, ofskoon daar tog nog 'n hele aantal te vinde is.Ga naar voetnoot2) Stompies, 'n bundel stories, rympies en toneelspelletjies, is, wat die prosastukke betref, uit dieselfde hout as die romans gesny. Tien of twaalf sulke stompies, met timmermansvaardigheid aanmekaar gelas en met historiese kleefstof van 'n patriotiese merk vasgelym, vorm die lang stompe van die romans. Maar dis dorre stompe van 'n stokoue, doodgebloeide boom, wat De Waal omgekap het om die taalvuurtjie mee op te stook. In Stompies word die getal van die ‘engelagtige’ meisies met hul ‘betowerende, hemel-fraaie kykers, plompe rooskleurige wangetjies (p. 98), Venusagtige gestalte’ (p. 140), ens. vermeerder. Hulle ‘stuur 'n elektriese stroom deur al die lede’ (p. 156) van hul aanbidders en as hulle so onversigtig is om in die water te val, of deur Kaffers toegetakel word, dan kry die dapper redders, wat toevallig daarop afkom die welbekende ‘koue rilling’ wat ‘deur hul hele lyf loop’ (o.a. p. 78), totdat hul uiteindelik ‘die hemelse gedaante van hul teergeliefde(s) te gemoet vlieg’ (p. 83) en ‘verrukkelike vreugde in hul hart straal’ (p. 83). Die gelukkige paartjies word dan nog almal voorsien van 'n liewe gesonde seuntjie (p. 60), ‘twee fraaie kindertjies’ (p. 104) of ‘drie gesonde kleintjies’ (p. 158). In Oorlog tussen twee Dokters en Die Eksentrieke Essie is daar hoegenaamd geen styging te bespeur nie. Eersgenoemde verhaal behandel die vyandskap wat ontstaan tussen twee jong dokters wat in Skotland saam gestudeer het. Gedurende die verwarring van die Tweede Vryheidsoorlog bestook hulle mekaar op baie onprofessionele wyse, totdat uiteindelik die Afrikanerdokter na tallose avonture die oorwinning behaal en ook wegstryk met die verloofde van sy eertydse vriend. Liefdesverwikkelinge tussen 'n klompie jongmense, wat op die Strand | |
[pagina 115]
| |
vakansie hou, is die hoofmotief van Die Eksentrieke EssieGa naar voetnoot1). Hierdie twee verhale word gekenmerk deur al die skrywer se reeds vermelde gebreke en vereis dus geen nadere beskouing nie. Die spannende avonture, vlot dialoog en nasionale kleur van De Waal se romans sal hom nog lank dankbare lesers besorg, veral onder die jongmense, op wie hy 'n sterk aantrekkingskrag uitoefen. Hy het leeslus opgewek by 'n groot gedeelte van ons volk, wat vir rypere letterkundige genot nog onontvanklik is. Sy eerste twee romans was nuttige propaganda-middele, wat verskyn het in 'n tyd toe daar feitlik nog geen Afrikaanse leesstof was nie. Dat De Waal 'n knap verteller is, wat deur lewendigheid van voorstelling en 'n snel voortskrydende handeling steeds sy lesers boei, is seker; maar sy gemis aan karaktertekening en psigologiese diepte laat die meer ontwikkelde lesers onbevredig, terwyl sy verengelste skryftrant, wat ook nog alle diepere styleienskappe mis, 'n noodlottige voorbeeld is vir jongmense wat hul taal van vreemde smette moet suiwer. Aan die ander kant het De Waal deur sy historiese rolprente die nasionale selfbewussyn aangewakker, en sy romans kan nog lank 'n nuttige rol speel in die opbou van 'n Afrikaanse kultuur. Ons moet by hom nie soek die uitbeeldingsvermoë en diepe historiese insig van die kunstenaar wat deur die verlede besiel is nie, maar wil graag erken dat die vindingryke vernuf van hierdie patriotiese skrywer aantreklike en leersame ontspanningslektuur geskep het wat ons kwalik kan mis. As een van ons eerste romanskrywers, wat in die mees kritieke periode van ons volksbestaan leeslus by die jong geslag opgewek het, verdien De Waal die dankbare hulde van die nageslag. |
|