Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging
(1939)–P.C. Schoonees– Auteursrecht onbekend
[pagina 89]
| |
Hoofstuk IV.
| |
[pagina 90]
| |
Hierdie gedeeltelike blindheid het hom genoodsaak om sy beroep op te gee, maar 'n rustelose werkywer het hom tot skrywe aangespoor. En ten spyte van die feit dat sy blindheid hierdie arbeid tot 'n knaende liggaamlike marteling maak, werk hy al die jare nog onverpoosd voort in belang van die volk wat hy liefhet. Sy boekeproduksie mag inderdaad merkwaardig heet, en selfs sonder die groot aantal tydskrifartikels wat gereeld verskyn het, veral in die byvoegsel tot Die Landbouweekblad, is Von Wielligh seker ons vrugbaarste skrywer. Vanaf 1876 het hy geskryf in Die Patriot, maar toe die blad 'n onnasionale politiek begin te verdedig, het hy hom daaraan onttrek (1891). Later was hy weer medewerker vir Ons Klyntji, waarin die eerste paar hoofstukke van Jakob Platjie verskyn het. Ook aan die blad Ons Taal het hy bydraes gestuur. In 1907 het sy eerste Dierestories verskyn,Ga naar voetnoot1) vier dele waarvan tussen 1917 en 1922 uitgegee is. Verder: Jakob Platjie (1918); Eerste Skrywers (1918); Boesmanstories I-IV (1919-1921); Staan jou Man (1920); Robinson Crusoë (1920); Huis en Veld in 1921 gepubliseer, maar reeds in 1916 geskryf; Nimrod Seeling (1921); Ghwennie Barnveld (1922); Langs die Lebombo (1923); Die Vrouens van Vrindenburg (1924); Baanbrekerswerk (1925); Ons Geselstaal (1925). Von Wielligh is feitlik die enigste voorstander van die Eerste Beweging, wat ook aktief opgetree het in die Tweede. In Eerste Skrywers (1918) skets hy die ontstaan en werk van Die Genootskap van Regte Afrikaners, en verdedig die opvattings van die genootskap teenoor verskillende aanklagte van die Tweede Beweging. Hy polemiseer teen die spelling en organisasie van die Tweede Beweging en gee talryke taalkundige beskouings, wat getuig van 'n uitgebreide kennis van die volkstaal, maar wat soms minder juis is deur sy gebrek aan wetenskaplike insig in taalverskynsele. Die tweede druk (1922) het belangrike verbeteringe ondergaan. Die stof is beter gerangskik en die inhoud is verryk met 'n groot aantal dokumente wat betrekking het op die Patriotbeweging. Die briewe van die Genootskappers gee ons 'n interessante kyk op hul werk, strewe en letterkundige insigte, en Von Wielligh se uiteensetting en verdediging van hul beginsels is 'n waardevolle bydrae tot die geskiedenis van die Eerste Beweging. Reeds vanaf 1877 het Von Wielligh ‘alle egte en suiwere Afrikaanse woorde, uitdrukkings, sinswendinge, ens.’ opgeteken, maar sy werk het in die Anglo-Boere-oorlog in die hande van die vyand geraak.Ga naar voetnoot2) Sy uitgebreide studie oor Ons GeselstaalGa naar voetnoot3) getuig van 'n onverfloude belangstelling in die ontwikkeling en gewestelike eienaardighede van die | |
[pagina 91]
| |
volkstaal. Met behulp van 'n groot aantal medewerkers het hy belangrike gegewens uit alle oorde versamel en uit sy ryke ervaring deel hy interessante anekdotes mee omtrent die ontstaan van 'n groot aantal gesegdes. Op dié manier het die boek 'n onmisbare vraagbaak geword vir studente van ons taal. Von Wielligh is wel geen geskoolde taalkundige nie, en ons sal steeds sy gevolgtrekkings met 'n sekere voorbehoud moet aanvaar, maar tog is sy werk 'n betekenisvolle bydrae tot ons kennis van Afrikaans. Baanbrekerswerk is bedoel as aanvulling van Eerste Skrywers. Op enkele ondergeskikte punte bevat dit wel iets nuuts, maar in hoofsaak is dit net 'n herhaling van wat al uit Eerste Skrywers bekend is. Die kritiek van die jongeres het Von Wielligh baie seer gemaak; hy vat dit as 'n persoonlike belediging op en beskuldig die ‘bedokterde’ resensente, of ‘resensers’ soos hy hulle op p. 14 noem, van gebrek aan piëteit teenoor die Patriot-baanbrekers. Meer as aan iets anders het hierdie werkie sy ontstaan te danke aan 'n gevoel van persoonlike gekrenktheid. Die Genootskap het volgens Von Wielligh net ondankbaarheid van die geleerdes ontvang. Die stemming waarin hy geskrywe het, blyk uit die volgende: ‘Dit is die gevoeligste, nee die pynlikste wond wat iemand toegebring kan word, om te beswadder wat vir dié se hart die dierbaarste is. Selfs in kultuurwerk word die neus ingesteek om kuns uit te snuffel - wat oorgenoeg is om 'n ewige walging in die woorde kuns en sielkunde te kry’ (p. 30). Dit is miskien waar dat die kritiek van die jongeres in sommige opsigte onbillik was, maar ek meen tog dat die Patriot-manne tevrede kan wees met die oes van dankbaarheid wat hulle al tot hiertoe ingehaal het. My eie kritiek op Von Wielligh in die eerste uitgawe van hierdie werk was miskien die felste, maar dit moet onthou word dat dit dagteken uit 1921-22, die tydperk toe dit nog die gewoonte was om alles wat maar net Afrikaans was met gejuig in te haal. Uit pure mensliewendheid het die publiek en party sogenaamde gesaghebbende kritici die onuitputlike Patriot-skrywer, wat ten spyte van sy gedeeltelike blindheid hom so dapper met die pen geweer het en sulke eienaardige volkstaal kon gebruik, onder die voorste Afrikaanse skrywers gestel. My kritiek was 'n reaksie op dié onoordeelkundige ophemeling. Dit was nodig om toe die alarm te blaas, want daar het groot gevaar bestaan, dat elke sommerso maklik geselsende skrywer vir 'n kunstenaar kon aangesien word. Dit was nodig om onomwonde te verklaar dat ons die eise ook op prosagebied hoër moes stel. Aangesien dit tans algemeen erken word dat Von Wielligh se werk meer kultuurhistoriese as letterkundige waarde besit, kan die grootste gedeelte van my kritiek in die eerste uitgawe nou agterweë bly. Daarin het die nadruk te veel geval op Von Wielligh se artistieke gebreke, terwyl | |
[pagina 92]
| |
daar te min rekening gehou is met sy vooropgestelde doel, om naamlik eenvoudige, leersame lektuur te verskaf vir die minder bevoorregte Afrikaner, veral op die platteland. In hoeverre hy hierdie doel bereik het, sal blyk uit die volgende bespreking van sy vernaamste werke. Jakob Platjie bevat 'n reeks sketse uit die lewe van Hottentotte, Korannas en Boesmans. Platjie gaan saam met die smous, Koos Fonk, op 'n handelstog na Boesmanland en hulle omswerwings is die draad wat die reeks anekdotes verbind. In die begin kry ons interessante staaltjies van die Hottentot se geskiedkundige oorlewerings, terwyl sy voorliefde vir 'n sopie, of dit nou al 'n ‘kraak’ of 'n ‘bars’ het, aanleiding gee tot vermaaklike kaskenades en 'n komieklike hoftoneel wat goed beskryf word. Op sy omswerwings as landmeter het Von Wielligh die mentaliteit van die inboorling deur-en-deur leer ken. Hy het hul noukeurig bespied in al hul gewoontes en gebruike, hul bygelofies en onbekommerde lewenshouding, hul uithaler-kunste en spoggerige streke, as daar volop kos en lawaaiwater is. Ook hul taal het hy fyn beluister. Die preek van Kleopas Kipie is 'n humoristiese weergawe van die naïewe beeldspraak en aanskoulike preekmetode van 'n Griekwa-predikant. Net so goed geslaag is die tekening van die parmantige Tys Bokkies, wat in sy eienaardige taal 'n vry-avontuur vertel. Dwarsdeur die boek word ons getref deur uitdrukkings wat bewys dat Von Wielligh hom goed ingeleef het in die dink-sfeer van die inboorling, dat sy kennis van hul spreekwyse op lang ervaring berus. Ek noem 'n paar voorbeelde: ‘Dan is ek jou kiewiet om jou langes my te laat drafstap.’ (p. 3); ‘Jou binnevet sal smelt voor jy die end pad daarnatoe afgestap het.... Oe! lank, lank geleë! Tafelberg was toe so groot as 'n perdevulletjie en die waaisand so groot as 'n molshoop....’ (p. 6); ‘Hy hou hom mos ook verspot wollerig om agter my hartlam aan te snuffel....’ (p. 136). Jammer genoeg het die skrywer gemeen dat 'n deurlopende gebruik van die inboorling se gekruide geselstaal sy lesers sou hinder.Ga naar voetnoot1) Telkens word die dialoog dus opsetlik beskaaf, wat afbreuk doen aan die waarde van die boek. Af en toe kry ons ook die indruk dat die mense daar is ter wille van die taal en nie die taal ter wille van die mense nie. Hier en daar lyk dit of Von Wielligh soek na 'n geleentheid om uit sy taalkundige aantekeninge te put, en party anekdotes word opsetlik ingelas om 'n tipiese uitdrukking of komieke kwinkslag te kan gebruik. Oor die algemeen egter, maak die skrywer 'n handige en treffende gebruik van sy taalmateriaal, en slaag daarin om 'n hele reeks inboorlinge raak te tipeer. Hy streef nie na karakteruitbeelding in dramatiese vorm nie en gebruik die uitvra-metode om allerhande wetenswaardighede omtrent die inboorlinge aan die man te bring. Om sy teorie oor die goudmyne | |
[pagina 93]
| |
van Ofir uit te werk laat hy Platjie op erg onwaarskynlike wyse droom.Ga naar voetnoot1) In Huis en VeldGa naar voetnoot2) wil die skrywer veral die maatskaplike en ekonomiese toestande omstreeks 1870 skets. Die ervarings van 'n paar families, wat baie rondtrek en 'n verskeidenheid van beroepe uitoefen, word in beknopte vorm meegedeel. Die skrywer laat b.v. Willie trou ‘nie om 'n liefdesverhaal in te voer nie, maar wel om die gebruik, of gewoonte van daardie tyd aan te gee’ (p. 30). Onder sulke omstandighede word die verhalende element natuurlik 'n mislukking en gebruik die skrywer sy persone net as spreekbuise. Die grootste gedeelte van die boek bestaan uit 'n beskrywing van ou toestande en talryke uitweidings, o.a. oor siektes en boerrate, ens. Von Wielligh het 'n uitgebreide kennis van die volkslewe, al is die vorm waarin hy dit meedeel nie alte gelukkig gekies nie. Ou Kammies, wat so dapper met die doringstomp spook is goed geteken. As hy praat dan luister ons graag, want sy taal is nie net 'n aftreksel van Von Wielligh s'n nie. ‘Maar seur, - nou? - nou kraak my ou litte van kanniemeernie en ek kan nie eers meer daardie klip raak spuug nie’ (p. 47). Een so 'n sinnetjie laat ons direk voel dat ons met 'n mens te doen het. Hoe raak is ook die toneeltjie waar Kammies met die piekniekwaens aankom: ‘Wel, hoe het dit gegaan, outa Kammies?’ vra Willie. ‘Nee, goed seurtjie. Net jammer die wiele van die wa het van droogte begin skree,’ antwoord die ou wynvlieg. ‘En die swaarste van al was, outa, dat die smeergoed al die tyd op die waentjie lê,’ las Dolf tussen in. ‘Dis by my kool die waarheid, seur Dolf! Toe het ek maar soos bobbejaan gemaak - ander pad sit kyk.’ (p. 41.) In die verhaal Staan jou Man word die boerelewe op die oostergrense van die Kaapkolonie in die tyd net voor die Groot Trek geskets. Die enigste draad wat die reeks anekdotes en avonture verbind, is dat almal bewys, hoe die persone hul man kan staan. Dit word so 'n opeenhoping van dapper dade, dat 'n mens onder die indruk kom, dat die kindere | |
[pagina 94]
| |
Enaks weer opgestaan het, terwyl Groot Fant familie van Simson is. Daar word geen poging aangewend om die gemoedslewe van die Trekkers uit te beeld nie, maar langdradige en dikwels onverstaanbare ‘moralisatiën ende contemplaciën’ oor die verskillende karakters ontbreek nie. In 1920 publiseer Von Wielligh 'n Afrikaanse bewerking van Robinson Crusoë en in die volgende jaar skryf hy self 'n Robinsonade, Nimrod Seeling. Nimrod is 'n seuntjie van vier jaar, wat in die hande van Hotnots en Boesmans val en by hulle bly tot sy veertiende jaar. Dit is 'n aaneenskakeling van avontuurlike gebeurtenisse, wat die skrywer weer 'n geleentheid gee om 'n handige gebruik te maak van sy kennis van die gewoontes, sedes en bygelofies van die inboorlinge, terwyl ook die jag op grootwild beskryf word. Deur gemis aan plastiese uitbeelding en 'n oorvloed van didaktiese uitweidings het hierdie verhaal, ten spyte van spannende situasies, minder aantreklik geword. Ghwennie Barnveld sluit aan by Nimrod Seeling en die inhoud is ‘in besonder vir jong meisies aantreklik gemaak’ (Voorwoord). Ghwennie se ouers het in 1869 die binnelande ingetrek en ons kry 'n aanskoulike tekening van die voortrekkerslewe. Veral goed geslaag is die beskrywing van die skoollewe; o.a. die meester met sy rosyntjieboslat, wat egter uitoorlê word deur die vernuftige seuns met hul intieme kennis van allerhande goggas! Von Wielligh het in sy voorwoord homself gewaarsku teen ‘gedugte sedepreke’ en ofskoon hy telkens 'n ‘toepassing’ maak, of dit deur die meester laat doen, en Ghwennie soms alte veel nes 'n brawe Maria handel, tog word die didaktiese beskouings nooit hinderlik nie. Op twaalfjarige leeftyd raak Ghwennie verdwaal in die veld en op haar langdurige swerftogte voorsien sy in haar behoeftes en beveilig haarself met die vernuf van 'n Robinson Crusoë. Hier het die skrywer sy intieme kennis van die veld, van plante, wilde diere en inboorlinge op aantreklike wyse gebruik en die omswerwings van die voortrekkerskind en haar hond behoort tot die leesbaarste gedeeltes van sy werk. Hy vertel sy storie padlangs, sonder enige hoogdrawende opsmuk. In die derde afdeling egter, is daar 'n saamlapsel van romantiese motiewe, waarby alle waarskynlikheid feitlik verdwyn. As die redding naby is, val Ghwennie uit 'n boom, verloor haar geheue, word die aangenome kind van 'n deftige Spanjaard en vertoef vyf jaar in Spanje. By hul terugkeer na Afrika word 'n groot jagtog georganiseer. Al die mans val onder die gifpyle van die Boesmans en die vroue moet hul verdedig teen die astrante Jonas, wat nou 'n kans sien om witmens te speel. Uiteindelik ontsnap Ghwennie en haar pleegmoeder uit die wildernis en in 'n vervolgverhaal, Die Vrouens van Vrindenburg word hul voorgestel ‘as twee beroemde Afrikaanse vrouens’. Ghwennie se vader keer na die dood van sy vrou as ‘die miljoenêr | |
[pagina 95]
| |
van die woestyn’ na die beskawing terug. Hierdie lewenslustige beesboer van die Kalaharie verval onder die mooi vrouens van die dorp Vrindenburg en met die hulp van sy verlore gewaande dogter win hy die hand van haar pleegmoeder, die weduwee van 'n adellike Spanjaard. Dit lyk of dit die bedoeling van die skrywer was om te bewys dat die karakter-adel van die ongeletterde Trekker nie hoef agter te staan by die fyns-beskaafde Europese geboorte-adel nie. Oom Diederik moet in sy omgang met die hoë kringe natuurlik leergeld betaal en die aanpassingsproses is juis die tema van die verhaal. Of die kaskenades van die ‘ou veteraan op die gebied van liefde’ onder die Vrindenburgse weduwees nou juis bydra om die waardigheid van sy figuur te verhoog is 'n kwessie van smaak. Hy het die ‘ingebore swakheid’ om alle mooi vroue te omhels en te soen en huldig die volgende opvatting van die liefde: ‘Liefde is 'n lastige jeukplekkie waar 'n mens nie kan bykom om te krap nie’! (p. 254). Om aan te toon hoe die skrywer sy woestynheld in die beskawing inlei, haal ek net een toneeltjie aan. Deur onkunde raak oom Diederik verseil in 'n kafferlosieshuis. Hy kry 'n armsalige kamertjie, word met skaapdip besprinkel en gaan met etenstyd op 'n kapotte stoel sit: ‘Met 'n geweldige slag val die ou heer, ruk die tafel met alles wat daarop is op hom neer en hy brul van pyn deur die kokende sop en stoofvleis wat hom van kop tot voet besmeer’ (p. 58). Hierop volg 'n heftige scène met die waardin. Die oubaas word omsingel deur lawaaierige kaffers en met bemorste klere die straat ingelei, gevolg deur ‘'n streep babbelende kinders en blaffende honde’ (p. 60). So 'n toneel sal die publiek waarvoor dit bedoel is seker laat skater. Dit mag ook leeslus aanwakker. Maar sou dit daartoe bydra om die smaak van die minder bevoorregtes te veredel? Langs die Lebombo is ‘'n awontuurlike verhaal oor moedhou, jag, gouddelwe en Swasies’. Die stof berus hoofsaaklik op die skrywer se eie ervarings as landmeter, maar dit word nie as persoonlike herinneringe uit die ou dae meegedeel nie, omdat dit ‘bra slegte smaak (is) as jakkals sy eie stert prys’ (p. 30). Braam Skutter, wat vir ons 'n newelagtige persoon bly, omdat ons hom alleen van die buitekant leer ken, moet dien om samehang te bring tussen die verskillende afdelings. Aan hom word toegevoeg, Kalie, 'n weetgierige Bolander, wat ten allen tyde gereed is om die uitgebreide inligtings van Braam met dankbaarheid te ontvang. Hierdie deursigtige metode is hinderlik, omdat een of meer persone, besete van 'n kroniese leergierigheid, altoos opsetlik saamgesleep moet word om alles te bekyk. Von Wielligh se werk is veral aantreklik, omdat hy sy eie ervarings meedeel. Dit het kultuurhistoriese betekenis, omdat dit ons breedvoerige inligtings verskaf oor 'n tydperk waarvan die teenswoordige geslag maar min afweet. Die enigste onware element daarin | |
[pagina 96]
| |
is die verdigte figure, wat alleen moet dien as kapstokke. As die skrywer hom kon bepaal tot persoonlike herinneringe, sou sy werk aan warme intimiteit en historiese waarde win. Tog bevat Langs die Lebombo 'n kleurige skildery van die ou dae en dit is volgepak met wetenswaardige besonderhede, wat vir die kultuur-historikus van die grootste belang is. Populêre volks-, plant- en dierkunde beslaan 'n groot gedeelte van die boek en vir die jongspan sal dit aantreklike leesstof wees. Die meeste van hulle sal wel weet dat alle skilpaaie doppe het, alle leeumannetjies maanhare en stertkwaste, en dat slange nie vier pote het soos 'n akkedis nie; maar naas die vertelling van sulke oorbekende sake, kan Von Wielligh hul baie meedeel van plante en diere, waarvan hul nog nooit gehoor het nie; ook van jagtogte en goudgrawery, ofksoon die manier waarop die kleims verkoop word (p. 118) seker nie navolgenswaardig is nie. Net soos in Ghwennie Barnveld is ook in hierdie verhaal die styl deurgaans eenvoudig. Alleen in die slotwoord loer die ‘praalskrif’ weer om 'n hoekie. In die Dierestories, soos deur Hotnots vertel, is Von Wielligh op sy beste. Gedurende sy omswerwings oor ons vlaktes het hy van sy kinderjare af aandagtig geluister na talentvolle Hottentotvertellers en op dié manier 'n kosbare skat van verhale versamel, wat hy in omgewerkte vorm uitgegee het. Hierdie verdienstelike versameling van die wyd en syd verbreide dieresprokies, wat ons by feitlik alle volke aantref, sal sonder twyfel steeds die Afrikaanse kind bekoor en deur die aangename verteltrant ook die volwasse leser boei. Von Wielligh voer ons terug na die tyd ‘toe die diere nog gepraat het’ en hy teken die geaardheid van die vernaamste diere in 'n reeks aantreklike avonture, wat vol lewendige handeling en oulike humor is. Ons ontmoet leeu, koning van die diere, en die vraatsugtige wolf, wat gewoonlik uitoorlê word deur daardie aarts-karnallie, jakkals. Hierdie vindingryke vabond, wat ten spyte van sy ondeugde tog so populêr is, kom nooit 'n plan kort nie, en hy besit ook die begaafdheid om dit met verregaande astrantheid uit te voer. Daar is ook sketse uit die lewe van die ander diere, maar die slim jakkals is tog die besgetekende figuur. Minder aantreklik is die stof van die Boesmanstories, wat ons verplaas in 'n spookwêreld, waar alles met toordery aanmekaar hang, die snaaksste gedaanteverwisselinge plaasvind en die allergekste maneuvers uitgevoer word. In dié wonderlike versinsels is daar weinig logiese gang; daar is geen klimaks wat steeds die belangstelling gespan hou, geen goeie motivering, geen artistieke, harmoniese eenheid nie. Meestal weet ons nie of ons met mense of diere te doen het nie, want ofskoon die diere gewoonlik enkele kenmerkende eienskappe behou, word die juiste maat in hul vermensliking selde getref, en verrig hul dade, wat alte spesifiek menslik is. Vir die gewone leser bied die grillige kronkelinge van die Boesman- | |
[pagina 97]
| |
fantasie weinig aantrekliks, ofskoon dit vir die etnoloog waardevolle gegewens bevat. Tog is daar toneeltjies uit die swerwende jaglewe van die Boesman, wat treffend is deur oer-naïewe eenvoud; ook raak skildering van diere (b.v. in nommer 44), maar selde 'n skone geheel. Die Boesman probeer, net soos die Hottentot, om 'n verklaring te gee van sekere eienskappe van die diere, maar hy mis die speelse fantasie en treffende plastiek van laasgenoemde, en streef steeds daarna om sy vertelsels in te pas in die raamwerk van ingewikkelde mitologiese oorlewerings. In die eerste deel word hoofsaaklik die mitologie behandel; deel twee bevat dierestories, terwyl die derde 'n geskiedkundige verhandeling is oor die ‘sedes, gewoontes en bekwaamhede’ van die Boesman. Die skrywer deel in populêre vorm en eenvoudige taal interessante besonderhede mee oor die lewenswyse van die inboorlinge en vleg daarin persoonlike ervarings en allerhande anekdotes wat hy versamel het. Die vierde deel bevat ‘gemengde vertellings, mees van 'n awontuurlike aard’, wat die skrywer gedeeltelik self opgeteken en gedeeltelik aan ander bronne ontleen het. Daar is 'n paar goeie jagstories en ook verhale wat ons 'n interessante kyk gee op die avontuurlike lewe van die boer teen die end van die negentiende eeu. Uit letterkundige oogpunt is dit die besgeslaagde bundel.Ga naar voetnoot1) As ‘die laaste stem uit die Genootskap van Regte Afrikaners’ is Von Wielligh 'n interessante oorgangsfiguur. Van sy werke is daar duisende versprei en hy het ongetwyfeld 'n groot aandeel gehad in die opwek van leeslus op die platteland, veral by die jong geslag. In al sy verhale streef hy daarna om ‘die ou toestande jonk te laat bly’Ga naar voetnoot2) en met dankbaarheid moet erken word, dat hy ons dikwels 'n helder insig gee in die kultuurtoestande van 'n halwe eeu gelede. Hy het die voorreg gehad, om deur die aard van sy beroep, uitgebreide streke van ons land te bereis en dat hy 'n wakker opmerker was, getuig elke bladsy van sy werk. Die ervarings tydens sy swerftogte opgedoen het hom in die geleentheid gestel om 'n onuitputlike skat gegewens oor ons volksgewoontes, inboorlinge, taal, plante en diere te versamel, en ten spyte van sy blindheid, en ook as gevolg daarvan, het hy met prysenswaardige ywer voortgegaan om van die ou dae te vertel. Sy poging om die mense uit die wordingstydperk self op die toneel te bring misluk gewoonlik, maar hy slaag daarin om hul gewoontes te skets. Die grootste gedeelte van sy werk is van populêr-wetenskaplike aard en sy didaktiese uitweidings val in die smaak van dié groot gedeelte | |
[pagina 98]
| |
van ons volk wat geen gevorderde onderwys kon geniet nie. Vir hulle moet sy werk inderdaad 'n nuttige vraagbaak wees, wat 'n gesonde belangstelling op verskillende terreine sal opwek en daartoe sal bydra om hul kultureel bewus te maak. Net soos al die lede van die Genootskap het Von Wielligh hom van jongsaf beywer om ons Afrikaanse taalskat te versamel, en by die bespreking van Ons Geselstaal is al daarop gewys, dat hy in hierdie rigting verdienstelike werk gelewer het. Uit sy omvangryke werke is daar interessante taalmateriaal op te diep en deur sy toedoen het baie pittige gesegdes uit die omgangstaal vir ons bewaar gebly. Sy eie styl is deurgaans 'n weergawe van die geselstaal van die plattelander en daarom juis bevatlik vir die ongeletterde leser. In sy taal oorheers die los praattoon; die sinne sit minder logies inmekaar, vertoon baie herhalings, is meestal eentonig van ritme en dikwels onbeholpe van uitdrukking. ‘Ek skryf van sonuit tot sononder en neem behalwe Sondags, geen dag vakansie nie. Klaar met eet, stoot ek my stoel terug en is dadelik aan die pen - dag na dag. Dit gee my plesier en ek arbeid met lus - 'n werk van liefde - 'n present aan ons volk’Ga naar voetnoot1) Met so 'n werkmetode kan ons natuurlik selde meer as gesels-op-skrif verwag. Dit is dan ook waar Von Wielligh na mik, want ‘kunsstyl is meer ingewikkel en word nie so goed verstaan deur die minder bevoorregtes nie’.Ga naar voetnoot1) En hy is op sy beste as hy padlangs gesels, want dan bereik hy juis kuns soos in die Dierestories. Hy het hom al die jare verlustig in die ‘raak kolskote’ van die spraakmakende gemeente. As hy ‘binne die grense van sy eie ploegland’ bly en die gesprekke van eenvoudige volkstipes of inboorlinge weergee, bereik hy dikwels 'n mooi effek, maar sodra hy hom ‘werp op die vleuels van praalskrif’ dan gee dit 'n lelike misoes af. Sy beeldspraak is grotendeels ontleen aan die daaglikse lewe; sy vergelykings vind hy in die huislike besigheid van die vrou of die bedrywigheid van die boer op die veld: ‘Die twee vrouens kan so rustig naas mekaar bestaan soos die twee punte van 'n skêr; soms knip hulle oormekaar.... maar bewaar die een wat tussenin kom....’ (V.v.V., p. 162). ‘M.A.- en B.A.-titels was vir hulle net soveel werd as 'n broeksak vir 'n hond’ (S.j.M., p. 149). ‘Fant het net soos iemand wat korhaan jag, om en om Sytjie gestap tot sy gaan sit, toe korrel hy’ (t.a.p. p. 229). ‘Frans weer was soos sodawater: druk jy die prop in, dan bruis dit, maar die gas is gou uitgekook. Gou driftig, maar gou weer goed’ (H. en V., p. 14). Met sulke eenvoudige vergelykings bly Von Wielligh binne die waar- | |
[pagina 99]
| |
nemingskring van dié lesers vir wie sy werk spesiaal bestem is. Hy gee 'n aanskoulike voorstelling, wat direk pakkend is en telkens 'n skaterlag moet laat opklink. Maar van die alledaagse verval hy partymaal tot plathede en ook onsmaaklike vergelykings, wat op die meer gevorderde leser 'n komiese indruk moet maak. So verklaar hy b.v. met groot erns: ‘....so nutteloos as 'n horlosie sonder wysters, of so onhoubaar as 'n mosterdpleister onder 'n hond se bors, net so sal die samelewing op aarde sonder vrouens wees’! (H. en V., p. 121); - ‘Orals op die vloer lê uitgekrapte grond, en slordigheid het oor die meubelstukke sy seënwens uitgegiet in die vorm van 'n laag stof’ (V.v.V., p. 54); - ‘O skynheilige mensdom, wat sy medemens oordeel. As die helder soeklig op almal gedraai word, hoeveel blikskottels en blikborde sal van die rakke tussen die silwergoed moet padgee. En hoeveel sal bly staan as egte sterling silwer verklaar word!’ (J.P., p. 511). Naas baie voorbeelde van hierdie soort, kry ons ook telkens proewe van Von Wielligh se hoogdrawende ‘praalskrif’, wat deur 'n verwarrende mengelmoes van beelde gewoonlik onverstaanbaar is. 'n Tipiese voorbeeld is te vinde in Staan jou Man, p. 282-3. Deurgaans skryf hy egter in maklik verstaanbare taal, waarin volksaardige uitdrukkings telkens opduik. Dit is alleen as hy met abstrakte begrippe te doen het, dat hy gebruik maak van snaakse kombinasies, soos die volgende: ‘Hul nougesetheid het nooit 'n ketting om my hals gebind om volkome vryheid aan my te ontneem nie, dog hulle het steeds my laat voel dat ek in 'n paleis van kiesheid moet woon, wat tog maar al te seker die onaantasbare vroulike deug en reinheid moet beskerm’ (G.B., p. 162).
Uit hierdie bespreking het dit geblyk dat Von Wielligh daarin geslaag het om eenvoudige leesstof aan die onderste kultuurlaag te verskaf. Hy bevredig die ongeletterde se weetgierigheid deur populêr-wetenskaplike uitweidings; hy vermaak hom deur die skildering van tonele uit die volkslewe in 'n gekruide taal vol komieklike kwinkslae, en hy skerp sy opmerksaamheid deur die noukeurige weergawe van allerlei wetenswaardighede. Die ideale volkskrywer moet natuurlik bo en nie gelyk met sy omgewing staan nie, as sy werk 'n veredelende invloed wil hê. Buitendien moet dit ook aan eenvoudige skoonheidseise voldoen, want kultuurhistoriese geskrifte wat ontsier word deur 'n smaaklose en gebrekkige styl het maar 'n twyfelagtige waarde. Von Wielligh staan dikwels gelyk met sy omgewing, en 'n gedeelte van sy werk is nie van smaakloosheid vry te pleit nie. In sy beste oomblikke egter lewer hy eenvoudige kuns en word hy werklik 'n opvoeder van sy volk. Ons mag dit betreur dat die ‘laaste stem’ uit die ou Genootskap nie skoner klink nie, maar wil geredelik erken dat hy dikwels 'n helder geluid uit vergange se dae in ons ore laat tril, wat ons nie graag wil mis nie. Hy is in die eerste plek | |
[pagina 100]
| |
die onuitputlike verteller van die ou dae, van die baanbrekers, hul sedes en gewoontes; ook die opmerksame bespieder van die natuur en die inboorlinge, wat uit die ryke skat van sy eie ervaring, dikwels aangenaam gesels met sy volk, en aan die plattelander veral nuttige leesstof gegee het in 'n tyd toe weinig ander skrywers hulle oor dié deel van ons bevolking bekommer het. Laat ons die moeilike werk van die eerste baanbrekers ten volle erken; laat ons erken dat in hulle tyd die volk nog nie ryp was vir kuns nie, dat selfs al kon die eerste skrywers dit gelewer het, dit geen weerklank sou gevind het by die breë volkslae nie. Ons huldig die goeie werk deur die baanbrekers in moeilike omstandighede verrig. Ons erken die verdienste van Von Wielligh, een van die staatmakers van die ou garde wat ook in ons tyd nog nuttige werk tot stand bring - maar ons kan in 1926 nie meer tevrede wees met die ideale van die geslag van 1875 nie. Dit mag kwetsend wees vir een van die ou stryders, maar dit is nou eenmaal die voorreg van 'n jong geslag om te begin waar die oue opgehou het.Ga naar voetnoot1) |
|