§ 8. Die Brandwag (1937).
Toe Die Boerevrou onder redaksie van Mev. K. Malherbe opgehou het om te bestaan, is Die Moderne Vrou opgerig in 1936 met Mev. prof. C.M. van den Heever as redaktrise. Laasgenoemde blad is in Aug. 1937 ingelyf by Die Brandwag, wat ontstaan het uit die naweekse uitgawe van die dagblad, Die Vaderland. Die Brandwag kan ons miskien die beste karakteriseer as 'n Transvaalse Huisgenoot. Hierdie aantreklike blad met sy ryke verskeidenheid van inhoud verrig waardevolle opvoedingswerk. Onder die vernaamste medewerkers kan genoem word C.M. en Kootjie van den Heever, Kleinjan, Abel Coetzee, Friedenthal, Van Melle, Jonker, Mocke, E. Eybers, Haarhoff, Willem Kamp. Die redakteur, A.M. van Schoor, sorg vir inleidingsartikels oor aktuele sake, en bly gedurig in aanraking met sy lesers deur prysvrae uit te skryf. Dr. G. Eloff se uitstekende populêr-wetenskaplike artikels het reeds algemene waardering gevind.