§ 4. Tydskrif vir Wetenskap en Kuns.
Hierdie blad is in 1922 opgerig onder redaksie van dr. D.F. Malherbe. In die voorwoord word gesê: ‘Ons (wil) met hierdie Tydskrif 'n gees van ernstige studie help aankweek, geleentheid bied vir elkeen wat oorspronklike beskouinge het of nuwe resultate of nuwe materiaal om te publiseer... Laat die Tydskrif dan 'n middel wees om Afrikaans betekenis te verleen in die wetenskaplike wêreld, om te ontplooi die rykdom van sy vormende krag, sy vermoë om die nuwe woord te skep wat met raak seggingskrag verras, om te openbaar sy suiwerheid en helder eenvoud, om te getuig van sy mondigheid en bruikbaarheid op elke gebied van die geestelike lewe, om deur sy veelsydigheid van uiting ons volkskultuur tot skoner bloei te bevorder.’ Die blad wil ook gee ‘kunskritiek wat kan oprys uit die vlakteveld van dorre eensydigheid tot 'n hoër plan met wyer uitsigte.’
Tot nog toe het die blad hom egter grotendeels bepaal tot die wetenskap, en op hierdie gebied het daarin waardevolle verhandelinge verskyn, wat geen ontwikkelde student ongelees mag laat nie. Terwyl die Stellenbosse universiteit die resultate van sy navorsings vaslê in die uitgawe Annale, word soortgelyke werk van die noordelike universiteite meestal opgeneem in die Tydskrif vir Wetenskap en Kuns.