Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging
(1939)–P.C. Schoonees– Auteursrecht onbekend§ 3. (a) Die Huisgenoot (1916-1923).In Mei 1916 is Die Huisgenoot opgerig onder redaksie van prof. J.J. Smith, as verteenwoordiger van die Afrikaanse Taal-Vereniging en C.J.L. Ruysch van Dugteren, van die Nasionale Pers. Met die blad is verenig die A.T.V.-orgaan, Ons Moedertaal, wat onder die oorlogsdruk moeilik kon bestaan.Ga naar voetnoot2) Na die dood van Ruysch van Dugteren in 1918 bly prof. Smith alleen redakteur, totdat hy in November 1923 afgelos word deur dr. H.G. Viljoen. Ofskoon Hollandse stukke natuurlik nog 'n enkele maal opgeneem word, verskyn die blad sedert 1918 feitlik uitsluitend in Afrikaans. Die doel van Die Huigenoot word in die uitgawe van Julie 1917 só aangedui: ‘Die Huisgenoot is 'n tydskrif, wat tot doel het die handhawing van ons taalregte en die bevordering van Afrikaans. Dit wil, sonder die terrein van partypolitiek te betree, meewerk in die opbou van ons nasionale lewe deur die aandag te vestig op alles wat goed is in die geskiedenis, owerleweringe en ideale van Hollands Suid-Afrika.’ Heel goed word die geaardheid van die blad deur die redakteur beskryf: ‘Die Huisgenoot het probeer om populêr te wees, sonder om juis die wetenskap enige geweld aan te doen; en dit was altyd sy strewe om vir elke leser in die Afrikaanse wêreld iets boeiends te verskaf. Deur lewensbeskrywinge van groot Afrikaners, deur sketse uit ons dierewêreld, deur stukke oor Suid-Afrikaanse kuns, deur verhale vir kinders en grootmense, deur die bespreking van taalkwessies, deur wenke vir die vrou, deur foto's, grappies en ander sake, het ons probeer om met die smaak van al ons lesers enigsins rekening te hou. Ons het, met ander woorde, 'n bont verskeidenheid nagestreef....’ (Mei 1918.) Met groot sukses het die blad sy program uitgewerk. In die moeilike taak om wetenskaplik en daarby ook populêr te wees, het die redaksie vry goed geslaag. Deur 'n konsekwente, ofskoon kritiese toepassing van die Akademiereëls, het Die Huisgenoot veel gedoen om aan die verwarring op spellinggebied 'n einde te maak, en die afdeling Taalvrae was seker een van die nuttigste. Tog het die redaksie nooit uit die oog verloor nie, dat | |
[pagina 79]
| |
daar naas die taal nog ander belangrike sake was. ‘We moeten een volk zijn met eigen taal niet alleen, maar met eigen tradities, eigen bouwkunst, eigen schilderkunst, eigen muziek, eigen levensopvatting.’ (Feb. 1917.) - ‘'n Volk wat hom ten volle wens te ontwikkel en wat 'n waardige plek onder die nasies van die wêreld wil beklee moet hom op alle gebied(e) ontwikkel. Dit is nie genoeg dat ons vir ons taalregte stry nie; en dit is ook nie genoeg om na politieke mag te strewe nie....’ (Julie 1919.) - ‘Uit ekonomiese afhanklikheid spruit alte dikwels kultuurslawerny....’ (April 1919). Daar is een geval waar die ywer vir die taal van letterkundige standpunt minder gelukkig was. B. Spoelstra bring, ‘op 'n heel interessante manier’, sê die redakteur, 'n versameling van ses-en-vyftig spreekwoorde in 'n verhaaltjie byeen, (Jan. en Mei 1921) en ander lesers word aangespoor om dié spreekwoord-gimnastiek na te volg! Tot watter verwarrende beeldspraak dit aanleiding gee, blyk al uit die eerste sin: ‘Toe ons die ander dag 'n voëltjie gehoor fluit 't, dat twee jong mense die huweliksbootjie wou instap, en al taamlik gou die vier-perdewa wou inspan, het menigeen sy tande geslyp vir die bruilof en gehoop om weer 'n keer lekker te gaan skoffel.’ (Jan. 1921.) Letterkundige kritiek beslaan 'n vername plaas in die blad en oor die algemeen is dit op gesonde beginsels gebaseer. Dat die blad hom selde leen tot onoordeelkundige ophemeling van minderwaardige of middelmatige werk en by sy kritiek deurgaans 'n hoë peil handhaaf ten spyte van heelwat teenstand is 'n verblydende teken. Veral in die begin van 1919 het 'n paar resensies van verskillende kante teenspraak uitgelok en aanleiding gegee tot vrugbare polemiek.Ga naar voetnoot1) In Februarie 1919 wys J.J. S(mith) op die algemene gebrek aan tegniek: ‘Ons wil (die) skrywers net daarop wys, dat hul ons letterkunde 'n groot diens sal bewys as hul, voor hul aan die skrywe gaan, eers 'n bietjie wil studeer en nadink oor die wette wat gedurende die eeue heen in hul besondere kunsvak geformuleer is.’ In 1920 word dit nodig om aan die talryke skryflustiges die volgende waarskuwing te gee: ‘Kyk, die Afrikaanse Taalbeweging het darem nou 'n stadium bereik waarin ons nie meer alles wat daar in druk verskyn as hemelval hoef te begroet nie’ (E.C. P(ienaar) Nov.). Slypsteen ontlok aan M.T. die versugting: ‘Van Lennep, Van Lennep en sy geesgenote - dat hulle tydperk hier in S.A. verbygaan!’ Daarby word gevoeg: Slypsteen ‘weet oënskynlik nog niks van die groot strome in die hele nuwe Europese letterkunde nie.’ (Julie 1921.) Dit spreek egter vanself dat met ongeveer 'n vyftiental resensente dit moeilik gaan om die eenheid op kritiese gebied te handhaaf. In die eerste jare vind prof. Smith dit onmoontlik om by al sy ampswerk tred | |
[pagina 80]
| |
te hou met die veelsydige ontwikkeling op kultuurgebiedGa naar voetnoot1) en bygevolg moet hy hom dikwels verlaat op toevallige bydraes. Hy stel die tydskrif se kolomme oop vir voorstanders van alle rigtinge en reken dat dit ‘'n groot voordeel (is) as die redakteur van 'n maandblad daarin kan slaag om vir homself in verband met 'n belangrike bespreking, minstens vir 'n tydlank, op die agtergrond te hou’ (April 1923). In die praktyk het hierdie diplomatieke houding van welwillende neutraliteit egter dikwels uitgeloop op stilswye. Wel kom die redakteur partymaal uit sy skuilhoek om 'n versigtige formulering van die argumente aan albei kante te gee, maar hy waag dit nie om beslis stelling te kies nie en op dié manier kan sy blad geen helder geluid laat hoor nie. Dit was o.a. die geval met die verskyning van die proefvertaling van die Afrikaanse Bybel en die eerste druk van hierdie werk. Na aanleiding van laasgenoemde skrywe prof. Smith: ‘Die proefskrif van dr. P.C. Schoonees het soos 'n bom in ons Afrikaanse letterkundige kringe geval’ (Feb. 1923). Na 'n bietjie slag-om-die-arm-kommentaar heet dit: ‘as die geleerde mense en die skrywers aan 't veg is, dan pas dit vir ons om opsy te staan en te luister: langs dié weg kan ons die maklikste leer en ook aan die gevaar ontkom om deur die stryers doodgetrap te word’! Skrywers en kritici het dan ook werklik gedurende die grootste gedeelte van 1923 'n vrugbare polemiek gevoer, en dit het geblyk dat daar ook by die algemene publiek intense belangstelling vir letterkundige kwessies was. Die meningsverskille wat oor die eerste druk van hierdie boek ontstaan het sal vir die latere geskiedskrywer interessante gegewens oplewer, omdat dit o.a. gelei het tot gedagtewisseling oor sulke prinsipiële vraagstukke soos gemeenskapskuns, die waarde en standpunt van ons literêre kritiek, die avontuur- en strekkingsroman.Ga naar voetnoot2) In hierdie tyd ontstaan ook die mening dat resensente eintlik landverraaiers is, ‘vuilwaterdraers om goddelike vuur uit te blus, esels om engele te skop....’ soos Langenhoven, hul onvermoeide beskimper hul betitel in een van sy eindeloos herhaalde aanvalle. Onder sy minder begaafde kollegas het die teorie dat baie ‘gekweste, fynvoelende kunstenaarsiele’ swyg as gevolg van afbrekende kritiek natuurlik groot byval gevind en die aantal geniale skrywers, wat deur bevooroordeelde kritici | |
[pagina 81]
| |
‘doodgesmoor’ is, het onrusbarend gestyg, totdat die redakteur van Die Burger die onjuistheid van dié legende bewys het in 'n artikel waarin o.a. gesê word: ‘Nee wat, die tafereel van die nuwe Totiusse, Prellers en Langenhovens wat smag om die volk met die voortbrengsels van hulle gees te beweldadig, maar deur die bose bende van krietisie versmoor word, is aandoenlik, maar alte fantasties’ (21/iv/24). Intussen het Die Huisgenoot kalm voortgegaan met sy letterkundige kritiek, wat grotendeels toevertrou was aan die Stellenbosse skool. Die professore Lydia van Niekerk en E.C. Pienaar het opbouende betoë gelewer, wat veel daartoe bygedra het om 'n juister insig in letterkundige verskynsels te bevorder. In hierdie verband mag veral genoem word laasgenoemde se artikel oor Nuwe Afrikaanse Romans (April en Oktober 1923). Die redakteur self bepaal hom meestal tot taalkundige kritiek en hou 'n waaksame oog op ons skoolboeke, wat deur die snelle vordering van Afrikaans, nog dikwels sleg versorg, of bloot vertalings is. Vanaf 1925 tree meer op die voorgrond dr. F.E.J. Malherbe, wat gedebuteer het met die reeds aangehaalde artikels oor die eerste druk van hierdie werk. Daarin was hy vol bewondering vir ‘die kostelike romantiese verhale van Jannie de Waal (en) die pragtige volkswysheid van Von Wielligh’; hy vind dit dwaasheid om vergelykings te tref tussen die ontluikende letterkunde van 'n jong nasie en die voortbrengsels van die ou Europese kultuurvolke, en hy berisp die skrywer hiervan oor sy ‘fanatieke haas’ om Suid-Afrika ‘hoog op te stoten midden in de vaart der volken’. Met sulke bewerings word Malherbe natuurlik dadelik 'n persona grata in skrywerskringe. Hy is die ‘een merkwaardige uitsondering’ onder die ‘deskundige boekbeoordelaars’.Ga naar voetnoot1) In die volgende jaar egter, is Malherbe se geesdriftige bewondering vir Von Wielligh al opmerklik afgekoelGa naar voetnoot2) en in 1925 dryf hy die vergelykende metode tot 'n uiterste spits in 'n vernietigende kritiek op Liefdelewe, waar hy ‘die grootste name en kunstenaars van alle tye oproep’ om getuies te wees van Jan Celliers se ‘schamele kleente’!Ga naar voetnoot3) In Die Huisgenoot van 6 Augustus 1926 vind hy dit ook nodig om ‘ons nasie hoog op (te) stoot in die volkerery’. Dieselfde verwyt wat die skrywer hiervan in 1923 getref het word nou Malherbe ten laste gelê, want volgens Jan Celliers het laasgenoemde ook ‘sy visie op landsomstandighede’ verloor! Maar Jan Celliers se mening, dat die huislikheid van die voor-Tagtiger skool vir ons besondere omstandighede nog veel kan beteken, wys Malherbe nou met beslistheid af. Hieruit blyk dat die periode van patriotiese vertroeteling in ons letterkundige kritiek, wat in die eerste jare wel te regverdig was, nou byna | |
[pagina 82]
| |
afgeloop is. Wat ek in 1923 al gesê het, geld nou nog veel meer: ‘Die kunstenaar wat willens en wetens hopeloos verouderde modelle gaan navolg, sal ook in ons land nie lank meer gelees word nie. Want net soos die Afrikaner in 'n tiental jare op taalgebied 'n omwenteling deurgemaak het wat onder normale omstandighede ander volke 'n paar eeue geneem het, so behoort ook op literatuurgebied die patriargale tydperk, waarin die volk tevrede was met prulrympies, kinderromantiek en soetsappige sedeprekies, al feitlik tot die verlede. Die kunstenaar wat as leier van Jong Suid-Afrika wil optree, moet modern wees. Hy hoef nie al die hipermoderne gedoentes van Europa met kop-en-pootjies in sy werk op te neem nie. As hy Afrikaanse kunstenaar is, sal sy kuns ook Afrikaans wees; dit sal modern wees en tog bevatlik vir die grootste gedeelte van die volk. Selfs dié kunstenaar, wat volgens sy innerlike roeping meer bepaald vir die bywoner skryf, sal nie Vader Cats gaan navolg nie, omdat die kinders van ons bywoners onderwys kry en in 'n samelewing verkeer waar hul daagliks met moderne begrippe, moderne dinge, moderne mense in aanraking kom. Ons digters volg nie Maerlant na nie, gee ons nie berymde preke en stigtelike oorpeinsings in die trant van Ten Kate en Beets nie; hul adem in dieselfde moderne atmosfeer as Gezelle en Perk en Shelley. En die grootste gedeelte van die volk verstaan hul, omdat, al is hul modern, hul tog ook Afrikaners is. Die teenstelling tussen die kunstenaars van die oorbeskaafde Europa en die aartsvaderlike Suid-Afrika is, ten spyte van sy oënskynlike juistheid, tog vals. Ons nasionale ewolusie het met rukke en stote gegaan; ons kan ons moderne omgewing, ons moderne Engelse landgenote nie wegsyfer nie. En al het ons ook agterlikes (wat iedere Europese volk ook het, en in groot getalle!) dan nog hoef hul teenwoordigheid nie ons hele kunsbeskouing te beheers nie.’Ga naar voetnoot1) Ofskoon hierdie oortuiging meer en meer veldwin en die kritiek steeds hoër eise begin te stel, is daar nog enkele beoordelaars wat reken dat ons middelmatige werk ter wille van ‘die meerderheid van die lesende publiek’ dankbaar moet ontvang. Prof. J.J. Smith is die tipiese verteenwoordiger van hierdie rigting, soos blyk uit sy resensie van Sonskyn en Skaduwee deur J.H. Malan in Die Huisgenoot, 18 Junie 1926. Prof. Smith vind dit nodig om nog in den jare 1926 te protesteer teen die afgesaagde aller-individueelste-formule van Willem Kloos. Prof. E.C. Pienaar herhaal hierdie protes selfs in 1938! Vgl. Ons Vertelkuns, in Werda. Maar die ironiese van die saak is, dat J.H. Malan 'n vurige bewonderaar van Kloos is, dat hy sy manuskrip selfs vooraf aan Kloos se oordeel onderwerp het en 'n faksimilee van Kloos se aanbeveling in Die Landbouweekblad laat afdruk het!Ga naar voetnoot2) Ek wil geredelik erken dat ook die werk | |
[pagina 83]
| |
van ‘mindere geeste’ 'n bestaansreg het met die oog op die behoeftes van ons volk, maar hierdie oorweging hoef ons nie te verlei tot geesdriftige ophemeling van 'n middelmatige werk nie, al besit Malan ook ‘'n merkwaardige woordeskat.... 'n ryke bron van minder bekende Afrikaanse woorde’. Of moet ons miskien die letterkundige waarde van 'n boek skat na die hoeveelheid leksikografiese materiaal wat dit aanbied? Prof. Smith mag op kritiese gebied 'n ander rigting inslaan as sy medewerkers, dit staan in elk geval vas: gedurende sy sewejarige redakteurskap het Die Huisgenoot hom vergoed ingeburger in die Afrikaanse gesin en 'n onmisbare faktor geword in ons kultuurlewe. Die redakteur het steeds gesorg vir 'n aantreklike verskeidenheid van leesstof, wat 'n beroep gemaak het op al die lae van ons samelewing, en die snelle vooruitgang van die tydskrif wys dat prof. Smith inderdaad sy vinger gehou het ‘op die polsslag van die Afrikaanslesende publiek’. In die eerste jare van ons taal- en kultuurstryd het die blad op elke gebied die nasionale beweging gesteun en 'n band gevorm tussen die stille werkers wat in verre uithoeke van ons uitgestrekte land gearbei het aan die bewusmaking van die volk. Tot die prosaskrywers, wat in Die Huisgenoot gedebuteer het, behoort A. du Biel, (Getrou en 'n paar kort verhale) en A.A. Pienaar (Sangiro). Die kort verhale, wat enigsins bo die middelmatige uitkom is besonder skaars. Die meeste daarvan verraai 'n ongeoefende hand. Onsigbare Hande deur M. Linde (Maart 1920) en veral Die Bosduiwenes deur J.W. (Des. 1920) verdien vermelding. Laasgenoemde is sonder enige mooidoenery, vol stemming en goed vertel. Ook die volgende bevat 'n belofte: Die Ou Bliktrommel (Aug. 1917) deur Kleinjan, J.R.L. van Bruggen, die digter van Lentestemme, en Vergeet-my-Nietjies deur Rikie Postma (Des. 1921). Van die digter, dr. C. Louis Leipoldt het o.a. verskyn: Wit Anjeliere (Nov. 1919) en Die Transportryer se Storie (Okt. 1921). Hy laat graag 'n onopgeloste raaiseltjie aan die leser oor om tot nadink te prikkel. Dit is in ooreenstemming met sy kritiek oor Van Reenen se Celestine, waar hy sê: ‘'n Ware kunstenaar fluister as hy by so 'n punt (waar jou hare moet rys) kom: juis die sagte gefluister gee die indruk van geheimsinnigheid, moedeloosheid, angs, gevaar, smart, vertwyfling.’ (Nov. 1919.) Maar sy besgeslaagde verhaal het in Die Brandwag verskyn (1 Aug. 1914). Dis 'n digterlike sprokie van wondervolle teerheid: Die Weeskindjie, wat 'n moeder wou hé! Die griep-epidemie, die opstand in 1914 en die druk van die oorlog, dit is oorsake, wat die getal ‘bly-eyndende’ verhale so klein maak in die jare 1918 en 1919, en 'n besondere voorliefde vir die skildering van treurige voorvalle in die hand werk. Die strekkingsverhale van Hermanus behoort tot die gebied van die traktaatjiesliteratuur. As Vader gaan Biljart speel kan dien as staaltjie, (Nov. 1921). 'n Voorbeeld van valse | |
[pagina 84]
| |
romantiekerigheid gee N.H. Theunissen in sy verhaal: Tussen die Aanden Môreskemer (April 1920). Hy wil 'n digterlike Voortrekkersdogter en haar dom-onnosele vryer uitbeeld. Dit sou moeilik gaan om meer staaltjies van verknoeide visie en onware tekening in 'n kort verhaal bymekaar te bring. ‘Oor die lieflike gesiggie sprei daar 'n tergende glimlag,.... en haar oë, diep poele van geheimsinnigheid, verduister, en word onleesbaar.’ Die arme Jan kry les in digterlike natuurbeskouing. ‘Kom en kyk hoe mooi lyk die groot bome, hoe hulle hulde bring aan die sonsondergang.’ Die raaiselagtige nooi word so geteken: ‘Sy was die verpersoonliking van leed en van vreugde. Die groot ruimtes was haar wêreld. Sy het geleef en gevoel vir alles om haar. Vir haar mede-wagenote was sy onaantasbaar. Hulle siele kon nie saamgaan met haar langs die babbelende strome, na die soemende bosse op 'n blosende môre nie.’ As Jan haar in sy arms neem is daar in haar ‘geen antwoordende vuur nie’. Gelukkig, want in die dae was daar nog geen brandweer nie! Maar nou kry Jan weer les in sielkunde: ‘Die bloed wat deur my stroom, het die are van die wêreld gegee; die hart wat in my klop, is die kloppende hart van die see. Sien jy, Jan, ek kan ook rym!.... Van uit die diepe aarde, van uit die waters het my liggaam gekom; en my liggaam is 'n hok (sic!) van drome’.... ‘Sy dowwe verstand kon haar woorde nie volg nie. Die beeldspraak was buite die enge kring van sy gedagtes.’ Ook ons slaan dit totaal dronk! Maar die domme Jan ondergaan 'n gedaanteverwisseling. ‘Sy ontvang sy lippe sonder weerstand.... Hy trek hom weg en kyk na haar oë. 'n Straal van kennis, 'n profeteviesie het hom ingevloei’. Soe! maar dis darem vir jou 'n nooi! In die aand het ‘die stergegordelde nag haar omhels’ en na die Zoeloes se aanval ‘sluit hulle hul lippe in wederkerige, ewigdurende liefde, terwyl die bloed hulle monde oorstelp. Al die vlekke op die gesigte van die dode word deur 'n engelehand uitgewis. Die man se gesig word kalm, oorsprei met 'n waas van alomkennis....’ - ‘Geef ons natuur en waarheid weer’ mag ons wel uitroep! Gelukkig is dit op ander plekke in die blad wel aanwesig. | |
(b) Die Huisgenoot as Weekblad (1923-1931).Vanaf 23 November 1923 begin Die Huisgenoot 'n nuwe bloeiperiode as geïllustreerde weekblad onder redaksie van dr. H.G. Viljoen. Prof. Smith behou egter voorlopig die afdeling letterkundige kritiek. Die blad neem snel in omvang toe en binne drie jaar word die oorspronklike aantal bladsye (32) verdubbel, terwyl die getal intekenaars styg tot by die 25,000 in 1926. In die begin van 1925 kry die kinders 'n afsonderlike byblad, Die Kleinspan, wat uitstekend daarin slaag om die leesgewoonte by die jeug aan te kweek. Hierdie merkwaardige vordering van 'n Afrikaanse tydskrif is 'n verblydende bewys van die gestadige opbloei van ons | |
[pagina 85]
| |
kultuur. Die Huisgenoot het sonder enige twyfel die alleenheerskappy van die ingevoerde magazine verbreek en kan 'n vergelyking met dergelike tydskrifte glansryk deurstaan. In die uitgawe van Desember 1920 kon ek nog skryf: ‘Van die kunsafdeling in ons tydskrifte verwag ons veel meer. Dit behoort ons op die hoogte te hou van kultuuruitinge en -strominge in ander lande. Deur ons geografiese ligging loop ons groot gevaar om op kunsgebied agterlik en geïsoleerd te bly. Ons land lê in 'n uithoek, en die storme wat die gemoedere elders in heftige beroering bring, gly as geruislose kabbeling om ons kuste heen, soms 'n paar verdwaalde opdrifsels meevoerende’. Gaandeweg het die blad aan hierdie wens voldoen en die opmerking in die laaste sin geld seker in 1926 nie meer nie. In die laaste jaargange het 'n groot aantal artikels verskyn oor skilder-, bou-, beeldhoukuns en musiek deur Florence Zerffi, Brander Wiles, Caldecott en ds. M.L. de Villiers, terwyl die ekonomiese, historiese en populêr-wetenskaplike rubrieke ook deur bekwame medewerkers bygehou word. Die blad word meer en meer 'n opvoeder van die volk op elke gebied, 'n nuttige vraagbaak en vertroubare raadgewer vir die verafwonende plattelander, 'n gesellige en leersame lid van die Afrikaanse huisgesin. Die letterkundige gehalte van 'n tydskrif wat weekliks soveel stof nodig het moet natuurlik ongelyk wees. Op hierdie gebied sou ek eerder beperking as uitbreiding wens, sodat 'n versigtiger keuse tussen ryp en groen kan gemaak word. Die kortverhaal en skets bereik nog maar uiters selde 'n kunsgehalte, en onder die groot aantal middelmatige stories is daar ook heelparty, wat deur gebrekkige taal, ondeurvoelde beeldspraak en oppervlakkige sentimentaliteit selfs benede die peil van middelmatigheid daal. Gelukkig is daar ook enkele skrywers wat in hierdie moeilike genre werk van blywende waarde gelewer het. Ek dink veral aan E.B. Grosskopf, wat behalwe die uitstekende vervolgverhaal Patrys Hulle (jg. 1925)Ga naar voetnoot1) 'n hele aantal mooi kort stories en sketse geskryf het; verder M. Linde, Léon Maré, J. Lub, de Roubaix en dr. C.L. Leipoldt. In Die Teken deur E.B. (M. Linde) word op treffende wyse die verhouding tussen 'n wêreldse meisie en 'n aspirant-sendeling geteken. Verder kan nog genoem word Jantjie, deur Gerard Mess, Melima, deur Sadie Bosman, Joggie en Jefta, deur A.J.V. Burger en Poppeloppie, deur P. Marchand. Hierdie laasgenoemde skrywer het seker talent en 'n wakker observasie; as hy uit die ‘omarming’ van 'n vose retoriek, wat hom sulke parte speel in die skets Aan Strand (11-1-'24), kan loskom, sal hy nog iets bereik in die toekoms. Ek memoreer hier nog die vernaamste vervolgverhale, later byna almal in boekvorm verskyn, om te wys op die belangrike aandeel van Die | |
[pagina 86]
| |
Huisgenoot in die letterkundige oes van die laaste jare: Oupa en sy Kleindogters deur J.H.H. de Waal (1923); Haar Ma se Skuld deur D.P. du Toit (1924); Stemme van die Vlaktes deur Sadie Bosman (1924); Patrys hulle deur E.B. Grosskopf (1925); Tissamoe deur J.M. Friedenthal (1926); Adriaan Hugo deur Hendrik Brand (1927); Die Donker Huis deur C.L. Leipoldt (1928); Hans-die-Skipper deur D.F. Malherbe (1929); Galgsalmander deur C.L. Leipoldt (1930). As ons nog hierby voeg die lang reeks artikels oor aktuele onderwerpe, sketse soos Die Swerwers van J.A. Coetzee en Soeloelegendes van A.J. van Zyl, vertalings uit Skandinawies deur dr. C.G.S. de Villiers, geskiedkundige verhandelinge soos Die Franse Vlugtelinge deur dr. Franken en populêr-wetenskaplike stukke soos Die Siel van die Mier deur adv. Eugène Marais, dan blyk op oortuigende wyse hoe Die Huisgenoot in alle rigtings tot meerdere aktiwiteit geprikkel het, hoe die blad elke week nuwe vergesigte vir sy lesers open en hulle 'n aandeel laat kry in die algemene kultuurbeweging. | |
(c) Die Huisgenoot (1931-1938).In Junie 1931 het dr. H.G. Viljoen afgetree as redakteur. Sy opvolger, J.M.H. Viljoen, het die hoë peil van die blad uitstekend gehandhaaf deur die medewerking te verkry van feitlik alle vooraanstaande skrywers. Die blad streef nog steeds daarna om rekening te hou met die smaak van al die lae van die samelewing, en deur die ryke verskeidenheid van leesstof wat weekliks aangebied word verower dit elke jaar meer lesers. Die getal intekenare het in 1938 tot by die 50,000 gestyg, terwyl die oplaag van spesiale uitgawes soms 60,000 beloop. Vanaf 1936 verskyn die vergrote kinderblad, tans genoem Die Jongspan, onder redaksie van dr. C.F. Albertyn. J.M.H. Viljoen het aan Die Huisgenoot 'n meer persoonlike stempel gegee deur die toevoeging van 'n redaksionele bladsy waarin 'n oorsig gegee word van die vernaamste bedrywighede op kultuurgebied. Hierdie weeklikse aantekeninge is 'n uitstekende inligtingsdiens vir die groot publiek wat daaruit kan leer dat daar buitekant die partypolitiek 'n uitgestrekte terrein is waarop alle Afrikaners behoort saam te werk. Soos sy voorgangers het die redakteur veel gedoen om jong skrywers voor te lig en aan te moedig. Verskeie talentvolle kunstenaars het ook in hierdie periode in die blad gedebuteer o.a. P.J. Schoeman, Mikro en Boerneef. Die belangrikste vervolgverhale was: Die Swart Hand en Die Verlore Prins deur Hendrik Brand (1930-1931); Die Plaasverdeling deur A.H. Jonker (1931); Die Dwergvroutjie deur C.L. Leipoldt (1933); Die Trekboer deur A.H. Jonker (1934); Somer deur C.M. van den Heever (1935). As gevolg van die ontwikkeling van die laaste jare het die gehalte van | |
[pagina 87]
| |
die kortverhale aansienlik gestyg. Die vernaamste medewerkers op hierdie gebied is: Jochem van Bruggen, Jonker, C.M. van den Heever, Mikro, Kleinjan, P.J. Schoeman, Marie Linde, P. de V. Pienaar, Dirk Mostert, I.D. du Plessis, G.J. Joubert, Kootjie van den Heever. Vir die afdeling letterkundige kritiek word bydraes gelewer deur 'n groot aantal medewerkers o.a. G. Dekker. F.E.J. Malherbe, F.C.L. Bosman, S.P.E. Boshoff, M.S.B. Kritzinger, E.C. Pienaar, S.J. du Toit en P.C. Schoonees. |
|