Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging
(1939)–P.C. Schoonees– Auteursrecht onbekend
[pagina 72]
| |
September weer vervang word deur Preller, wat die blad redigeer totdat die uitgawe in Februarie 1922 om financiële redes gestaak word. Die doel van die blad word in die eerste nommer só omskryf: ‘Die Brandwag heeft positie gekozen op 'n punt waar 't terrein alsnog onbewaakt bleef: het Afrikaner huisgezin.’ Dit wil die plek verower, wat opgevul word deur ‘vreemde kaf, als Home Notes en Home Chat en Home Journal, enz.’ Verder wil die tydskrif probeer om ‘leiding en koers te geven aan de vele zeer bekwaam gebleken Afrikanerpennen, die ernaar streven.... 'n eigen nasionaal-afrikaanse letterkunde te helpen groot maken.’ Met die uitvoering van dié program het die blad uitstekend geslaag en dank sy die medewerking van feitlik alle skrywers en digters van betekenis, kon dit 'n hoë literêre peil bereik en tot die end toe handhaaf. Dat die blad 'n faktor van groot betekenis in die kultuur- en taalstryd was is ongetwyfeld, en die verdwyning daarvan moet as 'n ramp beskou word. Daar is werk van blywende waarde in gepubliseer en deur middel van die wedstryde het 'n hele reeks nuwe skrywers, soos Jochem van Bruggen, Léon Maré, E. de Roubaix, M. Jansen, Hettie Cillié, e.a. bekend geword. In die kinderafdeling het mev. Iz. van Heerden naam gemaak met haar voortreflike verhale, sodat ‘Tannie van Die Brandwag’ 'n geliefde naam by die kleinspan oor die hele land is. Veel het die blad ook daartoe bygedra om gesonde begrippe oor kuns ingang te laat vind. Deur goeie vertalings en studies oor buitelandse kunstenaars is 'n poging gedoen om in voeling te bly met Europese kuns, terwyl talryke sketse, veral oor die Voortrekkers, die historiese belangstelling aangekweek en wakker gehou het. So word b.v. aangedring op die publikasie van ou handskrifte: ‘Daar is al soveel in die laaste oorlog verlore gegaan, dat ons nou betyds moet begin om te red, wat nog te redde is.’ (15 Julie 1910.) Gesond was die letterkundige kritiek in die blad. Reeds in die eerste jaargang waarsku die opstelle-kommissie teen verhale met ‘awonture en kunsmatige verwikkelinge. Daarin moet die bekoring van 'n verhaal nie gesoek word nie, maar wèl in onopgesmukte voorstelling van buitengewone of gewone gebeurtenisse - met ware en rake tekening van karakters.’ (Des. 1910.) Die kritikus X verklaar: ‘Ons skrywers begin in te sien, dat die krag en betekenis van 'n verhaal nie geleë is in gesogte samevlegting van buitengewone gebeurtenisse, opsetlike mooi-soekery, maar juistheid van skildering, natuurlike voorstelling, diepte en waarheid van karakter-uitbeelding, selfs in wat grappig is.’ (15 Feb. 1911.) Dit is nog iets anders as die ‘gemoedprikkelende verrassingen’, waar De Goede Hoop na gesoek het! Ofskoon in die eerste jare die blote verskyning van 'n Afrikaanse boek al 'n gebeurtenis van belang was, laat die blad hom nie verlei nie tot wat G.S. P(reller) noem ‘onnadenkende, stereotiepe koerante- | |
[pagina 73]
| |
aanprysinge’ (15 Sept. 1913). Nadruklik word gewys op die waarde van elke boek vir die besonder Afrikaanse kultuurtoestand, maar steeds ook aangetoon, dat dit geen blywende maatstaf moet wees nie. 'n Mooi voorbeeld daarvan is J.F.E. C(elliers) se beoordeling van Stompies deur adv. J.H.H. de Waal. ‘Ons is bly met die verskyning van sulke werkies. Wat in ander land daarvan gesê mag word, gaat ons nie aan nie; ons weet net dat 't vir ons S.A. goed is, en dat manne wat hul daarop toelê om ons volk aan lees en aan dink en aan gebruik van sy eie taal te bring, alle lof verdien. Die skrywer siet goed in dat romanties aangelegde verhaaltjies, met 'n pikante sousie van awontuurlikheid of wonderbaarlikheid daaroor, meer lesers sal trek dan iets wat bepaald op letterkunde aangelê is, op karakter- en gevoelstudie van 'n fynere soort.... Nou die skrywer die groot publiek al by herhaling tevrede gestel het, spreek ons die hoop uit nog eendag 'n roman van sy hand te sien wat in diepgang, in gevoel- en karakterstudie, 'n letterkundige eersteling sal wees in ons wêrelddeel....’ (15 Jan. 1912.) Een van die trouste medewerkers was | |
Jan F.E. Celliers.Ga naar voetnoot1)As digter is hy bekend genoeg, maar dat hy ook een van ons verdienstelikste prosaskrywers is, daarop mag nog wel gewys word. In Die Brandwag het onder sy eie en onder verskeie skuilname heelwat prosastukke van hom verskyn, waarin hy op populêre wyse allerlei historiese, sosiale en wetenskaplike onderwerpe behandel. In dié stukke munt sy styl uit deur helderheid en logiese gedagtegang, eienskappe, wat dit dan ook bevatlik maak vir selfs onontwikkelde lesers. Die meeste daarvan is later herdruk in sy Afrikaanse Leesboek (1920) en in Ou Gawie en ander Verhale en Sketse (1924). Veel het hy ook gedoen om juiste begrippe oor kuns en meer besonderlik oor letterkunde te bevorder. In dié verband kan gewys word op 'n reeks artikels, getitel Lewe en Lettere in Die Burger, 1921,Ga naar voetnoot2) waarin hy blyk gee van 'n gesonde kunsopvatting, en ook op die artikel Lees, later herdruk in Ou Gawie. In die stadium van ontwikkeling, waarin ons volk tans verkeer, is so 'n causerie oor kuns van groot waarde. 'n Verdienstelike omwerking van 'n roman van Henri Bordeaux, Bang vir die Lewe, het van hom in Die Brandwag verskyn en is later opgeneem in Die Burger-leeskring (1919), waarvoor hy ook Colomba van Prosper Mérimée vertaal het (1920). In 1925 het ook nog verskyn Mannie, 'n vertaling van Halt se Histoire d'un Petit Homme. Ou Gawie en ander Verhale en Sketse (1924) is 'n herdruk van stukke | |
[pagina 74]
| |
uit Die Brandwag, wat tot die vroegste prosawerk van die Tweede Beweging behoort. Vir hierdie uitgawe het die skrywer taal en spelling gemoderniseer, ofskoon daar nog onafrikaanse vorme bly staan het. Op aantreklike wyse vertel hy van sy ontvlugting uit Pretoria gedurende die oorlog. In 'n stemming van sagte weemoed teken hy vir ons 'n paar figure, herinneringsbeelde deur die lig van 'n warme simpatie omglans. Geen forse uitbeelding hier wat ons direk aangryp nie; dis meer die mymeringe van 'n Afrikaanse Jonathan, wat op gevoelvolle toon vertel van verlore liefde. By die begin van die Tweede Beweging pas hy al die goeie beginsels toe, wat hy in Die Huisgenoot (Aug. 1919) aanbeveel - geen kakelbont avonture nie - maar studie van die mens. Die verhaaltjie Sy tel nie mee nie, in sy Leesboek is van 'n treffende innigheid en ook in Ou Gawie word ons verras deur fris beeldspraak: ‘Maar wie sê: die oumeid blus hom in 'n kits, met 'n meksimsarsie van kort en klein gekapte skree-woordjies.....’ (p. 14). Dit is veral in sy natuurbeskrywings, dat Celliers as woordkunstenaar verdienstelik is. Hier openbaar hy 'n fynheid van gevoel vir die kleinste klanknuansering, 'n liefde vir die woord, wat ons dan ook van hom as digter mag verwag. Skoonheid in die natuur bring hom in 'n jubelende ekstase: ‘O laat my hier verlore raak, hier altyd bly, hier sterwe as dit moet, want hier bereik die lewe sy hoogste heerlikheid, so naby die Onsienlike as nêrens anders nie....’ (Die Brandwag, Jan. 1917.) ‘Ons wil een word met die chaos van dartelende geluk en ongebondenheid. Ons wil verfrommel word in die mallende, krullende skuim. Ons wil onsselwe vergeet en verloor in die wilde vrye roes van uitjuigende, uitspattende beweging en krag....’ (p. 136). In sy uitgelatenheid laat hy die woorde om ons wirrel-warrel, soms wel in verbysterende veelheid, maar altyd vol suggestiewe klank. ‘Die see op die rotse! O, nêrens soos hier is die water 'n beeld van krag - dronk, mal van pret, van selfbewuste weelderige oordaad, homself oortreffend, oorrollend, oorbotsend in aksie-begeerte teen hindernis, swelgend in oordaad van alles-oorswalpende aanstorming, melk-wit oor-soppend die rotse se skulp-skurfte, swoep! opdoeffend teen blinde klip, oppluimend uitspattend in 'n wolk van skuim wat bo in puntjies uitpyl en wind-verwaaid neerswiets in die siedende karning omlaag; na aanstorming waggel-wild wegvallend elke keer, in rotstregters ingesuie, maar opgudsend weer na halwe wegsakking, in altyd-durende dans van strydlustige durf en ongeduld.’ (p. 138.)Ga naar voetnoot1) ‘Malkop-moedwillig spring waterdruppeltjies af van die oorleunende kranse bo, om te kyk wie die beste kan duik - met 'n stadig-lange swaai, net of die lug hul dra in hul val, seil hul neer, en pets op onse hande of val in die rivier naas die skuit.’ (Die Brandwag, Jan. 1917.) | |
[pagina 75]
| |
Sulke impressionistiese prosa is in ons letterkunde maar alte skaars! Noem dit navolging van die Tagtiger woordkuns as jy wil; praat van Querido-aanse oorlading - ook goed; maar hier is in elk geval 'n ontroerde, wat soek na treffende segging en juiste klank. Celliers raak nie alleen in vervoering oor die skoonheid in die natuur nie; hy is die peinsende wandelaar, wat steeds na dieper waarheid soek, telkens met 'n wondervraag stilstaan. ‘Pylsnel skiet 'n groot naaldekoker soos 'n blou bliksemstraal deur die lug en is weg met een van die stryders. En ek verwyder my, met die ewige vraag op my lippe, hier as in die groot wêreld daarbuite: Waarom, God, waarom?’ (Leesboek, p. 206.) ‘Die genius van die veld het die invloed op ons, dat ons telkens die vraag aan onsselwe doen: het ons lewe en bestaan op aarde 'n doel of is alles sommerso?’ (id. p. 204.) ‘Soek ons hier nie wat ons soek in die donker dieptes van ons eie gees, in elke ander gees, in elke oog, in boeke, in die natuur: wat is, waar is die groot geheim, is daar skoonheid, is daar waarheid vir my te ontdek?’ (p. 144.) Mooi plastiese uitbeelding is daar ook in Winter-môremark: ‘Kaffers wat werk toe gaan, loop met skouers hoog opgetrek, hande diep in die broeksakke, elke voet eina-eina neergeset, - almal ewe stuurs.... 'n Pikenien het 'n soldaatbaadjie aan; en as jy daar so inkyk, sien jy sy kaal pensie, en daaronder sy nakende maer beentjies, wat lyk of daar as aan kleef.’ (Leesboek, p. 133.) Vir 'n juiste begrip van Celliers se kunsopvatting is die volgende van belang: ‘Kuns is nie daar vir die kuns nie, maar vir die mens,Ga naar voetnoot1) omdat dit ook maar een van die middele in die mens se hand is in sy strewe naar geluk, deur waarheid, skoonheid, volmaaktheid.... In ons land het 'n skrywer 'n besonder moeilike taak: hy staan voor die moeilikheid dat die buite-bevolking ander leesstof nodig het as die dorpsbevolking; en hy mag die buite-bevolking nie sommer aan hul lot oorlaat nie, en sê, ‘ek bemoei my net met die dorpsmense’, omdat die Afrikaners te min in aantal is teenoor die inkomelinge van buite, omdat elke Afrikaner 'n onmisbare gewig in die skaal is vir ons taal- en volksbestaan. Die nasionale skrywer moet as-ware elke Afrikaner uitsnuffel en soek om hom 'n skool te gee, 'n meester, 'n boek, wat hy kan verstaan, wat hom voorlig en opvoed.Ga naar voetnoot2) Hier staan Celliers dus op dieselfde standpunt as Langenhoven en in verband met die se opvatting sal die vraag nader bespreek word.Ga naar voetnoot3) 'n Groot gedeelte van Celliers se prosawerk is dan ook suiwer didakties en ontstaan uit 'n drang om die volk op te voed tot 'n beter begrip van kuns. In dieselfde artikel sê hy verder: ‘Aan die ander kant | |
[pagina 76]
| |
staat die dorpsman, wat al gesnuffel en geproe het in die letterkundige tuin van die groot wêreld.... Aan hom moet ook gegee word wat sy smaak bevredig en wat enigsins 'n vergelyking kan deurstaan met die letterkundige voortbrengsels van die buiteland.... Die Afrikaanse kunstenaar moet dus nie altydGa naar voetnoot1) aan die beginner dink en gevoel of siening intoom nieGa naar voetnoot1) - hy moet daar dikwels die volle teuel aan gee en die allerbeste lewer wat hy kan....’ In sy poësie word die tweede gedeelte van die program uitgewerk, en gelukkig het dit weinig gely onder sy didaktiese en patriotiese geteoretiseer. As 'n digter ons kom vertel, dat hy nie altyd.... (sy) gevoel of siening intoom nie, m.a.w. dat hy dit soms tóg doen om vir die ‘beginner’ bevatlik te wees, dan sou ons verwag dat dit met sy kuns heeltemal misloop, hoe goed die bedoeling ook al mag wees. Gelukkig is dit by Jan Celliers meestal nie die geval nie. Wat C.R. de Klerk van Vondel sê, geld ook hier: ‘De beste schilders zijn niet zelden de onbeholpenste stamelaars als ze hun eigen werk trachten te duiden in woorden.’Ga naar voetnoot2) ‘Nut en stichting’, ‘nuttigheid voor de scholieren en opluikende jonkheid’, sulke woorde kry mens in meer dan een Berecht van Vondel, maar in sy beste werk, soos b.v. die Lucifer, vergeet hy totaal, dat hy die mense wou ‘verbeter’ en is hy veral 'n soeker van skoonheid. Verblydend is dit, dat Jan Celliers in die laaste tyd ook in sy teoretiese beskouing 'n veel juister standpunt inneem. ‘Geniale uitbeelding, plastiese voorstelling, dis die eintlike werk van die kuns, die letterkunde. En die uitbeelding is hier alleen goed as dit, daardeurheen, die gronde en dieptes laat sien, sonder dat dit die eintlike welbewuste doel van die kunstenaar was om bepaald sedelik of opbouend te werk te gaan, soos die predikant of die onderwyser. 'n Ware kunswerk kom alleen voort uit 'n vrye estetiese stemming of gevoel, wat sy doel bereik sonder dat dit lyk of hy 'n bepaalde doel gehad het. As die vrye uiting hom 'n rigting laat voorskrywe deur 'n sedelike of ander doel, word persone en toestande vanself verdraai, pasklaar gemaak, om aan die doel of strekking diensbaar te wees, en dan is so 'n werk, as kunswerk, nie meer van die beste nie.’Ga naar voetnoot3) In Kuns in Lewe en Kultuur (1933) bespreek hy vir oningewyde lesers enige grondbegrippe o.a. kuns en sy doel, skoonheid, lelikheid, die wese van poësie en prosa. Sonder enige geleerdheidsvertoon gesels hy padlangs oor kunssake, en illustreer sy menings met pakkende voorbeelde uit die daaglikse lewe. Hy wil van sy lesers ‘skoonheidsgenieters en daardeur lewensgenieters’ maak. Hierdie verhandeling kan veel daartoe bydra om gesonde opvattings oor kuns onder die breë volkslae te | |
[pagina 77]
| |
bevorder. Jan Celliers het met liefde en kennis van sake geskryf en vind ook geleentheid om op ernstige volksgebreke te wys. Die kunsopvoeding van ons volk word verwaarloos omdat ons jongmense voortgedrywe word deur die ‘eksamensweep’: ‘Onthou die vrag feite. Dis al wat verlang en gevra word. Moenie verder vra en vergelyk en nadink nie. Jy moet daardie berg op. Wie die eerste bo is, kry die diploma (en die beurs).’ Ook die onoordeelkundige navolging van buitelandse gewoontes word gelaak: ‘Om sy beste te lyk het die Afrikaner nie uitlandse opskik nodig nie.’ Hoe nodig is nog steeds hierdie waarskuwing: ‘Daar is dieper politiek as die lawaaimakerige staatkundige of partypolitiek van ons....; dis die politiek wat al daardie baie blaaskaakpolitiek moet ondermyn en onnodig maak, deur mense op te voed, nie alleen wetenskaplik nie, dog veral in die skone en harmoniese.’ Daar is natuurlik baie bewerings wat kan betwis word. Weinig ingewyde lesers sal saamstem met die skrywer se uiteensetting van die teorie: die kuns om die kuns, en sy vooroordeel teen die nuwe skilderkuns. Bevreemdend maar begryplik is sy voorliefde vir ouer Nederlandse digters soos Bilderdijk, Beets e.a. en sy onmag om Gorter se Mei te waardeer. Maar sy waardevolle uiteensetting van grondbegrippe toon dat hy 'n veel suiwerder kunsbegrip het as sy leermeesters uit die negentiende eeu. Letterkunde is vir hom ‘'n besielde mededeling van een of ander.’ As die besieling maar daar is, kom dit weinig op die onderwerp aan: ‘Daar is gedigte oor muggies wat mooier is as gedigte oor God, omdat die een kunstenaar ons meer van God in 'n muggie laat sien as die ander in God self.’ | |
Iz. van Heerden - (Vaalswaer).Onder die jagstories, wat in Die Brandwag verskyn het, verdien die reeks Herinneringe van 'n Jagter deur Vaalswaer vermelding. Dit is geen geweldige avonture wat hy verhaal nie. So af en toe vleg hy wel 'n klein anekdote in, maar hy is in die eerste plaas die peinsende jagter, wat onder die bekoring van die bosveld sy gedagtes vrye loop gee en met 'n paar trekkies mooi 'n stemming aandui. 'n Goeie voorbeeld daarvan staan in die nommer van i Oktober 1916. Vaalswaer is in 1870 in die distrik Cradock gebore. Sedert 1905 het hy met Preller saamgewerk in die taalstryd, o.a. as sekretaris van die A.T.G. Met sy eggenote, Tannie, woon hy nou op Potgietersrust.
Die Brandwag bevat ook verskillende goed geslaagde oorlogsverhale deur Gustav Preller, wat later gebundel is onder die titel Oorlogsoormag. Onder die groot aantal verdienstelike kort stories verdien die volgende veral aandag: Die Bymot deur Carl Jeppe (15 Des. 1910); Sy Terug- | |
[pagina 78]
| |
koms deur Steph. Maré (1 Des. 1912); Wraak deur J.F. Engelbrecht (15 Des. 1912); 'n Brief deur H. (1 Des. 1915). Van sulke min of meer onbekende outeurs sou daar 'n mooi bloemlesing kan saamgestel word. As vervolgstorie het vanaf 1 Oktober 1914 verskyn 'n roman in Afrikaans: Die Niggies van die Kommandeur deur J.F. van Oordt (1856-1918), 'n skrywer, wat onder die naam D'Arbez 'n hele reeks Hoog-Hollandse romans gepubliseer het.Ga naar voetnoot1) |
|