Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging
(1939)–P.C. Schoonees– Auteursrecht onbekend
[pagina 33]
| |
§ 13. Verdere Ontwikkeling (1926-1937).
| |
[pagina 34]
| |
verhale waarin ‘knap kêrels en mooi nooiens’ moes optree. Hierdie groep het alleen na verstrooiing gesoek, of hoogstens na verhale met 'n vertroostende boodskap wat hulle kon help om al die narigheid rondom hulle vir 'n oomblik te vergeet. Die kunstenaar moes hom beperk tot die sonkant van die dinge, moes die lewe deur 'n rooskleurige glasie bekyk en alleen die bekoorlike en aantreklike laat sien. Hulle het nie begryp dat die ware kunstenaar ons nooit narigheid-sonder-meer gee nie, soos die bioskoop, waar 'n aardbewing, 'n veldslag of 'n agterbuurt-toneel outomaties afgedraai word. So 'n werklikheidskopie laat ons wanhopig huis-toe gaan, sonder enige lewensverryking. Maar die kunstenaar kan selfs die afskuwelikste, mees troostelose werklikheid omskep tot skoonheid, omdat hy dit met so 'n groot liefde en met so 'n skerp blik deurskou dat wat vir ons waardeloos en stuitlik gelyk het, meteens diepe betekenis kry. Ook wanneer hy oor narigheid en ellende skryf, verryk hy ons siel, omdat hy ons help om die lewe dieper te deurgrond. | |
Speurdersverhale.Die lewensvervalsing en vose Hollywood-romantiek, wat tot op ons kleinste dorpies deur die bioskoop gepropageer word en verder bevorder word deur die magtige stroom van oppervlakkige amusements-literatuur, wat soos 'n rivier-sonder-end ons land binnedring - daarin skuil miskien die grootste gevaar vir die opbloei van 'n gesonde volkslektuur. Net soos in ouer lande is ons beste skrywers, wat bokant die volk uitstyg, onmagtig om die groot massa te bevredig. Hoe ingewikkelder ons romans word, hoe meer ons skrywers hulle daarop toelê om die waarom van die verhoudinge en wanverhoudinge waaronder ons leef te peil in plaas van 'n aantreklike skynwêreld te skep waardeur 'n mens uit hierdie aardse tranedal kan ontvlug, hoe breër sal die kloof word wat hulle skei van die lesende massa. Die gemiddelde leser gryp altoos terug na die primitiewe, die rudimentêre, en omdat ons moderne samelewing so tegnies volmaak gereël en so veilig is dat die outydse romantiek amper daaruit verdwyn het, moet hy op die ashope van die beskawing 'n paar oorblyfsels daarvan gaan uitkrap. Vandaar die voorkeur vir speurverhale en die verheerliking van die misdadiger, wat deur sy vernuf die maatskaplike bande verbreek. Die primitiewe mens wil in die verbeeldingswêreld van die roman die geluk gryp wat hom in die daaglikse lewe ontsnap. In die misdadiger en speurder bewonder hy die moed, die gewikstheid, sluwe verstand en opstandigheid wat in sy eie karakter ontbreek. Hierdie verskynsel is natuurlik internasionaal, maar vir 'n letterkunde wat nog pas aan sy begin is, bring dit ernstiger gevare mee as in ouer lande, waar die ryk kultuurskatte van die verlede 'n stewige teëwig vorm. Net soos in ons propagandaperiode die avontuurverhaal met gejuig binnegehaal is, so is daar tans weer 'n neiging om die groot afset | |
[pagina 35]
| |
van speurverhale as 'n bewys te beskou van die groei van 'n nasionale letterkunde. Ons het daarin geslaag om meer leeslus op te wek by die Afrikaner, maar ons het nog nie besef dat verkeerd-lees 'n positiewe gevaar kan word nie. Sou ons leiers op onderwysgebied werklik so naïef wees om te meen dat hulle die waardering van ons letterkunde bevorder deur die vertaalde ‘crime thrillers’ van 'n Engelse outeur vir openbare eksamens voor te skrywe? Toe Langenhoven in 1926 die eerste Afrikaanse speurverhaal, Donker Spore, geskrywe het, het hy 'n poging gedoen om, soos Ivans in Nederland, daaraan 'n nasionale karakter en 'n nasionale sfeer te gee. Ofskoon ander skrywers ook iets in hierdie rigting gedoen het, is ons speurverhaal tog in wese on-Afrikaans en hou dit weinig rekening met die Afrikaanse werklikheid, selfs al word daar 'n Afrikaanse kleur aan gegee deur onbelangrike uiterlikhede. Jacques Malan het hierdie eienskap van Hendrik Brand se verhale goed gekarakteriseer: ‘They are, on the whole, competently written and ingeniously put together, but it is the sort of competence and ingenuity that achieves itself in domesticating a local and unlikely species of the Dillinger beast and inbreeding super intellectualised detectives; that represents South Africa as swarming with bloodlusting Bolsheviki and imported Voodoo sorcerers; and that for good measure, seriously stages a 300-page comic opera, in which rival royalist and red revolutionary gangs battle for the possession of the heir to a Balkan throne, who, with crown jewels and royal instincts intact, loses his way into South Africa.’Ga naar voetnoot1) Die Afrikaanse speurroman kan nouliks beskou word as 'n aanwins vir ons ontspanningslektuur, omdat dit al die gebreke van sy buitelandse boeties openbaar. Dis eenvoudig die produk van 'n letterkundige nywerheid wat hom daarop toelê om sinledige tydverdryf te verskaf aan die groot massa. In die periode 1926-1937 het daar meer as twintig bundels speurverhale verskyn, en ons drukperse kan nie voorbly om al die eindelose avonture van geïmporteerde standaard-helde uit te draai nie. Hierdie verkwisting van kosbare volkskrag moet ons droewig stem. Dr. P.H. Ritter Jr. meen dat in die speurverhaal ‘een kans tot verinnerlijking aanwezig is’, omdat dit so 'n pragtige instrument kan word vir sosiale satire. Dit moet die mensdom leer om oor homself te lag en ‘de conventie van het vulgaire’ bespotlik maak. Daar is 'n hunkering by die moderne mens om te ontsnap uit die tegniese gevangeskap van ons eeu. ‘Maar het beloofde land ligt niet in het atelier van den detective die zich met de studie der chemische moordmiddelen bezig houdt en die bestemd, ja gedoemd is om met zijn technische instrumenten en zijn technisch vernuft de overwinning te behalen, neen het ligt in den sterren- | |
[pagina 36]
| |
hemel boven ons, het ligt in de eeuwige ijszeeën en oerwouden die onze geestelijk zoo povere cultuur omringen, en welke te doordringen de taak der helden is van dit geslacht. Het ligt ook in den mensch zelf, wanneer hij zich uit zijn technisch corset heeft bevrijd, wanneer hij zich ontworsteld heeft aan de als een looden last op ons liggende gemakzucht. Het ligt in den mensch zelf, die nog altijd belangstelling en liefde heeft voor planten, bloemen en dieren....’Ga naar voetnoot1) Dit sou jammer wees as die gesonde, opvoedende ontspanningslektuur wat Langenhoven en ander skrywers ons gegee het, moet verdring word deur kriminalistiese romans. Ligte lektuur, uit 'n gesonde lewensopvatting gebore, kan 'n groot bate wees in ons kultuurstryd, maar daar moet gewaarsku word teen verhale wat deur gemis van skoonheid en gemis van sedelike kern slegs die volksiel kan skaad. | |
Veranderende Toestande.Die moderniseringsproses word in hierdie periode met versnelde tempo voortgesit. Suid-Afrika is deur die ontwikkeling van snelverkeer en radio, deur sy goud en diamante, handel en industrie, vir goed uit sy betreklike isolasie geruk en ingeskakel in die ekonomiese wêreldmasjien, waarin die ou lewensverhoudings onverbiddelik fyn gemaal word. Tot op die verafgeleë plaas word die boer gedwing om rekening te hou met die eise van die wêreldmark; hy word verplig om ‘agter geld aan te boer’, soos Hobson dit noem in Geluksvlei, waarin die kontras tussen die ou en die nuwe boerderymetodes op saaklike wyse beskrywe word. Maar die verandering is nie slegs beperk tot uiterlikhede wat bepaal word deur ekonomiese vereistes nie. Die jong plattelandse boer het radikaal afgewyk van die lewensbeskouing van die ouer geslag. Hy het opgegroei onder glad ander toestande, het nooit die rus en eenvoudige genoeëns van die ou boerekultuur geken nie, want van sy vroegste jeug af het hy sy ouers sien sukkel om te bestaan op 'n plaas wat skaars die rente van die verband kon opbring. Hy het hulle sien worstel met sprinkane en droogte, en hy het beeste en skape help oppas wat almal die regeringsbrandmerk gedra het. Met staatshulp het hy na die hoërskool op die dorp gegaan, waar hy 'n voorsmaak gekry het van die onbegrensde moontlikhede van sensasie en emosie wat die moderne tegniek vir almal bereikbaar stel. En daarna het hy Rand-toe gegaan. Ongeveer so word die tragiese ondergang van die ou tipe boer in ons letterkunde geskilder. Uitstekend het C.M. van den Heever die botsing tussen outydse plaasdeeglikheid en stedelike ontaarding geteken in sy roman Groei, waarin 'n hele reeks verteenwoordigers van ons volks- | |
[pagina 37]
| |
kultuur, beide in die stad en op die platteland, die revue passeer. Hulle verkeer almal in verskillende stadia van modernisering, en in die ekonomiese vagevuur smelt al die oorgelewerde sedelike en godsdienstige pantsers weg. Nuut is die behandeling van hierdie probleem natuurlik nie, want Lub het al daarmee begin in sy bundels sketse (1908-1918), Totius het getreur by die ‘Goue Grawe’ van sy volk (Trekkerswee, 1915) en Grosskopf het dieselfde motief behandel in die toneelstuk 'n Esau (1920). Ons kan egter verwag dat in die naaste toekoms nog veel meer aandag sal gewy word aan die probleem van denasionalisering. Sedert ongeveer 1927 vind daar 'n gestadige verskuiwing van die platteland na die stede plaas, en gedurende die afgelope drie jaar het hierdie verskynsel so opvallend geword dat dit soms die Tweede Groot Trek genoem is. Deur hierdie verskuiwing kan die grondveste van die Afrikanerdom ondermyn word, want in die groot-stad-atmosfeer het die Afrikaanse Gedagte nog altoos gedreig om dood te kwyn. C.M. van den Heever meen dat mettertyd ‘'n nuwe tipe Afrikaner’ sal ontwikkel; maar ofskoon daar aanduidings is dat die stedelike Afrikaner begin rigting kry, ‘moet daar nog veel gearbei word voordat die Afrikaanse Gedagte hier 'n eie gestalte sal aanneem.... Dit is of die Afrikaner die herinnering aan sy vroeëre lewe vergeet het. Met die glansende vernis van 'n half-begrepe stedelike lewensopvatting pronk hy baie vrolik rond en met 'n glimlag van hooghartigheid praat hy van die plaasmense’ (Die Afrikaanse Gedagte). Meer optimisties is Abel Coetzee, wat in sy studie, Die Groei van die Afrikaanse Gedagte aan die Rand, op tallose tekens van vooruitgang wys. Deur 'n georganiseerde verenigingslewe is 'n poging gedoen om al die verskillende stande bewus te maak ‘van die band wat hulle aan gemeenskaplike kultuurbelange verbind.’ Rusoord word in 1932 gestig en daardeur kan die saamhorigheidsgevoel ontwikkel word. Die Afrikaanse gemeenskap aan die Rand is egter nog nie kapitaalkragtig genoeg om op ekonomiese gebied veel te presteer nie. | |
Die Afrikaanse Skrywerskring.Op letterkundige gebied het Johannesburg in die afgelope paar jaar die sentrum van heelwat bedrywigheid geword. Onder voorsitterskap van C.M. van den Heever het 'n aantal outeurs 'n Skrywerskring gevorm, wat deur 'n jaarlikse oorsig van ons boekeproduksie en talryke bydraes in die pers, die belangstelling in letterkundige sake aanwakker. In 1936 het die eerste Jaarboek van die Kring verskyn, wat behalwe oorspronklike werk van hoë gehalte, ook persoonlike onderhoude met ouer en jonger skrywers bevat. Daardeur het die Jaarboek 'n waardevolle bron van inligting geword omtrent die werkplan en strewe van ons skrywers. | |
[pagina 38]
| |
Ons volk het nog lank nie die stadium bereik waarin ‘politieke baldadigheid versober tot kultuur-erns’ nie, maar die goeie ontvangs van hierdie Jaarboek bewys tog dat daar 'n intellektuele kern is, wat nog in ander sake belangstel as mosies van vertroue en wantroue. Die strewe van die Skrywerskring is o.a. om saamwerking te soek met Dietse letterkundiges, en deur openhartige bespreking van literêre kwessies mee te werk ‘aan die verskerping van ons skoonheidsgevoel’. (Voorwoord, Jaarboek 1936). | |
F.A.K.Op Johannesburg is ook die hoofkantoor van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge wat in 1929 gestig is om koördinasie van alle verstrooide kultuurkragte te bewerkstellig en deur 'n gesamentlike program van aksie leiding te gee. ‘Ongeveer driehonderd Afrikaanse vereniginge, sommige selfs in Kenia, Rhodesië, Suidwes-Afrika en Holland, het hulself verenig in die gemeenskaplike strewe om die volkseie, gegrond op die godsdiens en tradisies van die Afrikaner te beskerm en te ontwikkel.’ Gedurende die periode 1929-1937 het die F.A.K. inderdaad die ‘opvang- en uitsaaistasie van alles wat die Afrikaner kaner eie is’, geword. Aanvanklik is veral gekonsentreer op taalhandhawing, maar gaandeweg is besef dat die begrip kultuur die totale geestelike besit van die nasie moet insluit. Wie die sekretariële verslae van die F.A.K. deurblaai, sal dadelik opmerk dat daar haas geen terrein van die volkslewe is, waarop die F.A.K. nie vrugbare arbeid verrig het nie. Deur die stigting van 'n Nasionale Kultuurraad wil die F.A.K. tans ook die ekonomiese kragte van die volk konsolideer en aldus 'n eenheidsfront skep wat moet uitgroei bo die party-politieke verdeling tot ‘'n hegte saamsnoering van die lede van ons volk op Christeliknasionale grondslag.’ Baie ondernemings wat die F.A.K. aangepak het, is nog maar in die beginstadium, maar die praktiese resultate wat reeds bereik is, toon op oortuigende wyse dat hierdie organisasie die belangrikste stootkrag van die Tweede Beweging geword het. Dit het die Afrikaner tot in die verste uithoekie van ons uitgestrekte land en ook ver buitekant ons grense 'n helder omlynde doel gegee wat in sy onmiddellike omgewing prakties uitgewerk kan word; dit het hom laat besef dat deur eendragtige strewe die hoogste ideale van die volk kan verwesenlik word. | |
Die opkoms van die Individualisme.Ook in Kaapstad het daar op letterkundige gebied nuwe lewe ontstaan deur die stigting van die Vereniging vir die Vrye Boek (1936). Hierdie liggaam wil 'n poging doen om ons te verlos van die heerskappy | |
[pagina 39]
| |
van die Voorgeskrewe Boek, wat gedurende die afgelope twintig jaar grotendeels die geaardheid van ons letterkunde bepaal het. Omdat die omset van die Afrikaanse boek so klein was, is die uitgewers gedwing om altoos rekening te hou met die eise van skool en universiteit. Op taalkundige gebied het dit die voordeel meegebring dat die meeste uitgawes deur bevoegde persone nagesien is en daar dus binne enkele jare 'n einde gekom het aan die taalverwarring wat so 'n kenmerk was van die propagandaperiode. Uit 'n artistieke oogpunt egter, het die eise van opvoedkundiges die ontwikkeling van ons letterkunde belemmer. Die digter N.P. van Wyk Louw, sekretaris van die V.V.B., verklaar: ‘'n Volk wat tot skoolboeke beperk is, moet geestelik onmondig bly; maar dit wil hy nie - hy keer hom eenvoudig van so 'n letterkunde af en soek wat hy wil hê, langs ander paaie.’ Hy wys daarop dat die volksbeweging 'n moderne bewussyn geskep het, maar dat die letterkunde daarmee geen tred gehou het nie: ‘Dié het van die ouer patriotiese en historiese kuns gegroei tot 'n gemoedelike lokale realisme, wat mooi dinge in sy soort voortgebring het maar die laaste erns en die verbete eerlikheid wat die moderne uiting is, nie het nie. Hierdie boeke is dikwels in suiwer taal geskrywe en vorm goeie en gesonde skoollektuur, maar is nie gegryp uit die naakte ervaring van ons mense en praat nie reguit tot hulle hart nie. Want dié ervaring is nie meer gemoedelik, nie meer eenvoudig en landelik nie; dis ook nie 'n intellektuele gepeuter met verouderde kultuur- en huislike probleempies soos by baie van ons skryfsters en skrywers nie.’ As ons hierdie uitspraak vergelyk met Langenhoven se bekende ideaal om 'n boek te skryf ‘wat genot verskaf by die veewagterskraal en nie benede die hoogsgeleerde universiteitsprofessor is nie’, dan besef ons eers goed hoe vinnig toestande op letterkundige gebied verander het sedert 1922. Ons eerste digters het deur hul geïnspireerde vertolking van die volksideale direk die hart van die nasie geroer. Ons eerste prosaïste het - die meeste met meer ywer as gloeiende hartstog - dapper meegehelp aan die grootse taak van nasiebou deur aan die groot massa eenvoudige leesstof te verskaf. Die kuns van hierdie tyd was algemeen verstaanbaar, en elke nuwe skrywer is met triomf binnegehaal, selfs al het hy slegs 'n rousteentjie bygedra vir die binnemure van die groot kultuurgebou. Langsamerhand kom nou egter die individu uit die massa te voorskyn - 'n ontwikkeling wat ooreenkom met dié van ander lande. Die jongeres, wat 'n intensiewe studie gemaak het van die Wes-Europese lettere, is nie meer tevrede met 'n ‘lokale literatuurtjie’ nie waarin die skrywers veral die tipies Afrikaanse benadruk, maar hul verwag 'n letterkunde wat in alle opsigte gelykwaardig sal wees met die beste uit die buiteland. Daar is in hul werk 'n verskerping van die selfbesef, 'n groter | |
[pagina 40]
| |
bewuswording van die persoonlikheid, 'n nuwe kontak tussen Ek en Wêreld. Hul sterk lewensgevoel eis ‘een stuk leven, naakt, kaal, waar menschleven’ soos Kloos dit genoem het. Luister maar na die nuwe geluid in N.P. van Wyk Louw se Grense: My naakte siel wil sonder skrome
in alle eenvoud tot jou gaan,
soos uit diepe slaap ons drome
soos teen skemerlug die bome
opreik na die bloue maan;
gaan met al sy donker wense,
en die heil'ge nooitgehoorde
dinge sê, waarvoor die mense
huiwer, en wat om die grense
flikker van my duister woorde.
Van Wyk Louw het in 'n belangrike artikel, wat ons meteen die program en kort begrip van die nuwe kuns kan noem, die doel en strewe van die jongeres nader uitgewerk. (Die Rigting van die Afrikaanse Letterkunde, Die Huisgenoot, 5 Junie 1936). Die ou lewensvorm is by ons verbreek deur (1) die trek na die stede; (2) die verdwyning van die idilliese plaaslewe; (3) die klasverdeling. Ons worstel nou met presies dieselfde probleme as die Wes-Europeër, en die tydperk van ‘speel met moderniteit’ in die literatuur het verbygegaan. Die Afrikaanse gemeenskap is tans besig met die langsame oorgang van geestelike kolonie tot volk. ‘Ons moet nog daartoe kom dat ons volksliteratuur die spieël word van alles wat in ons omgaan. As Afrikaans by die tipiese, by die besondere wat altyd die onware is, bly, as hy by die lokale bly, dan is hy tot doodloop gedoem.... Alles, maar ook alles wat die moderne mens roer, wat sy vreugde of smart maak, moet ook in ons literatuur sy neerslag kry. Ons mag nie meer terugdeins en sê dit is te gekompliseer vir ons eenvoudige beskawing, dit is te gewaagd of diepsinnig nie. Die Afrikaner is bloot moderne mens in 'n Afrikaanse omgewing.’ Hierdie stelling is, myns insiens, alleen waar van die boonste laag van ons samelewing. Die middelste laag het wel reeds veel van die tradisionele opvattings oor boord gegooi, maar is tans besig met 'n moeisame aanpassingsproses, terwyl die onderste laag nog kultureel onbewus is. Wie dus ons kulturele ontwikkeling nugter beskou, sal moet erken dat Van Wyk Louw se toekomsdroom van 'n nuwe letterkunde waarin ‘die begrip van 'n beperkte volkseienaardigheid (moet) verdwyn voor die begrip van volledige menslikheid binne 'n volksverband’ nie so gou sal verwesenlik word nie. ‘Hierdie nasie-wording,’ beweer hy, ‘moet | |
[pagina 41]
| |
in ons literatuur in hierdie geslag nog kom, anders kom hy te laat’. Maar in plaas van ons te verdiep in onvrugbare bespieëlinge oor wat die toekoms mag bring, is dit van veel meer belang om na te gaan hoe die jongeres oor die teenswoordige stand van ons letterkunde dink en wat hulle strewe is. Van Wyk Louw besef dat 'n letterkunde ‘sonder die ewige stootkrag van die volkswil en volksmart’ waardeloos sou wees, maar naas die gesonde volkskuns eis hy 'n plek op vir ‘die strengste persoonlike uiting van die universele belewing’. Die grondslag van die nuwe kuns moet wees ‘die eerlike, strenge deurdink van die moderne lewe, soos uit ons nasionale standpunt gesien, met behulp van die groot wysbegeerte van alle tye’. Die verhouding tussen man en vrou was tot nog toe slegs ‘'n kleinburgerlike sakie van vry en trou’. Teenoor hierdie ‘botte verswyging’ moet gestel word ‘die saaklikheid en eerlikheid van die moderne seksbelewing’. Ook C.M. van den Heever bestry die mening dat ‘net sekere kantjies van die menslike persoonlikheid uit die geheel gelig moet word en dat 'n groot deel van die mens se ervaringslewe daarom taboe is’. (Die Brandwag, 12 Junie 1937). Van Wyk Louw wys verder daarop dat 'n groot deel van die werkslewe van wit en swart nog nie in ons letterkunde uitgebeeld is nie; dat die naturel en die kleurling nog slegs as vyande of ‘simpatiek-humoristies vanuit die burgerlike standpunt’ beskrywe is, maar nog nooit as werklik lewende mense nie. Hy erken dat daar veel stigting en lering in ons letterkunde te vinde is ‘maar die groot godsdienstige poësie, die uiting van die mens se onmiddellike verhouding teenoor die Heelal, die gesprek van die mistikus met God asof hulle alleen teenoor mekaar staan in die oneindigheid - hierdie dinge kom nie in 'n lokale literatuurjie voor nie’. Hierdie nuwe lewenshouding sal natuurlik ook meebring 'n nuwe styl met 'n sterk persoonlike aksent: ‘Die skrywer moet alle toevalligheid van omgewing en stand van hom afstroop om alleen die essensiële te kan sê; hy moet hom teenoor sy onderwerp plaas asof hulle alleen in die wêreld was, en sy woorde moet eerlik wees soos sterfbedwoorde’. Op die gebied van die poësie het die jongeres reeds getoon dat hul dit nie by teoretiese bespieëlinge gaan laat nie. En ook in ons prosa klink daar sedert enige jare 'n nuwe geluid op by ons beste skrywers. Daar is natuurlik nog baie outeurs wat hul tevrede stel met 'n aaneenryging van gesellige anekdotes sonder enige lewensopenbaring, baie oppervlakkige realiste wat die werklikheidsbeeld nie tot simbool kan vergeestelik nie. Maar by die werklike kunstenaars kry ons 'n eerlike worsteling met die felle lewensprobleme, wat in die dramatiese verwikkeling en in die psigologie van die romankarakters tot 'n skone verbeelding groei. Van Wyk Louw meen dat daar reeds voorlopers van die nuwe prosakuns aangewys kan word. ‘By ou Datie in Droogte, hier en daar in Booia, en in Haar Beproewing, flikker 'n nuwe felheid wat 'n | |
[pagina 42]
| |
harder en kragtiger kuns voorspel.’ Reeds in 1929 egter, het P. de V. Pienaar met Skakels van die Ketting, waarin die geslagslewe van 'n ontwikkelende seun op die moderne ‘naakte’ wyse ontleed word, 'n rilling oor die land laat gaan. Dr. F.C.L. Bosman het dadelik gewys op die baanbrekende betekenis van hierdie werk: ‘Hierdie skrywer en uitgewer toon dat hulle gelukkig besef dat daar ook 'n ander lesende publiek bestaan wat lewenswaarheid en nie lewensvervalsing wil hê nie, en wat begryp dat jy die swere in die maatskaplike liggaam nie gaan genees deur dit te probeer doodswyg nie.’ (Die Huisgenoot, 24 Jan. 1930). Omstreeks 1933 kom die vernuwingsverskynsels in ons prosa nog beter aan die lig in die werk van C.M. van den Heever, Jonker en P. de V. Pienaar. Hierdie skrywers stel hul nie tevrede met knap vertelde gebeurtenisse of 'n interessante kopie van die werklikheid nie, maar by hulle vind ons lewenskonsentrasie en lewensintensivering in 'n heg geboude raamwerk. Deur skerp indringende analise openbaar hulle die innerlike lewe van hul karakters tot in die fynste skakerings. Uit die gewirwar van die daaglikse lewe gryp hulle die essensiële, en bou daaruit vir ons op 'n klare lewensbeeld. As ons die kortverhale en romans van hierdie skrywers vergelyk met die werk van die vorige periode, dan blyk daaruit duidelik hoe hulle nie meer tevrede is met die buitekantse dop van die lewe nie, maar dat hulle besig is om die interessante moontlikhede van die mens se binnewêreld te ontdek. By hulle tref ons aan nie slegs die deernis vir die armes en gesonkenes nie, maar ook die lewenskonflikte van die ontwikkelde, wat losgeruk is van die bodem waarin hy gegroei het en nou onseker rondtas na nuwe steunpunte in 'n vinnig veranderende maatskappy (Vgl. Groei en Kromburg). ‘Die raaisel van lewe en dood, die doel van ons bestaan, die lyding van die mensdom, die lewensmagte wat hul gedurig om en in ons openbaar, al dié dinge is brandstof vir die aangebore konflik-natuur, wat meer hou van 'n botsing as van 'n praatjie, meer van 'n waterval as van 'n gemoedelike stroom.’ (P. de V. Pienaar in Jaarboek 1936). Dadelik merk ons die ooreenkoms op tussen Pienaar se strewe en dié van Van Wyk Louw. Die jonger skrywers soek nie slegs na nuwe temas nie, maar hulle openbaar 'n heeltemal nuwe lewenshouding. Daar is 'n strewe na universaliteit, 'n bewuste poging om die groot kernprobleme van die lewe aan te pak, met totale verwaarlosing van alle onbelangrike bykomstighede. Die werklikheid is alleen van belang omdat dit 'n onderdeeltjie vorm van die visioen wat hulle gekry het op die lewensprobleem. Hulle streef ook nie daarna om die werklikheid ‘weer te gee’ deur 'n katalogusagtige opsomming van sy uiterlike verskyningsvorm nie, maar probeer om dwarsdeur die skyn te gryp na die kern. Hulle het veel geleer van die Na-Tagtigers deur wie se leier hierdie lewenshouding die beste geformuleer is: ‘De moderne dichter wantrouwt de natuur, de verschijning, de schijn, de huid der werkelijk- | |
[pagina 43]
| |
heid. Daarom doorboort hij haar, op zoek naar de kern. Hij neemt geen photo's van de uiterlijkheid, maar röntgen-photo's van het innerlijk organisme. Hij doorgraaft de opperlagen naar het verborgen goud. Hij is ontdekkingsreiziger met de reisdrift van Sven Hedin, en de scherpe zakelijkheid van een ingenieur. Hij verijlt niet in romantische fatamorgana, hij is ingesteld op de onmidlijke realiteit....’ (De Anatomische Les: H. Marsman). Die strewe na verinnerliking, die begeerte om die diepste roersels van die siel bloot te lê, kan ook opgemerk word in die werk van skryfsters soos Sophie Roux, T.C. Pienaar, Karin en Hettie Smit. Hulle het ons verlos van die klewerige sentimentaliteit en die oppervlakkige behandeling van die liefdesmotief in so baie ‘krymekaar’-verhaaltjies, en ons daaraan herinner dat daar in die liefde iets ewigs is, 'n krag tot veredeling, 'n drang wat tot geestelike ontplooiing lei. Sophie Roux verkondig in Wrede Grense opvattings oor die huwelik wat in die buiteland al lank onder die ‘bevryde’ vroue in omloop is, maar slaag beter in Fyn en Broos waar sy die ontluikende vrouelikheid van Tilde uitbeeld. Hettie Smit het ons verras deur 'n onopgesmukte, openhartige ontleding van die smart van die nie-begeerde vrou. Met 'n tot nog toe ongekende vrymoedigheid spreek sy die vroulike eie-aard van haar liefde uit in 'n fris, persoonlike styl wat tril van gepassioneerde hewigheid en soms snik van skrynende hartseer. Met haar ‘onrustige gespletenheid, die onvoldane twee-ding met die ewige innerlike debat’ sluit Hettie Smit aan by die individualisme van die jonger digters. Sy is een van die vroue van wie Nine van der Schaaf gesê het: ‘Wij dragen de sublieme oogenblikken van de droom, tot een intens besef van geluk en dood, mee in de grauwheid, de lust en de veranderlijkheid van het leven....’ Dit is nog te vroeg om nou reeds te voorspel dat die individualistiese rigting 'n kragtige vernuwing in ons letterkunde gaan te weeg bring. Ons het te doen met jong kunstenaars wie se ontwikkeling nog lank nie afgeloop is nie en nog baie verrassings kan oplewer. Daar is egter genoeg aanduidings dat by ons jong kunstenaars kragte aanwesig is, so streng persoonlik en suiwer, dat hul werk daarvan die merke sal moet dra. Naas die felle bewuswording van die verlangens van hul eie hart, naas die eensaamheidsgevoel, wat die modern ontwikkelde mens telkens terugdryf in die spelonk van sy eie siel, is daar by die jongeres 'n begrypende simpatie vir die node van hul volk, wat nou in so 'n kritieke oorgangsperiode worstel met al die probleme van die grootstadslewe. (Vgl. byv. Groei.) As ons let op al die tekens van die jongste tyd, dan kan ons saamstem met hierdie uitspraak van dr. I.D. du Plessis: ‘Ek glo dat die tyd van letterkundige popspelery in Afrikaans verbygaan; dat die skrywer nou sy mees intieme gewaarwordinge in onomwonde taal moet openbaar; en dat die bloedarmoede waaraan ons letterkunde ly, | |
[pagina 44]
| |
dan eers genees sal word wanneer ons 'n gespierde, volbloedige behandeling van lewenswerklikhede soos godsdiens, geslagsdrif en die geskiedenis kry in plaas van die verwaterde beskouings wat vandag nog gangbaar is.’ As hierdie ontwikkeling nog veel langer vertraag word, dan bestaan daar 'n groot gevaar dat ons intelligentsia heeltemal afkerig sal word van ons eie letterkunde. Langenhoven en sy medestanders het jarelank geesdriftige pleidooie gelewer vir ‘die arme sukkelaars op die nederigste onderste sportjie’. En heeltemal tereg ook. Maar die toestande het in die afgelope vyftien jaar so verander dat ons wel mag dink aan die mense op die middelste en boonste sportjie, daardie ontwikkeldes wat na meer as oppervlakkige verstrooiing soek. Jaar na jaar verskyn daar 'n groot aantal nuwe prosawerke, en die produksie neem sulke afmetings aan dat 'n mens amper kan praat van 'n ‘kunsnywerheid’. Wie egter 'n noukeurige studie maak van ons verhalende literatuur, sal moet erken dat die grootste gedeelte bestaan uit ontspanningslektuur van middelmatige gehalte. Daar word uitstekend gesorg vir die persoon van geringe ontwikkeling wat nie alte hoë eise stel nie. So groot is die verskeidenheid dat die gemiddelde leser dit moeilik sal vind om alles te lees wat elke jaar verskyn. Maar as ons nou soek na romans wat die vry ontwikkelde leser met genot kan lees, verhale wat werklik letterkundige verdienste het, dan sal dit miskien moontlik wees om uit die jare 1906-1936 'n lysie van twintig tot vyf-en-twintig op te stel - maar ook nie veel meer nie. Daar was maer jare wat so goed as niks opgelewer het vir die ontwikkelde nie, met die gevolg dat hierdie klas leser sy toevlug geneem het tot Engelse en Europese skrywers met wie hy 'n veel nouer geestelike verwantskap voel omdat in hul werk aanwesig is wat Van Leeuwen genoem het ‘de scherpe bezinning op tydsproblematiek’, die afkeer van alle uiterlike skyn en die strewe na openhartige opregtheid wat alle verdoeseling wil vermy. Die geskiedenis van ander lande leer ons dat fel individualistiese kuns gewoonlik die wegbereider is van 'n breër, monumentaler kuns. Ons weet dat party van die Tagtigers verdwaal het in yle onverstaanbaarheid, maar hulle het tog 'n erg noodsaaklike opruiming gehou van veel wat ouderwets en muf was. Tereg is daar op gewys dat hulle, ten spyte van oordrewe formulerings, tog die atmosfeer geskep het waarin goeie kunswerke voortgebring kan word. ‘Zij hebben de jeugd bevrijd van tal van belemmerende vooroordelen, zij hebben den moedigen geesten zelfvertrouwen en opgewektheid tot het werk gegeven; zij hebben het observatieveld van schrijvers en lezers vergroot; en zij hebben, een schoonheid, waarmede wij het contact al te zeer verloren hadden, haar aanzien en haar beteekenis voor mensch en menschengemeenschap hergeven.’Ga naar voetnoot1) Ons jong kunstenaars is besig met 'n soortgelyke taak, en | |
[pagina 45]
| |
ofskoon die meeste nog maar pas aan die begin van hul ontwikkeling staan, het hul ons alreeds iets gegee wat waarlik nuut is van toon, van onderwerp en van gees. Laat ons hierdie skoonheid met gejuig begroet sonder om ons te veel te bekommer oor die teoretiese standpunt van die skrywer, want die skoonheid het hom nog nooit veel gesteur aan standpunte of logiese formulerings nie. As die jongeres daarin kan slaag om die kontak tussen die ontwikkelde leser en die Afrikaanse letterkunde te herstel, dan verrig hulle 'n kulturele taak wat seker net so belangrik is as die voorsiening van lektuur vir onbevoorregtes. Enigsins voorbarig is myns insiens die ‘wrange aanklag’ en waarskuwings wat tans teen ons jongeres geslinger word. D.F. Malherbe verwyt die digters dat hulle besig is met ‘sentimentele getimtam van verbeelde liefdeswee’ terwyl die noodroep van die volk weerklink; E.C. Pienaar beweer dat ons rondsweef ‘in ekstatiese selfvertroeteling.... in die hoëre sfere van die sekelmaan en die sterre, totaal weg van die vaderlandse bodem hier benede’; en F.E.J. Malherbe waarsku teen ‘blote of bloedlose estetisisme’. Verstandiger is G. Dekker wat die kern van die saak saamvat: ‘Die kunstenaar is nie die gewillige perd wat ingespan kan word om die waentjie van (maatskaplike, politieke of ander) ideale te trek nie. Hy beeld slegs uit wat in sy siel lewe.’ Laat ons dus met dankbaarheid aanvaar die skoonheid wat elke kunstenaar volgens sy eie aard en innerlike ontwikkeling ons aanbied. Kuns is immers altyd persoonlike belydenis, en selfs in die sogenaamde gemeenskapskuns is die waardevolste element meestal die persoonlike gevoel. | |
Verwyding van Motiewe.Ons het gesien hoe, as gevolg van verskillende oorsake, baie skrywers hulle in die besonder toegelê het op die armblankevraagstuk en by voorkeur bywoners of eenvoudiges wat op die laagste trap van beskawing staan, as hoofkarakters laat optree het. Oningewydes meen dikwels dat ons verhaalkuns grotendeels beperk is tot hierdie verarmde tipes. Niemand kan beweer dat die Afrikaanse werklikheid al volledig in ons letterkunde weerspieël word nie. Dit is ook 'n feit dat die sielelewe van die ontwikkelde pas in die afgelope jare 'n bietjie aandag ontvang het. Tog kan daar in hierdie tydperk gewys word op 'n verblydende verruiming van motiewe. Ek wil hier kortliks aandui hoe ons skrywers gaandeweg die veld van hul belangstelling uitgebrei het. | |
Plaaslewe.Jochem van Bruggen en die ander skrywers oor die armblankes het hulle hoofsaaklik bepaal by die uitgeboerde boer wat deur gebrek aan | |
[pagina 46]
| |
aanpassingsvermoë of ander oorsake, 'n heenkome moes soek op die dorp of in die stad. Daardeur het die nadruk veral geval op die moeilike stryd om die bestaan en die worsteling met die natuurkragte. Die beste skrywers uit hierdie groep het 'n skerp waarnemingsvermoë, en hulle skilder die gewone dinge van die daaglikse lewe met groot liefde, terwyl hulle ook daarin slaag om die plattelandse mentaliteit te deurgrond. Hierdie realiste het hulle afgewend van die leuenagtige skynwêreld van die avontuur-roman, en wil ons die boer laat sien in sy daaglikse doening op sy landerye, by sy vee, onder sy volk en in sy huisgesin. Van Bruggen en Van Melle teken veral die Transvaalse boer, D.F. Malherbe die Bolandse wynplaas, Van den Heever en Jonker die Vrystaatse veeboerdery. Langenhoven en Helmüth Luttig het die opkoms en verval van die volstruisboerdery in die Kaapprovinsie geskets, en die Hobsons vertel van die veeplase in Graaff-Reinet. Van den Heever het daarop gewys dat by ons die liefde vir die grond vinnig aan die verdwyn is: ‘As ons sien hoe die Afrikaner vlug na die stede, vlug van die grond af, omdat hulle daar nie meer kan bestaan nie, dan vervul dit ons met angs, want daarmee word 'n deel van ons volkskultuur ondermyn.’ (Die Afrikaanse Gedagte.) Hy betreur dit dat ons skrywers die grond nie so liefhet as die Vlaamse skrywers nie, en na aanleiding van 'n beskouing van Stijn Streuvels vra hy ‘wanneer die Afrikaanse plaaslewe ook só geteken sal word, nie alleen in fyn trekke nie, maar in al die grootsheid van natuurperspektief.’ Van den Heever het self 'n antwoord op hierdie vraag gegee met sy novelle Somer (1935) waarin die essensiële verband tussen die onveranderlike aarde en die arbeidende mens so hartstogtelik ondergaan word dat karakterontplooiing en natuuragtergrond onafskeidelik saamsmelt. | |
Die Arbeider.Naas die skildering van plaasarbeid vind ons nou ook pogings om ander terreine te bewerk. D.F. Malherbe het die hartstogtelike liefde vir die see en die kommervolle bestaan van die Bolandse visser uitgebeeld in een van sy beste romans, Hans-die-Skipper. A.D. Divine het ook by ons jeug belangstelling probeer opwek vir die see deur 'n verdienstelike avontuurverhaal, Die Seerower van Saldanha. Minder geslaag is die tekening van die Knysnase boswerker in Helmüth Luttig se Broers. Van Bruggen, P. de V. Pienaar en ander skrywers het mynwerkers, padwerkers en delwers as hooffigure in kortverhale laat optree. Ons staan hier nog maar aan die begin van 'n belangrike ontwikkeling, want deur die toenemende verstedeliking word steeds groter aantalle gedwing om 'n heenkome te soek in fabrieke en nywerhede. Hierdie nuwe gebiede sal wel eerlang deur ons skrywers ontdek word. | |
[pagina 47]
| |
Dorpslewe.Baie skrywers van kortverhale het die rustige bestaan van eenvoudige dorpenaars met simpatie en speelse geestigheid geteken. Hulle ken die gryse verveling, die gebondenheid aan roetinewerkies, die gemis van intellektuele omgang wat die lewe op verafgeleë dorpies vir baie fyngevoeliges so ondraaglik maak. Helen Blackmore het die vreugde en leed van die konvensie-vaste dorpenaar met 'n skalkse ironie uitgebeeld. Van den Heever laat ons in Kromburg sien hoe 'n fynbesnaarde vrou gemartel word deur geniepsige skinderpraatjies, en hoe haar pogings om die beskawingspeil te verhoog, skipbreuk ly deur kleingeestige teenkanting. Oom Wynie, die wandelende skinderkoerant van Kromburg, is een van ons besgeslaagde dorpsfigure. Besonder geestig is Leipoldt se verhaal Die Koei van die Weduwee Priem (Rooi Rotte). Ander skrywers het die oormatige belangstelling in politiek en die moeilikhede van 'n plattelandse dominee as motiewe gebruik (o.a. Kruger: David en Jonathan, Brewis: Marietjie). | |
Grootstadslewe.Aanvanklik was hoofmotief: die verwording van die volkskarakter in die agterbuurte van die grootstad. Lub het al daarmee begin in 1908 in sy bundel sketse, Eenvoudige Mense. Uit 'n gevoel van deernis met eenvoudige siele, wat hul nie kan aanpas by die komplekse verhoudings van die stad nie, ontstaan baie sketse en verhale. Ons meeste skrywers is boerseuns wat op die plaas groot geword het en nog in hulle omdra die hunkering na die vlaktes ‘waar dit oop is en die hemel wyd daarbo....’ Daardeur het hulle 'n skerp oog vir die ellende van die plattelander wat nie kan aard in die stad nie. Van den Heever gaan 'n stappie verder in Groei, want hier toon hy aan hoe ook by die ontwikkelde die beste eienskappe versmoor in die stiklug van die goudstad. Gustav, 'n werklose joernalis, keer terug na die plaas, waar hy nuwe lewensvreugde vind in die geloof van sy voorvaders. Die neerdrukkende invloed van die stadsatmosfeer, waarin alles wat suiwer Afrikaans is, verbaster of te gronde gaan, wek by hom jeugherinneringe van die eenvoudige plaaslewe. Hy is 'n tipiese produk van die oorgangsperiode - die plaasseun wat nog vasgeanker sit in die ou tradisie en slegs toevallig stadsbewoner geword het. Tans groei daar egter 'n geslag op van gebore stedelinge by wie ons glad 'n nuwe lewenshouding mag verwag. Ons het reeds gesien hoe die digters van die jonger generasie 'n veranderde mentaliteit openbaar, en daar is aanduidings dat dieselfde tydsklanke ook sal deurklink in ons verhaalkuns. In die kortverhale van C.M. van den Heever, Léon Maré, Abel Coetzee, P. de V. Pienaar en in 'n novelle van M. Conradie word verskillende kante van die stadslewe belig. Dit is egter waar dat | |
[pagina 48]
| |
hul aandag nog ‘merendeels in beslag geneem word deur die kleinpatetiese’, dat hulle 'n lewensgevoel openbaar ‘wat bevange is in klein realistiek, wat by voorkeur verwyl by die teenstellings in die stad van ryk-arm en die patetiese van verarmde en verkommerde bestaan’. (F.E.J. Malherbe, Die Huisgenoot, 20 Nov. 1936). Die benouenis van die grootstad-lewe het Abel Coetzee aangegryp; hy het ondervind hoe ‘die afgemete perke van die samelewing jou laaste krieseltjie siel genadeloos vasdruk tussen al die reguit strepe’. In die ritmiese geklop van die goudstampers hoor hy ‘die polsslag van 'n benoude hart’, en dit voel vir hom ‘asof die gees van die Goudstad in al sy naakte dierlikheid op my afstorm om die lewe in my te vergruis’. (Skimme van die Goudstad.) Hierdie gees van die Goudstad sal nog 'n belangrike rol in ons verhaalkuns speel, want ongeveer een-vyfde van ons bevolking woon tans op die Rand. | |
Godsdienstige motief.Die stryd tussen kinderlike geloof en geleerde twyfel is natuurlik een van dié groot moeilikhede van die moderne jongmens. Postma het die vraagstuk aangeroer in Hy het sy merk gemaak, Malherbe het in Loutervure die feit beklemtoon dat kultuuropbou sonder godsdiens as fondament waardeloos is, en die sentrale tema van Jurg Vaber se Moderne Jongmense is ‘die onmag van die kerk teenoor die geleerde jongmense van vandag’. Oom Bêrend vind 'n oplossing vir al die moeilike volksprobleme in die lewensbeskouing van die Voortrekkers: ‘Hulle krag was God. Julle het vandag nie meer ankerplek nie met al julle slimmigheid en al....’ (Groei). In Kromburg soek Wenda ook na geluk langs die ou paaie, wat sy in haar jeug bewandel het. Maar sterker is by haar die ‘drang na die ongebondene, die vrye uitlewing van haar hele wese’, en ofskoon sy berouvol terugkeer, voel sy tog dat sy die prooi was van 'n donker noodlot wat haar ‘ongeneeslik geslaan’ het. Die Calvinistiese lewensbeskouing is nog maar skraal verteenwoordig in ons prosakuns. Daar is aanduidings dat party van die jonger skrywers opvattings huldig wat in die naaste toekoms 'n ernstiger en bewuster poging om uitdrukking te gee aan die Calvinistiese beginsels noodsaaklik sal maak. Ek wys onder andere op die moderne uitleefdrang en beskouings oor die liefde en huwelik soos aangetref by Sophie Roux; verder op die noodlotsidee in Kromburg. Die reaksie op hierdie denkbeelde, wat in stryd is met die godsdienstige beginsels van ons volk, sal seker nie uitbly nie. In Malherbe se drie historiese romans, Die Hart van Moab, Saul die Worstelheld, en Die Profeet, vind ons 'n herskepping van Bybelse gestaltes wat die skrywer aan die Afrikaanse volk voorhou as rigsnoer vir die toekoms. Nêrens word daar 'n direkte toepassing op | |
[pagina 49]
| |
Afrikaanse toestande gemaak nie, maar telkens straal die ooreenkoms tussen Palestina en Suid-Afrika deur. Malherbe soek na die oorsake van volksgroei en volksverval, en by die bepeinsing van Israel se lot dink hy steeds aan sy eie volk wat ook ‘'n nasie met verkeerde planne’ is. Soos Totius in ons digkuns, het Malherbe hier op prosagebied 'n skone vertolking gegee van die Christelike ideale wat leef in die hart van die nasie. Uit literêr-historiese oogpunt is hierdie siklus van belang omdat daarmee die moderne historiese roman sy intree in ons letterkunde doen. | |
Liefde en Huwelik.Die skrywers van die vorige periode het al gepoog om die liefdesverhouding te vergeestelik. (Vgl. § 11.) Tot die verlede behoort nou die konvensionele liefdesverhaaltjie met sy oppervlakkige sentimentaliteit en kry-mekaarslot. Karin het vir die eerste maal in ons letterkunde 'n roman oor die liefde geskryf wat ons laat besef dat daar in die liefde iets ewigs is, wat nie slegs as 'n vleugie sentimentaliteit of oppervlakkige sinlikheid in die lewe van twee minnende mense geopenbaar word nie, maar inderdaad sterker as die dood is. Natuurlik kry ons die oue en die nuwe nog langs mekaar. Ek haal hier aan twee fragmente waartussen slegs 'n tydperk van vyf jaar lê: Ben is die minnaar uit Lulu Brewis se Marietjie (1932). ‘Die minnekoors verteer hom, liggaam en siel. Hy is sy geestesewewig alreeds so ver kwyt geraak dat hy deur sengende jaloesie gemartel word....’ Op 'n roeitoggie het hy haar gered van 'n val: ‘Die onverwagte omhelsing het 'n opwelling van oorstelpende liefdesvuur by Ben aangewakker, en die prikkelende skoonheid van die towerlandskap in die volle maanligglorie help om sy laaste greintjie logika en wilskrag te oorrompel.... Byna orals word die visie hier enkel retoriek. Die skryfster het nêrens die moeite gedoen om na eie verbeelding te soek nie, maar eenvoudig die gebruiklike cliché oorgeneem. Daarby is die dialoog houterig, en die beeldspraak vals. As ons nou hiermee vergelyk fragmente uit Hettie Smit se liefdesdagboek, Sy kom met die Sekelmaan (1937), dan merk ons meteens 'n | |
[pagina 50]
| |
verandering van gees, wat hom openbaar in die styl en in al die besonderhede: ‘Jou hande is vol betekenis, en jou oë is my so bekend. Jou stem het partymaal die innigheid van 'n motreëntjie in die skemering. Ek wens jy was nou meteens hier om met jou stem en 'n eie versie 'n reënboog oor my dag se vaalte te span....’ ‘Liewe Heer, - Ag, neem my asseblief tog maar weg, want Johan het my nie lief nie. Hy kan nie onthou dat ons twee eenmaal saam anderkant die sterre en die maan by die blink water waar die rooi voëltjies fluit, gewoon het nie. En hoe sal ek tog aanhou sonder Johan?....’ Hettie Smit skrywe oor 'n mens, nie oor 'n dame nie. Sy gee 'n onopgesmukte, eerlike ontleding van die leed van die nie-begeerde vrou. In Wrede Grense en Verlate Vlaktes word die huweliksprobleem behandel. Sophie Roux beskou die huweliksband as 'n onregverdige inperking van die persoonlike vryheid van die individu. In teëstelling hiermee laat T.C. Pienaar haar hoofkarakter in Verlate Vlaktes na 'n innerlike stryd uiteindelik rus vind in 'n kinderlike oorgawe aan Gods wil. Haar sondige liefde lei tot 'n geestelike hergeboorte, en sy begryp ‘dat geluk nie kan gesoek word nie, of deur begeertedwang gedwing word nie...’ Sophie Roux verheerlik die allestrotserende liefde van die vrou as haar edelste eienskap. Daarom pleit sy ook vir die ongehude moeder wat slegs gesoek het na die vervulling van haar heiligste instink en nie behoort bloot te staan aan smaad en hoon nie. Suiwer het sy uitgebeeld die ontluikende vroulikheid van Tilde in Fyn en Broos. Hierdie skryfsters openbaar meer erns en lewenservaring as Marie Linde wat so liggies heenskaats oor allerlei sake van die hart. Dink maar aan die ligsinnige Dina (uit Dina en Lalie) wat op 'n grondslag van bedrog haar huweliksgeluk bou en dan met die romantiese dweepsug van 'n bakvissie dink: ‘In die toekoms sal sy 'n vrou met 'n verlede wees, nie 'n stemmige ou-jongnôi soos juffrou Greef nie.’ Dat duursame lewensgeluk haas onbereikbaar word wanneer man en vrou tweërlei volksideale aanhang is die tema van Kind van die Veld en Bodemvas. Regina Neser skets in Die Verstoteling die lewensloop van 'n gevalle vrou, en behandel in Kinders van Ismael die skokkende nasleep van rassevermenging. Die tragiese lot van die ‘blanke’ kleurling kom egter nie tot sy reg in hierdie bioskoop-roman nie. | |
Kleurlinge en Naturelle.Von Wielligh het reeds in 1918 belangstelling getoon vir die gewoontes en taal van Hottentotte en Griekwas, maar hy het nooit deurgedring tot die kleurling se innerlik nie. (Vgl. Jakob Platjie.) Hy het ook 'n deeglike studie gemaak van die gewoontes en eienaardighede van die Boesmans, en hul oorleweringe byeengebring in die interessante versameling Boesmanstories. In baie ander verhale is die bediendes slegs vlugtig geteken, | |
[pagina 51]
| |
en ook in toneelstukke het hulle meestal opgetree alleen om die laglus op te wek. 'n Uitsondering was D.F. Malherbe, wat die geaardheid van die Bolandse Hottentot so goed deurgrond het in Die Meulenaar. Daarna het ook Van den Heever volk laat optree in 'n paar lewendige toneeltjies (Somer). In 1930 het die Hobsons die swerwende leefwyse van die Boesmans beskrywe in Skankwan van die Duine. Ofskoon hierdie verhaal ons 'n interessante kykie gee op die Boesman-mentaliteit, val die nadruk tog op hul avontuurlike bestaan. Van Bruggen se Booia (1931) en Mikro se Toiings (1934) en Pelgrims (1936) het iets nuuts gebring omdat hierdie skrywers die naturel en kleurling nie slegs terloops as blote aanhangsels van die blanke beskawing geteken het nie, maar as hooffigure om hul eie ontwil. Die Kaffers en kleurlinge in hierdie verhale lewe; hulle is nie net verkapte witmense wat kromtaal praat nie. Hulle word ook nie uit die hoogte as ‘swart skepsels’ beskou nie, maar die skrywers het hulle simpatiek ingelewe in die dink en gevoelswêreld van hul karakters. Ander skrywers het voortgegaan in hierdie rigting, en veral Schoeman het ons mooi brokstukke gegee ‘uit die magtige Zoeloe-epos wat wag op 'n vertolker’. Melding kan ook nog gemaak word van Kootjie van den Heever se verhaal Wraak in Vlugtige Skaduwees, Friedenthal: Die Wagter van die Koning se Beeste, en Leipoldt: Oorblyfsels in Rooi Rotte. | |
Jag- en Dierverhale.Van die vroegste tyd af het ons voorouers jag gemaak op wilde diere, en deur die gedurige rondtrekkery in woeste streke het hulle die geleentheid gehad om die lewe van groot- en kleinwild van naby te bestudeer. Tallose jagverhale het van mond tot mond gegaan totdat Von Wielligh hulle versamel het in 'n voorlopige bundel in 1907. Later het hy sy werk uitgebrei tot die bekende Dierestories (I-IV). In hierdie stories leer ons die Hottentot ken as 'n baasverteller. Die pionierswerk van Von Wielligh is voortgesit o.a. deur Vaughan: Ou Hendrik z'n Stories (1910), J.F. Cillie: Herinneringe uit die Jagveld (1922), Seymore: Outa Danster en Aia Martha (1931), Friedenthal: Ondank is die Wêreld se loon (1931), Nukkebol Reinard (1936) en C.J. Grové: Jakkals se Strooptogte (1932). So gewild is hierdie verhale dat talryke vertalings uit Engels en Duits verskyn het (Chadwick, Bonsels en Aschenborn). Hierdie vertellers van jagervarings het baie interessante leesstof gelewer vol spannende avonture en vermaaklike anekdotes. Met Sangiro se verhale word 'n nuwe periode ingelui. 'n Leeu is vir hom nie alleen ‘'n aantreklike wit’ en ‘na 'n goedgeslaagde skoot.... 'n stuk dooie vleis’ nie, maar in elke leeu sit ‘'n fyn georganiseerde lewe.... 'n persoonlikheid in sy soort ruim so interessant as dié van die mens’. Sy | |
[pagina 52]
| |
liefde vir die diere maak hom die digterlike vertolker van al hul emosies en instinkte. Hy beeld die dier om sy eie ontwil uit en die mens tree in sy verhaal alleen op voorsover hy invloed het op die dier se gedrag. Soos Sangiro vir ons die gees van die oerwoud vertolk het, so het die Hobsons ons 'n visioen gegee van die Kalahari met sy swerwende Boesmans en sy troppe groot- en kleinwild, 'n visioen waarin mens en dier en landstreek samegevleg is tot 'n ondeelbare eenheid. Schoeman is net soos Sangiro die ridderlike jagter wat sy slagoffer met begrypende simpatie betrag. Dit stel hom in staat om ons 'n blik te gee op die tragiek, humor en ironie van die dierelewe. Belangrik is ook die bydrae tot ons kennis van diere wat Eugène Marais gelewer het. Sy standpunt is meer dié van die wetenskaplike, maar Die Siel van die Mier bevat soveel interessante besonderhede uit die lewe van diere, soveel verrassende meedelings oor die wondere van die natuur, dat dit as een van die merkwaardigste boeke in Afrikaans kan beskou word. | |
Spookstories.Reenen van Reenen het reeds in 1919 en 1920 twee bundels spookstories geskryf in die trant van Edgar Allan Poe. Terwyl Poe egter die kuns verstaan om deur allerlei suggestiewe besonderhede 'n dodelik beklemmende atmosfeer te skep, noteer Van Reenen alleen die geheimsinnige feit. Leipoldt en Langenhoven maak albei gebruik van die tradisionele spook-apparaat, maar gee aan hul verhale 'n suiwer Afrikaanse atmosfeer. Volgens eersgenoemde moet die skrywer van 'n goeie spookstorie ‘'n indruk van gespanne angs en kriewelrige nuuskierigheid wek’. Langenhoven se spookgedaantes is nie willekeurig uitgedagte verskrikkinge nie, maar dolende geeste met menslike eienskappe. Hy het hom vererg oor die ‘onnosele verspottigheid’ van die gewone spook, wat nooit ‘'n redelike oogmerk’ het nie. Eugène Marais, Serfontein, Marie Linde en I.D. du Plessis het ook verdienstelike werk in hierdie genre gelewer. Ons spookstories het egter nog nie uitgestyg bo die peil van ontspanningslektuur nie. Dis alleen Langenhoven en Leipoldt wat tot dusver iets hoërs bereik het. | |
Historiese motiewe.Ofskoon die Wêreldoorlog met sy droewige nasleep gedurende 'n reeks jare ons eie worstelstryd tot 'n nietigheid laat verbleek het, leef nog sterk die besef dat in die Tweede Vryheidsoorlog die grondslae van ons nasie gelê is en dat die optekening van persoonlike herinneringe en die | |
[pagina 53]
| |
versameling van boustowwe vir die toekomstige historicus 'n nasieplig is. In hierdie periode het ons die herinneringe gekry van Slegtkamp, genl. Muller en ds. A.P. Burger. Sommige skrywers het met behulp van dokumentêre gegewens historiese gebeurtenisse in aantreklike verhaalvorm verwerk. Dr. J. van Bruggen het byvoorbeeld uit die opgetekende ervarings van ongeveer vyftig persone 'n samevattende beeld gegee van die lyding en ontberinge van vroue en kinders in die konsentrasiekampe (Bittereinders). Ongelukkig het ons nog steeds geen samevattende geskiedenis van die Tweede Vryheidsoorlog nie, wat veral ons jongmense kan aanspoor tot groter belangstelling in die volksverlede. Drie biografieë van belangrike historiese figure het in hierdie periode verskyn: Louis Botha deur dr. F.V. Engelenburg (1928), Thomas François Burgers deur dr. S.P. Engelbrecht en Andries Pretorius deur dr. G.S. Preller. Deur die eeufees van die Groot Trek is die belangstelling van die hele volk tans gekonsentreer op die Voortrekkers, en ons kan verwag dat meer studies oor hierdie periode die lig sal sien. Van besondere kultuur- en literêr-historiese waarde is die persoonlike herinneringe van leiers in die taalstryd soos De Waal en Langenhóven. De Waal het ook in Die lewe van David Christiaan de Waal die beskawingsgeskiedenis van 'n hele tydperk (1845-1911) geskrywe en daardeur 'n skat kultuur-historiese gegewens vir die nageslag bewaar. Die pogings van ons skrywers om ons historiese verlede in romanvorm te herskep, het nog geen werk van uitstaande betekenis opgelewer nie. Galgsalmander van Leipoldt is 'n breeduitgewerkte sedeskildering van die periode net voor die Groot Trek. Anna de Villiers het 'n poging gedoen om die lewensideale van drie geslagte (1882-1927) uit te beeld in Sterker as die Noodlot. As historiese romans beskou, is hierdie twee werke egter 'n mislukking. In 'n Wiel binne-in 'n Wiel deur Miemie Louw-Theron, waarin die periode 1896-1902 behandel word, is die mensbeelding swak en die tegniek verouderd. Alleen D.F. Malherbe het met sy drie Bybelse romans in hierdie genre werk van hoë gehalte gelewer. Die verhouding tussen Afrikaners en Engelse, en die kultuurstryd word behandel in Bodemvas en Loutervure. Besonder verblydend is die feit dat ons historiese belangstelling, wat in die verlede byna uitsluitend tot staatkundige en literêre onderwerpe beperk was, tans ook die beeldende kunste, musiek en boukuns omvat. Met die waardering van ons Afrikaanse skilders is dit nog maar treurig gesteld, en dr. A.C. Bouman het 'n kultuurdaad van groot betekenis verrig deur die samestelling van 'n reeks karakteristieke van ons vernaamste skilders. Op die gebied van literatuurgeskiedenis het daar 'n hele reeks belangrike werke verskyn. Ons jonger literatore wy tans hul aandag aan skrywers | |
[pagina 54]
| |
uit die Hoog-Hollandse tydperk, wat in die hitte van die taalstryd nie veel belangstelling kon geniet nie. Dr. F.C.L. Bosman het die geskiedenis van ons drama en toneel vanaf die vroegste tyd ondersoek, dr. E. Conradie het ons 'n wetenskaplike oorsig gegee van die letterkundige produksie tussen 1652-1875 en dr. Anna de Villiers het die stryd vir die erkenning van Hollands vanaf 1795 behandel. Ander ondersoekers het ook begryp dat die wortels van ons beskawing in die Hoog-Hollandse tydperk lê en daaraan het ons studies soos dr. G.S. Nienaber: Honderd Jaar Hollands in Natal, en dr. P.J. Nienaber: D'Arbez as Skrywer te danke. Dr. F.C.L. Bosman het gewys op die dringende noodsaaklikheid van hierdie ondersoek in die voorwoord van Drama en Toneel in Suid-Afrika (1928): ‘Twee dinge het ons jong Afrikaanse kultuur broodnodig: 'n grondige, diepgaande beskawingsgeskiedenis van ons Dietse verlede, 'n deeglike, volledige geskiedenis van Dietse letterkunde in Suid-Afrika. Om die paaie wat na die toekoms voer, te sien, moet 'n mens die paaie ken wat uit die verlede kom. Die verlede is die anker van die hede, maar die kompas van die toekoms.’ 'n Ander belangrike bydrae tot die kennis van ons Dietse verlede is die proefskrif van dr. S.J. du Toit oor ons volkspoësie. Dr. G. Dekker het 'n beknopte literatuurgeskiedenis vir skoolgebruik geskrywe waarin beide die Eerste en Tweede Afrikaanse Bewegings behandel word. Die belangstelling in ons wordende literatuur het tans die stadium bereik waarin daar 'n aanvraag bestaan vir studies oor skrywers en besprekings van letterkundige kwessies. Hierdie aanvraag is in hoofsaak geskep deur eksamen-eise, maar daar is tog aanduidings dat dergelike bundels langsamerhand besig is om 'n taamlike afsetgebied te verower by ons kringe van ontwikkeldes. Die intelligente leser konsentreer nou nie meer uitsluitlik op belletristiese werk nie, maar sy belangstelling omvat 'n veel breër terrein. Langsamerhand verskyn daar Afrikaanse geskrifte oor elke afdeling van die wetenskap (vgl. b.v. die Annale van die Universiteit van Stellenbosch), en wanneer die breë volkslae 'n voldoende ontwikkelingspeil bereik, sal die werk van ons geestelike voortrekkers meer erkenning vind. | |
Die Kortverhaal.Reenen van Reenen het reeds in 1919 en 1920 twee bundels kortverhale gepubliseer waarin hy Edgar Allan Poe probeer navolg het. (Celestine en Verborge Skatte). Maar ofskoon ons tydskrifte jarelank gevul is met kortverhale, plaassketse en jagverhale het dit tot omstreeks 1932 geduur voordat ons beste skrywers hul ernstig gewy het aan die beoefening van hierdie kunssoort. In 1931 het verskyn In die Gramadoelas, in 1932 Simson, in 1933 Bande, in 1934 Vuurvlieg en Sterre en | |
[pagina 55]
| |
Ruth, in 1935 Najaar en in 1936 Magte. Deur die beste werk uit hierdie en ook ander bundels het ons kortverhaal uitgestyg bo die peil van middelmatigheid. Die bloemlesings deur 'n paar uitgewers saamgestel uit hul eie uitgawes laat geen reg geskied aan die ontwikkeling van die kortverhaal nie. As daar geen beperking van outeursregte was nie, sou dit moontlik wees om 'n twintig- of dertigtal te kies wat as heeltemal geslaagde kunswerke kan beskou word. 'n Groot gedeelte van ons kortverhale is egter slegs knap joernalistiek of ontspanningslektuur. By baie skrywers ontbreek die sentrale hoofgedagte, die unieke of enkelvoudige effek wat Poe as vereiste gestel het. Dr. F.E.J. Malherbe se handleiding, Die Kort-verhaal as Kunsvorm (1929), het veel daartoe bygedra om allerlei wanbegrippe omtrent hierdie genre op te ruim en dit ly geen twyfel dat daar 'n opmerklike styging waar te neem is in die gehalte van die kortverhale wat tans in ons tydskrifte verskyn.Ga naar voetnoot1) | |
Die Afrikaanse Bybel (1933).Die Genootskap van Regte Afrikaners is in 1875 opgerig as gevolg van 'n versoek om 'n Afrikaanse Bybelvertaling. Dit het agt-en-vyftig jaar geduur voordat hierdie grootse taak kon voltooi word. Noudat ons afskeid geneem het van die Nederlandse Statebybel is dit nie ongepas om kortliks te herinner aan die groot invloed wat die Statevertaling op die ontwikkeling van ons taal gehad het nie. Dr. G. Kalff het reeds daarop gewys dat dit as monument van taal-eenheid sy gelyke in die Nederlandse letterkunde nie het nie, dat dit deur sy taalsuiwerheid, die krag en die sobere verhewenheid van sy styl op die ontwikkeling van die Nederlandse taal 'n ontsaglike invloed uitgeoefen het. ‘Geen boek immers is onder ons volk zooveel gelezen in alle standen en kringen, door oud en jong; door dien bijbel is onze taal langzamerhand verrijkt met tal van beelde en vergelijkingen, eigenaardige woorden en wendingen, wier uitheemschen oorsprong velen niet eens vermoeden; die bijbel eindelijk heeft onze krachtige stamverwanten in Zuid-Afrika op hunne tochten vergezeld, heeft hun taal in stand gehouden, is een band gebleven tusschen hen en ons.’ (Ges. der Nederlandsche Lett. V). 1637 - 1875 - 1933 - Hierdie drie datums herinner ons aan gebeurtenisse wat vir ons beskawingsgeskiedenis van die uiterste belang is. Die Statebybel het nie alleen die band met die stamland bewaar nie, maar ook ons Voortrekkers in staat gestel om 'n nuwe beskawing te stig te midde van 'n barbaredom. Die Afrikaanse Bybel sal ongetwyfeld, net soos die Nederlandse State- | |
[pagina 56]
| |
vertaling, 'n weldadige en vèrreikende invloed op ons prosakuns uitoefen. Ook in die Engelse letterkunde van die afgelope driehonderd jaar kan ons die invloed van die Bybel naspeur van Milton tot by Bernard Shaw, en tereg het Thackeray verklaar: ‘It is in everything we see, hear, feel, because it is in us, in our blood.’ Gelukkig is ons Bybelvertaling nie onderneem aan die begin van die Tweede Beweging nie, toe selfs ons beste skrywers nog geworstel het met 'n weerbarstige taalmaterie. Die taak is uitgevoer nadat Afrikaans 'n veredelingsproses deurgemaak het, nadat daar feitlik eenstemmigheid bereik is oor wat as algemeen beskaafd moes beskou word. Dis miskien te gou om nou reeds 'n finale oordeel oor die Afrikaanse Bybelvertaling uit te spreek, maar ons kan tog veilig konstateer dat die verhewe eenvoud, statigheid en gewyde erns van sy styl 'n heilsame invloed op die ontwikkeling van ons prosa sal uitoefen. Die Bybelvertaling sal ons in staat stel om met fyner onderskeidingsvermoë die gevoelswaarde van volksuitdrukkings en gesegdes te beoordeel, want dit gebeur nog te dikwels dat ons godsdienstige verrigtinge ontsier word deur plat taal, wat wel tipies-Afrikaans mag wees, maar tog nie pas in die gewyde atmosfeer nie. Ek herinner my hoedat 'n prediker 'n twintigtal jare gelede ewe ernstig kon uitroep: ‘Broeders en susters, ons moet vanaand die ou duiwel opdons tot in die populierbos!’ So bont sal geen kanselredenaar dit vandag wel maak nie, veral as hy die Afrikaanse Bybel as toetssteen van goeie smaak en suiwere styl gebruik. Met hoeveel sorg die taaladviseurs hul moeilike taak verrig het, blyk uit onderstaande woorde van dr. S.P.E. Boshoff, waarin ook die invloed van die Statevertaling beklemtoon word: ‘Aan moeilikhede het dit ook vir die taaladviseurs nie ontbreek nie, inteendeel hulle was legio. Dikwels was dit b.v. maklik genoeg om uit te maak wat om in 'n bepaalde geval in Afrikaans te sê, en tog kon dit nie klakkeloos so neergeskrywe word nie. Enersyds moes houterige deftigheid en andersyds alte gemeensame natuurlikheid en platheid vermy word op gevaar af van 'n kleurlose resultaat te verkry. Daarby moes, sonder om die frisheid van die Afrikaanse volkspraak en die oorspronklikheid van die eie beeldspraak geweld aan te doen, enigsins rekening gehou word met wat die Afrikaanse volk nou eenmaal in sy Hollandse Bybel aan gewoon was, aan wat in Bybelse woordkeuse, segswyse en spreekwoordelike taalvorme tradisioneel geword het. Teenstrydige uiterstes van taalgebruik en smaak moes veelal met mekaar versoen word. Dit was nie uitsluitend 'n saak van kennis van Hebreeus en van Grieks nie, selfs nie in die besonder van Afrikaans nie, maar heel dikwels 'n kwessie van goeie smaak. En tog moes gedurig voor oë gehou word dat die Bybel 'n volksboek is en behoort te wees, 'n boek wat vir almal in taaluiting | |
[pagina 57]
| |
toeganklik moet wees, en dat dit nie in die eerste plaas vir 'n afgeleefde geslag wat met die Hollandse Bybel grootgeword het, vertaal word nie, maar veral vir die jonger geslag wat dit as 'n eie nasionale erfenis moet aanvaar.’Ga naar voetnoot1) Dat die groot betekenis van die Bybelvertaling en Psalmberyming ook deur die volk besef word, het geblyk uit die treffende hulde wat betuig is aan die digter Totius by geleentheid van sy sestigste verjaardag. Tereg het die redakteur van Die Volksblad daarop gewys dat die Totius-fees 'n belangrike gebeurtenis in ons kultuurgeskiedenis is: ‘Vir die eerste maal het ons volk as geheel hulde gebring aan een van sy nasionale digters, en wel 'n tasbare hulde wat sterker spreek as woorde. So iets was totnogtoe onbekend onder ons. Die Afrikaners het voorheen plase, motors of beeste present gegee aan politici.... Nou wend die volk hom tot blywender waardes in die volkslewe, tot die innerlike lewe wat deur geen lotswisseling of veranderde omstandighede kan aangetas word nie, tot die dinge wat sal bly staan wanneer die politiek en sy bedrywers vergete is.... Dit toon wel dat daar by ons volk 'n verskuiwing van sy waardebepaling intree, in die rigting van dieper waardering vir sy geestesgoedere, waarvan die staatkundige nasionalisme slegs die draer en beskermer is, terwyl ons digters en ander geestelike leidsliede die skeppers daarvan is.’Ga naar voetnoot2) |
|